Metodiste-kerk, Clumber, Bathurst

Die Wolmeul, Bathurst
September 11, 2019
Bailey se Baken, Bathurst
September 11, 2019

Plaaskerke is ’n interessante kenmerk van Setlaarsland. Enige kilometers noord van Bathurst in die bosryke Torrensriviervallei staan daar op ’n mooi heuweltjie so ’n Metodiste-kerkie. Dit is nie so oud soos die Salem- of Glen Thorn- of Glen Lynden-kerkie nie, maar dit word deur die lidmate met eweveel piëteit bejeën.

Een van die groepe Britse setlaars wat in 1820 in Port Elizabeth geland het, was ’n geselskap vanuit Nottingham onder leiding van dr. T Calton. Terwyl hulle in Port Elizabeth op vervoer gewag het, is Calton oorlede en sy plek is deur Thomas Draper ingeneem. Na ’n lang vermoeiende trek, het die geselskap uiteindelik sy bestemming hier in die Torrensvallei bereik. Aan die voet van die heuwel, waarop die kerkie tans staan, het die geselskap uitgespan en teen die helling het hulle ’n diens gehou, waarin hulle die Allerhoogste gedank het vir sy beskerming en genade. Die heuwel is dan ook later Mount Mercy genoem.

In 1825 het die Setlaars vir hulle ’n kerkie op die heuwel gebou, maar in die Sesde Xhosa-oorlog van 1836 is dit sodanig beskadig dat hulle ’n tweede kerkie gebou het, wat reeds in 1837 geopen is. Tydens die vyandelikhede met die Xhosa in 1845 het hierdie kerkie op sy beurt as ’n vesting gedien, maar ook dit moes nie ’n baie duursame gebou gewees het nie, want in 1867 is die huidige kerkie gebou. ’n Kansel wat na bewering deur ’n Britse Setlaar gemaak is, is toe teen £25 (R50) van die Wesley Chapel in Grahamstad gekoop en in die kerkie geplaas.

In 1967 was hierdie kerkie reeds ’n eeu in gebruik en is dit netjies opgeknap. Die mure is afgewit, die verf is van die kiaathoutvensters en -deur verwyder, die geelhoutvloere is geskuur en die banke, ook van geelhout, skoongemaak. Twee ou kroonkandelare is per geluk opgegrawe en weer geïnstalleer.

Die kerkhoffie rondom die kerk teen die hange van Mount Mercy is vanaf 1825 in gebruik en baie van die oorspronklike Setlaars is hier begrawe.

(Bronsplaat 1967)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 150-151.