Die Wolmeul, Bathurst

Die Metodistekerk, Bathurst
September 11, 2019
Metodiste-kerk, Clumber, Bathurst
September 11, 2019

Ongeveer ’n kilometer suidwes van Bathurst aan die Bathurstrivier staan die oorblyfsels van die eerste wolmeul in die Oostelike Provinsie en waarskynlik ook die eerste in Suid-Afrika.

Nadat die Britse Setlaars hulle in hierdie omgewing gevestig het, het hulle ’n gebrek aan die mees elementêre lewensbehoeftes ondervind. Klere en komberse was so skaars dat hulle genoodsaak was om velklere en velkomberse te maak. Terselfdertyd het markte vir hul produkte ontbreek. Hierin het een van hulle, Samuel Bradshaw, ’n wewer uit Gloucestershire, die geleentheid gesien om ’n wolmeul op te rig. Hy was die leier van een van die Setlaarsgroepe en ’n ondernemende, veelsydige persoon wat ook later die pragtige St. Johanneskerk in Bathurst sou bou.

In Desember 1821 was Bradshaw reeds besig met die bou van die meul uit plaaslike klip. Hy het die hulp gekry van Richard Bradshaw en van ’n skrynwerker Isaac Wiggall en het ’n kuilsaer, Jeremiah GoIdswain, teen R4.50 per maand met kos en inwoning gehuur om die groot geelhoutbalke vir die binnewerk van die meul te saag. Teen Mei 1822 het Goldswain reeds genoeg hout gesaag en het hy na Grahamstad vertrek. Waarskynlik is die meul dan ook in hierdie jaar voltooi. Dit het aanvanklik uit twee verdiepings bestaan waarvan die binnemate 5 meter by 4 meter is. ’n Derde verdieping uit baksteen is waarskynlik later gebou en is kleiner as die ander. Die dak was van lei uit Noord-Wallis, wat as ballas op die skepe na Port Elizabeth gebring is.

Bradshaw het die uitrusting of masjinerie – ’n spinmasjien en weefgetou – van Gloucestershire bekom. Hierdie masjinerie is deur ’n waterwiel van 5,4 m deursnee aangedryf. Om ’n gereelde toevoer van water na die waterwiel te kry, het hy ’n dam in die Bathurstrivier, ’n ent bokant die meul, gebou en die water vandaar met ’n 150 voor na ’n leigeut op die ratte van die wiel gevoer. ’n Entjie onderkant die meul was ’n wolwassery vir die spoeling van die rou wol.

Bradshaw het die wol vir sy meul van plaaslike produsente gekry. In 1816 het eerw. George Barker van die sendingstasie Theopolis reeds ’n klein kudde wolskape aangeskaf. Sy voorbeeld is deur sommige Britse Setlaars gevolg en weldra het die produksie van wol deur sulke pioniers soos Henry Nourse, lt. Alexander Bisset, Edward Philipps, en Thomas Springfellow, die wolmeul se kapasiteit oortref.

Die meul het veral wolkomberse en karsaai, ’n soort growwe gekeperde materiaal, geproduseer. Daardeur het dit in ’n besondere behoefte van die grensbewoners voorsien.

Die wolmeul het tot 1835 geproduseer. Op 13 Maart van daardie jaar is dit deur die invallende Xhosa aan die brand gesteek. In ’n poging om dit te red, het lt. Joseph Wilmot met ’n afdeling van die garnisoen te Bathurst daarheen opgeruk, maar hy was te laat. Die uitrusting was vernietig, maar die gebou het byna onbeskadig bly staan. Selfs die geelhoutbalke was alleen swart gebrand.

Die ou wolmeul het bly bestaan as simbool van die klein en moeisame begin van ons groot en florerende wolnywerheid. Die Stigting Simon van der Stel het die eiendom in 1962 gekoop en ’n paar jaar later in sy geheel gerestoureer.

(Geproklameer 1970)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 149-150.