Die St. Johanneskerk, Bathurst

Die 1820-Setlaarskerk, Port Alfred
September 11, 2019
Die Metodistekerk, Bathurst
September 11, 2019

Bathurst lê nouliks 16 km van Port Alfred op die pad na Grahamstad. Dit is waarlik die hart van die streek waar die 1820-Setlaars hulle gevestig het; op die dorp en in die omgewing is daar dan ook talle plekke wat aan hierdie vroeë pioniers herinner. Een van die vernaamstes onder die geboue is die St. Johanneskerk.

Die Britse Setlaars is in die Suurveld suid van Grahamstad tussen die Boesmans- en die Visrivier geplaas. Grahamstad was hul naaste dorp en kilometers ver verwyder van die voorste Setlaars. Tot hul gerief het sir Rufane Donkin dus die dorpie Bathurst in die middel van die nedersetting gestig en hy het kaptein Trappes as provisionele magistraat aldaar aangestel.

Vanselfsprekend het Bathurst ook die sentrum van die Setlaars se kerklike lewe geword. Eerw. William Boardman, kapelaan van die Engelse Kerk, het sy eerste dienste in ’n groot veldtent en later in die drosdy gehou. In 1829 is ’n komitee in die lewe geroep om geld vir die oprigting van ’n kerk in te samel. Vordering sou egter eers gemaak word met die koms van eerw. George Porter in 1830. In Oktober van daardie jaar het sir Lowry Cole Bathurst besoek en ’n pragtige terrein vir ’n kerk en ’n begraafplaas uitgesoek. Andries Stockenström, kommissaris-generaal van. die Oostelike Distrikte, het die verkoop van aandele vir die insameling van fondse goedgekeur en majoor Charles C Michell, RE, later die eerste landmeter-generaal van die Kaapkolonie, het die planne opgestel. In Desember 1831 is die tender van Samuel Bradshaw van R780 vir die bou van die mure en die toring aanvaar.

In Maart 1832 is die eerste sooi gespit en in Mei is die hoeksteen gelê. Bradshaw het klip uit die Freestone-groewe gebruik en so fluks en vaardig gewerk dat die bouwerk reeds teen die helfte van 1833 voltooid was. In Oktober 1834 kon tenders vir die oprigting van die dak gevra word. Intussen is eerw. George Porter deur eerw. James Barrow opgevolg.

Die uitbreek van die Sesde Xhosa-oorlog in Desember 1834 het alle werk aan die kerk tot stilstand gebring. Die Setlaars op hul afgeleë plase het opdrag gekry om na Bathurst te gaan en hier was die veiligste plek die onvoltooide kerk. Vrouens en kinders het daarin skuiling gevind terwyl die mans daaromheen wag gestaan het. Herhaalde aanvalle deur die Xhosa op die kerk is met sukses afgeslaan totdat die inwoners met ’n ossewakonvooi na Grahamstad verwyder kon word.

In Januarie 1835 het die Britse militêre magte Bathurst weer beset. Die kerk, versterk met grondwalle daaromheen, het die hart van die militêre pos geword, en moes verskeie aanvalle van die Xhosa verduur.

Na afloop van die oorlog is werk aan die kerk hervat en op Nuwejaarsdag 1838 is dit ingewy.

In April 1846 is die vrede nogmaals versteur deur die uitbreek van die Oorlog van die Byl. Weer word die kerk die veiligheidsoord. Die vensters is met sandsakke versper en ongeveer ’n 300 mense het tot die einde van die oorlog in Januarie 1847 in die kerk gewoon.

Bathurst het nou ’n parogie van die nuwe bisdom van Kaapstad geword. Die boulening is afgelos deurdat die aandeeIhouers in Oktober 1848 hul aandele aan die biskop oorgemaak het en in dieselfde maand kon hy die kerk wy.

In Desember 1850 het die Xhosa vir die soveelste maal die Oostelike Distrikte binnegeval en vir die derde keer moes die kerk as skuilplek vir die inwoners dien. Gelukkig het die vrede van Maart 1853 die storm-en-drang-periode in die geskiedenis van dié kerk afgesluit.

In November 1853 het die bisdom van Grahamstad tot stand gekom en kort daarna is die kerk aan die Heilige Johannes gewy.

(Geproklameer 1966)

Foto: Thomas Baines • Bathurst 1849 • Africana-museum, Johannesburg

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 148-149.