Die 1820-Setlaarskerk, Port Alfred

Die Dias-kruis, Kwaaihoek, Alexandria
September 11, 2019
Die St. Johanneskerk, Bathurst
September 11, 2019

Port Alfred 1ê omtrent 58 km suid van Grahamstad aan die mond van die Kowie. Ook hier het in 1820 ’n aantal Britse Setlaars hul gevestig. Met die steun van die regering is ’n poging aangewend om ’n hawe aan te lê. Aan die oostelike oewer het sodoende ’n klein dorpie ontstaan – ’n kerk, ’n pastorie, ’n doeanekantoor, ’n hofsaal en die eenvoudige woonhuisies van die Setlaars. Ongelukkig het ’n sandbank voor die mond van die rivier die ganse onderneming laat skipbreuk ly en die kerkie is die enigste oorblywende stille getuie van die beproewinge van hierdie Setlaargemeenskappie.

Dié Setlaarskerkie is in 1823 op aansporing van die ywerige eerw. William Shaw deur die setlaars self opgerig. Dit is van klip gebou en het ’n kleivloer, ’n grasdak en ’n preekstoel ook van klei. Vir die klein gemeenskap was dit egter ’n heiligdom en bekende predikers soos William Shaw, John Ayliff en HH Dugmore het hier dikwels die Woord bedien.

In 1846 gedurende die Oorlog van die Byl is dit deur die Xhosa afgebrand. Jare lank het dit verlate gelê. Uiteindelik is ’n dwarsmuur in die middel daarvan gebou. Op die voorste gedeelte is ’n sinkdak gesit om dit sodoende weer eens vir godsdienstige oefeninge bruikbaar te maak. Gedurende die Anglo-Boereoorlog is ’n ruim aantal Boere-families na Port Alfred gestuur en een van die families het in die halwe kerkie ’n tuiste gevind. Later, die vloer met seesand bedek, het die geboutjie as Sondagskoolklaskamer gedien.

Dit het mettertyd al hoe meer in verval geraak. Klimop het teen die mure opgerank en onder die dakrand deur hul weg tot binne in die gebou gebeur; skuins, uit ’n symuur het ’n boom gegroei. In 1925 is ’n energieke komitee onder voorsitterskap van EH Estment in die lewe geroep om fondse vir die herstel van die kerkie in te samel. Moeisaam het dit gegaan, maar in 1938 was dit uiteindelik pragtig herstel.

(Bronsplaat 1938)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 147.