Die Dias-kruis, Kwaaihoek, Alexandria

Die Metodistekerk, Salem
September 11, 2019
Die 1820-Setlaarskerk, Port Alfred
September 11, 2019

Op die pad van Alexandria na Boesmansriviermond draai ’n paadjie skielik regs na Boknes en loop tot byna aan die kus. ’n Kilometer ooswaarts vanwaar die paadjie doodloop oorkant die sandduine, lê Kwaaihoek of Valseiland. Op die westelike landhoof, wat die verste uitsteek, bekend as Kwaaihoek, het die ou Portugese seevaarder en ontdekker van die Kaap, Bartolomeu Dias, op 12 Maart 1488 ’n kruis of padrão geplant. ’n Replika daarvan is op dieselfde onherbergsame, winderige plek, hoog bo die aanstormende branders opgerig.

Op soek na ’n seeweg om die suidpunt van Afrika na Indië het Bartolomeu Dias aan die begin van Augustus 1487 met twee klein vaartuigies Portugal verlaat. Nes sy voorgangers het hy al langs die kus gehou, verby die Kruiskaap benoorde Walvisbaai, waar Diogo Cao drie jaar vantevore ’n kruis geplant het om die keerpunt van sy reis aan te dui. In Januarie 1488 word hy deur storms om die Kaap gedryf sonder dat hy daarvan bewus was. In die omgewing van Mosselbaai kry hy eers weer land in sig. Moedig sit hy die reis voort verby Algoabaai tot by die Rio do Infante, waarskynlik die Kowie of die Keiskamma. Weens die onwilligheid van sy bemanning moes hy hier omdraai en dit was op die terugreis dat hy die kruis van St. Gregorius by Kwaaihoek opgerig het. Die historikus Barros verhaal dat Dias dié kruis met verdriet in die hart in die verte sien verdwyn het asof dit ’n seun was wat hy in eensame ballingskap agtergelaat het.

Hierdie kruis het meer as ’n eeu as ’n baken vir ou Portugese seevaarders gedien en in hulle reisjoernale word dit dikwels vermeld, maar daar bestaan geen aanduiding dat dit na die 16de eeu meer gesien is nie. Selfs die juiste plek, waar dit gestaan het, het ’n tergende geheim geword. Prof. Eric Axelson was egter gedetermineerd om dit te vind. Na sorgvuldige raadpleging van bronne hier te lande en in Portugal het hy ’n stelselmatige soektog by Kwaaihoek onderneem. Op Saterdag 15 Januarie 1938 het hy die eerste brokkies van hierdie geskiedkundige kruis, die oudste oorblyfsels van blanke bedrywigheid in Suid-Afrika, gevind. Geduldig moeisaam het hy etlike weke die soektog voortgesit, hy het talle brokstukkies van die kruis gevind – sommige diep onder die verskuiwende sand, ander in die see aan die voet van die 30 meter hoë krans. Die brokstukkies is daarna na die Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg, geneem, waar die kruis gerekonstrueer is en in die biblioteek bewaar word. Sedertdien is daarvan ’n aantal afgietsels gemaak. Een is by Kwaaihoek opgerig en op 20 Junie 1940 onthul; ’n ander is aan die Portugese regering geskenk; ’n derde aan die inwoners van Lourenço Marques, alwaar dit in die museum bewaar word en nog ander word in verskillende Suid-Afrikaanse museums tentoongestel. In 1948 is ’n brokstuk van die oorspronklike kruis aan die Portugese regering oorhandig.

Volgens prof. Axelson was die kruis soos die meeste Portuguese padrãos, sowat twee meter hoog en vervaardig uit growwe, puntige, wit kalksteen met ligrooi aartjies daarin. ’n Opskrif, tans onleesbaar asook die koninklike wapen van Portugal, was daarop uitgebeitel.

Die oorspronklike padrão is in 1939 tot historiese monument verklaar en die terrein waarop dit by Kwaaihoek gestaan het, tesame met die afgietsel daarop, is in 1945 tot gedenkwaardighede geproklameer.

(Geproklameer 1939 en 1945)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 147.