Carolus (Karel) Johannes Trichardt (1811-1901)
Augustus 6, 2019

GOEWERNEUR WAT SY STEMPEL OP ONS LAND AFGEDRUK HET

Op 4 Desember 1854 het sir George Grey as goewerneur van die Kaapkolonie sy pligte aanvaar, en met hom begin daar ’n hoofstuk in ons geskiedenis wat in groot mate deur sy uitnemende hoedanighede en daadwerklike optrede bepaal is.

Grey was ’n man van nederige herkoms, die seun van ’n Britse soldaat en gebore in 1812 naby die gevegslinie in Spanje gedurende die oorlog teen Napoleon. Sonder invloed om hom in die lewe vooruit te help, het hy op jeugdige ouderdom reeds ’n pionier geword van die blanke gesag in Australië en Nu-Seeland. In die dae toe Retief en Uys uit die Kolonie getrek het, was kaptein Grey as jong ontdekkingsreisiger op pad na Australië.

Na 1845 vind ons hom as goewerneur in Nu-Seeland, waar hy die geslaagde naturellebeleid wat hy in Australië toegepas het, verder met sukses voortsit. Naas sy menigvuldige pligte vind Grey nog tyd om uitgebreide werk te doen as navorser op die gebied van die volkekunde, botanie en verwante onderwerpe. Hy skryf veel, en word ’n geesdriftige versamelaar van boeke.

Geryp deur ervaring, kom hy dan na Suid-Afrika. Die Kaapkolonie het pas ’n nuwe grondwet gekry waardeur verteenwoordigende regering toegestaan was, en in die binneland was kort tevore die onafhanklikheid van die Emigranteboere in die Vrystaat en Transvaal deur Brittanje erken. Op die oosgrens van die Kolonie was juis die Agste Kafferoorlog ten gunste van die witman beslis.

Vir Grey was daar in sy nuwe werkkring ontsaglik veel te doen, en hy het binne drie weke na sy aankoms in sy eerste amptelike missiewes getoon dat hy die omvang van sy taak bemeester het.

Foto: George Grey (Elliott-versameling, Kaapse Argief)

Sy naturellebeleid was op sigself rewolusionêr en geheel verskillend van dié van sy voorgangers. Dit was ’n beskawingsbeleid, bestaande uit die verskaffing van nuttige werk, moderne beskawingsmiddele soos hospitale en skole, en gestut deur die vermeerdering van die blanke bevolking in die oostelike grensdistrikte van die Kolonie. Daarom staan daar vandag nog hospitale en inrigtings in daardie streke wat die naam van sir George Grey dra, en woon daar in ons land afstammelinge van duisende Duitse en Engelse nedersetters wat vanaf 1857 na die Kaapkolonie gekom het.

In sy tyd het ook die groot Xosa-selfmoord plaasgevind, wat nog wyer gebiede aan die blanke beskawing oopgestel het.

Grey was die voorloper van vooruitgang op materiële gebied in die Kaapkolonie. Gedurende sy ampstyd word – om maar enkele voorbeelde te noem – die eerste spoorlyn gebou vanaf Kaapstad na Wellington, afdelingsrade word ingestel in die vernaamste distrikte, die openbare eksamenstelsel in die Kolonie word verbeter, die organisasie van die onderwys op hegter grondslag geplaas, en op Stellenbosch ’n kweekskool gestig hoofsaaklik deur sy aanmoediging en belangstelling in die werk van die N.G. Kerk.

Hy skenk ook aan die Openbare Biblioteek in Kaapstad sy kosbare versameling boeke, manuskripte en foliante wat vandag nog deur navorsers geraadpleeg word. Selfs in die Vrystaat rig hy ’n kollege op wat sy naam dra.

Teenoor die Afrikaner was hy uiters simpatiekgesind, en in sy verbeelding het hy reeds in 1859 die verspreide republieke en Britse kolonies as ’n eenheidstaat gesien. Hy het hom ook beywer om hierdie ideaal te verwesenlik en dit was hierdie pogings, gepaard met sy ambisieuse immigrasieplanne, wat hom die kritiek van sy bewindhebbers in Londen op die hals gehaal het. Grey is teruggeroep en slegs vir ’n rukkie in 1861 na Suid-Afrika teruggestuur.

Dan verdwyn hy uit ons geskiedenis en keer terug na Nu-Seeland, waar hy tot 1879 ’n belangrike rol in die openbare lewe speel. Tot in sy gryse ouderdom het hy sy belangstelling in ons land probeer behou en briewe gewissel met persone alhier. Ons lees dat hy in 1893 nog aan mev. Koopmans-de Wet ’n brief gerig het. President Reitz en sy seun Deneys het hom op sy oudag ook nog in Londen gaan besoek.

Eindelik, in 1898, het die dood ook sy kleurryke, awontuurlike en nuttige loopbaan beëindig.

“I may with all truth say this, that I know no people richer in public and in private virtues than the Boers.” – Sir George Grey oor die Afrikaner

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.