Stefanus Schoeman (1810-1890)

Jacobus Nicolaas Boshoff (1808-1881)
Augustus 6, 2019
Carolus (Karel) Johannes Trichardt (1811-1901)
Augustus 6, 2019

WAARNEMENDE PRESIDENT VAN TRANSVAAL

Naas Marthinus Wessel Pretorius, die eerste Transvaalse president, het ’n ander groot figuur hom gedurende die vroeë geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek onsterflik gemaak – Stefanus Schoeman, vader van genl. Hendrik Schoeman en een van die vroegste nedersetters noord van die Vaalrivier.

Die eerste lewenslig het hy op 15 Maart 1810 in die Kaapkolonie aanskou, waar hy opgegroei en al die ontberings van ’n grensboer deurgemaak het. Aan die Groot Trek het hy deelgeneem, en hom gevestig in Transvaal waar hy hom ’n getroue volgeling getoon het van die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter.

Foto: Stefanus Schoeman (Mnr. Johan Schoeman)

Die hele wordingsgeskiedenis van Transvaal het hy meegemaak, en reeds voor die Zandrivier-konvensie ’n merkwaardige aansien onder die volgelinge van Potgieter verwerf. In 1847 is hy byvoorbeeld gekies as heemraad, in 1848 as kommandant en kort daarna as Volksraadslid. Na die dood van genl. AH Potgieter en van laasgenoemde se seun Piet Potgieter, kort daarna, het hy die algemeen erkende leier van die Potgieter-volgelinge geword. Hy is dan ook deur hulle as een van die vier kommandant-generaals wat destyds in Transvaal bestaan het, gekies in die plek van genl. Piet Potgieter, wat in 1863 gesneuwel het.

Eweas Pretorius, was hy ook ’n voorstander van ’n hervorming van die Transvaalse konstitusie en ’n algemene verbetering van die wette, dog hy het die taktlose wyse waarop Pretorius die hervorming van die grondwet deurgedryf het, sterk afgekeur en geweier om die wet as geldig te erken. Die mense in die distrik Soutpansberg, waar hy gewoon het, het hom in sy optrede gesteun en byna het burgeroorlog in die staat uitgebreek. Dis egter afgewend deur persoonlike samesprekings tussen Schoeman en afgevaardigdes van Pretorius en, nadat die grondwet weereens deur die Volksraad in behandeling geneem en enigsins gewysig is, het ook Schoeman dit aangeneem en sy pos aanvaar as enigste kommandant-generaal en lid van die Uitvoerende Raad, waartoe hy onder die nuwe grondwet verkies is.

Met die verkiesing van Pretorius as Vrystaatse Staatspresident het hy, die oudste Uitvoerende Raadslid, die amp van waarnemende President in Transvaal vervul, kragtens die bepalings van die grondwet. Hierdie amp het hy getrou waargeneem tot in April 1862, toe hy saam met enige ander amptenare deur die Volksraad geskors is, sogenaamd weens “pligsversuim met voorbedagtheid” en gedagvaar is om in September daardie jaar voor ’n spesiale geregshof verantwoording te doen.

Schoeman, oortuig daarvan dat hy sy plig na die beste van sy vermoë gedoen het en deur die Volksraad skreiend verontreg is, het geweier om hom die behandeling te laat welgeval en die stryd met die Volksraad en die nuwe regering aangeknoop. Nou het gevolg wat algemeen bekend is as die Schoeman-rebellie – ’n beweging wat groot beroering in Transvaal verwek dog tewens die volkseenheid aldaar bevestig het. Dat so ’n “rebellie” kon plaasvind, is getuie genoeg van die geweldige invloed wat Schoeman aldaar besit het.

Nadat die eenheid herstel en Pretorius weer sy pos as President aanvaar het, het Schoeman hom uit die openbare lewe teruggetrek. In 1867 is hy egter deur die regering as diplomatieke agent aangestel, en met ’n aantal vrywilligers gestuur na Soutpansberg waar hy ’n geruime tyd werksaam was. Hier het hy ’n ernstige koue gevat, waarvan hy nooit weer behoorlik herstel het nie, en op 19 Junie 1890 is hy oorlede.

Met sy heengaan het Transvaal een van sy merkwaardigste figure verloor – ’n man van blanke opregtheid, oor wie die geskiedenis sy laaste woord nog nie gespreek het nie.

“Hier legt de strijder moe gestreden zijn hoofd ter ruste neder.” – Grafskrif

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.