Jacobus Nicolaas Boshoff (1808-1881)

Josias Philippus Hoffman (1807-1879)
Augustus 6, 2019
Stefanus Schoeman (1810-1890)
Augustus 6, 2019

STAATSHOOF HET MET BAIE MOEILIKHEDE TE KAMPE

Volgens die bekende geslagsregister van CC de Villiers was die stamvader van die Afrikaanse Boshoff-familie Henry G Bossou. Hy het in 1741 na Suid-Afrika gekom en hom in Swellendam gaan vestig. Jacobus Nicolaas Boshoff is in dieselfde omgewing gebore. In 1824 het hy as klerk gaan werk in die kantoor van die Siviele Kommissaris op Graaff-Reinet, waar hy in 1838 hoofklerk was. Hier het hy nuttige ondervinding opgedoen. In dieselfde jaar het hy ’n paar maande verlof gekry en van hierdie geleentheid gebruik gemaak om die Voortrekkers in Natal op te soek en ’n tydjie by hulle deur te bring. Sy indrukke oor hierdie reis het hy in die Grahamstown Journal gepubliseer.

Op grond van die feit dat hy nie amptelik verlof ontvang het om die Voortrekkers te besoek nie, het Boshoff sy ontslag van die bekende luitenant-goewerneur Stockenström ontvang. Daarna het hy hom in woord en geskrif vir die Voortrekkers begin beywer. In 1839 het hy na Natal vertrek en daar as voorsitter van die Volksraad opgetree en o.a. gehelp om die Natalse grondwet te ontwerp. Nadat Engeland in 1843 Natal ingelyf het, was Boshoff gewillig om onder die nuwe bewind te dien. Van 1846 tot 1854 was hy Griffier en Weesheer van die Hooggeregshof van Natal, terwyl hy ook nog ’n tydlank as magistraat van Kliprivier (Ladysmith) en Pietermaritzburg opgetree het.

Foto: Jacobus Nicolaas Boshoff (Elliott-versameling, Kaapse Argief)

In 1855 het die Vrystaatse Volksraad besluit om hom die presidentskap aan te bied. Op 27 Augustus van dieselfde jaar het Boshoff sy ampseed afgelê. ’n Moeilike taak het die nuwe staatshoof gewag. Allereers was daar die dreigende Basoeto-gevaar. Deur die taktvolle optrede van Boshoff, en deur tussenkoms van sir George Grey, is ’n botsing met Mosjesj voorlopig afgewend. Wat Boshoff by ’n deel van die Vrystaters in diskrediet gebring het, was sy optrede in die Cox-saak. Charles Leo Cox, ’n Engelsman, het sy vrou en kindertjies om die lewe gebring en is ter dood veroordeel (1856). In die teregstelling het daar ’n paar onreëlmatighede plaasgevind. Daarvan het Boshoff se politieke teenstaanders gebruik gemaak om sy naam en die Vrystaatse regspraak swart te smeer. Om homself staande te hou, het Boshoff nou steun begin soek by die Engels-georiënteerde deel van die  Vrystaatse bevolking.

In 1857 het MW Pretorius van die Suid-Afrikaanse Republiek in Bloemfontein verskyn om die Vrystaat op te eis. Boshoff het daarin geslaag om hierdie gevaar te keer, maar sy tyd en invloed was verby. ’n Groot deel van die Volksraad het hom begin teëwerk, en hy het in 1858 sy bedanking ingedien. Aanvanklik het die Volksraad dit aanvaar, maar kort daarna weer ingetrek. Weer het die Basoeto-moeilikhede en die planne van MW Pretorius hom in die gedrang laat kom. President Boshoff het, met die hulp van sir George Grey en ’n aantal Vrystaatse aanhangers, eers vrede met Mosjesj gemaak en daarna ’n plan van sir George Grey, om die Vrystaat met Britse geweste in Suid-Afrika te federeer, ondersteun. Dit was in 1858. In 1859 het Boshoff met sy gesin na Natal vertrek, en daar sy bedankingsbrief aan die Vrystaatse Volksraad opgestel. Die moeilikhede het hom oorweldig.

Terwyl MW Pretorius in sy plek aangestel is, het Boshoff in Natal van 1862 tot 1873 die afdeling Kliprivier (later Ladysmith) in die Natalse Wetgewende Vergadering verteenwoordig. Daarna het hy hom aan die politieke lewe onttrek en afwisselend op Joubertsvlei, sy plaas naby Pietermaritzburg, of in die dorp self gewoon. Sy eggenote, Adriana Petronella Gertruida van Aswegen, het hom op Dingaansdag 1878 ontval. In 1880 het die voormalige Vrystaatse staatshoof met mej. Louise Perry vir ’n tweede keer in die huwelik getree, en in 1881 is hy oorlede.

By geleentheid van sy afsterwe het die Vrystaatse Volksraad met algemene stemme ’n mosie aangeneem waarin o.m. verklaar is dat die oorledene hom besonder verdienstelik teenoor land en volk gemaak het. Ook is daar getuig dat hy die grondslae gelê het “waarop ons Staatsgebouw zich met goed gevolg ontwikkeld heeft.”

Tweede president van die Oranje-Vrystaat

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.