Josias Philippus Hoffman (1807-1879)

Louw Wepener (1812-1865)
Augustus 6, 2019
Jacobus Nicolaas Boshoff (1808-1881)
Augustus 6, 2019

LEIER IN MOEILIKE DAE VAN JONG STAATJIE

Die toekomstige eerste staatshoof van die Oranje-Vrystaat, Josias Philippus Hoffman, is in Stellenbosch gebore. In die Vrystaatse geskiedenis tref ons sy naam vir die eerste keer as een van die ondertekenaars van die Bloemfonteinse Konvensie aan. Behalwe dat hy as President geteken het, was hy een van die verteenwoordigers vir die distrik Smithfield.

Om Hoffman se posisie as president beter te verstaan, is dit wenslik om na te gaan onder watter omstandighede die Oranje-Vrystaat gebore is. Soos bekend was dit Engelse gebied van 1848 tot 1854. Mosjesj, die toenmalige hoof van die Basoeto’s, het die Engelse baie moeilikhede besorg, en hulle in 1851 en 1852 by Viervoet en Bereaberg verslaan. Hierdie neerlae het die Engelse regering laat besluit om sy gesag oor die Oranjerivier-soewereiniteit te laat vaar. Sir George Russell Clerk is na Bloemfontein gestuur, en teen die sin van ’n aantal bewoners van die gebied het die Engelse owerheid op 23 Februarie 1854 hom aan die Vrystaat onttrek.

Foto: Josias Philippus Hoffman (Elliott-versameling, Kaapse Argief)

’n Swaar las het op president Hoffman se skouers gerus. Behalwe dat hy met verdeeldheid onder die burgers te kampe gehad het, moes hy die Basoeto-gevaar besweer. Dan moes hy die bestuur van die jong Republiek organiseer. Het hy nie in die eersgenoemde take geslaag nie, gelukkiger was hy in die laaste geval. ’n Nederlandse onderwyser, wat in Fauresmith (Sannaspoort) gewerk het, het hom as goewermentsekretaris getrou bygestaan. Dit was Jacobus Groenendaal, onder meer bekend as die vernaamste ontwerper van die eerste Vrystaatse grondwet.

Groenendaal (1805 – 1860) het hom beywer om bekwame amptenare uit Nederland te ontbied. Een van die bekendste Nederlanders wat op sy aandrang oorgekom het, was Hendrik Antonie Lodewyk Hamelberg, o.a. die digter van die Vrystaatse Volkslied, die man wat later deur president F.W. Reitz “een vader van den Vrystaat” genoem is.

Hoffman en Groenendaal het moeilike dae belewe, so moeilik dat die president kort na die Bloemfonteinse Konvensie tydelik afgetree het. Groenendaal het onder beskerming van Engelse polisiedienare sy werk verrig, so verdeeld was die opinie van die bevolking oor die onafhanklikheid. Eers in Mei 1854 is die rus voorlopig herstel.

Waar moes die staatshoof ondersteuning kry? Hy en Groenendaal het ’n brief aan Koning Willem III van Nederland gerig, en daarin laat uitkom dat die Vrystaatse bevolking hul jong staat na die huis van Oranje genoem het. Verder is die koning gevra om ’n vlag en wapen aan die Oranje-Vrystaat te skenk. Aan hierdie versoek is voldoen. Om ’n paar kanonne aan die Vrystaat te gee, het die koning nie wenslik geag nie. Ook in ander opsigte het president Hoffman steun van Nederland verwag. Die bekende professor U.G. Lauts is as eerste konsul van die Oranje-Vrystaat aanbeveel. President Hoffman het in 1855 afgetree. Volgens sommige skrywers is sy val deur ’n vaatjie kruit veroorsaak. Deur hierdie presentjie aan Mosjesj te gee, sou hy onbemind geraak het.

Daar mag ’n kern van waarheid in hierdie verklaring wees; ons glo dat dit slegs ’n argument was wat sy vyande aangegryp het om Hoffman uit die saal te lig. Die verdere onrustige kinderjare uit die Vrystaatse geskiedenis bewys dit. President N.J. Boshoff het slegs drie jaar ageer, dan kom M.W. Pretorius. Eers pres. Brand was in staat om langer aan die hoof van die Vrystaat te staan.

Hoffman het gaan boer en is in 1879 op die plaas Stootkraal, in die distrik Caledonrivier, oorlede. Drie seuns en een dogter het hom oorlewe.

Eerste president van die Oranje-Vrystaat

 

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.