Louw Wepener (1812-1865)

Seun reis halfpad om wêreld met boodskap vir Oom Paul
Julie 2, 2019
Josias Philippus Hoffman (1807-1879)
Augustus 6, 2019

VAL MET HONDERD MAN BASOETO-VESTING AAN

Langs ’n Tjaart van der Walt, Retief en Uys, onthou die Afrikaner die naam van kommandant Louw Wepener as een van hulle wat die heldedood gevind het in die stryd om vir die blanke beskawing die weg te baan.

Wepener was, soos baie ander Vrystaters, deur die bedreiging van huis en haard tot krygsman gemaak in die dae toe Mosjesj vanaf sy bergvesting Thaba Bosigo oor die Basoeto’s regeer het en rooftogte teen die Vrystaters uitgevoer het in die vrugbare Caledon-vallei.

As gewone burger het Wepener op die grens sy plig gedoen, en deur sy persoonlike moed en durf is hy aangewys as kommandant van sy distrik. In die oorlog van 1865, die tweede veldtog teen Mosjesj, was Wepener een van sewe kommandante wat onder die bevel van Kommandant-generaal Fick die gedugte vyand moes aanpak. Dit was tewens ook die eerste oorlog waarin die nuwe president, Jan Brand, ’n leidende rol sou speel.

Aanvanklik het die planne skeef geloop. Wepener was ten gunste van ’n blitsvinnige opmars en hy wou onder andere die stat van Moperi aanval, maar die meerderheid het anders besluit en die gevolg was dat Wepener en sy mense op die verdediging moes bly om Smithfield en Bethulie te beskerm.

Foto: Louw Wepener en sy seun (Elliott-versameling)

Terwyl Fick in Julie-maand ’n frontaanval in die rigting van Mosjesj se berg moes doen, is dit aan Wepener opgedra om uit suidelike rigting op te ruk. Dit het hy met groot welslae uitgevoer, en een stat na die ander weggeveeg sodat hy aan die begin van Augustus voor Thaba Bosigo by die kommando’s van Flick kon aansluit.

Op 8 Augustus is ’n mislukte poging deur die Vrystaters aangewend om die berg te bestorm. Daarna het dwarstrekkery en onenigheid onder die mense so toegeneem dat ’n week daarna weer ’n poging aangewend is voordat die kommando’s kon wegkom en huis toe gaan. Vrywilligers is gevra vir die aanval en uitsoekplase is aan hulle beloof.

Van die totale aanvalsmag van 2 100 moes Wepener uit sy kommando 350 lewer. Hy en kommandant Wessels het met 600 man op die namiddag van 15 Augustus die aanval begin teen die verskanste hange wat na die Khubetu-pas lei.

Die vuur van die Basoeto’s was geweldig en die moed van baie van die aanvallers het hulle begewe sodat hulle omgedraai het. Teen sononder het Wepener gevind dat daar nog net 100 man by hom en Wessels was, en hy het by Fick laat versterkings vra.

Intussen het hy met leeuemoed die Basoeto’s weer aangepak, maar hy het nie die derde skans ingeneem nie. Louw Wepener is dodelik getref en ook kommandant Wessels is swaar gewond. Nege Vrystaters het saam met hul kommandant gesneuwel, en die res het omgedraai, want die nag het toegesak oor die berghang.

Wepener en die ander gesneuweldes is deur die Franse mediese sendeling, dr. Lautre, op Thaba Bosigo begrawe, maar jare later is die oorskot weer opgegraaf en na die distrik Bethulie vervoer. Uiteindelik is die beendere ter ruste gelê op Constantia, Bethulie, waar in 1941 ’n Louw Wepener-monument onthul is.

“Hy leg op Thaba Bosigo,

Geen grafsteen sal by verge,

Syn monument het God gebou,

Die Boubeer van die Berge.” – FW Reitz

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.