Thaba Nchu
Julie 1, 2019
Seun reis halfpad om wêreld met boodskap vir Oom Paul
Julie 2, 2019

Die spoorlyn vanaf die Kaap via Colesberg na Bloemfontein is in 1890 voltooi. Met die bou van die spoorlyn is ’n spoorwegstasie te Springfontein gebou. Die here Wright en Schroder het destyds hier ’n winkel geopen. Die winkel het gegroei in ’n groot Algemene Handelaars-saak wat die omliggende plase en spoorweg bedien het en mettertyd ’n middelpunt in die ekonomiese bedrywighede van die Suid-Vrystaat begin word het.

Die spoorlyn vanaf Bethulie-brug na Springfontein is enkel maande later deur die Spoorweg-Konvensie-Wet van 1891 gemagtig en op 21 Mei 1892 is Springfontein per spoor met Oos-Londen verbind.

Op 2 Junie 1893 het JJ Louw en AJ Fourie twee memories by die Volksraad ingedien met die versoek dat dorpstatus aan Springfontein toegestaan moet word. Die twee petisies is egter van die hand gewys.

Gedurende die Anglo-Boereoorlog was daar op Springfontein ’n groot konsentrasiekamp. Gedurende Augustus 1901 was daar nagenoeg 2 900 vroue en kinders woonagtig in Springfontein se konsentrasiekamp. Gedurende Oktober 1901 het 114 vroue en kinders in hierdie konsentrasiekamp gesterf. ’n Aparte kerkhof vir kinders wat ongedoop gesterf het, is destyds in Springfontein ingerig. Die huis waar Emily Hobhouse tydens haar besoeke aan die dorp gewoon het, “De Bome”, langs die plek waar die konsentrasiekamp was, staan vandag nog.

Deur proklamasie no. 17 van 1902 van die Oranjerivier Kolonie is Springfontein as ’n aparte distrik in 1902 erken. Dit was egter kortstondig. Proklamasie no. 11 van 1903 het die Springfontein distrik weer verdeel, en weer is Springfontein ingelyf by die distrikte Bethulie en Philippolis.

Op 8 Desember 1903 word twee verdere petisies by die Wetgewende Raad van die Oranjerivier Kolonie ingedien. Na die sitting van ’n kommissie bestaande uit die here B Adams, GJ van Tonder en PJ Blignaut, wat deur die Wetgewende Raad benoem is, is die dorp Springfontein op 23 Maart 1904 gestig op die plase Hartleydale, Kuilfontein en Viljoensdam. Hartleydale was ’n gedeelte van die groter plaas Springfontein wat aan meneer Boden behoort het. Die dorp Springfontein het dus sy naam gekry van die groter plaas van Boden.

Op 1 Februarie 1905 is die spoorlyn vanaf Springfontein na Jagersfontein in gebruik geneem en die volgende jaar is die lyn verleng na Fauresmith en in 1915 verder na Koffiefontein. Op 22 November 1912 het Springfontein-dorp die verhoogde status van ’n munisipaliteit verkry.

Die dorp het daarna sy bloeijare beleef. Die inwonertal het gestyg, winkels en sakeondernemings is opgerig en ’n botterfabriek is gebou. Die bou van die Gariepdam (destyds HF Verwoerddam) het in die sestigerjare ook tot die vooruitgang van die dorp bygedra.

In 1967 was daar nog talle winkels, twee dokters, twee prokureurs en drie motorhawens, talle kerke en skole. Skaars tien jaar later het die dorp begin leeg loop. In 1997 is die spoorwegstasie gesluit. Vandag is Springfontein die stille getuienis van ’n vergange era van welvaart en vooruitgang.

Foto: Springfontein konsentrasiekamp tydens die ABO

 

Hierdie is ’n uittreksel uit die hoofstuk van Springfontein wat verskyn in Van der Merwe, Jan (samesteller). 2012. Vrystaatse dorpe. Bloemfontein: Jan van der Merwe.