Sannaspos
Julie 1, 2019
Springfontein
Julie 1, 2019

Thaba Nchu het sy naam te danke aan die berg in die nabyheid. Die Sesoeto woord thaba beteken berg en netso swart, dit wil sê swart of donker berg.

 

Omstreeks in die jaar 1833 het ’n aantal Barolongs hulle op hierdie terrein gevestig. Daar was verskeie kapteins, maar die vernaamste onder hulle was Moroka, die vriend van die Voortrekkers en Trekboere. In 1836 het Moroka die Voortrekkers na die Slag van Vegkop bystand verleen nadat hulle vee deur die Matabeles weggevoer is.

Gedurende die tydperk van die Oranjerivier-soewereiniteit was Moroka ’n bondgenoot van die Britse Regering. Die bondgenootskap het hom soms duur te staan gekom, veral by die ander swart stamme. Daarna was Moroka ook n bondgenoot van die Vrystaatse Republiek. Hy was deurgaans getrou aan sy wit bondgenote en dit is dus te verstane waarom die Vrystaatse Volksraad in 1880 die volgende besluit geneem het: “De Raad heeft met groote deelneming vernomen den dood van het getrouwe opperhoof der Barolongs, Moroka, die steeds een warm vriend der Emigranten was.”

Na Moroka se dood het daar moeilikheid ontstaan met die opvolging van die opperhoofskap. Daar was twee jong kapteins wat hierop aanspraak gemaak het, Sepinare en Samuel Moroka. Sepinare was die seun van die oudste broer van Moroka. Na die dood van hierdie broer het Moroka van sy vrou, die moeder van Samuel, geskei en met die moeder van Sepinare getrou. Tydens die siekte van Moroka het Sepinare die Barolong regeer en na Moroka se dood het hy hom opgevolg. Samuel het egter daarop aanspraak gemaak dat hy die wettige opvolger van Moroka is. Daar het ’n opstand gedreig en president Brand het as bemiddelaar opgetree. Hy het hom ten gunste van Sepinare se aanspraak verklaar.

Samuel het hom egter nie by die uitspraak berus nie en hewige twiste was die noodwendige gevolg. In 1884 is Sepinare deur die volgelinge van Samuel vermoor. Die Vrystaatse Volksraad was genoodsaak om in te gryp en die Barolong grondgebied is deur die Vrystaat geannekseer. Dit is as distrik verklaar en C. van der Wath is as kommissaris en landdros daar aangestel. Hy is later opgevolg deur J.M. de Wet. Samuel en ’n paar van sy volgelinge is uit die Moroka distrik verban.

Na hierdie moeilikhede het die kwessie van die stigting van ’n dorp in die Moroka distrik ter sprake gekom, maar menings was uiteenlopend wat betref ’n geskikte terrein vir die voorgestelde dorp. Plekke wat in verband daarmee genoem is, was onder andere Lapberg, Thaba Nchu en Thaba Patswa. Thaba Nchu was die sentraalste gelee; maar daar is destyds gemeen dat te veel swart persone in daardie omgewing woonagtig was.

In 1890 het die Vrystaatse Regering besluit om ’n kommissie te benoem om ’n geskikte plek vir ’n dorp uit te soek. Die keuse het geval op die plaas Many Waters. Daar is egter bevind dat hierdie plaas baie klein was en het hulle dan ook aanbeveel dat die aangrensende plase Eenzaam en The Willows deur die regering aangekoop en by Many Waters gevoeg moet word. Van hierdie voorstel het niks tereg gekom nie en eers in 1892 is die kwessie van ’n dorpsterrein weer deur die Vrystaatse Volksraad behandel. As ’n moontlike terrein vir ’n dorp is toe genoem die plek Bonola Lesaka. Einde ten laaste is egter besluit om die dorp op ’n gedeelte van die plaas Thaba Nchu aan te le.

Thaba Nchu is een van die bekendste landmerke op die hoeveld vlaktes van die oostelike Vrystaat. Die dorp is formeel in 1893 gestig. Die dorp en distrik was later deel van die grondgebied van die destydse Bophuthatswana, die tuisland van die Tswanas wat in 1979 onafhanklikheid verkry het, maar weer in 1994 by Suid-Afrika ingelyf is.

 

Die Groot Trek

Thaba Nchu is een van die mees historiese plekke in ons Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die Groot Trek het op sy weg na Natal en Transvaal hier vir ’n tyd lank oorgestaan. Die Voortrekkers het in 1836 uitgespan by Morokashoek, aan die suidelike voet van die Thaba Nchu-berg, ook destyds genoem Blesberg. Om Morokashoek te bereik, moet ’n mens met die grondpad na Dewetsdorp ry en vyf kilometer vanaf Thaba Nchu op die pad, net oorkant die Klein Modderrivier, links draai in ’n oostelike rigting. Vyf kilometer verder word weer links op ’n grondpad weggedraai en dan kry jy Morokashoek. By Morokashoek staan twee monumente; een om die graf aan te dui van Voortrekkerkinders en die ander om die standplaas van die Voortrekkers aan te dui. Die Groot Trek was in 1836 in volle gang. Deur die driwwe in die Oranjerivier, by Aliwal-Noord en verder weswaarts, het die trekgroepe een na die ander oor Thaba Nchu noordwaarts koers gevat, Andries Hendrik Potgieter, Gerhard Maritz, Piet Retief, Pieter Lafras Uys en ander. Thaba Nchu het weens sy ligging ten opsigte van die oostelike Kaapkolonie en die goedgesindheid van Moroka, die Barolonghoof en James Archbell, ’n Wesleyaanse sendeling, die algemene bymekaarkomplek van die Voortrekkers geword.

Na die Slag van Vegkop, in Oktober 1836, teen die Matebele van Silkaats, het Potgieter met sy trek na Thaba Nchu teruggekeer. Op 19 November 1836 het Gerhard Maritz met sy groot geselskap ook daar uitgespan. Die besluite wat by Thaba Nchu geneem is, het ’n beslissende invloed gehad op die verdere verloop van die Trek. Onder andere is hier op 2 Desember 1836 ’n algemene vergadering gehou waarop die eerste amptelike Voortrekkerbestuur in die lewe geroep is. Van hier het ook op 2 en 3 Januarie 1837 die eerste strafekspedisie teen Silkaats te Mosega naby die huidige Zeerust in Noordwes opgetrek. Na die terugkeer van hierdie strafekspedisie, het die trekgeselskap van Potgieter en Maritz na Winburg verskuif. In April 1837 het Piet Uys se trek op Uysklip, 25 km suidwes van Thaba Nchu gearriveer.

 

Moroka

Op die Dewetsdorppad, halfpad tussen Morokashoek en Thaba Nchu, is Victorianek. Op die knop van hierdie nek is ’n klipstapel aan die regterkant van die pad wat die destydse Voortrekkerwa roetes aandui. Die Barolong het die nek Rakgokgo genoem. Dit is ’n klanknabootsing wat die gestamp en die geklop van die wawiele oor die steilte voorstel. Die geskiedskrywer, F.A. Steytler, vertaal die naam Rakgokgo dan ook as “Die Nek van Stampende Wiele”. In die verbeelding kan mens die eindelose ry ossewaens oor die nek sien beur, terwyl die troppe skape en beeste aan weerskante rustig wei-wei voorttrek. ’n Besoek aan Thaba Nchu self is die moeite werd, aangesien die sendinghuis van eerwaarde James Archbell, wat so ’n belangrike rol in die lotgevalle van die Voortrekkers gespeel het, nog steeds daar te sien is. Die graf van die merkwaardige Barolong hoof en Voortrekker vriend, Moroka, is in die Barolong begraafplaas gelee. Moroka is omstreeks 1795 gebore en het in 1830 hoof geword van die Seleka-Barolong stam by Platberg. Toe hulle deur ander Swart stamme bedreig is, het die sendelinge, James Archbell en John Edwards, Moroka oorreed om in 1833 met sy stam na Thaba Nchu te verhuis. Met die koms van die Voortrekkers was hy dus reeds behoorlik gevestig. Teenoor hulle het hy hom as ’n ware Christenvriend betoon. Elke trekgeselskap uit die suide het hy hartlik ontvang en van staanplek en weiveld vir ’n onbepaalde tyd voorsien. Na die Slag van Vegkop het hy osse gestuur om die trek van A.H. Potgieter, wat in die slag van al sy vee beroof is, na Thaba Nchu te bring. Moroka het ’n vriend van die Republiek van die Oranje-Vrystaat gebly tot aan die einde van sy lewe in 1880. Hy het die grondslag van goeie verhoudinge met die blanke gemeenskap gele en sodoende ook die belange van die Barolong stam bevorder.

 

Eerwaarde James Archbell

Die huis van eerwaarde James Archbell is slegs ’n kilometer noordoos van die Thaba Nchu begraafplaas gelee. Die huis is tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Hoewel daar by die huis aangebou is, kan die oorspronklike gedeelte van die sendinghuis nog herken word. Die uitkenning van die oorspronklike huis kan maklik gedoen word danksy die buitengewoon dik mure van die oorspronklike huis. Uit erkentlikheid vir die vriendskap, hulp en bystand wat die Barolongs aan die Voortrekkers en ander blankes verleen het, het die NG Sending ’n sogenaamde Ereskuld-kerk in Thaba Nchu vir die opheffing en beskawing van die Barolongs opgerig. In die Voortrekker geskiedenis is Thaba Nchu dus van die allergrootste belang vanwee die massa saamtrek van die trekgroepe destyds daar.

 

Die eerste kerkraad in die Vrystaat bevestig by Thaba Nchu

Die Voortrekkers was pioniers in die sin dat hulle die beskawingspad na die binneland van Suid-Afrika te midde van groot gevare en ontberings met heldemoed, dapperheid en durf oopgebreek het. Ook ’n ander karaktertrek van die pioniers is by hulle te bespeur, naamlik ’n sterk neiging tot selfstandigheid en individualisme, wat dikwels tot koppigheid en party vorming gelei het en taamlik probleme in die Voortrekker lewe veroorsaak het, veral ten opsigte van effektiewe organisasie en administrasie. Die Kaapse kerk het die Groot Trek nie erken nie, maar desnieteenstaande was die Voortrekkers tog gelowige mense met die vaste oortuiging dat “de openbare Godsdienst de eerste grondslag moet zijn waarop een Christelijke maatschappij moet gegrondvest worden.” Elke Voortrekkerleier was daarom nie alleen in burgerlike sin hoof van sy groep nie, maar was ook verantwoordelike hoofman wat godsdienstige sake betref. Hy het self nie die eredienste gelei, die sakramente bedien en huwelike bevestig nie, maar hy het wel verantwoordelikheid daarvoor aanvaar en gebruik gemaak van geestelike leiers soos Lindley, Sarel Cilliers en Erasmus Smit. Laasgenoemde was nie so geliefd nie, veral by leiers soos Potgieter en Uys, onder meer omdat hy nie ’n ten volle geordende predikant was nie, verder ook omdat hy aan die Londense Sendinggenootskap verbonde was en vanwee sekere persoonlikheid gebreke. Hoewel die Voortrekkers deur die binding van die kerk aan die owerheid in die Kaap min ondervinding van kerklike organisasie gehad het, het hulle reeds op 16 November 1836 besluit tot die daarstelling van “eene goede Godsdienstige en burgerlijke maatschappelijke inrichting”. Op 8 Februarie 1837 is ’n Kerkraad, bestaande uit ouderling J.S. Maritz (wat veral siekebesoek en huisbesoek moes doen) en diakens Sarel Cilliers en C. Viljoen gekies en bevestig. Omdat daar geen predikant was nie, het hierdie Kerkraad nooit byeengekom nie. Nadat Retief se trek by die van Maritz in Thaba Nchu aangekom het, is daar op 17 April 1837 ’n algemene vergadering gehou om die sake op kerklike en politieke terrein te orden. Na veel teenstand, is Erasmus Smit wel op 21 Mei 1837 as predikant georden en ses maande later, op 3 Desember 1837, is die eerste Kerkraad wat werklik gefunksioneer het en ’n heilsame invloed en orde geskep het bevestig, naamlik Francois Retief en Carel van der Merwe as ouderlinge en C Liebenberg en R Dreyer as diakens.

 

Die gevegte by Thaba Nchu ten tye van die Anglo-Boereoorlog

Op 21 April 1900 is generaal Koos de la Rey vas oortuig dat dit net ’n kwessie van tyd is voor die Britse troepe in Bloemfontein tot aanval in die Suid-Oos Vrystaat sal oorgaan, hoewel die front in die omgewing van Bloemfontein op daardie tydstip nog stil was. Daar is slegs een skermutseling op 20 April 1900 tussen die Amerikaanse Vrywilligers van kaptein J.A. Hassellen en ’n patrollie onder ene Du Plooy, ’n Vrystaatse burger wat later die wapen neergele het en in diens van die Britte getree het.

De la Rey besef dat indien sy vermoedens reg is, hy nog Boere krygers nodig sal he om sy linie wat oor meer as 25 myl strek, te verdedig. Hy gee aan generaal J.H. Snyman opdrag om 1 000 man aan hom te stuur. Snyman is egter nie hiermee tevrede nie, aangesien hy al sy manskappe sal nodig he om ’n Britse troepemag wat uit Beira na Mafikeng op pad is, tee te staan. Intussen het De la Rey sy burgers so goed moontlik toegerus met perde, kanonne, muile en slagvee, sodat hulle gereed kan wees as Lord Roberts se leer in beweging na die Suid-Oos Vrystaat kom.

Op 27 April 1900 bring De la Rey se verkenners aan hom die nuus dat die Britse berede troepe naby Bloemfontein aan die uittrek is. Oor sy linkerflank is hy nie eintlik bekommerd nie. Philip Botha beskik oor meer as genoeg manskappe om generaal Ian Hamilton se berede infanterie te stuit en hoof-kommandant Christiaan de Wet het juis met sy krygsmag oos van Thaba Nchu op die plaas Alexandrië aangekom. De Wet beset die westelike uitlopers van Swartlapberg (Thaba Phatswa), wat oos en suid van Thaba Nchu le. Hy is gereed vir enige troepebewegings. Die bergomgewing is so vol klowe en slote dat operasies deur ’n sterk Britse troepemag feitlik onmoontlik is. Hy beset nie net Swartlapberg nie, maar ook die hoogtes wat noordwaarts strek tot by die oostelike punt van die kant waarop Houtnek gelee is.

Op 27 April 1900 verlaat generaals J.D.P. French en Ian Hamilton Thaba Nchu, vergesel van twee sterk patrollies, om die omgewing te gaan verken. French, met die 3de en 4de brigades van sy kavalleriedivisie en Hamilton se berede infanterie het juis kort tevore hier verenig met French as die bevelvoerder van die gesamentlike mag. Hulle laat Skuinshoogte beset met die oog op hul aanvalsplanne van die volgende dag. Die paar burgers wat die wagpos beman het, het sonder om weerstand te bied koers gekies. Ofskoon daar kort-kort skote klap, verontrus dit niemand juis nie. French is inteendeel so oortuig dat die stelling veilig is, dat hy teen sononder sy troepe opdrag gee om na die kamp terug te keer. Dit is nog lig genoeg vir die Boere, wat intussen nader gesluip het om met akkuraatheid op die Britse troepe los te trek. Eers om 23h00 bereik die Engelse hulle kamp, met tussen 12 en 14 man gedood. ’n Bataljon Gordon Highlanders wat die Britse troepe moet gaan help, verdwaal so dat hulle eers die volgende dag weer by die res van die Engelse mag aansluit.

Vroeg die volgende oggend ruk French met sy hele Engelse mag onder sy bevel teen die Boere by Swartlapberg op – Hamilton se berede infanterie, die kavallerie brigade van brigadier J.R.P. Gordon en generaal J.B.B. Dickson en generaal Leslie Rundle se voetsoldate. Hulle beset Skuinshoogte en begin daarna met ’n operasie om generaal De Wet se krygsmag op die berg te omsingel. Die 8ste divisie moet op sy beurt Thaba Nchu beskerm terwyl die res noord om die berg gaan.

Dickson se brigade is vinnig op De Wet se terugtog roete, gereed om hom van die ander Boere magte af te sny sodra sy manskappe sou begin vlug. Dickson laat weet ook dadelik vir Hamilton om versterkings aan hom te stuur om sy posisie te versterk. Terwyl Dickson sy tande vir ’n moontlike konfrontasie met De Wet slyp, bevind Gordon en sy brigade hulself in ’n penarie by Sprinkaansnek. Hulle loop hulle in sulke skerp geweervuur van generaal J.B. Wessels se burgers vas, dat hulle nie verder kan gaan nie.

Ian Hamilton het net op die toneel verskyn, toe assistent-hoofkommandant J.H. Olivier skielik op hom toesak, nie alleen vanuit die suidooste nie, maar veral waar die rante van Swartlapberg en Houtnek met mekaar verbind. Dickson en Hamilton word totaal onkant gevang en het geen ander keuse as om dadelik terug te val nie. Die aanstormende Vrystaters wat sommer so uit die saal skiet, dreig immers om hulle te omsingel. Die totale verlies tydens die geveg beloop sowat 50 Britse soldate, waarvan minstens 10 gevang word. Dickson, wie se verkenners nie hulle werk na behore gedoen het nie, besef in der waarheid nie eers dat die Boere by Swartlapberg ingegrawe is nie. Hy sien selfs ’n aansienlike getal Boere krygers op ’n afstand van ongeveer twee myl voor hom verbyjaag, maar besef nog nie wat aan die gang is nie – hy dink dit is Boere wat van Swartlapberg verjaag is.

Op 29 April 1900 stoot French Rundle sy Engelse troepe teen De Wet in die veld, in ’n poging om die burgers uit hulle stellings op die oostelike helfte van Swartlapberg te verdryf. Dit is noodsaaklik aangesien hulle vanuit hulle stellings die Britse kamp voortdurend met kanonvuur teister. Die poging van Rundle misluk. Die Boere is goed verskuil en hulle geweervuur is so kwaai dat die aanval in die kiem gesmoor word. Rundle se enigste keuse is om terug te val.

Toe De Wet merk dat die Britte moeg word, neem hy dadelik die inisiatief en loods vanaf Sprinkaansnek ’n aanval op Gordon se berede brigade. Gordon se kamp en hoofkwartier is aan die Kabanyanarivier – op die hoofpad na Dewetsdorp. De Wet slaag daarin om ’n waterwa en ’n voorradewa te buit. Die druk wat hy op Gordon uitoefen, het ook tot gevolg dat Dickson se hele brigade tot Gordon se redding moet kom. ’n Britse konvooi wat van Dewetsdorp na Thaba Nchu onderweg is, word ook deur ’n aantal Boere krygers aangeval en word slegs deur die tydelike tussenkoms van generaal J.P. Brabazon van totale wanorde gered.

Brabazon is reeds met sy troepe vir die nag uitgespan, toe iemand die berig dat die Boere die konvooi aangeval het, bring. Brabazon stuur dadelik die beriggewer terug met ’n boodskap aan die Britse bevelvoerder van die konvooi dat hulle nie moet oorgee nie, aangesien hy met sy versterkings op pad is. Teen die oormag is die Boerekrygers nie bestand nie en al waarmee hulle uiteindelik terugval na Thaba Nchu-nek, is 178 Britse trekosse en 15 perde.

De Wet se mense was egter op daardie tydstip self baie moeg; so moeg dat hulle nie meer geesdrif vir die stryd teen die Britse troepe by Thaba Nchu het nie. Volgens veldkornet Thring van die Boeremagte was die kommando reeds by hulle aankoms by Alexandrie, na die mislukte beleering by Jammerbergdrif, totaal uitgeput en hulle rydiere in ’n slegte toestand. Die burgers hoop dat hulle ’n paar dae kan rus om te herstel van die drie weke lange tog waar hulle of in die saal was of geveg het. Die burgers se onwilligheid en hulle gebrek aan geesdrif is duidelik sigbaar toe die pas aangestelde kommandant, dominee Paul Roux, vrywilligers soek om die Britse kamp by Thaba Nchu onder sy leiding te bestorm. Die meerderheid van die burgers reageer so ongunstig op die oproep dat hy sy plan moet laat vaar. Na sowat drie dae se veg teen die hange van Swartlapberg, pak die vrees vir omsingeling ook die vermoeide burgers beet. Verskeie kommando’s wyk dan ook uit vanaf Thaba Nchu in die rigting van Korannaberg en keer nie weer terug na Thaba Nchu toe nie.

Hierdie is ’n uittreksel uit die hoofstuk van Thaba Nchu wat verskyn in Van der Merwe, Jan (samesteller). 2012. Vrystaatse dorpe. Bloemfontein: Jan van der Merwe.