Bethulie
Julie 1, 2019
Thaba Nchu
Julie 1, 2019

Sannaspos is in wese nie ’n dorp nie, maar ’n pragtig ou spoorwegstasie wat geleë is tussen groot bloekombome halfpad tussen Bloemfontein en Botshabelo.
 
Die Slag van Sannaspos het aan generaal CR de Wet ten tye van die Anglo-Boereoorlog groot eer en vreugde verskaf. Die Boere het daardie oggend van 31 Maart 1900, sewe kanonne, 150 waens, 550 gewere, 2 000 perde en beeste en ’n groot voorraad ammunisie en lewensmiddele by die Britte gebuit. Volgens die Engelse opgawe het 350 man gesneuwel, terwyl die Boere slegs drie man verloor het. Generaal De Wet het meer as 400 Engelse krygsgevangenes gevange geneem en na Pretoria afgevoer.
 
Die slag van Sannaspos
Na die verlies van Bloemfontein het dit op die oog af geblyk of die stryd vir die Vrystaatse Republiek verby was. Die burgers, moeg vir die uitgerekte oorlog, het die wapen neergelê. Mismoedigheid en die verspreiding van gerugte van oorgawe was aan die orde van die dag en kommando’s het doelloos tussen Bloemfontein en Kroonstad, waar die nuwe setel van die regering nou gevestig was, rondgeswerf. Dat goeie rede vir hierdie toedrag van sake bestaan het, kan nie ontken word nie. Kimberley en Ladysmith se besetting en die neerlaag van Paardeberg, asook die verlies van Bloemfontein as hoofstad was alles snel opeenvolgende gebeure wat die gemoed van die Boerekrygers tot wankelmoedigheid gestem het.
 
Christiaan de Wet het op die oggend van 31 Maart 1900 te Sannaspos die eerste noemenswaardige guerrilla-operasie van die Anglo-Boereoorlog gevoer. Die Anglo-Boereoorlog het met hierdie veldslag ’n nuwe tydvak betree. Die hoof veldslag van die Slag van Sannaspos het net ses uur geduur en gestrek van 06h00 op 31 Maart 1900 tot 12h00 dieselfde dag.
 
Op 28 Maart 1900 was luitenant-generaal C Tucker, met 7 Divisie van die Britse magte, by Karee-stasie in skermutselinge betrokke. Op daardie selfde dag was luitenant-generaal JPD French met alle beskikbare versterkings uit Bloemfontein onderweg om bevel by generaal Tucker oor te neem. Die Britte se algehele getalsterkte was ongeveer 6 400 soldate en het hoofsaaklik uit kavallerie-eenhede bestaan. Dit het ook 880 berede infanteriste en vier Royal Horse Artillery (RHA)-batterye ingesluit. Die doel van hierdie magte was blykbaar om die noordelike spoorlyn te beveilig.
 
Gedurende dieselfde tydperk het brigadier-generaal RG Broadwood hom by Thaba Nchu bevind. Sy troepe was ongeveer 1700 en was saamgestel uit ’n kavallerie brigade, ’n berede infanteriebrigade, twee Royal Horse Artillery-batterye en enkele ander ondersteunende eenhede.
 
Die volgende plek waar die Britse magte hul bevind het, was by die waterleiding of waterwerke. Generaal De Wet se verkenners het hom meegedeel dat daar ongeveer 200 troepe was, maar luitenant Asselberg was egter van mening dat die getal tussen 300 en 400 gewissel het. Die geskiedskrywer, Maurice, stel die syfer ook op 200 en meld voorts dat 1 Bataljon Mounted Infantry (MI), onder majoor Amphlett se bevel, uit slegs twee kompanies bestaan het.
 
Bloemfontein was die setel van Lord Roberts se hoofkwartier en generaal De Wet was van mening dat daar 60 000 Britse troepe saamgetrek was. Dit was dan hoe die Britse magte se situasie in die destydse Oranje-Vrystaat tussen 28 en 30 Maart 1900 daar uitgesien het. Generaal De Wet was waarskynlik van al hierdie vyandelike bewegings bewus.
 
Die Boeremagte
Tydens die Krygsraad van 28 Maart 1900 op Brandfort het generaal De Wet die raad oortuig om hom te vergun om na willekeur met sy eie kommando’s te handel. Om 19h00 dieselfde dag, het hy met ’n mag van 1 500 na Winburg vertrek en die volgende twee dae het hy oos en suidoos van Brandfort rondbeweeg om die vyand te mislei en sy planne te finaliseer.
 
Generaal Tobias Smuts het terselfdertyd in ’n suidelike rigting na Bloemfontein opgeruk. Sy taak sou wees om moontlike versterkings wat vandaar sou opruk, aan te val sodat die kommando’s in die rigting van Thaba Nchu die geleentheid het om met die vyand af te reken. Sy mag het uit enkele kanonne en 2 600 man bestaan. Gedurende dieselfde krygsraad is besluit dat generaal De la Rey met sy Transvalers en sekere Vrystaatse kommando’s onder bevel van generaal Philip Botha, in Brandfort sou bly. Volgens Amery het laasgenoemde mag uit ongeveer 3 000 man bestaan.
 
’n Ander groot mag wat ’n direkte invloed op die planne van De Wet gehad het, was die van generaals JH Olivier en ER Grobler. Na die nederlaag by Paardeberg het hierdie mag van 5 000 man hul terugtog noord vanaf Colesberg aangepak. Die geskiedskrywer, David du Toit, skryf dat dit De Wet se oogmerk was om met die kolonne van 800 waens, geskut, ammunisie, vee, vrouens en kinders – afkomstig uit die Kaapkolonie – kontak te maak. Dit kan egter nie as De Wet se primêre taak op daardie tydstip gesien word nie, want hy sou in daardie geval ’n regstreekse poging aangewend het om dit te doen. Teen 28 Maart 1900 het hierdie kolonne, wat oor ’n afstand van 40 kilometer gestrek het, Ladybrand bereik. Op 29 Maart 1900 het De Wet verneem dat Olivier veilig in Clocolan aangekom het en dat hy besig was om die Britse generaal, generaal Broadwood vanaf Ladybrand na Thaba Nchu terug te dryf.
 
Die verloop van die slag van Sannaspos
Om ongeveer 06h05 op 31 Maart 1900 het die eerste geweerskote vanaf Boerekant langs die oostelike oewer van die Modderrivier geklap en tussen 10 tot 20 minute later het die eerste 75 mm granaat aan die oostekant van die Modderrivier ontplof. Dit is dadelik deur verdere granate opgevolg. Verwarring het onmiddellik in die geledere van die Britse mag geheers. Die waens is haastig ingespan en hulle het dadelik in die rigting van Klipkraaldrif koers gekry. Generaal Broadwood, wat onder die indruk was dat hy deur Olivier se kommando’s aangeval word, se eerste reaksie was om die vyandelike artillerievuur te probeer neutraliseer. Toe die oënskynlike groot afstand hierdie taak onmoontlik gemaak het, het hy opdrag gegee dat die artillerie, met ’n eskort, agter die konvooi aan moes beweeg. Onmiddellik hierna het luitenant-kolonel Pilcher berig dat sy troepe 300 Boere langs die noordelike rante, in die rigting van die Boesmanskop sien weggalop het.
 
In hierdie stadium was die wanorde onder die Britse troepe tussen die Modderrivier en die Koringspruit goed op dreef. In hierdie omstandighede het die Britse magte geen verdere verkenning van hulle gevegsterrein gedoen nie en die hele Britse mag het selfversekerd nader aan die Koringspruitdrif beweeg.
 
Om ongeveer 07h00 het die eerste Britse troepe die drif bereik. Sodra ’n Britse soldaat in die drif beland het, is die insittendes beveel om sonder om alarm te maak na Klipkraal te ry waar hulle deur ’n aantal Boerekrygers bewaak is. Die groter waens het gou ’n opeenhoping veroorsaak wat 400 tot 500 meter ver gestrek het. Die geskiedskrywer, Asselberg, vertel dat daar toe ’n probleem ingetree het. Kolonel Rochfort, ’n bevelvoerder van die Britse artillerie, het toe sy adjudant, kaptein Wray, vooruit gestuur om vir die artillerie ’n deurgang deur die drif te baan. Volgens Amery het majoor Taylor, ’n ander Britse bevelvoerder, net voor die drif by Wray aangesluit en is beide van hulle toe deur die Boere verras. Taylor en Wray is deur De Wet self beveel om van hul perde af te klim en om na die Boere se waens te gaan. Taylor het hierna in ’n oomblik van onwaaksaamheid deur die Boere, weggeglip. Hy het sy eie troepe in kennis gestel en hierna majoor Philipps-Hornby gewaarsku wat toe reeds al nader beweeg het. Hornby het hierop dadelik sy troepe laat omdraai en in die harwar ’n Britse kanon omgegooi.
 
Met die opening van die geweervuur deur die Boeremagte het veral Philipps-Hornby se magte dit ontgeld. Vyf kanonne het dadelik in die slag gebly terwyl die perde sonder hul bemanning gevlug het. Om te verhinder dat die Engelse se waens ontsnap, is van hulle trekdiere in hul tuie doodgeskiet en die Boere kon gevolglik al hul aandag op die terugvallende Britse troepe vestig.
 
Generaal De Wet het later verneem dat vyandelike versterkings uit die rigting van Bloemfontein in aantog was. Voor die einde van die geveg om ongeveer 10h00 het hy al opdrag gegee dat twee van die 75 mm Krupp-veldkanonne na veiliger stellings by die Koringspruitdrif moes verskuif. Die Engelse magte van Bloemfontein het na 12h00 daar aangekom. Die Boere het intussen voorbereidings getref om hul buit en krygsgevangenes na veiligheid aan die oostekant van die Modderrivier te neem. Aangesien baie trekdiere in die slag gebly het, moes hulle noodgedwonge improviseer om die waens weg te kry. De Wet het verwag om enige oomblik aangeval te word, maar hy het nogtans daarin geslaag om tussen 12h00 en 13h00 deur die driwwe by die Waterwerke te kom. Generaal Olivier het in daardie tyd ook sy opwagting by die Modderrivier gemaak.
 
Nabetragting
Gemeet aan die verliese wat die Britse magte gely het, was Sannaspos nie net van die eerste nie, maar ook “… in some ways the most brilliant of all De Wet’s surprises.” Volgens die “Royal Commission on the war in South Africa” is 3 offisiere en 15 Britse manskappe gedood, 16 offisiere en 118 manskappe gewond, 18 offisiere en 408 manskappe as krygsgevangenes deur die Boere in hegtenis geneem. Die kommissie meld ook dat 83 waens saam met die sewe kanonne gebuit is. De Wet meld dat hy nie tyd gehad het om die Engelse se verliese aan te teken nie, maar dat hy later uit hul eie verslag gesien het dat hulle 350 dooies en gewondes gely het. Hy verskil ook verder omdat hy die hoeveelheid krygsgevangenes op 480 “… (de kleurlingen uitgesloten) …” en die Britse waens op 117 plaas. Aan Boerekant is slegs drie gedood, waarvan twee by Klipklaardrif gesneuwel het en vyf Boerekrygers is gewond.
 
Generaal De Wet vertel later in sy boek oor sy wedervaringe in die Anglo-Boereoorlog dat sy vinnige humeur tydens die ontwapening van die Engelse in die spruit by die Slag van Sannaspos met tye erg opgevlam het. By ’n gebrek aan inisiatief deur sommige van sy mede-Boerekrygers en die groot hoeveelheid krygsgevangenes wat die Boere daar in hegtenis geneem het, het die burgers hulle tot hul generaal vir raad gewend. “Generaal wat moet ik met die geweer, wat moet ik met die paard doen?” – was van die vrae wat aan hom gestel is. Hy het ook gesê dat hy die burgers nog nooit so onverskrokke gesien veg het nie. Hulle kalm en vasberade optrede was vir hom ’n bewys van die Afrikaner se heldhaftigheid wat volgens hom, deur niemand in die skadu gestel kon word nie.
 

Hierdie artikel verskyn in Van der Merwe, Jan (samesteller). 2012. Vrystaatse dorpe. Bloemfontein: Jan van der Merwe.