Bloemfontein
Julie 1, 2019
Sannaspos
Julie 1, 2019

Bethulie het sy ontstaan gehad te danke aan die Sendelinge. Bethulie was die tweede sendingstasie in die Vrystaat.

Die Engelse sendelinge het ’n stasie op Groot Moordenaarspoort gestig; wat later deur die Franse sendelinge oorgeneem is. Hierdie plek was ’n ware samekoms van Khoi-San (Boesmans) en na die stigting van die stasie het dit bekend gestaan as Boesmanskool. Later is dit herdoop tot Caledon, maar aangesien daar toe reeds ’n Caledon in Kaapland was en dit verwarring kon skep, is dit deur eerwaarde J.P. Pellissier, Bethulie, gedoop. Hierdie Bybelse naam beteken “Jonkvrou van die Heer”. Die toekomstige dorp, Bethulie, het ook die tydelik naam Verruelpolis gehad. Die naam is ’n vernoeming van die eerste president van die Franse Sendinggenootskap.

In die jaar 1863 is die sendingstasie tot dorp verklaar en toe het dit aanvanklik bekend gestaan as Heidelberg. Op 8 April 1872 het dit egter die ou naam Bethulie teruggekry.

Die vraag kan tereg gevra word of daar nog ’n dorp in Suid-Afrika is wat met soveel name kan spog as Bethulie? Om op te som was dit: Groot Moordenaarspoort, Boesmanskool, Caledon, Verruelpolis (Stad van Verruel), Bethulie, Heidelberg en andermaal Bethulie.

Die eerste sendeling, ’n ene Clark, het in 1825 daarin geslaag om ’n Boesmangemeente op te bou. Die groot aantrekkingskrag destyds was egter nie die eredienste nie, maar ’n stuk tabak wat elke Sondag aan elke getroue kerkganger oorhandig is. Toe die voorraad tabak uitgeput raak, het die leraar na die oordeel van die gemeente swak begin preek en die Boesmanskool het gevolglik begin kwyn.

Lephoi of Lephui (die naam beteken in Khoekhoen-taal “Duif”) was die kaptein van ’n Betsjoeana-stam wat op goeie voet met Adam Kok verkeer het. Kok het Lephoi wat in daardie jare vir Silkaats in die rigting van die Oranjerivier gevlug het, oorgehaal om hom met sy gevolg op die sendingstasie, Boesmanskool, te vestig. In 1831 het eerwaarde Pellissier op Boesmanskool ’n gemeente van hierdie Betsjoeana (Tswana)-stam gestig.

Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente van Bethulie is in 1862 gestig. Dominee P. Roux, leraar van Smithfield, was die eerste konsulent van Bethulie. Later is hy vervang deur dominee Colin Fraser, van Philippolis, wat die gemeente meer as 40 jaar lank in die hoedanigheid gedien het. Eerwaarde J.P. Pellissier, van die Franse Sendinggenootskap, het sy kerk vir eredienste aan die NG Gemeente afgestaan totdat hulle kerkgebou voltooi is. Op 10 September 1864 is die NG Kerk se eerste kerkgebou in Bethulie ingewy.

Bethulie se Gereformeerde gemeente is in 1863 gestig en ’n hele aantal jare lank was Reddersburg en Bethulie die enigste twee Gereformeerde gemeentes in die Vrystaat. Die eerste kerkie wat in 1878 gebou is, is tot 1924 as kerk en daarna as kerksaal gebruik totdat dit in 1950 aan die plaaslike Metodiste-gemeente verkoop is. Hoewel reeds in Oktober 1913 besluit is om ’n nuwe kerk te bou, was daar eers sewe jaar later vordering toe die Gereformeerde Kerk ’n blok van ses erwe teen £450 (R900) aangekoop en Gerard Moerdijk genader is om planne vir ’n nuwe kerk op te trek. Die ontwerp wat Moerdijk aanbeveel het, was ’n kruiskerk met sitplek vir 600 kerkgangers. Die Gereformeerde kerk in Bethulie is feitlik identies aan die NG kerkgebou in Luckhoff, met die uitsondering van die boumateriaal.

 

Monumente en museums

Bethulie is een van die weinige Vrystaatse dorpe wat oor ’n eie museum beskik. Die museum is in 1952 ingerig as ’n kultuurhistoriese museum in die Pellissierhuis op Bethulie.

Drie temas is toegeken aan hierdie kultuurhistoriese museum van Bethulie:

  • Die tydperk van die Parys Evangeliese Sendinggenootskap (P.S.G.), dit wil sê die rol wat die P.S.G. in die geskiedenis van Bethulie gespeel het, met eerwaarde JP Pellissier as sendeling;
  • Die konsentrasiekamp. Die grootste konsentrasiekamp gedurende die Anglo-Boereoorlog, was by Bethulie; en
  • ’n Prentekabinet vir Bethulie – ’n Prentekabinet vertel die geskiedenis van Bethulie en sy mense met foto’s, skilderye en tekeninge van eerwaarde Pellissier, Gosselin, die Franse ambagsman en kommandant Louw Wepener wat by Thaba Bosigo gesneuwel het (hy het in die Bethulie-distrik gewoon).

Skuins voor die Pellissier Museum is die Ossewa Gedenkmonument ter ere van die simboliese Ossewatrek wat Bethulie op 13 Oktober 1938 besoek het. Die murasies van opperhoof Lephoi se huis is ook naby die museum geleë. Die grootste konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog was op Bethulie. Die kamp het ook die hoogste sterftesyfer in die Vrystaat gehad.

Ses kilometer buite Bethulie, regs langs die pad na Springfontein, is daar ’n monument ter ere van Louw Wepener op sy plaas Constantia. Die monument is deur bemiddeling van dr. SH Pellissier en in samewerking met president FW Reitz opgerig. Coert Steynberg was die beeldhouer van die borsbeeld, met ’n reliëf plaat wat aantoon hoe die Boere Thaba Bosigo in Augustus 1865 bestorm het. Louw Wepener het tydens daardie veldslag gesneuwel. ’n Gedenkteken op die dorp bring hulde aan die rol wat die perd in die geskiedenis van Suid-Afrika gespeel het.

 

Bethulie se bekende persoonlikhede

  • JJ Venter

Een van die Vrystaatse Republiek se kleurvolste persone, waarnemende Vrystaatse president, JJ Venter, het ook in die Bethulie-distrik gewoon, op die plaas Broekpoort, 12 kilometer buite Bethulie.

Waarnemende president JJ Venter het as Vrystaatse President waargeneem nadat die Vrystaatse Volksraad vir president Sias Hoffman gedwing het om te bedank, omrede hy ’n vaatjie buskruit aan koning Mosjesj van die Basoeto-volk geskenk het. Die ou opstal is vanaf die Smithfield-Bethulie teerpad, regs van die pad, op die walle van Slikspruit, te sien. Die huis het menigmaal as fort teen Basoeto-aanvalle gedien. Die ou plaashuis beskik vandag nog oor sy oorspronklike klein venstertjies wat as skietgate ten tye van die Basoeto-aanvalle gedien het.

 

  • Sendeling Jean Pierre Pellissier

Van die eerste Franse sendelinge wat reeds voor die aanvang van die Groot Trek baanbrekerswerk in Suid-Afrika verrig het, was JP Pellissier die vernaamste. Hy is op 28 September 1808 in Frankryk gebore en het in 1831 na Suid-Afrika gekom. Hy het tydens sy hele verblyf in Suid-Afrika op Bethulie gewoon, waar hy dan ook op 11 Junie 1867 oorlede is. Hy is die Suid-Afrikaanse stamvader van die bekende Pellissier-familie.

Samuel Henri Pellissier (Jean Pierre se seun) is op Bethulie gebore en was in die Afrikanervolkslewe by uitstek ’n onderwysman en kultuurleier. In 1917 het hy hoof van die hoërskool op Ficksburg geword en op 1 Desember 1926 direkteur van onderwys in die Vrystaat. Dr. Pellissier sal veral onthou word as die vader van volkspele in Suid-Afrika. Hy het reeds in 1914 daarmee begin deur die volksbedrywigheid landwyd te organiseer en jare lank aan die voorpunt daarvan te staan as voorsitter van die destydse Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele. Hy is op 18 Mei 1978 op Zeerust, in die Noordwes-provinsie, oorlede.

Martha Mabel Jansen, gebore Pellissier (Jean Pierre Pellissier se dogter), is op Bethulie gebore en is getroud met dr. EG Jansen, goewerneur-generaal van Suid-Afrika van 1951 tot met sy dood op 25 November 1959. Sy het baanbrekerswerk in die bevordering van Afrikaans verrig. Op kultuurgebied is sy tot die eerste vroulike lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns gekies. Sy was ook lid van die Argiefkommissie en die Vlagkommissie, en stigterslid en eerste onderleier van die Voortrekkerbeweging. In 1929 met die stigting van die FAK, is sy as die eerste enigste vroulike lid van die FAK se Uitvoerende Komitee gekies. Sy is op 8 Januarie 1979 in Pretoria oorlede.

Jean Pierre Pellissier (jr.), broer van Samuel Henri en Martha Mabel was ’n joiner ten tye van die Anglo-Boereoorlog. Die Engelse het hom as ’n hoogsaangeskrewe spioen beskou. Hy het as ’n Engelse spioen onder die Boere baie hartseer, pyn en lyding vir vele Boeregesinne in die Bethulie-omgewing veroorsaak.

 

Hierdie is ’n uittreksel uit die hoofstuk van Bethulie wat verskyn in Van der Merwe, Jan (samesteller). 2012. Vrystaatse dorpe. Bloemfontein: Jan van der Merwe.