Pierre Fourie (1943-1980)

Een gesin, vele talente
Julie 1, 2019
Bloemfontein
Julie 1, 2019

Op 1 Desember 1973 het ’n geskiedkundige sportgebeurtenis in Suid-Afrika plaasgevind.

Die Suid-Afrikaanse ligswaargewigbokser Pierre Fourie het op daardie dag geskiedenis gemaak deur deel te neem aan die eerste sportgebeurtenis in Suid-Afrika waartydens ’n blanke man en ’n swart man teen mekaar te staan gekom het. Pierre se teenstander was Bob Foster; dit was ’n herontmoeting tussen dié twee boksers wie se eerste geveg vier maande tevore in Foster se tuisstad, Albaquerque in die Amerikaanse staat New Mexico plaasgevind het. Foster het die nederlaag in die eerste geveg gewreek, maar dit was die begin van ’n nuwe era in Suid-Afrikaanse sport.

Pierre Jacy Fourie is op 26 Junie 1943 in Johannesburg gebore, en hy was een van vyf kinders, onder meer vier seuns. Sy pa het wel sekergemaak dat die kinders beskerm is teen die tipe mense met wie hulle moes omgaan, en hy het hulle ook gereeld op uitstappies geneem, maar hy het nie sy kinders die roede gespaar as hulle stout was nie. Pierre se pa is aan ’n hartaanval oorlede toe Pierre net dertien jaar oud was, en sy ma kon nie dieselfde tipe dissipline toepas nie. Hy en sy broers het geleer om hul vuiste te gebruik om uit moeilike situasies te kom, en daar word gesê dat Pierre nooit ’n straatgeveg verloor het nie. Toe een van sy beste vriende dood is, het Pierre besef dat hierdie tipe geweld sinloos is, en nadat hy op ’n jong ouderdom getroud is met die meisie met wie hy van kleintyd af in ’n verhouding was, het hy besluit om sy bokstalent tot sy voordeel te gebruik.

Volgens hom het ’n bokser se vrou, asook sy vriende, ’n invloed op sy lewe en kan hulle sy ondergang bewerkstelling of van hom ’n beter mens maak. Vir hom het roem en aansien nie saakgemaak nie en toe hy aan die begin van sy professionele loopbaan gesien het hoedat mense by sy huis feesgevier het, het hy besluit om eerder daarop te konsentreer om vir sy gesin te voorsien. Hy het na ’n ander woonbuurt verhuis en alle bande met die verlede verbreek. Hy het diegene wat die mens wat hy geword het, nie aanvaar het nie, reguit warmplek toe gestuur. Dit het sy hele lewe vorentoe verander.

Pierre het vier keer probeer om die wêreldtitel in sy gewigsafdeling te wen. Sy twee gevegte teen Bob Foster was albei om die wêreldtitel, maar Foster was albei kere aan die wenkant. Een van sy vernaamste teenstaanders was die Argentynse bokser Victor Galindez, teen wie hy twee keer om die wêreldtitel geboks het. Tydens hul eerste geveg op 5 April 1975 het Pierre in die eerste tien rondes vir Galindez ’n boksles geleer en volgens die bekende skeidsregter Stan Christodoulou sou Pierre wêreldkampioen gewees het as die geveg op daardie stadium tot ’n einde sou kom aangesien hy met punte voorgeloop het. Op die ou einde het die beoordelaars beslis dat Galindez met punte gewen het. Tydens hul tweede ontmoeting op 13 September 1975 het een beoordelaar in Pierre se guns beslis, maar die ander twee het Galindez die voordeel van die twyfel gegee. Pierre se vrou het nooit een van sy gevegte bygewoon nie en sy was altyd bekommerd dat hy nie by die huis sou aankom nie. In 1977 het hy sy uittrede aangekondig nadat die latere swaargewig-wêreldkampioen Gerrie Coetzee hom in die derde ronde van hul geveg uitgeslaan het.

Hoewel Pierre bekendheid as ’n bokser verwerf het, was hy nie die tipe mens wat van aandag in die media, of sy bewonderaars, gehou het nie. Sy bestuurder, Alan Toweel was een van die bekende broers wat almal geboks het of op ’n manier by die sportsoort betrokke was. Hy het Pierre deurentyd beskerm en dit was hoe Pierre dit verkies het. Nogtans het hy sy volle samewerking vir verslaggewers en fotograwe gegee. Hy sou veel eerder terugkeer na sy gesin toe en het die funksies wat na afloop van sy gevegte plaasgevind het, vermy. Hoewel hy die Here gedien het, was hy nie ’n “godsdienstige” mens in die konvensionele sin van die woord nie. Hy het egter in die Here geglo en selfs in sy moeilike jare gereeld gebid. Hoewel hy in sy vroeë jare gereeld met geweld te doen gekry het, was hy nooit in die moeilikheid by die polisie nie omdat hy nie saam met ander mense wou wees nie. Omdat hy te skaam was om bedags te gaan draf, het hy dit van tienjarige ouderdom af saans in ’n park naby sy huis gedoen.

Op Saterdagaand 21 Junie 1980 is Pierre in ’n motorongeluk oorlede toe sy voertuig die pad verlaat en omgeslaan het. Sy begrafnisdiens is die volgende Donderdag, die dag waarop hy 37 jaar oud sou word, gehou. Die hartseer ironie was dat sy gereelde teenstander Victor Galindez vier maande later self in ’n motorongeluk sou sterf.

Daantjie Dinamiet