Een gesin, vele talente

Frans (1919-1985) en Sannie (1923-1996) Briel
Julie 1, 2019
Pierre Fourie (1943-1980)
Julie 1, 2019

All-focus

Dit gebeur nie gereeld dat ’n hele gesin bestaan uit lede wat almal uitsonderlike talent het nie, maar Johan van Rensburg en Rina Hugo, asook hul kinders, is ’n bewys dat dit wel moontlik is.

Johan was jare lank die leier van die Musiekfabriek van Noot vir noot terwyl Rina nou al meer as dertig jaar lank een van ons land se gewildste sangeresse is. Ek het hulle, asook hul seun Riaan, tydens ’n optrede by die NG Kerk Skuilkrans raakgeloop en sommer met hulle al drie gesels. Die enigste gesinslid wat nie teenwoordig was nie, was Anri, wat met die renjaer Ettienne van der Linde getroud is.

Johan vertel dat hy grootgeword het in ’n huis waar musiek ’n deel van die alledaagse lewe was. Sy pa het klavier gespeel en Johan se ouma, wat in Bloemfontein gewoon het, het hom geleer om “Suikerbossie” met een vinger te speel. Toe Johan se pa hiervan gehoor het, het hy besluit dat Johan musieklesse moes neem. Johan, sy broer Louis en hul twee susters het almal klavieropleiding gekry en hul pa was leier van die Astra-dansorkes wat in Potchefstroom ontstaan het en by al die troues, dinees en danse in die destydse Wes-Transvaal opgetree het.

Johan het in sy matriekjaar deel van die Alabama-studentegeselskap geword. Die destydse trompetspeler het siek geword, en Johan het saam met die groep getoer. Toe hy ’n eerstejaarstudent aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Hoër Onderwys was, was dit ’n uitgemaakte saak dat hy ’n voltydse lid van die groep sou word. In 1966 het hy die musiekleier geword en die volgende jaar het die groep sy eerste revue op die planke gebring. Hierdie tradisie het veertig jaar geduur en sommige oud-groeplede wat later tot die onderwys toegetree het, het dié tradisie, wat tot vandag toe in skole bestaan, voortgesit. Gedurende sy tyd by Alabama het verskeie bekendes se musiekloopbane begin. Johan het vir Christa Steyn aan elektroniese musiek voorgestel en sy het later selfs musiektoerusting by hom gekoop. Danie Niehaus was aanvanklik nie as ’n sanger deel van die groep nie. Hy was eers ’n komediant, totdat Johan hom die geleentheid gegee het om te sing en besef het dat Danie eintlik ’n uitsonderlike sangstem het. Terwyl Johan en Rina in die 1970’s in die Verenigde State van Amerika gestudeer het, het Louis die leiding van die groep oorgeneem.

In daardie tyd het Johan met elektroniese musiek kennis gemaak en sy kennis teruggebring Suid-Afrika toe. Hy was verantwoordelik vir die musiek van die rolprent Vergeet my nie, waarin Hans Strydom die hoofrol gespeel het. Rudi Neitz se sangstem is vir Hans se karakter oorgeklank. Johan het ook die temamusiek vir die gewilde televisiereeks Nommer asseblief gekomponeer en gespeel nadat hy ’n betrekking as musiekregisseur by die SAUK aangebied is. Johan het vir Johan Stemmet op 1 Julie 1980 in die voorportaal van die SAUK ontmoet. Hulle het saam by die SAUK begin werk maar in 1987 bedank. Hulle het ’n beslote korporasie gestig en kontrakwerk vir die SAUK gedoen; die gevolg was programme soos Teletreffers, wat Johan Stemmet aangebied het, en Debuut, ’n tweejaarlikse talentkompetisie wat van 1987 tot 1991 uitgesaai is. Die SAUK was op soek na nuwe spanspeletjies wat op televisie uitgesaai kon word, en ’n driedaagse simposium hieroor is aangebied. Hulle net met twee konsepte vorendag gekom, naamlik Kopkrappers, ’n program van vyftien minute waarin ’n probleem gestel is waarvoor ’n oplossing gevind moes word en waarvan die antwoord die volgende week gegee sou word, asook ’n musiekvasvraprogram met ’n volle orkes. Laasgenoemde idee is aanvanklik afgeskiet, maar toe ’n probleem met die skedulering van die Boereorkeskompetisie ontstaan het, is Johan Stemmet en Johan van Rensburg gevra om ’n loodsprogram te vervaardig. Die idee is goedgekeur, en die gedagte was dat die loodsprogram as eerste episode uitgesaai sou word. Hulle het nie van die idee gehou nie en besluit om die program oor te vervaardig. Dit was aanvanklik ’n gesukkel om deelnemers te kry, en Jurie Els was die wenner van dié reeks. Die SAUK het besluit om nog ’n reeks te vervaardig, en op die ou einde is meer as veertig reekse tot dusver uitgesaai.

Johan en Rina het mekaar ontmoet toe Rina deel van die Alabama-studentegeselskap geword het. Rina se loopbaan in ligte Afrikaanse musiek het egter nie dadelik daarna begin nie. Nadat sy afgestudeer het, was sy ’n musiekonderwyseres en het sy hoofsaaklik opera en musiek uit blyspele gesing. Tydens ’n optrede aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit het Rina die plek ingeneem van ’n sangeres wat siek geword het, maar Johan moes haar oortuig om te sing aangesien ligte musiek nie deel van haar verwysingsraamwerk was nie. Rina het egter ’n sukses daarvan gemaak en Johan het haar aangeraai om vir die ATKV se Crescendo-kompetisie in te skryf. Sy het die kompetisie gewen en ’n platekontrak by Decibel losgeslaan. Boet Pretorius het egter aanvanklik nie geweet watter tipe musiek Rina moes sing nie en dit het ’n jaar geduur voordat haar debuutalbum vrygestel is. Dit was die begin van ’n uiters suksesvolle loopbaan wat tot vandag toe voortduur. Nadat sy drie keer die Treffer van die Jaar op die radioprogram Afrikaanse Treffers gehad het, in 1984 met “Troepie Doepie”, in 1986 met “’n Tikkie vryheid” en in 1989 met “Hoor jy my stem?”, het sy en Gé Korsten saam begin sing. Hul eerste optrede het eintlik op ’n snaakse manier gebeur. Gé en Rina het twee liedjies, wat saam as ’n kortspeler uitgereik is, opgeneem, maar daar was nog nie sprake van gesamentlike optredes nie, totdat ’n geleentheid in Pietersburg (deesdae Polokwane) gereël is. Hulle het afsonderlik opgetree en net dié twee liedjies saam gesing. Hulle het al hoe meer gereeld saam begin optree en daar was mettertyd ’n vraag na ’n duetalbum. Dit het die groot treffer “Ek mis jou elke dag ’n bietjie meer”, die Treffer van die Jaar op Afrikaanse Treffers vir 1993, opgelewer en Rina het haar solo-loopbaan ’n tyd lank opsy geskuif. Rina sonder Mimi Coertse en Joan Sutherland as haar grootste musiek-invloede uit, asook Leonore Veenemans, wat baie dieselfde stem en agtergrond gehad het en in die ouderdom van 38 jaar in ’n motorongeluk oorlede is. Sy beskou Luciano Pavarotti ook as ’n gunsteling. Onder die hedendaagse kunstenaars staan Corlea Botha, Coenie de Villiers en Lady Gaga, wat die vroulike hoofrol in A star is born gespeel het, vir haar uit. Met haar sewentigste verjaardag vroeër vanjaar het ’n groot eer Rina te beurt geval. Rina is lief vir die see en ’n spesiale bankie met haar naam daarop is voor die Blouberg-kafee in Bloubergstrand aan die Kaapse Weskus vir haar opgerig. Eleanor Weideman, wat hiervoor verantwoordelik was, het meer as twintig jaar gelede ’n optrede vir Rina en Gé in Bellville gereël, verskeie oggendtee-geleenthede het daarna gevolg. Sy het Rina ook bekendgestel aan die Christen-seemansorganisasie. Rina het sowat vier jaar gelede besluit om haar gewone optredes af te skaal en hoofsaaklik te konsentreer op geleenthede tydens kerkdienste ten bate van dié organisasie.

Riaan se musiektalent was van kleins af duidelik; hy het as ’n jong seun sy televisiedebuut gemaak op Cobus Robinson se televisieprogram Dis my geheim. Hy was van die begin af ’n trom- en perkussiespeler in die Musiekfabriek, wat die begeleiding op Noot vir noot behartig. Riaan is deesdae voltyds bedrywig met musiek, en is veral betrokke by kultuurontwikkeling. Hy het ’n belangstelling in wêreldmusiek ontwikkel en vorm deel van verskeie groepe wat hierdie tipe musiek tydens verskillende geleenthede speel. Hy gebruik die trom as metafoor vir spangees en terapie, en bied spanbougeleenthede aan waartydens mense die geleentheid kry om aan tromsessies vir groepe deel te neem. Daar was selfs kinders wat al hieraan deelgeneem het. Dit is egter nie net tromme wat hiervoor gebruik word nie, ook verfblikke of soortgelyke materiaal wat deur sommige mense as rommel beskou word. Riaan kan musiekprogramme met verskillende internasionale temas vir korporatiewe instellings aanbied. Riaan speel ook gereeld saam met kunstenaars soos Chris Chameleon en Pieter Smith, en is deel van groepe soos Bombshelter Beast en Boo!.

Die ander lid van die gesin is Anri, wat ’n suksesvolle loopbaan as model gehad het, haar as ’n grafiese ontwerper bekwaam het, en intussen ’n afrondingskool vir jong meisies gestig het. Met behulp van die internet was Anri ook in staat om dit verder te laat groei, deurdat daar ook nou aanlyn kursusse beskikbaar is. Sy pas ook die kennis wat sy as grafiese ontwerper opgedoen het, in haar onderneming toe.

Net nadat ek met hulle gesels het, het Johan, Rina en Riaan deelgeneem aan die Oppi-water-kunstefees. Rina het erken dat sy maar skrikkerig was om deel te wees daarvan aangesien sy vertel het dat sy ’n vorige keer wat sy op ’n boot was, siek geword het. Johan het ook tereg gesê dat daar nie ’n kans sou wees om vooraf te repeteer nie en dat ’n mens omtrent net ’n klanktoets moes doen en dan moes optree. Hierdie optrede was die enigste geleentheid wat hulle sou kry om voor ’n gehoor te “oefen”.

Dis regtig wonderlik dat daar soveel talent uit een gesin kan kom, en ’n mens hoop dat hulle ons nog jare lank sal vermaak!

Daantjie Dinamiet