Frans (1919-1985) en Sannie (1923-1996) Briel

Jan Pohl (1917-1997)
Julie 1, 2019
Een gesin, vele talente
Julie 1, 2019

In die 1950’s en 1960’s was daar ’n tekort aan oorspronklike Afrikaanse musiek; sommige van die pioniers was reeds oorlede en daar was nie eintlik iemand wat hulle opgevolg het nie.

Baie destydse Afrikaanse musiek, veral dié van Dawid de Lange, Cissie en Willie Cooper en Chris Blignaut was vrolik en soms ook grappig, maar daar was ook ander musiek wat oor die hartseer van die lewe gegaan het, soos dié van Koos en Hester Nortjé, die Sonskynsusters en die Vos-broers.

Die gewildste sangpaar in daardie tyd was egter Die Briels. Vandag nog is mense verdeeld oor hulle musiek; jy is mal daaroor of jy kan dit nie verdra nie. Frans is op 5 September 1919 gebore en het in ’n kinderhuis in Bloemfontein grootgeword nadat sy ma oorlede is. Sannie is op 9 Junie 1923 gebore en het self in ’n kinderhuis in Ugie in die Oos-Kaap grootgeword. Hulle het mekaar in Bloemfontein ontmoet en is in 1942 getroud.

Die haglike sosio-ekonomiese toestande van die depressiejare van die 1930’s, asook tragedies soos rampe, lyding en verlange, armoede, kindermishandeling, dronkenskap en sterwende ouers en kinders was destyds gewilde onderwerpe en hoewel dit hoofsaaklik as droewigheid op note bekendgestaan het, het dit inslag by baie mense gevind omdat hulle gedink het hulle kan hulle daarmee vereenselwig. Die Amerikaanse hillbilly-musiek van onder meer Jimmie Rogers en The Carter Family is soms in Afrikaans vertaal en groepe soos die Grobler-broers, asook Chris Blignaut, het dit deeglik ontgin.

Hoewel die meeste liedjies in hierdie tyd in Afrikaans vertaal is, het die Briels se liedjies hoofsaaklik oorspronklike melodieë gehad. Een van die uitsonderings was egter seker hul bekendste treffer, “Die trein na Pretoria”.  Die oorspronklike weergawe, “Eastboud train”, was ’n treffer vir Doc Walsh, en Chris Blignaut het die Afrikaanse woorde daarvan geskryf. Nog ’n bestaande liedjie met Afrikaanse woorde wat vir hulle ’n treffer was, was “Enjin nommer 5”.

Op 21 Januarie 1960 het seker die grootste mynramp in die Suid-Afrikaanse geskiedenis by die Coalbrook-myn plaasgevind.  Dit het nie net die treffer “Die graf in die myn” tot gevolg gehad nie, maar ook “Ter nagedagtenis aan 435 mynwerkers”, wat binne drie dae deur Frans geskryf en getoonset is. Dit het dadelik gewild geword. Nog ’n treffer met ’n soortgelyke tema was “Die myners lied”. Baie mense sou dink dat Frans en Sannie depressiewe mense was, maar dit was blykbaar allermins die geval.

Frans en Sannie se kinders Anita en Frans junior is onderskeidelik in 1949 en 1954 gebore en albei het hul ouers se sangtalent geërf. Anita het mettertyd saam met haar ouers opgetree, en hulle het later as die Briel-gesin bekendgestaan. In die 1970’s het Frans junior en Anita ’n langspeelplaat as Boet en Sus bekendgestel; die grootste treffer daarop was ’n Afrikaanse weergawe van Mouth and Mac Neal se treffer “Hello-a”, wat Sharon Tandy en Billy Forrest in Suid-Afrika gewild gemaak het.  Frans junior het in 2008 ’n Christelike album getiteld ’n Korreltjie sand vrygestel.

Frans is op 4 November 1985 in die ouderdom van 66 jaar oorlede, en in 1990 het Sannie vir die laaste keer opgetree. Twee konserte is op dieselfde dag gehou; een by die Voortrekkermonument waar die meer gewilde kunstenaars opgetree het, en die Houtstok-musiekfees, wat onder meer deur Anton Goosen gereël is en waarby Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis onder andere ook opgetree het. Sannie se optrede was ’n hoogtepunt van die fees, en terwyl sy “Die trein na Pretoria” gesing het, het mense hul sigaretaanstekers in die lug geswaai. Frans junior was self deel van die vertoning en het haar op die baskitaar begelei. Op 10 Julie 1996 is Sannie oorlede nadat sy ’n beroerte gehad het.

Die nalatenskap van Die Briels het egter voortgeleef. Kort na Sannie se dood is hul musiek digitaal hermeester en ’n versamelalbum, Só het hulle gesing, is vrygestel. Dit het gou baie gewild geword, en is later met nóg twee volumes opgevolg. Die Grafsteensangers het omtrent in dieselfde tyd op die toneel verskyn, en mense het die wanindruk gehad dat hulle met Die Briels gespot het. Volgens hulle sou dit onmoontlik wees omdat Die Briels se klank onmiskenbaar en nie nagedoen kan word nie.

Daantjie Dinamiet