Jan Pohl (1917-1997)

Drie geslagte Van den Berghs
Julie 1, 2019
Frans (1919-1985) en Sannie (1923-1996) Briel
Julie 1, 2019

Pionier van ligte Afrikaanse musiek

Dit gebeur selde dat drie lede van dieselfde gesin bekendheid verwerf, maar in die eerste helfte van die 20ste eeu was daar ’n broer en twee susters wat deel van die vermaaklikheidsbedryf was en op verskillende maniere ’n indruk gemaak het.

Truida Louw was die eerste vroulike rolprentregisseur in Suid-Afrika, en sy was getroud met die digter NP van Wyk Louw. Prof. Anna Neethling-Pohl was veral bekend as ’n aktrise, en sy was verbonde aan die dramadepartement van die Universiteit van Pretoria. Hul broer, Jan Pohl, was een van die pioniers van ligte Afrikaanse musiek, en sy komposisies het, veral in die 1940’s en 1950’s, groot byval gevind.

Jan Luyt Pohl is op 6 April 1917 in Graaff-Reinet gebore, en sy tweede naam was sy ma se nooiensvan. Sy ma is egter tydens die griep-epidemie van 1918 oorlede en hy het sy kinderjare by ’n tannie deurgebring. Op dertienjarige ouderdom is hy Kaapstad toe gestuur vir verdere skoolopleiding; hier het hy geleer om die kitaar en die ukulele te bespeel. Daar word vertel dat Jan sy treffer “Sawends”, een van die min Afrikaanse liedjies met ’n jazz-klank, geskryf het toe hy net sewentien jaar oud was. Nadat hy gematrikuleer het, het hy hom eers as onderwyser bekwaam en daarna het hy ’n jaar lank aan ’n kunsskool in Kaapstad gestudeer. Hy het in 1939 na Pretoria verhuis en ’n aktiewe lid van die nasionalistiese Afrikanerorganisasie, die Ossewa-Brandwag geword. Hy het by prof. Anna Neethling-Pohl gewoon en in aanraking gekom met Pretoria se kunskringe.

In die vroeë 1940’s het Jan ongeveer veertig nuwe liedjies geskryf, en hierdie liedjies is vir die eerste keer oor die radio deur die orkeste van onder meer Hendrik Susan en Arnout Malherbe uitgevoer. Een van sy bekendste komposisies in hierdie tyd was “Die mannetjie”. Jan se pa, Pieter, het by die Kantoor van die Groot Seël, wat amper as ’n aktekantoor beskou kon word, gewerk. Op ’n dag het ’n boer die aankoop van ’n nuwe plaas geregistreer. Die boer het twaalf name gehad en al dié name moes telkens op die dokumente herhaal word. Hy en prof. Anna Neethling-Pohl was lede van ’n revuegroep, Die katdorings, waarvoor Jan die musiek geskryf het. Sommige van hul liedjies het uittartende lirieke gehad, en die veiligheidspolisie was gereeld by hul optredes te sien.

Jan se musiek is in verskeie rolprente gebruik; die eerste daarvan was Kom saam vanaand, die eerste Afrikaanse musiekrolprent waarin Al Debbo en Pierre de Wet onder meer te sien was. Een van Al Debbo en Frederik Burgers se rolprente waarvoor Jan die musiek geskryf het, was Altyd in my drome, wat ’n paar jaar gelede in ’n musiekblyspel vir die verhoog omskep is. Onder die trefferliedjies uit dié rolprent was “Bosfontein se bus”, “Waar is jy?”, asook die temaliedjie. In 1957 is nog ’n trefferrolprent van Al Debbo en Frederik Burgers, Dis lekker om te lewe, uitgereik. Daar is ook ’n storie agter die temaliedjie van hierdie rolprent, wat in die Weermag afgespeel het, wat deur prof. Anna Neethling-Pohl vertel is.  Blykbaar het hul pa, Pieter, met elke Sondagete op die tafel geslaan en gevra: “Is dit lekker om te lewe?” Toe het hulle geantwoord: “Ja, dis lekker om te lewe.” In 1959 is die eerste Afrikaanse rolprent wat in kleur verfilm is, Nooi van my hart, vrygestel. Jan het die musiek daarvoor gekomponeer en veral die temaliedjie en “By die ou slaweboom” het treffers geword.  Een van die hoogtepunte van dié rolprent was die skreeusnaakse optrede van Die Drie Petersen-broers.  Jan het vier operettes geskryf, naamlik Heksekinders, Nooi van Vleifontein, Skemermelodie en Rowerkaptein; laasgenoemde drie is onder leiding van Con Lamprecht oor die radio uitgesaai.

In 1948 het Jan ’n radio-omroeper by die SAUK geword en vermaaklikheidsprogramme soos Bog met Blou Maandag en Sommer vir die pret aangebied. Hy het ook die karakter Piet Skaapkop vir sy koffiehuiskonserte geskep. Hy het ook die rol van Willem in Fanus Rautenbach se radiovervolgverhaal Staal Burger vertolk. In 1956 het Jan ’n kopieskrywer en handelskunstenaar vir ’n reklamemaatskappy geword, waar hy tot met sy aftrede in 1983 gebly het.  Nadat sy eerste vrou, Elise, oorlede is, was hy getroud met Johanna Boshoff, ’n kleindogter van dr. HF Verwoerd. Die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Louis van Rensburg het van Jan se twee bekendste komposisies, “Sawends” en “Die mannetjie”, melding gemaak in sy liedjie “Afrikaanse liedjies”, terwyl Pieter Smith laasgenoemde liedjie by sy vertoning Die storie van Afrikaanse musiek ingesluit het.

Jan is op 23 Julie 1997 in die ouderdom van tagtig jaar aan hart- en longversaking oorlede.

Daantjie Dinamiet