Fanus Rautenbach (1928-2011)

Bloedlelie
Junie 25, 2019
Hennie Muller (1922-1977)
Julie 1, 2019

Wat het Flink uit die vere, Staal Burger, Opese daisy en Koukus met mekaar gemeen?

Dit alles was die breinkinders van een van die ware legendes van Afrikaanse radio, Fanus Rautenbach, wat op 23 September 1928 in die Noordwes-dorp Lichtenburg gebore is. Fanus het, nadat hy matriek aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg geskryf het, sy onderwysdiploma aan die Normaal Kollege in Pretoria behaal, en later ook sy BA-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hy was eers onderwyser by die Laerskool Generaal De la Rey in Westdene in Johannesburg, waarna hy ’n Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal geword het.

In 1955 het Fanus ’n stemtoets by die SAUK afgelê en ’n professionele omroeper geword. Sy latere vrou, Douwlina Grobler, wat hy “Vroutjie Douwtjie” genoem het, was die aanbieder van die program In almal se kraal, maar Fanus het die formaat van die program van ’n versoekprogram na ’n inbelprogram verander. Dit was die eerste program van sy soort in Suid-Afrika. Fanus en Douwlina is in 1957 getroud en twee seuns is uit die huwelik gebore. Daarna het Fanus die SAUK tydelik verlaat om as vryskutskrywer en advertensie-kopieskrywer te werk, maar keer in 1961 terug. Op 16 Oktober daardie jaar bied hy sy daaglikse oggendprogram Flink uit die vere vir die eerste keer aan; dié program het tot in 1974, toe die aktualiteitsprogram Monitor in die plek daarvan uitgesaai is, voortgegaan. In dieselfde tyd is sy vervolgverhaal Staal Burger, wat hy saam met Daan Retief geskryf het, uitgesaai. Dit het gelei tot ’n gelyknamige rolprent, waarin hulle saam met onder meer Alewyn Lee, Miems de Bruyn, Johan du Plooy, Sarel Breed en Nic Swanepoel te sien was. Hy het ook ’n ruk lank ’n inbelprogram, Vra vir Fanus, op weeksmiddae op die SAUK se destydse Afrikaanse radiodiens uitgesaai. Fanus het gedurig gesoek na Afrikaanse nuutskeppings, en het met woorde soos “bromponie” en “kitskoffie” vorendag gekom. Met die dienspligtiges wat op soek was na saamrygeleenthede, was daar ook dames in elke dorp wat gebel kon word om dit vir hulle te reël. Hy het hulle “bellerynas” (na aanleiding van Bel en ry na …) genoem.

Komedie was altyd vir Fanus belangrik, soos ’n mens met Staal Burger kon agterkom. Hy en Leon Schuster het Saterdagoggende van 11h05 af die program Koukus, waarin hulle die spot gedryf met alles wat in die wêreld om hulle gebeur het, aangebied. Daar word vertel dat die inhoud van elke program eers aan die destydse direkteur-generaal van die SAUK, Riaan Eksteen, voorgelê moes word vir goedkeuring en dat Eksteen gedurig veranderinge gemaak het. Die ongeredigeerde weergawe van elke program is egter telkens uitgesaai. Daar was geen heilige koeie nie; selfs die SAUK se televisieprogramme het onder hulle deurgeloop en sommige van die grappe wat hulle destyds gemaak het, sou vandag heeltemal onaanvaarbaar gewees het. Natuurlik het Leon, soos wat ’n mens kon verwag, sosiale kommentaar gelewer deur komiese woorde op bestaande wysies te skryf. Onder die onderwerpe was Morné du Plessis se uittrede uit rugby, prins Charles se verlowing aan, en huwelik met, prinses Diana en die doen en late van parlementslede.

Later was Fanus ook die skrywer van Nuustak, wat die nuus op die SAUK se oggendprogram Goeiemôre Suid-Afrika op ’n komiese manier aangebied het. Die stemme van Zack du Plessis en Johan van der Merwe, wat televisiekykers onthou het as Jan van die gewilde reeks Nommer asseblief, is vir die karakters gebruik. Toe Radio Jakaranda as die SAUK se streekstasie in Pretoria gestig is, het Fanus die oggendprogam Opese daisy behartig. Hy het dié program tot 30 September 1991 behartig, waarna hy eers by Radio Oos-Rand en later Suid-Kaap Stereo as omroeper gewerk het. Sy vrou het Alzheimer opgedoen nadat hulle na Kaapstad verhuis het en sy is op 15 Junie 2002 oorlede.

Fanus was ook bekend as skrywer, en tydens sy onderwysloopbaan het hy onder die skuilnaam Fanus Bach verskeie kortverhale gepubliseer wat in tydskrifte soos Huisgenoot, Sarie, Rooi Rose en Die Brandwag gepubliseer is. Benewens Staal Burger, wat ook in boekvorm verskyn het, het hy verskeie boeke met ’n komiese strekking die lig laat sien, onder meer Fanus se grapboek, Lag-lag die bult uit, Fanus…of so iets (’n keur uit rubrieke wat hy vir die koerant Die Transvaler geskryf het), Lekker is ’n lag lank en Lach nog ’n slach (sic) saam met Fanus Rautenbach. Hy het ook ’n aantal stories van Simon van De Wildt, ’n Sotho-man wat vir hom plate aangedra het toe hy ’n omroeper was, die lig laat sien. Fanus het ook ’n ernstige kant gehad, en hy is met ’n Artes-toekenning bekroon vir Die hemelkinders, ’n hoorbeeld wat hy saamgestel het oor kinders met Down-sindroom. Fanus het ook lirieke vir ’n paar Afrikaanse liedjies geskryf, soos “Water op sy knieë” van Leon Schuster, “Hier by jou” van Louis van Rensburg, “Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein” van Anton Goosen en die Afrikaanse weergawe van “Ne me quitte pas” van Jacques Brel, naamlik “Moenie weggaan nie”, wat deur Laurika Rauch opgeneem is.

Fanus het verskeie eerbewyse ontvang. In 1971, met die tiende herdenking van Flink uit die vere, is ’n fees ter ere van die “Republiek van Flinkveria” en sy “president” Fanus Rautenbach op Bronkhorstbaai naby Bronkhorstspruit in Gauteng gehou. Dit was ’n unieke verering van ’n radiopersoonlikheid. In 1979 het die FAK hom vir sy bydrae tot Afrikaans vereer vir sy eiesoortige bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur. In 2007 het Radio Sonder grense (RSG) hom aangewys as dié radiostasie se legende van die afgelope sewentig jaar.

Fanus is op 29 Januarie 2011 in die ouderdom van 82 jaar in Kaapstad oorlede.

Daantjie Dinamiet