DIE EERSTE BLANKE BEWONER VAN DIE PRETORIA-OMGEWING
Junie 25, 2019
Fanus Rautenbach (1928-2011)
Julie 1, 2019

Outeur: Jeanette Ferreira

Uitgewer: Lapa

Bloedlelie sny die slagaar van Piet Retief se laaste sending in die laat 1830’s oop, sodat die geskiedenis op die bladsye uitbloei. Die noodlottige gebeure word veral uit die oogpunt van die verwonde Magdalena Retief, vrou van die Voortrekkerleier, beskryf, met ander historiese figure wat tot die geloofwaardigheid van dié nagevorsde boek bydra.

Ná ’n kort inleiding met die historiese feite, neem Ferreira die leser op reis saam met Adriaan en Hanna van der Walt, wat die trekkers se spore honderd en tagtig jaar later volg. Adriaan is ’n historikus cum argeoloog en dien as spesialisgetuie in grondeissake. Sy vrou Hanna het ’n besondere belangstelling in Magdalena ontwikkel, juis omdat daar so min oor haar bekend is.

So loop Hanna in Magdalena se skoene die verlede in. Ons lees van haar eerste, verstandige huwelik met Jan Greijling en haar tweede, passievolle een met Retief,  die kinders wat uit albei huwelike gebore is en die plekke en omstandighede waarin hulle moes lewe, liefhê en ly. Sy stel haar Magdalena se onsekerheid en pyn voor, maar ook haar krag, waardigheid en deursettingsvermoë, tot aan die einde.

Magdalena moes albei haar eggenote skielik en tragies aan die dood afstaan. Boonop het die griepepidemie die trekkers kort ná Piet se moord getref. Magdalena se skoonseun en kleinkinders het aan die griep beswyk en haar in sak en as gelaat. In haar eensaamheid murmureer Magdalena dat die liefde en verlies saam met die rook van nuwe vure en die as van die agtergelatenes verwaai. “Verlatenheid ruk jou keel uit, dit laat jou longe bloei, dit verwaai jou binnegoed, dit verdroog die reste en bleik jou beendere tot grond en klip.”

Ferreira gee te kenne dat die bekendste Voortrekkerbronne besonder terughoudend oor Dingaan se grootgeneraal Tambuza is – die aanstigter tot Retief en die res van die kommissie se dood. Op dié omstrede kwessie is Adriaan se woorde elders in die boek van toepassing, wanneer hy vir Hanna sê dat geskiedenis ’n lewende ding is, met te veel invloede wat bykom en ook verdwyn wanneer ons terugkyk. “Dit kan nie herhaal word nie. Dit kan net tot op ’n punt gerekonstrueer word, nooit weer presies soos dit was nie.” Tog belig hy later die geluk dat, deur so ietsie van die geskiedenis te verstaan, ons vandag kan keer vir die foute van gister en die verre gisters.

Die bloedlelie-blom maak telkens in die boek sy mooi verskyning – in die tyd van die Retiefs en weer in Hanna en Adriaan se hedendaagse tuin. Hanna beskryf die seldsame lelie, met die son se strale daarop, as loffelik genoeg om trane in jou oë te bring. “Dit bloei soos ’n mens wat liefhet of ly. Ragfyn rooi draadjies in maroen kelkblare, bloedvlekkies op die vet steel.” Dié beskrywing bring begrip vir die blom as metafoor vir Magdalena Retief. 

Bloedlelie vertel die verhaal van Piet en veral Magdalena Retief se beproewinge, deur vandag se oë beskou. Dit lei die dikwels verslae en ontnugterde leser oor berge en deur dale – fisies en psigies – en sit jou dan versigtig neer op die gelykte van die wete dat “almal maar moet betaal vir daardie soort begryp wat altyd te laat kom. Vir die stories, jy weet, Magdalena, wat iedereen anders vertel.”