DIE EERSTE BLANKE BEWONER VAN DIE PRETORIA-OMGEWING

DR. W.J. LEYDS, “KRUGER SE HOLLANDER”
Mei 10, 2019
Bloedlelie
Junie 25, 2019

Anton C. van Vollenhoven

Daar word algemeen aanvaar dat Lucas Cornelis Bronkhorst die eerste blanke setlaar in die gebied, wat vandag as Pretoria bekend staan, was. Daar word ook aanvaar dat die oorblyfsels van ’n huis, wat hy in Groenkloof gebou het, die eerste struktuur is wat deur ’n blanke in dié gebied opgerig is.

Albei hierdie aannames word in die artikel bespreek en daar word gebruik gemaak van argivale en ander historiese bronne, insluitende populêre inligting. Die argeologiese navorsing, gedoen op die ruïne van ’n huis wat as die huis van Lucas Bronkhorst beskou word, is ook as getuienis benut.

Die gevolgtrekking waartoe gekom word is dat Lucas Bronkhorst nie die eerste blanke inwoner van Pretoria was nie, maar dat dit sy broer JGS Bronkhorst was wat hom laat in 1839 hier gevestig het. Daar is ook bewys dat die struktuur wat opgegrawe is, nie die oudste gebou is wat deur blankes in die gebied opgerig is nie. Nietemin word dit aanvaar dat dit die oudste oorblyfsels uit hierdie tydperk is, aangesien ouer strukture vernietig is. Die artikel eindig met ’n kort samevatting oor die stigting van Pretoria.

Inleiding

Lucas Cornelis Bronkhorst word deur die meeste populêre werke as die eerste blanke inwoner van die Pretoria-omgewing beskou. Hierdie en ander aspekte ten opsigte van die vestiging van blankes in die omgewing, word in die artikel in oënskou geneem.

Die oorblyfsels van dit wat algemeen as die Bronkhorst-huis bekend staan, is geleë in die Fonteinedal streekspark, op die plaas Groenkloof 358 JR, suid van die middestad van Pretoria. Die plaas Groenkloof het reeds in 1883 staatseiendom geword. In die negentigerjare van die negentiende eeu is ’n plantasie daar aangeplant. In Augustus 1898 word ’n gedeelte hiervan deur ’n veldbrand vernietig. Hierdie ramp, sowel as die feit dat die wild in hierdie gebied teen 1895 in ’n groot mate uitgeskiet was, lei tot die proklamasie van die Fonteinedal as natuurreservaat deur president SJP Kruger op 25 Februarie 1895. Die Fonteinedal is volgens Dunstondie oudste natuurreservaat in Afrika. De Graaffwys egter daarop dat die Pongola-reservaat, wat op 13 Junie 1894 geproklameer is, die oudste natuurreservaat in Suid-Afrika (en moontlik ook in Afrika) is. Boonop dui hy aan dat die Fonteinedal op 1 Februarie 1895 geproklameer is. Die naam Fonteinedal hou verband met die fonteine wat daar ontspring en sowat 25 miljoen liter water per dag lewer. Die natuurreservaat beslaan vandag sowat 600 hektaar en wildsoorte soos kwaggas en blesbokke kom hier voor.

Die artikel gee bloot aandag aan die vestiging van die eerste blankes in die omgewing van Pretoria en het nie ten doel om inligting oor die voorgeskiedenis en die vestiging van ander groepe aan te spreek nie. Sodanige inligting sou ’n artikel op sy eie kon beslaan. Verskeie bronne kan nietemin hieroor geraadpleeg word.

Terreinbeskrywing

Die gedeelte waar die ruïne van die sogenaamde Bronkhorsthuis aangetref word, is tans ‘n ontspanningsoord wat verskeie rekreasieaktiwiteite bied. Noodwendig het die benutting van die gebied deur die jare tot die agteruitgang van die struktuur gelei.

Die ruïne is teen die suidwestelike hang van Klapperkop, die hoogste van die reeks koppies suid van Pretoria, gebou. Die Apiesrivier dreineer die gebied in ’n noordelike rigting en vloei sowat 50 meter wes van die oorblyfsels van die huis verby. Hierdie area het derhalwe ’n steil helling omdat reënwater wat daardeur vloei, skade aan die ruïne aanrig.

Die oorblyfsels self bestaan uit ’n reghoekige hoogte, gevorm deur klipmure, grond en gras. Die reghoek lê in ’n noord‑suid rigting met sye van ongeveer 8 x 5 meter. Die sigbare oorblyfsels van mure is van klip en klei gebou en staan sowat 0,35 meter hoog. Openinge in die oostelike en westelike mure van die struktuur kon moontlik deure gewees het.

’n Klipsirkel, bestaande uit vyftien groot klippe, kan noordoos van die struktuur gesien word. Aan die oostekant van die struktuur is ‘n effense depressie in die grond sigbaar. Dit strek verby die hoekpale van die heining, ongeveer parallel met die oostelike muur van die struktuur. Dit is waarskynlik die oorblyfsels van ’n watervoor wat deur Bronkhorst gegrawe is om water weg te lei, sodat dit nie sy huis sou oorstroom nie.

In die omgewing van die struktuur word perske‑ en moerbeibome aangetref. Dit is histories bekend dat Bronkhorst ’n vrugteboord uitgelê het en hierdie bome kan afstammelinge daarvan wees. Aan die oorkant van die rivier, wes van die struktuur, is gedeeltes van ‘n granaatboomlaning steeds sigbaar langs die huidige swembad. Volgens Roodt‑Coetzeeis dit die plek waar MM Minnaar (later Postma), ’n familielid van Lucas Bronkhorst, as jong dogter saam met haar ouers gewoon het. Hierdie inligting is relevant, daar vorige navorsers soos Roodt‑Coetzee en Wilmans sterk op die mondelinge getuienis van mev. Postma, tydens hulle navorsing gesteun het. Die posisie van hulle woning word deur Roodt-Coetzee as oos van die rivier aangedui, terwyl Wilmans dit as wes aandui. Hierdeur weerspreek Roodt-Coetzee haarself, aangesien die granaatboomlaning wes van die rivier voorkom.  Hierdie teenstrydigheid is tekenend van die populêre sienswyse oor die terrein en sal later aandag geniet.  Dit beteken dat ook ander inligting deur die genoemde bronne deeglik aan interne kritiek onderwerp moet word alvorens die geloofwaardigheid daarvan aanvaar kan word.

Die terrein was tot 1992 met draad toegespan. ’n Inligtingspaneel wat inligting oor die terrein gee, was hier opgerig en kan as ’n poging tot die interpretasie van die terrein beskou word. Die inligting op hierdie bord is gegrond op sommige aannames rondom Lucas Bronkhorst en sy huis en het die volgende inligting bevat:

Oorblyfsels van die huis van Lucas C Bronkhorst, die eerste blanke inwoner, wat hom omstreeks 1840 hier in die Fonteinedal gevestig het.

Tydens die opgrawing van die terrein is die heining en paneel verwyder. Dit is in 1993 met ’n nuwe heining en gedenkmuur vervang, maar die inligting daarop is steeds nie akkuraat nie. Die rede hiervoor is dat die argeologiese ondersoek van die struktuur, wat in 1992 plaasgevind het, nie ten doel gehad het om ook die historiese agtergrond van die terrein en Lucas Bronkhorst, volledig na te vors nie. Dit gebeur ongelukkig dikwels dat kontraknavorsing onvolledig gedoen word, omdat daar ’n tydsbeperking op die indien van finale verslae is of omdat die kliënt nie toelaat vir in diepte navorsing in die opdrag vir projekte nie. Hierdie navorsing is nou gedoen en dit wat hierna volg is die bevindinge daarvan.

Die aannames rondom Lucas Bronkhorst en sy huis

Volgens mondelinge oorlewering word drie dinge aan Lucas Bronkhorst toegedig. Die eerste hiervan is dat hy beskou word as die eerste blanke inwoner van die Pretoria-omgewing.  Die tweede is dat sy huis beskou word as die eerste struktuur van Westerse oorsprong in die Pretoria‑omgewing. Laastens word die oorblyfsels van die struktuur, wat hierbo beskryf is, as die oorblyfsels van hierdie eerste hartbeeshuisie van Lucas Bronkhorst beskou.

Die navorsing was hoofsaaklik daarop gemik om hierdie aannames óf as onwaarhede aan die kaak te stel, óf as waar te bewys. Indien ’n aanname as onwaar uitgewys is, is probeer om te verklaar waarom dit die geval is.  Dit is gedoen deur die bronne aan interne kritiek te onderwerp.

Die kontraknavorsing

Alvorens daar in diepte na die falsifisering al die nie, van die inligting gekyk kan word, moet daar eers na die aanvanklike kontraknavorsing gekyk word. Die navorsing het begin toe die Nasionale Kultuurhistoriese Museum in 1992 deur die grondeienaar, die voormalige Stadsraad van Pretoria, gekontrakteer om die oorblyfsels van die sogenaamde Bronkhorsthuis argeologies te ondersoek.

Die ondersoek na die terrein het uit twee fases bestaan. Fase een was ’n ondersoek van die bestaande literatuur wat met die struktuur en die Bronkhorstfamilie wat dit gebou het, verband hou. Dit is verder aangevul met inligting uit vergelykende en tydgenootlike geskrewe bronne ten einde agtergrondsinligting in te samel. Die tweede fase was die argeologiese ondersoek van die struktuur.

Bevindinge van die historiese ondersoek:

Volgens die Museum se verslag word die murasie wat as die Bronkhorsthuis bekend staan, volgens mondelinge oorlewering beskou as die reste van ’n woning wat deur Lucas Cornelis Bronkhorst opgerig is. Hiervolgens word Bronkhorst as die eerste bekende blanke setlaar in die omgewing waar Pretoria later sou ontwikkel, beskou.  Hy het uit die distrik Graaff‑Reinet saam met die Potgietertrek na Transvaal gekom en het hom klaarblyklik reeds voor 1841 in hierdie omgewing bevind.

Bronkhorst het sy plaas aanvanklik Elandspoort genoem en die fontein was as Bronkhorstfontein bekend. Die plaas het later as Groenkloof bekend gestaan. Op 9 Augustus 1841 is die bakens vir hierdie en ander plase in die omgewing geïnspekteer. Die inspeksieverslag word beskou as die eerste dokumentêre bewys vir Bronkhorst se vestiging in hierdie gebied.  Daar bestaan egter ouer dokumente in hierdie verband (sien later). Die 1841 verslag waarna verwys word, dui ongelukkig nie die spesifieke ligging van sy woning aan nie. Bronne dui daarop dat sy huis in 1848 slegs ‘n skerm was. Prellerbeskryf dit as ‘n “hartebees‑opstalletjie”, wat daarop dui dat die struktuur wat ondersoek is eers na 1848 opgerig is.

Spoedig na die proklamering van Pretoria as dorp in 1855, het die water uit die fonteine wat die Apiesrivier gevoed het, van groot belang geword. Bronkhorst en ander boere in die omgewing het dit vir besproeiïngsdoeleindes aangewend. Gevolglik het die hoeveelheid water wat vir die dorp beskikbaar was, in gedrang gekom. Met die uitbreiding van Pretoria het ‘n konstante watertoevoer vir die dorp noodsaaklik geword. Die Staat het gevolglik die grond waarop die dam en wateraanleg vir Pretoria gebou is, in Augustus 1863 van Bronkhorst gekoop, hoewel hy steeds op die plaas bly woon het.

In 1874 is Bronkhorst se plaas aan HJ Frames verkoop, wat dit op sy beurt in 1877 aan Jesse Jeanes en Maatskappy verkoop het. Heelwat struwelinge het oor die gebruiksreg van die water gevolg. Laasgenoemde maatskappy het later bankrot gespeel en die regering van die ZAR het die plaas op 4 Augustus 1883 aangekoop. Die grond is eers na die Anglo‑Boereoorlog tot die dorpsgrond van Pretoria toegevoeg. Bostaande inligting is nie heeltemal volledig nie.  Volgens argivale inligting het die maatskappy van Jesse Jeanes die plaas op 23 Desember 1878 aangekoop en is dit op 10 Julie 1884 so geregistreer.

Bevindinge van die argeologiese ondersoek:

Die argeologiese ondersoek het spesifiek ten doel gehad om vas te stel of die struktuur wat ondersoek is wel ’n woonhuis was en indien wel, of dit inderdaad die woonhuis van LC Bronkhorst was. Daar is aanvaar dat die literatuurondersoek reeds hierdie aannames bevestig het. Derhalwe is daar eintlik na argeologiese bevestiging hiervoor gesoek.

Hierdie fase van die ondersoek het die argeologiese opgrawing van gedeeltes van die terrein behels. Omdat die projek kontraknavorsing was, wat binne ‘n gegewe tyd (5 dae) afgehandel moes word, is daar besluit om op spesifieke probleme te konsentreer en derhalwe ‘n groot gedeelte van die terrein onaangeraak deur die wetenskap te laat. Sodoende is gedeeltes van die terrein in situ gelaat vir toekomstige navorsers met verbeterde tegnieke, in ooreenstemming met die standaardmetodiek van die argeologie.

Vyf toetsopgrawings is op die terrein gemaak. ‘n Opgrawing is oor die suidoostelike hoek van die huis uitgemeet, om die metode van konstruksie daarvan vas te stel en om te bepaal of daar ‘n vloer aan die binnekant gevind kan word. As kontrole is die buitekant van die struktuur ook ondersoek.

‘n Langwerpige opgrawing is oor die totale breedte van die huis gegrawe. Dit is so geposisioneer om die moontlikheid van ‘n deuropening in die westelike asook die oostelike muur in te sluit.

’n Opgrawing is van oos na wes deur die klipsirkel aan die oostekant van die huis gegrawe ten einde dié struktuur te ondersoek. Die doel van die opgrawing was om die funksie van die klipsirkel vas te stel, daar dit moontlik lig op die aard en funksie van die eerste struktuur kon werp.

Om spesifieke detail beter toe te lig, is twee van hierdie opgrawings later uitgebrei. Waar opgrawing 2 oor die oostelike muur gaan, is dit in ‘n noordelike rigting uitgebrei, sodat die deuropening in hierdie muur volledig blootgelê kan word. ’n Opgrawing is ook reghoekig met opgrawing 3, met ander woorde van noord na suid, in die klipsirkel uitgemeet.

Die oorblyfsels het bestaan uit grond en klip, meestal leiklip, wat waarskynlik van die mure afkomstig was. Soortgelyke klip is as boumateriaal gebruik en is steeds sigbaar, ingemessel in die muur. Verskeie stukke leiklip en dolomiet, wat deel van die boumateriaal van die struktuur was, is hier blootgelê. Daar is gehoop dat, indien die twee openinge in die mure deuropeninge was, drumpels gevind sou word. Ongelukkig is geen sekere aanduiding van drumpels by enige van die twee openinge gevind nie.

’n Groot klip is wel by die opening in die oostelike muur gevind. Dit is moontlik die enigste aanduiding van ‘n drumpel, hoewel dit gewis nie in sy oorspronklike posisie gevind is nie. Dit is ook moontlik dat dit deel van die muur was en daarvan kon afgegly het.

In teenstelling met die opening in die westelike muur, was die opening in die oostelike muur duidelik gedefinieër. Aangesien dit bekend is dat die deure in sulke huisies normaalweg oos geplaas is, kan daar aanvaar word dat hierdie wel die deuropening van die huisie was.

Samevatting van die kontraknavorsing:

Na die intensiewe ondersoek van die twee strukture deur die Museum, is daar bevind dat daar argeologies geen inligting gevind is wat die algemene opvatting, naamlik dat hierdie die woning van Lucas Bronkhorst was, ondersteun of weerlê nie. ‘n Ondersoek van die beskikbare historiese getuienis het daarop gedui dat dit wel die geval was. Beide ondersoeke het waardevolle inligting in verband met die vestigings-  en bouwyse van die vroeë blanke pioniers en die ontstaan van Pretoria as dorp tot gevolg gehad.

Verdere historiese navorsing

Die eerste blanke setlaar in die Pretoria‑omgewing:

Mondelinge oorleweringe wil dit hê dat die ruïne wat tans as die Bronkhorsthuis bekend staan, die oorblyfsels van die eerste woning is wat deur ‘n blanke in die Pretoria‑omgewing opgerig is. Voorts lui dit dat Lucas Cornelis Bronkhorst, die eerste blanke setlaar in die gebied, die huis opgerig het. Literatuur wat in hierdie verband geraadpleeg is, toon egter teenstrydige inligting.

Volgens Kotzé het ‘n sekere JGS Bronkhorst ‑ sommige bronne praat van GS ‑ Gerhardus Stephanus Bronkhorst – of sommer net van Gerrit Bronkhorst ‑ hom na 1836 in die omgewing van die teenswoordige Pretoria gevestig. Hy is eintlik Johannes Gerhardus Stephanus Bronkhorst, die broer van LC Bronkhorst. Punt laat die indruk dat JGS Bronkhorst en sy broer LC Bronkhorst, sowel as Andries van der Walt, teen 1839 reeds in die area gewoon het. Wilmans, Peacock en Visser konstateer daarenteen dat Van der Walt eers in 1844 in die area ingetrek het. Ook Roodt‑Coetzee meld dat Van der Walt hom kort na die Bronkhorsts aan die Apiesrivier kom vestig het. Nie in een van hierdie gevalle word ’n bronverwysing verskaf nie, maar omdat geloofwaardige inligting dit duidelik stel dat Van der Walt sy grond by die Bronkhorsts gekoop het, moes hy ná hulle in die gebied ingetrek het. 

Hoewel Van Jaarsveld onseker is oor wanneer Van der Walt in die gebied aangekom het, gee hy ’n goeie uiteensetting, gestaaf deur primêre bronne, dat dit ná 1848 moet wees.  Die datum is op sigself nie so belangrik ten opsigte van hierdie studie nie, maar wel die aanduiding dat Van der Walt ná die Bronkhorsts in die gebied ingetrek het. Volgens argivale bronne het Van der Walt die plaas Elandspoort op 6 November 1853 uit die boedel van G Bronkhorst gekoop.  Hierdie inligting bewys dat hy gewis ná die Bronkhorstbroers in die gebied aangekom het.

Peacock stel dit dat die eerste blankes in die omgewing van die Apiesrivier gevestig het, ná die stigting van Potchefstroom in 1838 (sic).[1]Hy meld dan voorts dat die eerste blanke inwoners Gerhardus Stephanus Bronkhorst en sy broer Lucas was. Peacock maak van Preller (1925) as bron gebruik.  Dit sal later aangetoon word dat hierdie inligting vaag is en dat die aankoms van JGS Bronkhorst meer akkuraat bepaal kan word. 

Die twee Bronkhorstbroers het beide in 1834 vanuit die distrik Graaff‑Reinet saam met die Potgietertrek na Transvaal gekom. ’n Ander bron dui daarop dat JGS Bronkhorst eers teen die einde van 1835 getrek het en hom by AH Potgieter aangesluit het. Bergh toon aan dat Potgieter tussen Desember 1835 en Februarie 1836 met sy trek begin het.  Die bronne wat op 1834 dui, is gebaseer op Preller (1925), wat van die mondelinge herinneringe van MJ Minnaar gebruik maak.  Omdat sy op ’n hoë ouderdom en lank na die gebeure ondervra is, is dit moontlik dat haar geheue haar in die steek gelaat het, veral ten opsigte van detailinligting soos datums. Hoewel Beyers en Bergh se inligting op sekondêre bronne geskoei is, blyk dit meer betroubaar te wees.  Dit is egter nie soseer belangrik vir die doeleindes van hierdie studie om die presiese trekdatum vas te stel nie, maar bloot om te weet dat die Bronkhorstbroers teen hierdie datum (vroeg 1836) nog nie in die omgewing van die teenswoordige Pretoria kon wees nie.

Volgens Beyers was JGS Bronkhorst in Mei 1836 deel van ’n verkenningsekspedisie na die Soutpansberg. Bergh dui aan dat hy nie net ’n lid van hierdie ekspedisie was nie, maar dat hy boonop ’n verslag met belangrike inligting hieroor saamgestel het.  Laasgenoemde bron maak in hierdie geval van ’n sekondêre bron gebruik, maar dié benut die primêre dokumentasie (Bronkhorst se verslag) in hierdie verband.

Op 2 Desember 1836 word JGS Bronkhorst ingesweer as lid van die Volksraad, saam met manne soos GM Maritz en AH Potgieter. Hoewel die plek nie op die genoemde dokument gemeld word nie, kan daar aanvaar word dat dit plaasgevind het voor die Trekkers se intog in Natal (1837), dit wil sê in die Transoranje. Beyers meld dat dit te Thaba Nchu plaasgevind het, maar sonder om sy bron te spesifiseer.  In hierdie stadium was die Potgietertrek dus nog nie in die Transvaal gevestig nie.  JGS Bronkhorst het ook aan die slag van Vegkop in Oktober 1836 deelgeneem. Hy was dus self ook nog tot in hierdie stadium nie in Transvaal gevestig nie.

Dit wil voorkom asof ‘n sekere J Bronkhorst aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem het, maar ‘n bestudering van argivale dokumente toon dui dat hy nie dieselfde persoon as JGS Bronkhorst was nie.  ’n Dokument waarin AH Potgieter as hoofkommandant aangewys word en wat op 6 Mei 1845 opgestel is, is deur drie persone met die van Bronkhorst (Bronchors) onderteken. Hulle voorletters is onderskeidelik J, C en G.  Dit beteken dit dat hulle verskillende persone is en gevolglik is dokumente waarin die voorletters J en C voorkom geïgnoreer. Dokumente wat later bespreek word, dui daarop dat JGS Bronkhorst dikwels as G Bronkhorst aangedui word.

Oor LC Bronkhorst is daar ongelukkig veel minder bekend as oor JGS Bronkhorst. Hy moes hom voor 1841 in die Pretoria‑omgewing gevestig het.Die eerste inspeksierapport van plase in dié omgewing bevestig hierdie inligting.  Die bakens van LC Bronkhorst se plaas Groenkloof en ander plase in die Pretoria‑distrik, is in Augustus 1841 deur GJ Kruger, MJ Redelinghuys en WJ Grobler geïnspekteer.

Volgens hierdie verslag uit die Rustenburgse landdroskantoor, is Groenkloof op 9 Augustus 1841 geïnspekteer. Coetzee stel dit dat LC Bronkhorst hom in 1839/40 in die Fonteinedal gevestig het, terwyl Roodt‑Coetzeedit stel dat die twee Bronkhorstbroers hulle waarskynlik in 1840 daar gevestig het. Nie een van hierdie werke toon hul bronne aan nie.

Die fontein op die plaas het eers as Bronkhorstfontein bekend gestaan, maar vandag word dit die Fonteine genoem. Hy het sy plaas Groenkloof genoem. Die plase Groenkloof, wat aan LC Bronkhorst behoort het, en Elandspoort, wat aan JGS Bronkhorst behoort het, was volgens Coetzeedie eerste twee plase in die gebied en word saam met vier‑en‑twintig ander plase op die genoemde inspeksierapport gelys. LC Bronkhorst maak in ‘n brief aan die regering van die Zuid‑Afrikaansche Republiek (ZAR) melding van hierdie inspeksierapport. Dit dien as onomstootlike bewys dat albei die Bronkhorstbroers hulle voor 1841 in die Pretoria‑omgewing moes gevestig het.

JGS Bronkhorst verlaat Natal in 1839 en gaan woon by Potchefstroom. Beyers se bron word weer eens nie spesifiek vermeld nie. Vir beide die Bronkhorstbroers is daar op 3 Junie 1839 aansoek gedoen om plase aan die Vaalrivier te bekom. Hulle moes hulle dus op hierdie tydstip reeds in die omgewing van die Vaalrivier bevind het. Volgens hierdie dokument doen JGS Bronkhorst ook op 14 Oktober 1839 aansoek dat drie plase aan die Wonderrivier vir hom geregistreer word.LC Bronkhorst doen op 8 November 1839 aansoek om die registrasie van ‘n plaas aan die Boskop. Hieruit is dit duidelik dat die twee broers gedurende 1839 verder noord‑ en ooswaarts getrek het.

Die volgende inligting oor die broers word in dieselfde dokument gevind en dateer uit 1840. JGS Bronkhorst doen naamlik op 9 Oktober 1840 aansoek dat sy plaas Elandspoort, waarop Pretoria later uitgelê sou word, saam met sy plaas Zwavelpoort, geleë aan die Bronberg, geïnspekteer word. Laasgenoemde plaas is effens oos van die huidige Pretoria geleë. Hy moes dus die Pretoria‑omgewing tussen Oktober 1839 en Oktober 1840 bereik het. Geen verdere melding word in die dokument van LC Bronkhorst gemaak nie.

AH Potgieter maak in ’n brief, gedateer 28 Augustus 1841, melding van G Bronkhors(t). Hoewel daar soms na JGS Bronkhorst as Gerrit Bronkhorst verwys is, is dit nie moontlik om vas te stel of dit wel na hom is wat Potgieter verwys nie.  Die kans daarvoor is weliswaar groot, aangesien Bronkhorst wel saam met Potgieter getrek het en as een van die leiersfigure verkies is. Die brief is te Potchefstroom geskryf, maar dit kan nie sonder meer as bewys aanvaar word dat JGS (of G) Bronkhorst in hierdie stadium nog daar woonagtig was nie. Indien dit wel na JGS Bronkhorst verwys, beteken dit bloot dat hy steeds as ’n leiersfiguur binne die Potgietergeledere beskou is, hoewel hy reeds in die Pretoria-omgewing gewoon het.

In ’n ander brief van Potgieter aan Andries Pretorius, gedateer 4 April 1842, maak hy melding van Gert Bronkhors(t). Bronkhorst is saam met drie ander spioene deur Potgieter gestuur om verslag te doen oor Mzilikazi. Naas Bronkhorst word een van die spioene by die naam genoem, naamlik Philip Minnaar. Laasgenoemde persoon was die skoonseun van JGS Bronkhorst. Net soos in die bogenoemde geval beteken dit nie noodwendig dat Gert Bronkhorst wel JGS Bronkhorst is nie. Die brief maak egter melding van blanke kinders wat deur Mzilikazi ontvoer is.Omdat een van hierdie kinders dié van JGS Bronkhorst was, is die kans groot dat Gert Bronkhorst wel dieselfde persoon is.

Uit verskeie ander dokumente ten opsigte van die Volksraad te Ohrigstad, kan afgelei word dat JGS Bronkhorst en G Bronkhorst dieselfde persoon is. Dit bevestig voorts dat hy tussen 1845 en 1848 te Ohrigstad woonagtig was.

Volgens Bergh is plase aan die Apiesrivier so vroeg soos 1839 aangeteken. Op 30 Oktober 1840 doen ook die volgende persone aansoek dat hulle plase, tans in die Pretoria‑omgewing, geïnspekteer word:

DJ Erasmus                                                    Wonderboom

SM Jacobs weduwee              De onderste poort      

DJ Oosthuise                                                 Rietfontein

Uit ‘n ander dokument is dit duidelik dat die inspeksie van die volgende plase ook gedurende 1840

in hierdie gebied aangevra is:

SH Janse van Rensburg       Doornpoort        6 November 1840

SJ Bronkhorst weduwee     Garsfontein         7 November 1840

Oosthuise                                                                                           

LC Holsthuize                    Tigerpoort           7 November 1840       

JA Bantjies                         Rietfontein          9 November 1840

J du Pre                              Du Presdrift         18 November 1840

Ook in hierdie dokument word daar geen verdere melding van LC Bronkhorst gemaak nie.  Bergh dui aan dat die plase Derdepoort en Zwavelpoort, in die Pretoria‑omgewing, in 1840 aangeteken is.

Die aangeleentheid rondom die Bronkhorstbroers  word verder gekompliseer aangesien ’n dokument van 1 Augustus 1845 ook deur Jan, Klaas, Gys en LC Bronkhorst, sowel as L Broncors onderteken is. Ook hierdie dokument gee geen aanduiding van waar die persone woonagtig was nie en is dus nie van belang ten opsigte van die oplossing van die probleem wat aangespreek word nie. Dit beteken egter wel dat LC Bronkhorst en L Broncors verskillende persone is. Ander inligting maak melding van ’n sekere Louw Bronkhorst, hoewel dit nie seker is of dit dieselfde persoon as L Broncors is nie. Gevolglik kan alle dokumente waarin die naam L Broncors voorkom geïgnoreer word.

LC Bronkhorst het wel op 4 Augustus 1845 vir hom die plaas Vlak dref (Vlakdrif) aan die Steelpoortrivier laat aanteken. LC Bronkhorst, wat hom op Groenkloof gevestig het, het egter ’n seun met dieselfde name gehad.Omdat LC Bronkhorst senior se kleinkinders ’n brief aan die weesheer oor die erfporsie wat hulle moet ontvang, vanuit Middelburg geskryf het, dui dit daarop dat dit moontlik die seun en nie die pa was wat vanuit Pretoria verhuis het nie. Die boedels word as geloofwaardige inligting beskou omdat boedelinligting juis akkuraat weergegee word met die oog op die verdeling van ’n persoon se bates ten tye van sy afsterwe. Wilmansmaak die fout deur hierdie boedel (0/19312) as dié van LC Bronkhorst senior te aanvaar en beweer gevolglik dat hy twee keer getroud was. Noukeurige argivale navorsing toon egter duidelik dat hierdie sy seun (LC Bronkhorst junior) se boedel was en dat LC Bronkhorst senior se boedelnommer 0/19422 is. 

LC Bronkhorst word slegs in enkele ander dokumente vermeld. Die Volksraad te Ohrigstad keer op 21 Januarie 1846 goed dat hy ’n stuk grond ontvang in ruil vir grond waardeur ’n watervoor loop. Ongelukkig meld die dokument nie waar hierdie grond geleë is nie.

Op 22 Januarie 1846  kom die naam Lucas Bronkhorst senior in ’n Volksraadsnotule, van ’n vergadering wat te Ohrigstad gehou is, voor. Dit is onseker of dit wel LC Bronkhorst is. Dit kan egter ook nie as bewys dien dat hy te Ohrigstad woonagtig was nie, omdat dit bloot die sittingsplaas van die Volksraad was. ’n Sekere Lucas Bronkhorst is ook een van die mede-ondertekenaars van ’n brief wat op 20 April 1846 geskryf is.Dit is nie moontlik om hiervan af te lei of dit wel LC Bronkhorst is en of hy hom in hierdie stadium steeds in die Pretoria-omgewing bevind het nie.

’n Brief wat aan die Volksraad gerig is en op 12 Mei 1846 te Ohrigstad geskryf is, is deur ’n L, ’n D en ’n G Bronkhors onderteken. Die L Bronkhorst verwys waarskynlik na Louw Bronkhorst, maar daar was ook ’n Louis Bronkhorst na wie dit kan verwys. Op 24 September 1846 onderteken LC Bronkhorst en sy broer ’n dokument wat die uitvloeisel van ’n algemene publieke byeenkoms te Ohrigstad was. Daar kan egter nie aanvaar word dat hy hom hier gevestig het nie, aangesien hy moontlik spesiaal vir die vergadering na Ohrigstad kon gereis het.

In ’n brief aan die Volksraad, gedateer 7 Januarie 1848 en geskryf aan die Spekboomsrivier kla LC Bronkhorst oor die verkoop van ’n plaas. Dit gee egter geen aanduiding van waar hy hom in hierdie stadium bevind het nie en kan moontlik deur sy seun (LC Bronkhorst) geskryf wees. Beide die Steelpoort- en Spekboomsrivier is in Mpumalanga, tussen Middelburg en Lydenburg. Dit wil dus voorkom asof beide hierdie briewe deur LC Bronkhorst junior geskryf is.  

’n Verdere brokkie argivale inligting in verband met LC Bronkhorst kom uit 1848. Op 1 Augustus hierdie jaar is hy mede‑ondertekenaar van ‘n dokument waarin Potgieter se mag as leier van die Trekkers uitgespel word. Ongelukkig word geen plek vermeld nie, maar Bronkhorst kon natuurlik gereis het na die plek waar die dokument onderteken is. Gevolglik is dit nie van groot belang ten opsigte van die vestigingsgeskiedenis van Pretoria nie.

Verdere verwysings na LC Bronkhorst word in die vroeë vyftigerjare van die negentiende eeu gevind. Op 4 Januarie 1853 onderteken LC Bronkhorst ’n dokument te Potchefstroom en op 12 Oktober 1853 ’n dokument te Pienaarsrivier. Hierdie dokumente werp egter geen lig op die vestiging van LC Bronkhorst nie en die tydperk daarvan is reeds na die aanvanklike vestiging in die Pretoria-omgewing, wat beteken dat dit nie van toepassing is ten opsigte van die probleem wat aangepak word nie.

LC Bronkhorst onderteken op 20 November 1865 ’n dokument in die distrik Pretoria. Omdat die moontlikheid van ’n reis nie uitgesluit kan word nie, beteken dit nie noodwendig dat hy steeds in Pretoria gevestig was nie.  Sy boedel dui egter daarop dat hy in Pretoria woonagtig was. Die datum van sy afsterwe is onbekend, aangesien geen sterfkennis in die boedel voorkom nie. In die boedel word vermeld dat die plaas Groenkloof deur hom nagelaat is. Geen ander plase word vermeld nie. Dit dui dus daarop dat hy hom in Pretoria gevestig het tot met sy dood.

Teenoor bostaande inligting kry ons die volgende foutiewe inligting uit ander bronne: Van der Waal beweer dat die Bronkhorsts, Minnaars en Van der Walts in 1842 in die area ingetrek het.Pretorius en Peacock meld dat JGS Bronkhorst sy plaas Elandspoort, in 1842 aangelê het. Volgens Preller was LC Bronkhorst reeds teen 1842 hier gevestig, terwyl sy broer GS Bronkhorst in hierdie jaar sy plaas begin uitlê het. Dit is duidelik dat Van der Waal, wat geen bronverwysing gee nie, se inligting onwaar is. Peacock en Pretorius benut Preller as bron. Preller maak van die mondelinge getuienis van MJ Minnaar gebruik, wat weliswaar by die gebeure betrokke was, maar wat vanweë die tydsverloop tussen die gebeure en haar verslagdoening daaroor (ongeveer 80 jaar) nie noodwendig al die inligting korrek kon onthou nie.

Peacock se bewering dat beide LC en JGS Bronkhorst hulle eers in 1844 in die omgewing gevestig het, is ook onwaar.  Dit is boonop strydig met sy inligting soos hierbo vermeld. Hierdie weergawes is afkomstig van ’n onderhoud wat met ‘n kleindogter van JGS Bronkhorst, MM Postma gevoer is. Omdat sy op ‘n rype ouderdom ondervra is, is dit moontlik dat die spesifieke datums wat deur haar onthou is, nie korrek is nie. Ook Pieterse konstateer foutiewelik dat die Bronkhorstbroers hulle in 1844 hier gevestig het, maar dui geen bronverwysing aan nie. Hoewel nie een van die genoemde skrywers waarskynlik doelbewus foutiewe inligting weergee nie, is foute as gevolg van die oorskryf van foutiewe inligting (waarskynlik uit Peacock (1956)), daargestel.   

Verskeie bronne dui aan dat blanke setlaars na 1843 in groot getalle vanaf Natal, en ná die Slag van Boomplaats in 1848, in die Pretoria‑omgewing aangekom het. Die Bronkhorstbroers moes hulle gewis voor hierdie tyd reeds daar gevestig het.

Die reeds genoemde Plaas requesten‑registers gee ook die volgende inligting uit 1839, wat van belang ten opsigte van die geskiedenis van Pretoria kan wees. JC Kronie doen op 18 Desember 1839 by die Registrateur van Aktes aansoek om die plaas Waterkloof, geleë aan die Magaliesberg en AJ Pelser op 24 Desember 1839 om die plaas Scheerpoort, geleë aan die Magaliesberg. Hierdie plaasname mag die indruk skep dat dit in die Pretoria‑omgewing is. Die plaas Waterkloof is egter die een by Rustenburg, terwyl Scheerpoort te ver wes lê om as deel van die Pretoria‑omgewing beskou te word. Gevolglik moet die vestiging op hierdie plase nie in ag geneem word in die vestiging van blankes in die Pretoria‑omgewing nie.

Die enigste wat duidelik is uit al hierdie skrywers se weergawes, is dat dit nie seker is wie eerste in die Pretoria-gebied gevestig het en spesifiek wanneer dit was nie. Nietemin wil dit voorkom of die waarskynlikheid groot is dat dit JGS Bronkhorst, teen die einde van 1839 of vroeg in 1840 was en dat sy broer LC Bronkhorst hom eers later in 1840 of 1841 (voor Augustus) daar gevestig het. Dit beteken dat LC Bronkhorst nie die eer toekom om die eerste blanke setlaar van die Pretoria‑omgewing genoem te word nie.

Die aanname dat LC Bronkhorst die eerste blanke setlaar in hierdie omgewing was, is dus foutief. Die vraag kan tereg nou gevra word waarom hierdie inligting oor die jare heen as die waarheid aanvaar is. Die antwoord is eintlik heel eenvoudig.

JGS Bronkhorst het in 1845 na Ohrigstad getrek, waar hy op 29 Februarie 1848 aan malaria dood is. Beyersgee sy sterfdatum as 25 Februarie aan, maar eersgenoemde datum word aanvaar vanweë die feit dat die oorspronklike argivale dokument sowel as die gedenksteen te Ohrigstad dit bevestig en daar geen rede bestaan waarom hierdie dokument se inligting foutief sou wees nie. 

Op 2 Augustus 1845 is die plaas Klipvanteyn (Klipfontein) vir JGS Bronkhorst te Ohrigstad aangeteken. In drie dokumente word daar na die weduwee van Bronkhorst verwys, naamlik op 21 April 1848, 19 September 1848 en 6 Oktober 1848. Twee dokumente wat te Andries Ohrigstad deur hom onderteken is en waarvan die datum 6 Desember 1845 is, bevestig die voorafgaande. Verskeie ander dokumente waarin die naam JGS Bronkhorst voorkom, dien ook as bevestiging hiervan.Dokumente wat melding van Gerrit Bronkhorst maak en bostaande bevestig, is ook gevind.Omdat verskeie van die genoemde dokumente na dieselfde gebeurtenis verwys, naamlik die stryd tussen die Volksraadsparty en AH Potgieter se ondersteuners kan aanvaar word dat Gerrit Bronkhorst wel JGS Bronkhorst is, aangesien hy ’n leidende rol in hierdie geskil  gespeel het.   

Omdat JGS Bronkhorst Pretoria verlaat het en hom te Ohrigstad gaan vestig het, word sy verblyf in die Pretoria-omgewing waarskynlik net as tydelik gesien en word hy derhalwe nie as een van die eerste blanke setlaars van die stad beskou nie. As daar in ag geneem word dat die bekende Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter as die stigter van onder andere Potchefstroom en Ohrigstad beskou word, terwyl hy hom nie permanent daar gevestig het nie, kan daar tot geen ander gevolgtrekking gekom word as dat Johannes Gerhardus Stephanus Bronkhorst sy plek in die Pioniersgeskiedenis van Transvaal (en spesifiek Pretoria) misgun word nie.

Wat die datum betref, is die enigste afleiding wat gemaak kan word dat JGS Bronkhorst hom tussen 1839 en 1840 hier gevestig het. Soos wat die argivale dokumentasie bewys, moes dit gewis voor Oktober 1840 gewees het. Enige verwysing dat dit na hierdie datum was, moet derhalwe foutief wees.

Die eerste huis van ’n blanke in die Pretoria‑omgewing:

Die volgende aanname wat aandag verg, is of die struktuur waarvan hier sprake is, wel as die eerste huis gebou deur ’n blanke persoon in die Pretoria-omgewing beskou kan word. Die oorblyfsels van ’n reghoekige struktuur in die Fonteinedal word algemeen as die huis van LC Bronkhorst aanvaar en gesien as die oudste huis van Westerse oorsprong in die omgewing. Punt maak nie van bronverwysings gebruik nie. Sy stelling kan as verteenwoordigend van die populêre aanname ten opsigte van die Bronkhorsthuis beskou word en sal in die gedeelte wat volg reggestel word. 

Sommige skrywers stel dit dat JGS Bronkhorst ’n kliphuis op sy plaas, Elandspoort, gebou het. In hierdie geval kan die inligting uit Preller aanvaar word, aangesien hy dit self geverifieer het. Wilmans maak van Peacock (1956) gebruik, wat dus in hierdie geval betroubaar blyk te wees. JGS Bronkhorst se huis was geleë waar die ou NZASM‑brug die Apiesrivier kruis,dit wil sê noord van die Elandspoort, maar oos van die rivier in die Fonteinedal.

Oor die presiese lokaliteit van hierdie huis is daar onsekerheid. Peacock en Wilmans (sien vroeër) dui foutiewelik aan dat die huis wes van die rivier gebou was. Hierdie fout kan aan twee redes toegeskyf word. Mev. MM Postma, met wie Peacock ’n onderhoud gevoer het, het foutiewelik (waarskynlik as gevolg van ’n swak geheue) die inligting so oorgedra. Mev. MJ Minnaar, op wie se herinnering Roodt‑Coetzee steun, het vertel dat daar twee keer deur die Apiesrivier gegaan moes word om van JGS Bronkhorst se huis af dié van LC Bronkhorst te bereik (dit wil sê van oos na wes en dan weer van wes na oos), aangesien dit die maklikste pad was. Mev. Minnaar meld dat eersgenoemde huis oos van die rivier gebou was – iets wat strook met die inligting uit Preller. Hoewel mev. Postma dus die roete tussen die huise korrek onthou het (soos sy dit waarskynlik van mev. Minnaar verneem het), het sy foutiewelik aangedui dat JGS Bronkhorst se huis wes van die rivier geleë was. 

Dit is interessant dat ook Roodt-Coetzee se inligting verwarrend is. Hoewel sy aandui dat die huis oos van die rivier geleë is, beskryf sy die posisie daarvan as by die teenswoordige swembad, wat wes van die rivier geleë is. Laasgenoemde is in elk geval ’n foutiewe aanduiding, omdat die huis nie daar geleë was nie, maar by die NZASM-brug. Wilmans het hierdie inligting onkrities uit Peacock (wat met mev. Postma ’n onderhoud gevoer het) en Roodt-Coetzee oorgeneem en kan dus nie in hierdie geval as betroubaar aanvaar word nie. 

Hierdie huis van JGS Bronkhorst is ná 1842 gebou. Toe JGS Bronkhorst se dogter (MJ Minnaar) en haar eggenoot (PK Minnaar) in 1844 in die area ingetrek het, het LC Bronkhorst nog nie ’n huis gebou nie. Peacock meld dat LC Bronkhorst naby die fontein se oog vir hom ’n aanleg gemaak het. Wat met ‘n ‘‘aanleg’’ bedoel word, is nie seker nie, maar uit die getuienis wil dit blyk dat, indien dit wel ’n huis ingesluit het, dit niks meer as ’n hartbeeshuisie was nie. Die Minnaars het in 1845 saam met JGS Bronkhorst na Ohrigstad verhuis. Dit beteken dat JGS Bronkhorst sy huis tussen 1842 en 1845 moes gebou het. In 1848 trek die Minnaars terug na die Pretoria‑omgewing. MJ Minnaar beskryf LC Bronkhorst se huisie in hierdie tyd as slegs ‘n skerm. Ook Peacock, wat sy getuienis op Preller (1938) baseer, gebruik hierdie term. Preller beskryf dit as ‘n “hartebees‑opstalletjie’’ en vertaal dit in Engels met die woord “shack”. Wilmans en Roodt‑Coetzeesê dat dit van turfsooie gebou was. Al die genoemde gevalle dui daarop dat die huisie geensins in sy geheel of gedeeltelik met klip gebou was nie.

In teenstelling hiermee toon die struktuur wat ondersoek is duidelike klipmure, wat impliseer dat dit eers ná 1848 gebou is. Derhalwe moet die huis van JGS Bronkhorst beskou word as die eerste van sy soort wat deur ‘n blanke in hierdie omgewing opgerig is. Hierdie huis, waarvan Preller volgens Roodt‑Coetzee nog in 1917 oorblyfsels gesien het, is ongelukkig na 1956 vernietig.

Wilmans en Peacock meld egter dat beide LC en JGS Bronkhorst teen 1842 die eerste hartbeeshuisies gebou het. Ongelukkig kon geen verdure inligting hieroor verkry word nie. Indien dit waar is, is die enigste afleiding wat gemaak kan word dat hierdie hartbeeshuisies wel die eerste huise, gebou deur ’n blanke persoon in hierdie omgewing, was.  Dit verklaar egter nie waarom LC Bronkhorst in 1848 in ’n swakker woning, naamlik ’n skerm sou woon nie.  Hierdie inligting kom egter ook uit Preller se weergawe van die herinneringe van MJ Minnaar en is waarskynlik, soos reeds uitgewys, nie baie betroubaar nie. Omdat die struktuur wat ondersoek is duidelike klipmure toon en JGS Bronkhorst se huis, waarvan hierbo melding gemaak word, ook van klip gebou was, blyk dit dat die struktuur wat ondersoek is moontlik nie LC Bronkhorst se eerste woning was nie. Die getuienis oor hoe LC Bronkhorst se huis gelyk het, verskil ook in so ’n mate van dit van die struktuur wat ondersoek is, dat hierdie stelling as ’n feit aanvaar kan word. Dit is moontlik hierdie vroeëre struktuur waarna Wilmans en Peacock verwys.

Daar is egter ’n verdere kinkel in die kabel wat bepalend is ten opsigte van die rede waarom LC Bronkhorst se huis as die oudste Westerse struktuur in die omgewing gesien word. Aansprake word ook gemaak dat Andries van der Walt die eerste huis in die omgewing van Pretoria gebou het. Engelbrecht en Van Jaarsveld stel dit voorts dat dié huis op die plaas Elandspoort, in die omgewing van die huidige Pretoria‑spoorwegstasie, gestaan het. Elandspoort was aanvanklik die eiendom van JGS Bronkhorst. Ná laasgenoemde se dood in 1848, is ‘n gedeelte van die plaas, gedeelte 3, deur Van der Walt gekoop. Van der Walt kon derhalwe sy huis eers hierna gebou het. Daar dit reeds hierbo vasgestel is dat JGS Bronkhorst sy huis tussen 1842 en 1845 gebou het, kan die huis van Van der Walt onmoontlik nie die oudste wees nie.

Nietemin sinspeel skrywers soos Pieterseook daarop dat Van der Walt se kliphuisie die oudste is, hoewel hy dit tog stel dat die huis uit 1848 dateer. Die rede waarom Van der Walt se huis deur sommige skrywers as die oudste in hierdie omgewing gesien word, is moontlik toe te skryf aan die ligging daarvan in die stedelike stadskern van Pretoria , terwyl JGS Bronkhorst se huis in ‘n area geleë was wat, selfs vandag nog, onbebou is. Die rede waarom LC Bronkhorst se huis as die oudste gesien word, is moontlik omdat beide JGS Bronkhorst en Van der Walt se huise reeds vernietig is. Derhalwe is hierdie aanname ook as foutief uitgewys, omdat dit nie die volle waarheid vertel nie. Die implikasie hiervan is dat die struktuur wat ondersoek is slegs as die oudste bestaande struktuur, wat met die blanke geassosieer word, in die Pretoria‑omgewing beskou kan word.

Alle aanduidings uit die historiese bronne dui ook daarop dat die struktuur wat ondersoek is wel die huis van LC Bronkhorst is. Nieteenstaande die argeologiese konteks wat gefaal het om ‘n finale antwoord op hierdie derde aanname te gee, moet dit so aanvaar word.

Samevattende gevolgtrekking

Alle moontlike historiese inligting is benut ten einde so na as moontlik aan die korrekte weergawe van die geskiedenis in verband met die Bronkhorsthuis te kom. Na die intensiewe historiese en argeologiese ondersoek van die terrein, kan daar tot die volgende gevolgtrekkings gekom word.

Historiese inligting bewys onteenseglik dat LC Bronkhorst nie die eer toekom om die eerste blanke inwoner van die Pretoria‑omgewing genoem te word nie, omdat sy broer JGS Bronkhorst voor hom in die area gevestig het. ’n Tweede aanname rondom LC Bronkhorst is ook deur historiese inligting weerlê, naamlik dat sy woning gewis nie die eerste struktuur (woning) van Westerse oorsprong was wat in dié omgewing opgerig is nie. Sy broer JGS Bronkhorst het die eerste huis in die Pretoria‑omgewing opgerig, maar dié is ongelukkig afgebreek. Die oorblyfsels van LC Bronkhorst se huis is derhalwe slegs die oudste oorblyfsels van sodanige struktuur in hierdie omgewing.

Die historiese inligting het daarenteen bewys dat die ruïne wat ondersoek is, wel die oorblyfsels van ’n woonhuis is.  Huishoudelike artefakte en gedeeltes van die gevonde strukture wat blootgelê is, dui ook daarop dat hierdie ruïne ’n woonhuis was. Geen argeologiese bewys dat die huis dié van LC Bronkhorst was, kon gevind word nie. Omdat die meeste dateerbare artefakte wat blootgelê is uit die tydperk omstreeks ca. 1870 dateer, blyk dit dat die huis nog in hierdie tydperk bewoon is.

Artefakte wat uit die periode ca. 1840‑1870 dateer, kon nie opgespoor word nie, sodat dit dus nie argeologies bewys kan word dat die huis gedurende hierdie tydperk bewoon was nie. Hoewel laasgenoemde nie argeologies bewys kon word nie, kan die teenstelling ook nie bewys word nie. Dit moet in gedagte gehou word dat die terrein versteur is en dat artefakte waarskynlik om hierdie rede nie gevind kon word nie. Omdat die ondersoek van die bekende historiese rekords, gebaseer op mondelinge oorlewering, wel daarop dui dat dit die huis van LC Bronkhorst was, word dit as genoegsame bewys hiervoor aanvaar.

Die struktuur is vandag ’n terreinmuseum – ’n paslike manier om die pioniers van Pretoria te gedenk. Dit is egter noodsaaklik om die korrekte inligting, in soverre dit bekend is, weer te gee sodat die gemeenskap nie mislei word nie. Hierdie aspek behoort reggestel te word en is inderdaad in 2017 gedoen.

Slot: Die totstandkoming van Pretoria

Sommige bronne beweer dat die eerste grootskaalse vestiging van mense in die Pretoria-omgewing in die histories tydvak, plaasgevind het met die koms van die Fourietrek in 1848. Hoewel Potgieterook aandui dat blankes sedert 1848 hier gewoon het, blyk dit duidelik uit die voorafgaande dat dit reeds vroeër was en dat hierdie trek eers ná die Bronkhorstbroers in die omgewing aangekom het. Potgieter gee nie ‘n bronverwysing hiervoor nie en daar moet aanvaar word dat hy na die Fourietiek verwys.

Nietemin het hierdie vestiging die moontlikheid daargestel om ‘n nuwe dorp te stig. Die aanstelling van AP van der Walt as veldkornet in hierdie omgewing op 19 Maat 1852 kan as ’n belangrike stap vir die uiteindelike stigting van ’n dorp beskou word.

In 1853 dien daar ‘n mosie voor die Volksraad van die Zuid‑Afrikaansche Republiek (ZAR) om ’n sittingsplek vir die Volksraad in die middel van die land daar te stel. In hierdie stadium was Marthinus Wessel Pretorius, seun van kommandant‑generaal Andries Pretorius, die leidende figuur in die Pretoria‑omgewing. In ’n verslag aan die Volksraad stel hy twee plase, geleë aan die Apiesrivier, vir die stigting van ’n dorp voor. Volgens sy verslag was die plase van aansienlike omvang met baie gelyk grond vir bouterreine en volop goeie drinkwater. Die voorstel is deur die Volksraad afgekeur. Hierop het Pretorius self die twee plase Elandspoort en Daspoort aangekoop. Volgens Rex was Pretorius tot so ’n mate daarvan oortuig dat die plase geskik was dat hy dit aangekoop het voor die Volksraadsitting.  Die Volksraad het eers hierna, in September 1853, die voorstel afgekeur.

Die gevolg van die groter inwonertal in die omgewing het daartoe gelei dat ‘n kerksetel in 1854 gevestig kon word en daar is begin om ‘n kerk op te rig op die plek wat vandag as Kerkplein bekend staan. Die gemeente het die naam Pretoria Philadelphia (Pretorius broederskap) gedra. Daar is soms na die plek as ‘n dorp verwys en die name Pretoriusdorp, Pretoriusstad en Pretorium is daarvoor gebruik. Breytenbach publiseer ’n weergawe van die oorspronklike Volksraadsbesluit in hierdie verband, wat op 7 Junie 1854 te Rustenburg geneem is. Daar was wel aanvanklike besware geopper teen die stigting van ’n dorp in hierdie gebied, maar die burgers van Suikerbosrand het voortgegaan om te versoek dat ‘n dorp op die plaas Elandspoort gestig moet word.

Op 16 November 1855 keur die Volksraad die stigting van ‘n dorp goed en die naam Pretoria word daarvoor aanvaar. Pretoria, as amptelike dorp, het hiermee tot stand gekom, maar uit die voorafgaande is dit duidelik dat die gebied reeds voor hierdie tyd bewoon was.

Die naam Pretoria, is die vroulike vorm van die van Pretorius in Latyn.Rex gee ’n volledige uiteensetting van die ontstaan en betekenis van die naam Pretoria, maar dit is nie hier ter sake nie. Die dorp is vernoem na Andries Pretorius, kommandant‑generaal van die ZAR en aanvoerder van die Voortrekkers by die Slag van Bloedrivier.

Die Volksraad besluit in 1858 dat Pretoria die regeringsetel sou word, met ander woorde dat die Volksraad daar gesetel sou wees. Potchefstroom sou steeds die hoofstad van die ZAR wees. Op 1 Mei 1860 word Pretoria die hoofstad van die ZAR. Hieruit is dit duidelik dat Pretoria bestem was om die regeringsetel te wees, iets wat ten nouste die ontwikkeling daarvan sou beïnvloed, en dit waarskynlik steeds doen.

Bronne

J.S. Bergh (red.), Geskiedenisatlas van Suid‑Afrika. Die vier noordelike provinsies (Pretoria, 1999).

C.J. Beyers (hoofred.), Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek IV (Durban, 1981).

J.H. Breytenbach, Suid-Afrikaanse argiefstukke Transvaal no 2 (Parow, 1950).

J.H. Breytenbach & D.C. Joubert, Suid-Afrikaanse argiefstukke Transvaal no 5 (Parow, 1953).

J.H. Breytenbach, & H.S. Pretorius, Suid-Afrikaanse argiefstukke no 1 (Kaapstad, 1949).

J.J.N. Cloete, Die fonteine van Pretoria, Pretoriana (28), 1958.

N.A. Coetzee, Die Bronkhorst‑familie. In Stadsraad van Pretoria, Pretoria Fonteinedal.  Lewensbron van Pretoria  (Pretoria, 1992).

N.A. Coetzee, Die plase van Pretoria. In Stadsraad van Pretoria, Pretoria Fonteinedal. Lewensbron van Pretoria  (Pretoria, 1992).

N.A. Coetzee, Die grondleggers van die stad Pretoria op die eerste plase, Pretoriana (102), 1993.

G. de Graaff, Die ontstaan en ontwikkeling van natuurbewaringsgebiede. In J.S. Bergh (red.), Geskiedenisatlas van Suid-Afrika.  Die vier noordelike provinsies (Pretoria, 1999).

J.T. du Bruyn, Die Groot Trek. In T. Cameron & S.B. Spies (reds.), Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld  (Kaapstad, 1986).

L. Dunston, Looking back. In City Council of Pretoria, Pretoria Fountains Valley. Pretoria’s spring of life (Pretoria, 1992).

S. du Preez, Die eerste bewoners van Kerkplein, Pretoria. Contree (3), 1978.

S.P. Engelbrecht, Pretoria ‑ die eerste halfeeu. In S.P. Engelbrecht, J.A.I. Agar‑Hamilton, A.N. Pelser & H.P.H. Behrens (reds.), Pretoria (1855‑1955) Geskiedenis van die stad Pretoria (Pretoria, 1955).                  

S.P. Engelbrecht, J.A.I. Agar‑Hamilton, A.N. Pelser & H.P.H. Behrens (reds.), Centenary album. Pretoria’s first century in illustration (Pretoria, 1952), p. 15.

F. Jeppe & J.G. Kotzé, De locale wetten der Zuid-Afrikaansche Republiek 1849-1885 (Pretoria, 1887).

C.S. Kotzé, Doornloof‑wêreld (Irene, 1983).

L. Krige, A consistent water source. In City Council of Pretoria, Pretoria Fountains Valley. Pretoria’s spring of life (Pretoria, 1992).

L. Krige, A laudable effort. In City Council of Pretoria, Pretoria Fountains Valley. Pretoria’s spring of life (Pretoria, 1992).

M. Lochhead, Lochheads guide, hand‑book and directory of Pretoria 1913 (Pretoria, herdruk no.89,1980).

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. Aanwins no. 1045.

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. Argief van die Registrateur van aktes, Alfabetiese inspeksielys, RAK 2711.

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. 0/19312, Boedel van Lucas Cornelus Bronkhorst junior, 1902.

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. 0/19422, Boedel van Lucas Cornelus Bronkhorst senior, 1902

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. Argief van die Registrateur van aktes, Inspeksieregister 1841‑1888, RAK 2434

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. Argief van die Registrateur van aktes, Inspeksierapport, Pretoria 1841‑1864, RAK 2750.

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. Argief van die Registrateur van aktes, Nuwe registrasies reeks 4A, Pretoria 367-428, RAK 3005.

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. Argief van die Registrateur van aktes, Oordragrekords, Pretoria I 9-346, RAK 2990.

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. Argief van die Registrateur van aktes, Oordragrekords, Pretoria I 9-346, RAK 2991.

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. Argief van die Registrateur van aktes, Oordragrekords II, Pretoria 348-482, RAK 2991.

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. Argief van die Registrateur van aktes, Plaas requesten register, RAK 2433.

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. Argief van die Staatsekrataris (Voortrekker argiefstukke) SS1A, 1829‑1840.

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. Argief van die Staatsekretaris (Voortrekker argiefstukke) SS1B, 1841‑1864.

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria. Argief van die Staatsekretaris R60/64.

R. Peacock, Die geskiedenis van Pretoria 1855‑1902 (Ongepubliseerde D.Phil.‑ proefskrif, Universiteit van Pretoria, 1955).

R. Peacock, Enige herinnering van tant Malie Postma, Pretoriana (20), 1956.

A.N. Pelser, Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek. Deel I Wordingsjare (Kaapstad, 1950).

J.J. Pieterse, Die geskiedenis van Pretoria tot 1877 (Ongepubliseerde M.A.‑ verhandeling, Universiteit van Pretoria, 1942).

F.J. Potgieter, Die vestiging van die blanke in Transvaal (1832-1886) met spesifieke verwysing na die verhouding tussen die mens en die omgewing. In A. Kieser (red.), Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis 21(2) (Elsiesrivier, 1959).

G.S. Preller, Herinnering van M.J. Minnaar. In G.S. Preller (red.), Voortrekkermense IV (Kaapstad, 1925).

G.S. Preller, Ou Pretoria. Sakelike verhaal van die stad se Voortrekkerperiode (Pretoria, 1938).  

C. Pretorius, Pretoria se pioniershuis. Sy tyd en sy mense (Pretoria, g.d.).

H. Pretorius & D.W. Krüger (reds.), Voortrekker-argiefstukke 1829-1849 (Pretoria, 1937).

W.J. Punt, Inwyding gedenkteken Bronkhorsthuis. Oorspronge, bronne en fonteine ‑ Pretoria – Bakermat, Pretoriana (103).

H.M. Rex, Pretoria.Van kerkplaas tot regeringsetel (Kaapstad, 1960).

K. Roodt‑Coetzee, Die republikeinse Pretoria: Kultureel en sosiaal. In S.P. Engelbrecht, J.A.I. Agar‑Hamilton, A.N. Pelser & H.P.H. Behrens (reds.), Pretoria (1855‑1955) Geskiedenis van die stad Pretoria (Pretoria, 1955).

G-M. van der Waal, All state presidents were sworn in in Pretoria, Muniforum 21(4), 1994.

F.A. van Jaarsveld, Die Afrikaners se groot trek na die stede en ander opstelle (Johannesburg, 1982). 

J.A. van Schalkwyk, A.C. van Vollenhoven & M. Naudé, ‘n Argeologiese ondersoek van die bouvalle bekend as die Lukas Bronkhorsthuis in die Fonteinedal, Pretoria (Ongepubliseerde verslag, Nasionale Kultuurhistoriese Museum, Sunnyside, 1992).

A.C. van Vollenhoven, ‘n Argeologiese ondersoek van die Bronkhorstruïne as voorbeeld van kultuurhulpbronbestuur (KHB) (Ongepubliseerde skripsie vir die Nagraadse diploma in Museumkunde, Universiteit van Pretoria, 1993).

A.C. van Vollenhoven, Historical‑archaeological research in the Pretoria area. Paper presented before the Pan African association for prehistory and related studies (National Cultural History Museum, Pretoria, 1995).

A.C. van Vollenhoven, ‘n Voorgestelde paradigma vir navorsing op histories-argeologiese erfenishulpbronne in Suid-Afrika aan die hand van gevallestudies in Noordelike Gauteng (Ongepubliseerde D.Phil.-proefskrif, Universiteit van Pretoria, 2000).

A. Visser, Argeologies gesproke … In Stadsraad van Pretoria, Pretoria Fonteinedal. Lewensbron van Pretoria (Pretoria, 1992).

J. Wilmans, L.C. Bronkhorst: pionier van die Pretoria-omgewing, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 46 (2-3), 1990.


[1] Hierdie datum is eintlik 1839 (vergelyk Bergh 1999:129).