DR. W.J. LEYDS, “KRUGER SE HOLLANDER”

As die voëls begin trek …
Mei 3, 2019
DIE EERSTE BLANKE BEWONER VAN DIE PRETORIA-OMGEWING
Junie 25, 2019

deur Riana Mulder

Wie was dr. Willem Leyds?

Willem Johannes Leyds was ’n Nederlander wat veral voor, tydens en net na die Anglo-Boereoorlog ’n baie belangrike rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het. Hy was bekend as ’n vertroueling van pres. Paul Kruger, en in 1909 verskyn sy “Herinneringen aan President Kruger” in De Volkstem. Baie van sy eie publikasies oor Suid-Afrika en die oorlog is bewaar as die sg. “Leyds-argiefversameling” wat (hopelik) nog in die Nasionale Argief in Pretoria beskikbaar is.

Dr. Leyds was die seun van die skoolhoof van die Goewermentskool in Magelang, Java, ’n Indonesiese eiland wat destyds nog ’n Nederlandse kolonie was.  Hy is in 1859 gebore, en toe hy ses jaar oud was, het sy vader gesterf en neem sy moeder die vier seuns terug na Nederland. Willem was die tweede oudste, en ’n briljante student. Hy sê self in 1939 aan die skrywer Kees van Hoek dat dit “’n aangebore gawe is” en dat sy brein soos ’n “fotografiese plaat” is.

Omdat sy moeder nie die geld gehad het om die seuns verder te laat leer nie, moes die jong Willem hard werk om homself eers as ’n onderwyser te bekwaam. Met skoolhou het hy genoeg geld verdien om verder te gaan studeer. Hy is op universiteit gou raakgesien deur sy professore, wat vir hom gratis ekstra lesings gegee het, en het sy doktorsgraad met lof behaal.

Werwing in Nederland

Pres. Kruger was aan die hoof van ’n deputasie wat Nederland besoek het om te onderhandel oor die bou van ’n spoorweg, en hy het ook die geleentheid gebruik om met die Amsterdamse Universiteit se Regsfakulteit kontak te maak in verband met die werwing van ’n prokureur-generaal vir die ZAR. Die jong dr. Leyds is hoog deur sy professore aanbeveel, maar sy verloofde, mej. Louise Roeff, was nie gretig om Nederland te verlaat en in Suid-Afrika te gaan woon nie.

Uiteindelik het sy beskermheer, ’n prof. Pierson, hom wel oorreed om die geleentheid aan te gryp. Die salaris van 1000 pond per jaar, wat gelykstaande was aan dié van ’n Nederlandse minister, was beslis ook ’n groot oorweging. Hy het ’n kontrak vir drie jaar geteken, en sy verloofde oorreed om saam met hom die avontuur aan te pak.

Loopbaan in Suid-Afrika

Dr. Leyds het op 13 Oktober 1884 sy loopbaan as staatsprokureur van die ZAR begin. Hy en sy vrou het in September in Kaapstad aangekom. Die lang tog per trein na Kimberley het twee volle dae geduur, waarna hulle met ’n poskoets tot by Potchefstroom moes reis, en uiteindelik na nog ’n volle dag in Pretoria aangeland het. Hy sê hy was verbaas dat Transvaal net so groot soos Frankryk was!

Pretoria was vir die Leydse ’n aangename verrassing: daar was breë strate en groot woonhuise, en dinge was glad nie so primitief as wat hulle verwag het nie.

As staatsprokureur was hy die hoof van die Balie, en ook die publieke aanklaer. Hy het baie deur die republiek gereis, en was verantwoordelik vir die ontwerp van wette en regulasies (in ’n vorm van Hoog-Hollands wat darem vir Afrikaanssprekendes verteerbaar was).

Geleidelik het hy sy werk, en die mense van die land, begin liefkry, maar hy erken dat dit soms moeilik was om van alle Afrikaners te hou – baie van hulle was bekrompe in hulle denke en nie gretig om veranderings te aanvaar nie. Só byvoorbeeld het ’n deputasie hom eendag voorgekeer en oorreed (verplig!) om sy baard te laat groei, sodat hy ouer en waardiger kon lyk! Hy vertel dat sy vrou vir omtrent ’n jaar die baard verdra het, maar baie verlig was toe hy dit afskeer.

Veral vir pres. Kruger het hy groot respek gehad, en hom ook baie goed leer ken in die bykans vyftien jaar wat hulle saamgewerk het. Volgens hom was die president ’n man van inbors, iemand wat respek verdien het vir sy intellek en waardigheid. ’n Leier wat verbasend modern in sy denke was en nie omgegee het om met jonger mense saam te werk en na nuwe idees te luister nie.

Twee van sy gunstelingstaaltjies oor die president was die volgende: hy vertel dat die president en hy eendag stry gekry het, so erg dat die president gesê het een van hulle twee sal moet gaan. Dr. Leyds het onmiddellik sy bedanking ingedien, en laatnag nog lê en stoom, toe hy die geluid van perdehoewe hoor. Met die oopmaak van sy voordeur was hy verbaas om die president van sy perd te sien afklim, en nog meer verbaas toe die ouer man nederig om verskoning vra!

Toe dr. Leyds op ’n keer van ’n besoek aan Europa af terugkom, was hy net so aangenaam verras dat die president hom self by die stasie kom haal het, en langs die pad sy hande gevat en vir hom vertel het dat hy hom baie gemis het.

’n Probleem met sy stembande het uiteindelik beteken dat dr. Leyds nie meer sy werk as staatsprokureur kon doen nie – sy dokter in Europa het hom aangeraai om nie weer toesprake te hou wat sy stem kan ooreis nie, en hy is toe van Januarie 1889 af aangestel as die staatsekretaris. Hy het die pos beklee tot in 1898, net voor die uitbreek van die oorlog.

Buitengewone gesant in Europa

Dr. Leyds was van die begin van sy loopbaan af betrokke by die ZAR se betrekkinge met ander lande, en veral by skakeling met die Nederlandse regering. Dit was dus logies dat hy tydens die oorlog aangestel sou word as buitengewone gesant en gevolmagtigde minister van die ZAR in Europa. Hy was as sodanig by ses Europese regerings geakkrediteer, en het hom voltyds besig gehou met die werwing van steun vir die Boere.

Hy was ook verantwoordelik vir fondsinsameling, en die bestuur van al die ZAR se fondse in die buiteland. Na die oorlog het hy die oorblywende fondse ook aangewend vir opheffingswerk in Suid-Afrika.

Saam met die president tot met sy dood

Met pres. Kruger se aankoms in Europa was dr. Leyds daar om hom in te wag en tuis te laat voel, en hy het hulp, troos en raad verleen gedurende die hele tydperk tot en met die president se dood in 1904. Met sy bystand is besoeke gereël aan staatshoofde en adellikes, in die hoop dat iemand bereid sou wees om fisiese hulp aan die Boere te verleen. Die president is orals deur groot skares en met baie respek en eerbewys ontvang. Daar was egter geen beloftes van militêre bystand nie, en dr. Leyds moes toesien hoe die president se gemoedstoestand en sy gesondheid agteruitgaan.

Hy was na die president se heengaan ook die een wat die lyk laat balsem het, en dit op die lang seereis na Kaapstad vergesel het. Daar het die Engelse hoë kommissaris, lord Milner, egter sy deurgang probeer beperk, en het dr. Leyds verkies om eerder terug te draai as om aan sy vernederende voorwaardes te voldoen.

Die president se baie bekende laaste boodskap aan sy volk is ook deur dr. Leyds opgestel en deur die siek president onderteken.

Na die oorlog

Dr. Leyds het na die oorlog met die fondse tot sy beskikking skole, nuwe Hollandse koerante en twee nuwe politieke partye in Suid-Afrika gefinansier in ’n poging om die Afrikaanse volk weer op te hef en Milner se beleid van verengelsing teë te staan. In 1908 het hy op Louis Botha se aandrang die land weer besoek, en hy was altyd bereid om aan die nuwe leiers advies te verleen om hulle op die pad na selfbeskikking te lei.

Met die argiefmateriaal tot sy beskikking het hy 11 boeke oor die Afrikaner se stryd teen Britse imperialisme geskryf. Hy was tot en met sy dood in 1940 baie betrokke by alles wat in Suid-Afrika gebeur het, het met die verskillende leiers gekorrespondeer en ook nie gehuiwer om hulle te kritiseer nie.

In 1936 het die Universiteit van Pretoria aan hom eer betoon deur ’n borsbeeld van hom te onthul, en is hy bedank vir sy groot bydrae tot die Afrikanergeskiedenis deur leiers soos dr. Hertzog en Jan Smuts.

Sy hele argiefversameling is na sy dood aan die destydse Transvaalse Argief geskenk.

Bronne:

  • Eloff, M. s.d. Die President en ek: Herinneringe van Magdalena Eloff soos vertel aan Gezina du Plessis. Kaapstad: Tafelberg.
  • Van Hoek, K. 1939. Gesprekke met Dr.W.J. Leyds. Pretoria: J.L. van Schaik.
  • Leyds, W.J. 1909. Herinneringen aan President Krüger. Dordrecht.