As die voëls begin trek …

90 boeke vir Wêreldboekedag
Mei 3, 2019
DR. W.J. LEYDS, “KRUGER SE HOLLANDER”
Mei 10, 2019

Deur Neels Jackson

“Die
jaar word ryp in goue akkerblare,” het NP van Wyk Louw geskryf. Ons sien die
blare wat verkleur: groen word geel en oranje, rooi en bruin.

Terwyl
dit gebeur, speel daar ’n natuurwonder om ons af wat ’n mens, tensy jy
oplettend is, dalk nie eens opmerk nie. En selfs al merk jy dit op, is dit
moeilik om die grootsheid daarvan te peil.

Die
trekvoëls pak hulle langer of korter reise na die spreekwoordelike groener
weivelde toe aan.

Een van
die eerste kere wat dit my regtig getref het, was een aand langs ’n dam in
Middelburg, Mpumalanga. Ek was deel van ’n groep voëlringers en ons wou
Europese swaels ring.

Dié
swaels broei in die noordelike somer in Europa. As hulle in ons somer hier
kuier, het hulle nie neste nie. Dan sit hulle snags in die riete. Ons het ons
nette tussen ’n klomp riete opgeslaan en toe hulle skemeraand inkom om te kom
sit, het ons ’n hele klompie gevang.

Die gedagte
was om ’n ringetjie aan ’n swael se poot te sit, ’n klompie mates te neem, die
voël te weeg en dit dan vry te laat. As hy later elders weer gevang word, kan ’n
mens iets van sy bewegings leer.

Die
opwinding was groot toe iemand ’n swael kry en sien hy het reeds ’n ringetjie
aan. Op die ringetjie het onder meer gestaan “Helsinki”. Dié swael is in ’n
vorige seisoen in Finland gering en het, al 18 g van hom, daarvandaan tot hier
gevlieg.

Ek was
verstom. Dat so ’n klein voëltjie dit kon doen. Dat duisende van hulle dié tog
twee maal per jaar aanpak, een maal suidwaarts en een maal terug noorde toe.
Dat hulle dit jaar na jaar doen.

Nie alle
voëls is trekvoëls nie. Party bly reg deur die jaar, jaar na jaar, min of meer
op dieselfde plek.

Ander,
soos die grootstreepswaels wat in ’n stadium teen die stukkie plafon buite my
voordeur nesgemaak het, trek heelwat korter afstande. Dalk tot in een van die
Kongo’s, dalk net tot in Zambië of Angola, iewers naby die ewenaar.

Een
broeipaar het jaar na jaar teruggekom na ons toe. Ek kon aan die ringetjies wat
ek vir hulle aangesit het, sien dat dit dieselfde twee was wat elke jaar twee
kuikens by ons kom uitbroei en grootmaak het.

Tot een
jaar, toe dit net die mannetjie was wat teruggekom het, met ’n nuwe wyfie aan
sy sy. En die broeiery het voortgegaan soos voorheen.

Maar
party trekvoëls het verstommende verhale, soos die krombekstrandlopers. In ons
somers is hulle volop veral langs die Weskus. Hulle wei al langs die kant van
die water aan allerlei klein goggatjies.

En
wanneer die somer einde se kant toe staan, dan begin hulle gewig aansit. Petrol
vir die lang reis Siberië toe. Navorsers het vasgestel dat hulle hulle gewig
met sowat 50% kan vermeerder voordat hulle begin trek.

Maar
hierdie brandstof is nie naastenby genoeg om hulle in Siberië te bring nie.
Daarom het hulle ’n paar ruspunte langs die pad. Eenstoppe, sou ’n mens kon sê,
waar hulle ’n week of twee oorstaan, en hulleself weer vetvreet voordat hulle
verder vlieg.

Ná sowat
13 000 km kom hulle aan in ’n arktiese somer wat elke jaar vir ’n kort tydjie
vir hierdie en ander trekvoëls ’n oorvloedige feesmaal van goggatjies bied.

’n Paar
weke later draai die mannetjies om en pak die terugtog aan. Hulle het net gekom
om te paar. Die wyfies bly langer. Hulle broei die eiers uit en versorg die kuikens
totdat hulle groot genoeg is. En ’n rukkie nadat die wyfies die terugtog
aangepak het, volg die jonges op hulle eerste reis na die suidpunt van Afrika.

En as
die suidelike lente aanbreek, dan kom ons somerbesoekers terug. Ons hoor hoe
die Europese byvreters in die lug tjirp. Ons verlustig ons weer aan die roep
van die bosveldvisvangers wat hoër op in Afrika gekuier het.

En as
ons mooi daaroor dink, dan staan ons verwonderd oor wat alles om ons gebeur.

The post As die voëls begin trek … appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico