Sewe stemme wat met een hart saamsing

Dis oukei om nie oukei te wees nie
April 24, 2019
90 boeke vir Wêreldboekedag
April 24, 2019

Deur Seugnet van Zyl

Ek word stil.

Ek word stil as my siel onder jou voete soos ’n oop, omgeploegde land lê.

Jy met jou musiek soos reën oor my … met ’n Kaleidoskoop van kleur laat
dit iets wat

versteek is binne my uit sy nate bars en dan word dit skielik groen,

’n grasvlakte, ’n boom, ’n woud.

En ek word stil,

stil tevrede as my siel te midde van jou melodieë ontkiem.

– Musiek Soos Grond –

Vir lank het ’n klomp musikantvriende saam gedroom oor ’n platform vir “dieper” Afrikaanse musiek. Vir iets met meer hart, iets wat eg is en betekenisvolle lirieke.

Toe bring Jacques de Villiers, oftewel Joshua
na die Reën soos hy in die Afrikaanse musiekbedryf bekendstaan, dié sewe
vriende, waaronder hyself, Anique en Jouba Jordaan van Kaleidoskoop, Len
Muller, Lizandra Winter, Leon Gropp en Liani Reynolds, bymekaar om Musiek soos
Grond te vorm.

“Ons almal se hart is régtig een. Dit is al wat dit gaan maak werk. Ons wil net mense se harte (met ons musiek) praat. Dít is wat ons almal wil doen,” vertel Jacques oor dié nuwe musiekbeweging wat binne enkele dae vir die eerste keer in Bloemfontein gehoor sal word.

Hy sê daar was vir hom ’n gemis aan
kameraadskap tussen musikante.

“Soort soek soort. Hierdie ding (Musiek soos Grond) kan eintlik net werk as dit tussen vriende gebeur. Ons almal is eintlik eers vriende en dan is ons Musiek soos Grond. My nommer een droom is om vir mense te sê: ‘Jy is genoeg en daar is hoop’.”

Hy sê hy het eendag besef dat mense in die
gehoor, by konserte, soos grond is waarop musiek val.

“Elkeen ervaar dit anders en uit daardie
belewenis groei iets uniek.”

Dis ook juis Musiek soos Grond se doel dat
mense wat daarna gaan kom luister, veel eerder met ’n afwagting as ’n
verwagting na vertonings moet kom.

 “Nie een show gaan dieselfde wees nie. Die vertonings gaan baie vloeibaar wees.”

Musiek soos Grond bring ’n klomp vriende
byeen wat dit geniet om saam musiek met een boodskap te maak, maar tog uniek
bly. Die twee opkomende konserte, waarvan nog een in Mei by die Big Red Barn in
Irene, Centurion, plaasvind, is daarop gemik om dié kunstenaars ’n platform te
gee om hulle hoendervelmooi lirieke, lewensverhale en veelsydigheid op die
verhoog met gehore te deel. Buiten dat die sewe musikante saam gaan sing, gaan
hulle ook mekaar begelei tydens optredes.

Anique Jordaan, die vrouekunstenaar van
Kaleidoskoop, sê Musiek soos Grond is musiek met goeie lirieke en hart.

“Dit is musiek wat mense kan aanraak. Dit is ets wat eg is.”

Jouba Jordaan, haar sangmaat, sê: “Ons wil
net die alternatief bied. Ek is baie bly dat dit uiteindelik gebeur, want dit
het vir lank in ons almal se harte gebroei.”

Len Muller sê hulle wil mense net inspireer
met Musiek soos Grond, terwyl Liani Reynolds sê daar is ’n eenheid tussen
hulle.

“Ons style verskil, maar ons komplementeer ook mekaar.”

Leon Gropp som Musiek soos Grond as ’n klomp
dromers, wat saamdroom om ’n platform te skep vir ander dromers op.

“Vir ander nie-hoofstroom-kunstenaars om nie net ’n bestaansreg in die bedryf te hê nie, maar ’n plek waar die kuns wat ons skep, ’n groter reikwydte het.”

Lizandra Winter meen Musiek soos Grond voel
soos ’n veilige tuiste.

“Ek sien ons as ’n geheel. Ons wil iets in jou hart kom lê.”

Dié groep musikante het onlangs ook saam ’n
splinternuwe enkelsnit opgeneem en ’n musiekvideo daarvan laat vervaardig. “‘Lugballon’
Is ’n pragtige kontemporêre hartsliedjie, met die boodskap dat jou uitkyk op
die lewe dikwels bepaal hoe jy situasies hanteer.  

“Dit gaan oor die reis wat ons as musikante met een hart meemaak en hoe ons en ons gehore mekaar kan aanspoor om vanuit ’n hoër perspektief na die wêreld te kan kyk en sien hoe mooi dit regtig is, hoeveel hoop daar is en dat ons regtig genoeg is om mekaar hoop te gee en te inspireer omdat ons van onsself vir mekaar gee,” sê Anique.

Len het “Lugballon” se openingswysie op die
kitaar gesit en tokkel, terwyl Anique met die idee van die lugballon as
metafoor vorendag gekom het. Jacques het alles bymekaar getrek en die
meeste van die lirieke geskryf, asook die vervaardiging van die bykomende
instrumente behartig, terwyl Leon en Jouba 
hand bygesit het met idees, raad en advies.

Dié musiekvideo weerspieël wat Musiek
soos Grond is. Al die tonele speel in verskillende dele van die natuur af wat
simboliseer dat baie dinge met grond en dan ook musiek kan gebeur – ’n woud, ’n
grasveld, ’n grondpad. 

Musiek soos Grond sal ook groei namate die
beweging groei.

Kyk na die video hier:  https://www.youtube.com/watch?v=-S2mTA8oA9E

KONSERTDATUMS

27 April 2019 – Villa Avianto, Bloemfontein

4 Mei 2019 – The Big Red Barn, Centurion

Deure open om 17:00 en sluit weer om 22:00. Gaste
is welkom om piekniekkomberse, kampstoele of kussings te bring om op te sit
terwyl hulle saamkuier. 

Kaartjies is beskikbaar by www.musieksoosgrond.co.za en wissel tussen R200 en R250 per persoon. 

The post Sewe stemme wat met een hart saamsing appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico