Die hoop vir bewaring lê by die kinders

Openbarings plaas godsdiens in die kollig
April 14, 2019
Op die noot-af met Lydia Winchester
April 14, 2019

Deur Seugnet van Zyl

Op die vraag oor hoekom sy en Susan Scott, medevervaardiger van Stroop, hul onderskeie werke bedank, alles verkoop en by hul ma’s ingetrek het om dié rolprent te maak, is haar antwoord eenvoudig: gestroopte renosters.

“Ons moes uitvind hoekom dit gebeur.”

Bonné de Bod het
as 50/50-aanbieder talle insetsels oor die renosterslagting gemaak. Tog sê sy
al het sy meer as honderd renosterkarkasse gesien, sal sy nooit daaraan gewoond
raak nie. Op die betrokke dag waar nog twee renosters vir hul horings afgemaai
is en sy haar plek voor die kamera moes inneem, het sy besluit die wêreld moet
weet wat regtig aan die gebeur is.

“Ek dink vir my gaan dit daaroor dat ons almal hierdie huis wat vir ons deur God gegee is, in ’n beter toestand wil agterlaat. Vir my is dit die vermoë om my passie en liefde vir die natuur met mense te kan deel en hulle hopelik as ’n rolmodel te inspireer om dit te bewaar en te beskerm, want sonder bewaring is daar nie hoop vir die natuur of ons wildlewe nie.”

Sy hoop om almal met
Stroop so te inspireer dat hulle dit
nie wil vernietig nie.a

In Stroop doen sy by diegene aan wat
daagliks hul lewens op die spel plaas om renosters te bewaar, by die wonderlike
mense wat na die renosterwesies omsien, by dié wat sorg dat renosterstropers
vervolg word en dan die ander kant van die muntstuk: by die mense wat met
renosterhoring handeldryf en ook diegene wat dit gebruik. Susan is agter die
videokameralens waar hulle nie net in die Krugerwildtuin, waar die meeste
renosters ter wêreld gestroop word, verslag doen nie, maar ook oorsee waar
hulle onder meer in Viëtnam hulleself as voornemende kopers van renosterhorings
voordoen en uitvind hoekom plaaslike inwoners, wat aan kanker ly, juis dié
horing gebruik om beterskap te bewerkstellig.

Sy sê renosterhoring is die mees gesogte materiaal ter
wêreld. Dan volg die angswekkende
statistieke. Daar word elke agt uur ’n renoster vir niks anders as sy of haar
horing doodgemaak nie.

Bonné vertel in
die rolprent dat dit beteken dat as jy vanaand gaan slaap en môreoggend
opstaan, is daar ’n renoster doodgemaak.

“Teen die tyd dat jy middagete by die werk eet, is nog een doodgemaak en as jy huis toe ry, nog een. Dit beteken ons verloor elke dag drie renosters. Sedert 2011 is daar meer as 7 000 renosters net in Suid-Afrika gestroop.”

Bonné het
grootgeword waar sy saam met haar ouers en haar oupa-hulle twee keer per jaar Krugerwildtuin
toe gegaan het.

“My oupa het hierdie ongelooflike kennis van plante en diere gehad. Ons het dit ongelooflik gewaardeer en gerespekteer. Dis waar my liefde daarvoor gebore is. Maar baie het nie daai geleentheid nie. Ek kan dít nou tot in mense se woonkamers bring, maar nie net die goeie en mooi stories nie, ook die sleg en die krisisse wat ons vandag in die gesig staar, soos die renosterstropingskrisis.”

Sy sê sonder dat
mense in die oë van ’n renoster of olifant gekyk het, gaan baie mense net nie
verstaan waarvan sy en Susan met hul rolprent praat of hoekom hulle omgee nie.

“Ons het hierdie rolprent gemaak sodat niemand kan sê: ‘ek het nie geweet nie’. Ek wil hê elke Suid-Afrikaner moet Stroop sien, want dit is ons erfenis. Dit is ’n integrale deel van wie ons as Suid-Afrikaners is.”

Dis vir haar baie
belangrik om veral die jeug te betrek, want “ons hoop lê by hulle”.

Daarom word Stroop nie net by rolprentteaters
vertoon nie, maar ook by skole. Bonné en Susan is ook na afloop van elke
vertoning vir ’n vrae-en-antwoordsessie beskikbaar.

“Ek dink elke kind móét hierdie rolprent sien.”

Wat haar hoop gee
en wat sy eers ná die rolprent besef het, is dat renosters nie paspoorte besit
nie. “Hulle behoort aan ons almal en mense wil betrokke raak.”

“Daar is ’n nuwe passie wat aangevuur word deur die rolprent, waar mense besef hulle moet ook iets doen. Hulle wil eienaarskap van die renosters neem. Ek sien dit as mense die rolprent gekyk het. Hulle is so diep daardeur geraak dat hulle oorgaan in aksie. Ek het geen twyfel daaraan nie. Mense kyk na my met verskillende reaksies – geskok, hartseer, woedend, maar die een ding wat hulle almal gemeen het, is daai motivering om iets te doen.”

Wat was vir haar die ergste
om Stroop te vervaardig?

“Vir my was dit definitief gewees om te sien waartoe die mens in staat is. Absolute slagting. Ek noem dit nie ’n krisis of oorlog nie. Ek noem dit ’n slagting, want dit is presies wat dit is. Vir my is dit pure boosheid.”

Waar sy altyd die goed in mense raakgesien het, bevraagteken sy nou mense
se agendas.

Die mense wat sy langs die pad tydens die verfilming van Stroop ontmoet het, sal haar altyd
bybly.

“Net om hul passie en vreesloosheid te sien. Die gees om 110% in iets te glo. En die ongelooflike reaksie. Stroop was ’n rolprent aan die begin, maar dit het ’n lewe van sy eie aangeneem. Ons moet hierdie storie lewendig hou, om dié dier lewend te hou.”

Bonné sê Stroop gaan altyd deel bly van wie en wat sy is.

The post Die hoop vir bewaring lê by die kinders appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico