Op die noot-af met Lydia Winchester

Die hoop vir bewaring lê by die kinders
April 13, 2019
Kom sit aan vir ʼn Pretoriase lees-fees
April 14, 2019

Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Môre lyk dit anders …” krys Lydia Winchester, die sangeres Rina Hugo se gouejaretreffer, uit. Hier en daar druk mense hulle ore toe …. “Agge nee, Lydia, kerm ’n joernalis, jy ken die musiekbedryf so goed soos wat jy jou hoëhakskoene ken, maar moet eerder nie probeer sing nie …”

“Ja, spot maar,” lag sy. “Dit is my Rina se spesiale
liedjie en die woorde van die liedjie is ook my lewensleuse.”

En daar trek sy weer los. Op ’n Maandagmiddag by Leriba
Lodge in Centurion. Hier en daar staar ’n paar sakemanne, maar Lydia met haar gejelde
bottelrooi hare, Pieter Stuyvesant-sigaret in die mond en glas witwyn in die
hand is nie gepla nie. Inteendeel, sy sal sommer harder begin sing.

Hoewel Lydia nie Die
kontrak
sal wen nie, weet sy watter Afrikaanse liedjie ’n nuwe treffer gaan
wees. Sy weet ook wie die nuwe in-stem in die musiekbedryf gaan wees, en sal
sommer ook reguit vir ’n sanger sê om van “dáárdie vieslike hemp” ontslae te
raak of om ’n kilogram of twee te verloor.

Of soos sy onlangs aan ’n bekende sangeres gesê het: “Ek
sal jou nuwe enkelsnit bemark, maar jy sal níé oor jou man se testament of oor
die hofsaak in die media praat nie. Ons fokus op jou musiek.”

Ja, Lydia. Amen. Auntie Poppie. Selfs die bekendste
sterre aan die Afrikaanse musiekhemelruim luister as auntie Poppie (soos hoe sy
in die musiekbedryf bekendstaan) praat. Die moederhen van die Afrikaanse
musiekbedryf, want al is sy soms so kwaai en puntenerig soos Miranda Priestly
uit The Devil wears Prada, is sy die Afrikaanse
musiekbedryf se enigste rasegte reputasiebestuurder. Sy is perfeksionisties en
uitgesproke en soms sal sy ’n harde woord laat val as die media nie ophou
karring nie, maar alles wat sy gedoen het, opgeoffer het, was vir haar sangers.
Háár mense wat sy met die swaai van haar skakelwese-stokkie vanuit rokerige kroeë
na die Superbowl (of is dit nou Times Square?) opgehef het.

G’n wonder sy is verlede jaar vereer met ’n
Ghoema-toekenning vir lewenslange bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf nie.
En nou, dié jaar het kykNET ’n dokumentêr oor haar vervaardig wat by die
Silwerskermfees bekendgestel gaan word. “Ek was nogal senuweeagtig,” vertel sy.
“Ek mag nie na die kamera gekyk het nie en ek moes ook die heeltyd my lippe
inkleur. En dan het ’n paar sangers ook oor my gepraat. Ek het nooit vir al die
aandag gevra nie. Dit het net gebeur.”

Dis ’n mooi storie. Die Lydia Winchester-storie. ’n
Blondekop (sy verkies haar rooi bottelhare) van Springs wat langer as drie
dekades gelede nog by Delta-motors gewerk het. Toe vir ’n onderhoud by die
destydse Decibel-musiek gegaan het. Boet Pretorius was die grootbaas en Leon
Schuster die maatskappy se topverkoper. “Toe fluister Leon in die Ouman se oor
dat hy my moet aanstel, want ek het stunning bene.”

En so het Lydia pens en pootjies in die musiekbedryf
beland. Sangers soos Rina Hugo, Annelie van Rooyen en Carike Keuzenkamp van
radiostasie na radiostasie, van media-onderhoud na media-onderhoud karwei.

Nou op 63 is sy steeds op die regte noot. Jan Blohm en
Juan Boucher. Spoegwolf en Irene-Louise van Wyk wat “ek van vandag af help met
haar nuwe enkelsnit. Dit is stunning,” sê sy. ’n Nuwe treffer? “Baie beslis. ’n
Trefferliedjie se koor moet eenvoudig wees.”

Dan is daar nog ook die Ouman (Boet) vir wie sy besig is om ’n partytjie te reël. “Eintlik ’n Decibel-reünie. Almal wat destyds (die wat nog leef) by die platemaatskappy betrokke was, gaan daar wees. Shame, die Ouman is 82. Hy het so baie vir die musiekbedryf beteken. Ek het ook televisiedekking vir die dag gekry. Bravo en Jukebox gaan daar wees. Wow, daar gaan omtrent tweehonderd mense wees. Noem hulle, en hulle is daar.”

Haar foon piep-piep. Dit is ’n stemnota van Charles
Schmidt, voorsanger van Beeskraal. “Lydia, dankie vir wat jy alles vir die
musiekbedryf gedoen het. En dankie ook vir al die verskynings wat jy vir ons op
Jukebox gereël het.”

“Dit is ook nou die einde van Jukebox,” sê Lydia en raak amper bewoë. Na elf seisoene gaan kykNET-kykers ook totsiens moet sê vir Pieter Koen en die Saterdagaand musiekvideo’s. “Dit was ’n wonderlike platform om opkomende kunstenaars te bemark. Jukebox het aan opkomende sangers geleenthede gebied. Ons het goed saamgewerk.”

Maar Lydia sal altyd maniere vind om haar sangers se CD’s
te bemark. “Hier is juis ’n paar nuwe uitreikings,” sê sy en pak die CD’s op
die tafel uit. “Spoegwolf is in die Kaap, maar jy kan ’n e-posonderhoud doen.
Dankie!”

Soos blits is sy weer weg, op pad na Lekker FM om CD’s af
te laai. Die belle van die partytjie, maar vanaand as sy by die huis kom, braai
sy vir haar en haar wolhaarpoedel ’n vleisie en kyk na Binnelanders. “Ek is eintlik ’n alleenmens.”

The post Op die noot-af met Lydia Winchester appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico