Val van Pretoria – só het Rooikruis-dokter op fiets bloedbad verhoed

Openbarings plaas godsdiens in die kollig
Maart 6, 2019
Elke man kraai koning op sy eie (potjiekos) pot
Maart 7, 2019

Johan Balthazar Knobel

Angie Kleijn

Pretoria het in die Engelse Oorlog geval sonder dat ’n enkele skoot geskiet is. Die dag van 5 Junie 1900 het in ’n dorp wat deur regeringsmagte verlaat is, aangebreek. Chaos het geheers, die burgemeester is deur ’n krygswet van sy gesag onthef, en daarna het die Boeregeneraals ook die dorp verlaat.

Veldmaarskalk Roberts en personeel in Pretoria op 5 Junie 1900
Foto: The Print Collector / Heritage Images

’n Stukkie geskiedenis weggesteek in ou koerantargiewe wys dat as dit nie vir die nugter denke van dr. Johan Balthazar Knobel van ‘Het Transvaalsche Roode Kruis’ was nie, dinge dié dag baie anders kon afloop.

Dié gebeure is te lees in The Montreal Gazette van 25 Augustus 1900, wat gebaseer is op ’n berig in The Pretoria Friend van 9 Julie 1900.

Volksraad
Die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Regering (ZAR) het op 7 Mei 1900 vir die heel laaste keer vergader. Die Uitvoerende Raad het besluit om Pretoria nie te verdedig nie, maar saam met die kommando’s ooswaarts langs die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoor Maatschappijen (NZASM) se spoorlyn na Delagoabaai, te beweeg.

Op Dinsdag 29 Mei het President Kruger en sy regering Pretoria verlaat en na Hatherley vertrek om die NZASM-lyn oos te neem.

Paul Kruger se presidensiële trein in die omgewing van Machadodorp met die onderskrif
‘government on wheels’
Foto: Antiquarian Auctions

Die ZAR Regering het burgemeester Pieter Johannes Potgieter en hoofregter Reinhold Gregorowski aangestel om Pretoria oor te gee sodra ’n groot Britse mag naby genoeg kom om die dorp se veiligheid in gevaar te stel.

Pieter, die jongste seun van kmdt-genl Piet Potgieter, is op 29 Desember 1898 deur die ZAR-regering as die eerste heeltydse burgemeester van Pretoria aangestel. Hy is deur ’n tydelike raadgewende stadsbestuur, bestaande uit 12 lede, bygestaan.

Gerugte
In die week voor die val van Pretoria is ’n berig in die Standard and Diggers’ News in Johannesburg geplaas wat waarsku dat daar waarskynlik ’n geveg rondom Johannesburg sal wees en dat inwoners aangeraai word om die dorp te verlaat.

’n Tekening deur A Pearse, gebaseer op ’n foto deur die graaf van Rosslyn

Dit was bekend dat Britse troepe Elandsfontein beset het en besig was om na Kaal- en Zuurfontein-stasies te beweeg, terwyl genl. French se troepe naby Schoemansrust was.

Pretorianers het aanvanklik gedink dat die Boeregeneraals Pretoria verlaat het om rondom die dorp te veg sodat die Britse troepe van Pretoria weggekeer kon word. Gewapende burgers het oral rondgemaal en hulle het elke dag verwag dat die dorp gebombardeer gaan word.

Intussen het Johannesburg stilweg oorgegee en baie mense in Pretoria het gehoop dat dieselfde by hulle sal gebeur.

Chaos
Ná die regering Pretoria verlaat het, het chaos uitgebreek. Blykbaar het huursoldate en vrywilligers wat die vreemdelingelegioen verlaat het, in Pretoria se strate rondgesluip.

Daar was onrus en anargie en mense wat ooswaarts deur die stad getrek het, het die deure van die regeringsmagasyne in die nag van 30 Mei oopgebreek en perdevoer en toerusting gesteel. Die volgende oggend het meer mense op die magasyne afgestorm en die voorraad weggedra, “want die Engelse sal dit tog maar vat”.

De Volkstem het berig dat vlugtelinge die regeringstore “vol van moed” beroof het. Inwoners het ’n komitee gevorm om wet en orde te probeer handhaaf.

Gustav Preller, wat toe ’n klerk in die Departement van Myne was, het vertel dat hy op 28 Mei opdrag ontvang het om vervoer te reël omdat “baie belangrike goed uit Pretoria geneem moet word”. Na ’n gesukkel het hy in Sunnyside ’n ligte wa, wat deur twee esels getrek word, gevind.

Hy het net voor middernag daarmee op Kerkplein opgedaag. Die wa is in ’n smal gang tussen die Nasionale Bank-geboue, die Paleis van Justisie en die ou munt getrek en die goud, sommige van dit nog in half gemunte vorm, is gelaai terwyl genl. Jan Smuts toesig gehou het. Preller is toe beveel om die wa na die ouditeur-generaal by Pretoria-stasie te neem.

“Ek het op die goud gestaan net agter die drywer,” het hy gesê. Hy het nog drie keer daardie nag goud na die stasie geneem waar dit op die presidensiële trein gelaai is. Die trein het Pretoria vroegoggend verlaat en Machadodorp in die namiddag bereik, waar Ernest Meyer gehelp het met uitbetalings in goud.

Preller was later nie seker of die goudlaaiery wel op 28 Mei was nie. Volgens Ernest Meyer, wat in 1900 die meester van die Munt was, is die goud op 4 Junie, die dag toe die eerste skote by Sesmylspruit net buite Pretoria begin klap het, verwyder.

Vlug
Op 2 en 3 Junie het ’n stroom voortvlugtendes deur Pretoria beweeg, meestal op pad na Hatherley en Wonderboompoort, en perde is deur dié wat probeer wegkom het, gesteel. Dit het so erg geraak dat perde uit stalle en voor waens en karretjies gesteel is en inwoners begin dreig het om enige iemand te skiet wat naby aan hulle perde kom.

Die winkels en voorraadstore in die dorp was sedert 31 Mei gesluit, en is deur gewapende winkeleienaars beskerm omdat volskaalse gebuit enige oomblik verwag is.

Op 2 Junie het genl. Botha ’n proklamasie uitgereik dat hy Pretoria amptelik onder krygswet oorneem. Hy het landdros Schutte, kommandant PF Zeederberg en mnr. Sandberg as komitee aangestel om wet en orde te handhaaf. Dié komitee het die vorige een wat die ZAR aangestel het, vervang en totale verwarring het geheers.

Op Maandag 4 Junie kon Pretorianers hoor dat daar ’n geveg naby Pretoria aan die gang was en bomme het op die berge naby die forte ontplof. Later die middag het Sunnysiders geskrik toe bomme naby hulle huise en by die NZASM-spoorlyn naby Leith se huis ontplof het. Baie inwoners het Pretoria so vinnig as wat hulle kon verlaat.

Teen skemer is ’n offisier met ’n wit vlag in Pretoria gesien en hy was veronderstel om na die burgemeester se huis te gaan, maar die mense het later uitgevind dat hy na genl. Botha se huis gegaan het.

Pretorianers en Britse troepe wag vir lord Roberts se aankoms
Foto: Shropshire Regimental Museum

Blykbaar het die Britse en Boere-bevelvoerders dwarsdeur die nag vir mekaar boodskappe gestuur, maar die resultaat was glo nie na genl. Botha se sin nie, want hy het Pretoria vroeg Dinsdagoggend 5 Junie verlaat en by Hatherley op die NZASM-spoorlyn vertrek.

Alleen
Genl. Botha se persoonlike ingryping het Pretoria se burgemeester vroeër buite aksie gestel. Op Dinsdagoggend het burgemeester Potgieter en die enigste oorblywende lid van genl. Botha se komitee, PF Zeederberg, hulle alleen bevind.

Dr. Johan Knobel, as ’n verteenwoordiger van die Geneva Rooikruis-komitee in Pretoria, het die burgemeester te hulp gesnel. Johan was die eerste superintendent van die Volkshospitaal, is later tot die ‘Geneeskundige Commissie’ verkies en was die vise-president van die Transvaalse Rooikruis en Transvaalse Ambulansvereniging.

‘Het Transvaalsche Roode Kruis’ ambulanswa
Foto: SA Military History

Hy het die burgemeester vroeg die oggend gaan sien om te hoor of Rooikruis-afgevaardigdes die burgemeester na die Britse bevelvoerder kon vergesel.

Die burgemeester het aan Johan verduidelik dat daar nog geen plan of program was nie en dat hy nie geweet het wat genl. Botha met die Britte bespreek het nie.

Die burgemeester het PF Zeederberg, Johan en JA Denijssen gevra om in die kantore van die ou Unieklub te vergader om ’n plan van aksie uit te werk. Die plan was dat Johan en JA Denijssen met hulle fietse na lord Roberts toe moes ry om te sê dat die militêre magte Pretoria verlaat het en dat die burgemeester en PF Zeederberg, as hoof van die siviele owerheid, Pretoria oorgee.

Boodskap
Johan het ingestem om die boodskap verbaal oor te dra, en die burgemeester het hom gevra om ook ’n brief te skryf wat sê dat ’n wapenstilstand verlang word, omdat bomme enige oomblik kon begin ontplof.

Johan se brief is deur PJ Potgieter, burgemeester, en PF Zeederberg, lid van die kommissie van wet en orde, onderteken, en is aan die bevelvoerder van die Britse troepe naby Pretoria gerig.

Terwyl Johan dié brief geskryf het, het majoor Erasmus ’n boodskap van die artilleriekamp gestuur dat ’n Engelse offisier besig was om die Union Jack oor die kamp te hys.

Net daar het burgemeester Pretorius besluit dat die brief na dié kamp geneem moes word en aan die offisier gevra moet word waar veldmaarskalk Roberts was.

Johan, ’n mnr. Kreiijenbroek, die eresekretaris van die Rooikruis, en JA Denijssen is na dié kamp toe en het ’n jong troep, DG Campbell van die NS Wales Berede Infanterie, daar gekry. Hy het op eie inisiatief, sonder bevele van enige offisier, na die kamp gegaan en self besluit om die vlag te hys. Dié vlaghyser het vir hulle gesê dat Lord Roberts by Kwaggaspoort was.

Soektog
Johan en kie is deur ’n troep, Percy Shepherd, na ’n treinstasie geneem waar hulle uitgevind het dat Roberts se hoofkwartier nie meer by Kwaggaspoort was nie, maar in die poort wes van Brickfields op die Johannesburgpad, net verby die Volkshospitaal.

Op pad soontoe het hulle groot hoeveelhede troepe teëgekom wat op pad was om Pretoria oor te neem. Shepherd het vooruit gery om vir Roberts te sê dat Pretoria oorgee en dat ’n deputasie met ’n brief op soek was na hom.

Daarna is hy terug na Johan-hulle en hy het hulle verby ’n ene Winterboer se huis geneem na waar Roberts besig was om ontbyt te eet. Kol. Chamberlain, Roberts se private sekretaris, het die deputasie ontmoet en die brief by Johan gekry. Hy het dit aan Roberts gaan voorlees en met ’n verbale antwoord terug gekeer.

Daarna het Roberts self nader gekom en die antwoord herhaal: Dat hy die oorgawe aanvaar; dat hy so min as moontlik troepe sou saamneem na Pretoria; dat die burgemeester die polisiemag moet behou; en dat die bewaarders by die inrigting vir kranksinniges en melaatses buite Pretoria op hulle pos moes bly.

Roberts het gesê dat hy Pretoria amptelik teen twee uur die middag sou binnegaan.

Terug
Johan en sy afvaardiging is deur kol. Chamberlain terug na Pretoria vergesel. Hulle is by die hoë brug van die Pietersburg-treinspoor, noord van die artilleriekamp, deur die burgemeester, spoorwegkommissaris Smit, Wierda en Mansvelt ontmoet.

Die NZASM-geboue is in beslag geneem. Vier bruikbare lokomotiewe, 13 wat besig was om reggemaak te word, en 400 trokke is buitgemaak. Dit was al wat oorgebly het nadat genl. Botha 70 treine oor die vorige twee dae ooswaarts weggestuur het. Die laaste twee treine het vertrek terwyl die Engelse op die stasie toegesak het.

Op die kop twee-uur die middag het Roberts Kerkplein binnegery. Die Britse volkslied het weerklink en ’n groot Union Jack is twintig oor twee voor die goewermentsgebou met sy arend-wapen en die duidelike letters “Eendragt maakt magt”, gehys.

Britse soldate op Kerkplein
Foto: The Print Collector / Heritage Images

Die oorlog het in ’n guerrilla-fase oorgegaan en het amper twee jaar ná die val van Pretoria voortgeduur.

Johan

Johan is ná die oorlog Europa toe en het later teruggekeer na Middelburg in die Transvaal, waar hy burgemeester geword het.

Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, het hy as vrywilliger by ’n militêre hospitaal op Keetmanshoop in Duits-Suid-Wes-Afrika gaan werk. Hy is daarna Gobabis toe as distriksgeneesheer en het daar gewoon tot hy in 1924 op ’n plaas in die distrik afgetree het.

Johan is in 1931 in die ouderdom van 77 oorlede en is met ’n militêre begrafnis, gereël deur die ‘Deutsche Krieger Verein’, vereer.

Johan Balthazar Knobel is op 5 Mei 1853 in Colesberg in die Bo-Karoo gebore as kleinseun van die eerste Knobel wat in 1803 in Suid-Afrika aangekom het.

Sy ouers was Johan Ludwig Knobel, ’n landmeter en delwer by die ‘River and Dry Diggings’ in Kimberley, en Clara Magdalena Jacoba, ’n nooi Bedford.

Johan was in Colesberg op skool en het in Februarie 1873 alleen op ’n skip na Glasgow Universiteit vertrek. Hy het in 1877, na slegs drie en ’n half jaar, in Glasgow as mediese dokter gekwalifiseer en het daarna spesialisstudies by Universiteitskollege en Barts Hospitaal in Londen gedoen.

Ná sy studies het hy deur Europa getoer op soek na inligting oor die Knobels se oorsprong. Dié belangstelling het hom lewenslank bygebly en hy het in 1894 ’n boek oor die Knobel-familie gepubliseer.

Trou
Johan het in 1878 na Suid-Afrika teruggekeer en ’n praktyk in Philippolis in die Vrystaat oopgemaak. Hy het ’n huis langs JFM Schultz, wat sy toekomstige skoonpa sou word, gekoop.

In 1882 het hy dr. Duncan Reid se praktyk in Colesberg oorgeneem en aan Schulz se oudste dogter, Anna Maria Elizabeth, verloof geraak. Die twee is op 2 Augustus 1885, toe Johan 32 jaar oud was, in Philippolis getroud.

Hulle het in 1887 na Pretoria getrek om dr. Esselen se praktyk oor te neem en het in Schoemanstraat 121, tussen die woning van Charles Celliers en Rodda, skuins oorkant regter e Korte, gebly. Johan se konsultasiekamer was by die Esselen Apteek.

Hierdie artikel het verskyn in Die Bronberger.