Weiveld tunes Vol. 3

Sit kêrels – Adam Tas
Februarie 28, 2019
Elke man kraai koning op sy eie (potjiekos) pot
Maart 1, 2019

Die afgelope paar
jaar is Weiveld een van die gewildste kuierplekke in Pretoria; nie net omdat
van ons land se gewildste kunstenaars gereeld daar optree nie, maar ook omdat
dit vir jongmense ’n lekker kuierplek is.

Natuurlik is daar
sommige liedjies wat gewild is onder partytjiegangers en ’n derde album met
hierdie treffers is pas uitgereik. Die eerste snit is Jay en Lianie se “Naweeklyfie”,
wat gemengde reaksie ontlok het toe dit vrygestel is. Mense is mal daaroor of
hulle kan dit nie verdra nie. Vincent Gordon se debuutalbum is verlede week
vrygestel, en “Stap soos Karlien” is seker sy grootste treffer tot dusver. Dit
is nie duidelik oor wie hy sing nie, maar dis dalk Karlien van Jaarsveld. “Die
tennis tune” van Dirk van der Westhuizen en die Flooze was seker een van die
grootste partytjietreffers van die afgelope jaar. Daar is ongelukkig te veel
liedjies van wie “remixes” ingesluit is, dalk was dit ’n probleem om die
kopiereg vir die oorspronklikes te kry en daarom is dit beter om dit maar net
kortliks te noem, tensy dit regtig ’n groot treffer was. Die eerste hiervan is “Body”,
oorspronklik gesing deur Loud Luxury and Brando, gevolg deur nog een, naamlik “Youngblood”,
oorspronklik deur 5 Seconds of Summer. Dirk van der Westhuizen se volgende
bydrae tot die album is “Jy weet jy’s HAWT”; jy hou baie daarvan of jy kan dit
nie verdra nie. Die volgende snit is die “remix” van “Happier”, oorspronklik
deur Marshmallo saam met Bastille, gevolg deur een van die lekkerste treffers
van verlede jaar. Ongelukkig is ’n “remix” van “Shotgun” van George Ezra
ingesluit en dit is nie naastenby so goed soos die oorspronklike weergawe nie.
Nog ’n lekker snit wat verlede jaar uitgereik is, is “Coming along” van die
Suid-Afrikaanse groep Sunset Sweatshop; dankie tog die oorspronklike weergawe
is ingesluit. Fatman, wie se regte naam Johan Brummer is, het tot die
musiekbedryf toegetree toe hy aan The Voice deelgeneem het en “Dorp toe” was
een van die treffers vanaf sy debuutalbum Boom
baby
. “Dans in die reën” was een van Karlien van Jaarsveld tot dusver. “458
Italia” was een van die treffers vanaf Eden se laaste album; vir dié wat nie
weet nie; ’n 458 Italia is ’n Ferrari. Riana Nel het lank laas nuwe musiek
vrygestel; “Die regte tyd” was die titelsnit van haar tweede Afrikaanse album. Brendan
Peyper het nou al drie albums vrygestel, en “Hy loop oop”, die titelsnit van sy
tweede album, was ’n groot treffer. “Perfect” was ’n groot treffer vir Ed
Sheeran, maar nugter weet hoekom dit vir klubs aangepas moes word. Om eerlik te
wees; dié pragtige liedjie is in die proses mismaak. “Raak vir my rustig” was
een van Snotkop se onlangse treffers.

Die eerste snit
op die tweede CD is ’n “remix” van “Are you with me?”, wat oorspronklik deur
Lost Frequencies gesing is. Jay en Lianie het ’n groot treffer gehad met “Vir
liefde”, en dis goed dat hierdie snit hier ingesluit is. Ampie du Preez het
onlangs ’n nuwe album vrygestel, maar “Ons was jonk” kom vanaf sy vorige album.
“Rebel en rats” was seker een van Kurt Darren se grootste onlangse treffers. Arno
Jordaan was die laaste tyd maar stil, en “Die eerste keer” was seker sy mees
onlangse treffer. Dit lyk asof Sunset Sweatshop lekker musiek maak, want soos “Coming
along”, is “Move it” ’n hoogtepunt. “Benoni” is ’n komposisie van Johan
Oberholzer wat op Jay se jongste album voorkom. “Laat die dansvloer stamp” is ’n
spanpoging deur Dirk van der Westhuizen en Vincent Gordon. Juan Boucher is al
langer in die musiekbedryf as wat baie mense dink; “Trek toe” is een van sy
vroeër treffers. “Sê my” is een van Adam se jongste treffers; dit was die
eerste enkelsnit vanaf hul jongste album. “Vra my” is Eden se volgende bydrae
tot die album; dit word gevolg deur Theuns Jordaan se groot treffer “Sal jy
bly?” Dis jammer dat Theuns so lank laas ’n Afrikaanse album vrygestel het.
Steve Hofmeyr het die laaste tyd gewys dat hy country kan sing, en sy weergawe van
Kenny Rogers se treffer “The gambler” is baie goed. “Vodka en OJ” is een van
Bok van Blerk se eie komposisies en dit was een van die treffers vanaf sy De la Rey-album. Jak de Priester is een
van ons land se voorste kunstenaars en “Roer jou voete” was tot dusver een van
sy grootste treffers. Die laaste snit op die tweede album is Touch of Class se
weergawe van Nickelback se treffer “Gotta be somebody”.

Op die ou einde
hang jou mening van hierdie album van jou musieksmaak af. As jy daarvan hou om
in klubs te kom, of van dansmusiek hou, sal jy hierdie album geniet. Indien
nie, bly maar ver weg.

The post Weiveld tunes Vol. 3 appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico