Sit kêrels – Adam Tas

4 by 4 – 4Werke
Februarie 28, 2019
Weiveld tunes Vol. 3
Februarie 28, 2019

In 2007 het die
Suid-Afrikaanse publiek vir die eerste keer van Adam Tas kennis geneem toe hy ’n
Guinness-wêreldrekord opgestel het deur by die meeste plekke in een dag op te
tree.

Hoewel hy ’n
gekwalifiseerde wildbewaarder is, het Adam lankal besluit om hom voltyds op
musiek toe te spits; nadat ’n versameling van sy treffers verlede jaar
vrygestel is, het hy ook pas sy jongste album, Sit kêrels, vrygestel.

Adam het lankal ’n
reputasie as ’n “Boere-digter” opgebou, en met die eerste snit op die album, “Die
Here se kombuis”, wat hy saam met Koekoes Bezuidenhout geskryf het, doen hy dit
gestand. Op die tweede snit, “Ek is ryk”, sing hy saam met Christelle Combrink,
wat deel van die lof-en-aanbiddingsgroep DuisLig is, en ook pas onder die
verhoognaam Stella tot die kommersiële Afrikaanse mark toegetree het. Hierdie
snit is reeds ’n treffer, en een van die hoogtepunte van die album. “Plaaskatedraal”
is nog ’n uitstekende snit wat hy self geskryf het, en ’n mens kan duidelik
agterkom dat hy lief is vir die natuur. 
Die titelsnit laat ’n mens lag; die “tee” waarvan Adam sing, is nie tee
nie; sy vrou gooi eerder vir die manne 
alkoholiese drankies in terwyl hulle kuier.  “Blou-oog Julie” is ’n komposisie van Koekoes
Bezuidenhout, en weer eens is dit ’n baie goeie snit wat ’n hartseer storie
vertel oor ’n meisie wat te mooi vir ’n plattelandse dorp was.

Op “Vriende” sing
hy van die waarde van vriendskap, veral tussen mans wat daarvan hou om sekere
dinge saam te doen. Vir dié wat dalk nie weet nie: Massey-Ferguson is ’n
bekende soort trekker, en op die snit met hierdie titel vertel Adam die verhaal
van ’n boer. Die musikale verwerking van “Voëlverskrikker” is iets besonders;
die lirieke ook, omdat dit ’n vrou op ’n unieke manier beskryf. “Sophia” is nog
’n komposisie van Koekoes Bezuidenhout, en weer eens kom ’n mens agter dat hy ’n
uitstekende liedjieskrywer is. Dieselfde geld “Feëtjies met tattoos”, waarop hy
wonder hoe feëtjies uit bekende kinderverhale sou gelyk het as hulle
tatoeëermerke gehad het. In “Dans met jou pa” sing Adam van die verhouding van ’n
pa en sy dogter. Net een snit op die album is nie splinternuut nie. Adam het
Anton Goosen se komposisie “Scotty Smith”, wat op sy mees onlangse album
voorgekom het, opgeneem. Daar is niks te kies tussen hierdie twee opnames
nie.  Dit vertel die ware verhaal van ’n
perdedief wat deur geen gevangenis ingeperk kon word nie. Hy het by ryk mans
gesteel om arm mense te help. Adam is lief vir Namibië, soos ’n mens kan
agterkom uit die lirieke van “Meob”. 
Adam se ma is in 2017 oorlede, en in “Song vir Ma” bring hy hulde aan
haar. Die album sluit af met “Boerebruilof”, wat deur Meyer le Roux geskryf is.

Hierdie album is
Adam se negende een, en drie van sy vorige albums het al platinumstatus bereik.
Dis maklik om te verstaan hoekom; sy lirieke staan kop en skouers uit bo dié
van die meeste Afrikaanse kunstenaars en die musikale verwerkings op hierdie
album is baie goed. Adam het weer eens gewys hoekom hy een van ons land se
voorste sangers en liedjieskrywers is; hierdie album is een van die bestes van
die afgelope jaar en kan nie sterk genoeg aanbeveel word nie.

The post Sit kêrels – Adam Tas appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico