Die storie van Afrikaanse musiek 1 – Pieter Smith

Dis nie sonde nie – Brendan Peyper
Februarie 28, 2019
4 by 4 – 4Werke
Februarie 28, 2019

Deur die jare was
daar al ’n aantal pogings om die geskiedenis van Afrikaanse musiek op te teken,
soos met Danie C Pretorius se boek Musieksterre
van gister en vandag
, en kykNET se televisiereeks Kom laat ons sing.

Dit het egter nog
nooit tevore gebeur dat ’n kunstenaar ’n album saamgestel het waarop die
hoogtepunte van dié geskiedenis voorgekom het nie. Dit het egter nou verander
met Pieter Smith se produksie Die storie
van Afrikaanse musiek
, waarvan ’n CD vrygestel is. Pieter het besluit om te
konsentreer op die era tot en met die laat 1980’s toe die Voëlvry-beweging
Afrikaanse musiek in ’n nuwe rigting gestuur het.

Die CD begin met
Olaf Andresen se bekende komposisie “My hart verlang na die Boland”. Fatman,
wat ’n jare lange vriend van Pieter is en bekendheid weens sy deelname aan The
Voice verwerf het, sing saam met hom. Hierop bewys Fatman dat hy ’n besondere
stem het. Die eerste verrassing op die album is “Lekker dop”, ’n komposisie van
Dawid de Lange, wat reeds in die 1940’s oorlede is. Dis wonderlik dat Pieter
hierdie liedjie uitgegrawe het en aan ’n nuwe gehoor bekendstel. Sias Reinecke
het ’n suksesvolle solo-loopbaan gehad, en “Die seewind bring heimwee”, sy
eerste solotreffer, is ingesluit. Een van die min oorspronklike Afrikaanse
komposisies wat in die 1960’s ’n treffer geword het, was “Groen koringlande”,
wat deur Ben E Madison gewild gemaak is. Johan van Rensburg, die voormalige
leier van Noot vir noot se Musiekfabriek, speel klavier op Pieter se opname.

Danie Bosman was ’n
pionier van Afrikaanse musiek en hy het so ’n indruk gemaak dat ’n rolprent oor
sy lewe, met Franz Marx en Min Shaw in die hoofrolle, in 1969 vrygestel is.
Daar is twee snitte waarop sy musiek voorkom. Die eerste daarvan is ’n keurspel
waarin “Oom Bossie van die Bosveld” en “Kaapse draai” (nee, nie Steve Hofmeyr
se komposisie wat Nadine gesing het nie), voorkom. Die volgende snit is “Die
wilgerboom”, een van drie komposisies van Danie Pretorius wat op die album
voorkom. Pieter is toevallig oorspronklik van Potchefstroom afkomstig. “In die
skadu van ou Tafelberg” is een van Danie Bosman se heel bekendste komposisies
en Maria Rademan, een helfte van die sangpaar Twee, sing saam met Pieter. Die
bekende RSG-omroeper Johan Rademan is Maria se pa. “Daar’s niks soos ware
liefde” was Groep Twee se grootste treffer, en op hierdie opname sing Cobus
Snyman saam met hom. Pieter het ’n paar liedjies wat hy al voorheen opgeneem
het, weer ingesluit omdat hulle ’n blywende indruk op Afrikaanse musiek gelaat
het. Een daarvan is seker die eerste rock-liedjie in Afrikaans, naamlik Anton
Goosen se treffer “Blommetjie gedenk aan my”. Nog ’n liedjie waarop Maria saam
met Pieter sing, is een van twee komposisies van Cissy en Willie Cooper,
naamlik “Jy is my liefling”, wat oorspronklik in die 1930’s gewild geword het,
maar weer ’n treffer geword het nadat Min Shaw dit in die gelyknamige rolprent,
waarin sy die hoofrol vertolk het. Baie mense weet nie dat Danie Pretorius die
komponis van “Ver in die ou Kalahari” was nie. Dit het een van die liedjies
geword wat al deur die meeste kunstenaars opgeneem is. Broers, wat bestaan uit
Christo en Cobus Snyman, asook Nic Stevens (wie se regte naam Stephan Snyman is
en wat Christo en Cobus se jonger broer is), sing saam met hom. Pieter het
tydens die konsert waartydens hierdie projek bekendgestel is, erken dat hy byna
van Jan Pohl vergeet het. “Die mannetjie” was seker een van sy bekendste
komposisies en dit sal almal laat saamsing. “Die spook van Dawid Rosekrans” is
oorspronklik deur Leslie Greeff gesing, en Pieter het dit ook voorheen op sy
album Spooknote ingesluit.

Ernst van Rooyen
het “Daar doer in die Bosveld” saam met Anton de Waal geskryf en dit is gebruik
in Jamie Uys se gelyknamige rolprent. “Ou tante Koos” is een van daardie
liedjies wat maar deur middel van oorlewering oorgedra is; dis goed dat iemand
dit eindelik opgeneem het. Die volgende snit is ’n keurspel van drie liedjies
wat met Al Debbo verbind word, naamlik “Die brakke van Turffontein” (wat deur
Danie Pretorius geskryf is), “Hasie” en “Daar kom die Alibama”. “Die
oukraalliedjie” het al in die 1940’s ontstaan maar dit het regtig eers gewild
geword nadat Groep Twee dit in 1966 opgeneem het. Dit het Springbok Radio se
Top 20 in Maart 1967 gehaal. Christo Snyman sing hier saam met Pieter. Die
meeste mense dink eerste aan “Kinders van die wind” of “Sprokie vir ’n
stadskind” wanneer hulle ’n komposisie van Koos du Plessis insluit, maar Pieter
het besluit om eerder “Op die pad na Nooitgedacht” op te neem. “Suikerbossie”
is een van die Afrikaanse volksliedjies wat nie net in Suid-Afrika bekend
geword het nie; Pieter het ’n volledige weergawe daarvan ingesluit. Die laaste
snit op die album is nog ’n komposisie van Cissie en Willie Cooper, naamlik “Die
donkie”, wat ’n treffer vir Chris Blignaut was.

Die musikale
verwerkings op die album is regtig uitstekend, en ’n mens kan agterkom dat
Pieter baie moeite daarmee gedoen het. Die Snyman-broers was baie nou by die
album betrokke, en hulle hoef niks meer te doen om te bewys dat hulle uiters
talentvolle musikante is nie. Natuurlik is Ricus Nel se bydrae as
konsertinaspeler op die album ook ’n hoogtepunt.

Dit was regtig
hoog tyd dat iemand ’n poging moes aanwend om die geskiedenis van Afrikaanse
musiek op te teken, en watter beter manier as om ’n vertoning en ’n CD met die
musiek daaruit, saam te stel? Pieter het onderneem om hierdie projek verder te
voer, en ’n mens kan nie wag om te sien wat volgende gaan gebeur nie.

The post Die storie van Afrikaanse musiek 1 – Pieter Smith appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico