Gert Potgieter (1929-1977)

Esmé Euvrard (1919-1993)
Januarie 15, 2019
Ingrid Jonker (1933-1965)
Januarie 15, 2019

Groot invloed op die Afrikaanse kultuur

Daantjie Dinamiet

Daar was deur die jare net ’n handjievol kunstenaars op die Suid-Afrikaanse musiektoneel wat ewe gemaklik met ligte as ernstige musiek was en sukses met albei behaal het.

Een van hulle was Gerhardus Petrus (Gert) Potgieter. Hy is op 14 November 1929 in Johannesburg gebore en het aan die Hoërskool Helpmekaar gematrikuleer. Sy stem het as kind nooit gebreek nie en daarom het hy deurentyd as liriese tenoor bekendheid verwerf.

Hy het op hoërskool al die rol van Mordegai in Händl se kantate Esther, gebaseer op die Bybelverhaal, vertolk en hy was so suksesvol dat hy die bynaam van Mordegai gekry het. Hoewel Gert opleiding as lettersetter gekry het, het hy aan eisteddfods gesing en sanguitvoerings oor die radio gegee.

Gert het sy debuut as platekunstenaar gemaak toe hy as deel van die Boeresangers saam met onder meer Rudi Neitz, Leslie Philips, George Wolvaardt en André Brink gesing het. Hulle het net een langspeelplaat opgeneem en daarop het hulle volksliedjies soos “Pollenys”, “Al lê die berge nog sou blou”, “Kinders moenie in die water mors nie”, “Die brug op ons plaas” en “Vaarwel my eie soetelief” opgeneem.

In 1959 neem Gert sy eerste sololangspeler, ’n Lied uit die hart, op; dit bevat Afrikaanse liedjies asook liedere uit operettes.  Die volgende jaar was Gert die eerste wenner van die Mimi Coertse-beurs wat hom in staat gestel het om onder professor Maria Hittroff aan die Weense Staatsakademie vir Musiek te studeer. Hy het ook twee jaar lank aan die Weense operaskool gestudeer.

Hoewel hy ’n aantreklike aanbod van die Weense Staatsopera gekry het, het hy in 1962 besluit om terug te keer na Suid-Afrika. Met die stigting van die verskillende streekskunsterade het hy rolle vertolk in operas soos Die huwelik van Figaro, Nabucco, Die Fledermaus en Madame Butterfly.

In 1967 het Gert ’n platekontrak van drie jaar onderteken en hom op ligte musiek begin toespits. Sy eerste ligte album was Serenade, en dit het ook daartoe gelei dat Gert se sangstem vir Franz Marx se karakter in die rolprent Jy is my liefling gebruik is. In 1969 is Gert se sangstem gebruik vir Louis van Niekerk, wat die rol van Chris Lessing in Die Danie Bosman-storie vertolk het. Sy vertolking van Danie se komposisie “Boereseun” is destyds as iets besonders beskou. In 1970 was Gert vir die eerste keer op die groot skerm te sien toe hy saam met Gé Korsten, Min Shaw en die gewese mej. Suid-Afrika Mitsi Stander, wat op ‘n jong ouderdom oorlede is, te sien was in die rolprent Lied in my hart. In 1971 het sy treffer “Sweet maria”, wat deur die Duitse orkesleier Bert Kaempfert geskryf is, tot Springbok Radio se Top 20 toegetree. Hy het die dertiende plek gehaal en agt weke lank op die trefferslys gebly.  In 1973 het Gert se vertolking van John Rowles se treffer “Cheryl Moana Marie” die eerste plek op die destydse Rhodesië se trefferslys gehaal, maar hy kon, ironies genoeg, nie dieselfde sukses in Suid-Afrika met daardie snit behaal nie. Gert het ook heelwat poptreffers van die 1970’s opgeneem, onder meer “Dreams are good friends” van Vicky Leandros, “You lay so easy on my mind” van Andy Williams, “Mandy” van Barry Manilow en “Canta Libre” van Neil Diamond. Hoewel sy musiek miskien op ’n meer uitgelese gehoor gemik was, het hy met “Baba-boogie” ook bewys dat hy ’n sin vir humor gehad het.

Gert het saam met  orkesleiers soos Hennie Bekker, Con Lamprecht en Johnny Boshoff gewerk en as hoofkunstenaar opgetree saam met bekendes soos Groep Twee, Jody Wayne, Alan Garrity, Leonore Veenemans, Nick Taylor en Gwyneth Ashley Robin, wat in die ouderdom van vyftien jaar in ‘n vliegongeluk dood is. Hy het sy langspeelplaat I’m yours opgedra ter nagedagtenis aan hierdie jong sangeres, maar wie souk on dink dat dit ook sy laaste langspeler sou wees?

Gert het ook later jare  ’n radio-en televisiepersoonlikheid  geword. Hy was in 1976 te sien in een van die eerste Suid-Afrikaanse televisiereekse; hy het die rol van oom Hans in Net ’n bietjie liefde vertolk; van die ander akteurs in die reeks was Dana Niehaus, Esmé Euvrard, Dulcie van den Bergh, Bettie Kemp, Julie Strijdom en Friedrich Stark, wie se karakter Lammie oom Hans se seun in dié reeks was.

Op Saterdag 2 Julie 1977 het Gert by ’n troue in Ventersdorp gesing en Gert en sy vrou sou later daardie week vertrek om hul 25ste huweliksherdenking te vier. Hy was egter  by Tarlton naby Krugersdorp betrokke in ’n trompopbotsing met ’n man wat later aan dronkbestuur skuldig bevind is en hy is in die ouderdom van 47 jaar oorlede.

In 2005 het Manuel Escorcio, wat baie dieselfde musiekagtergrond as Gert gehad het, ’n dubbele album vrygestel waarop hy hulde aan Gert, asook aan Gé Korsten gebring het. Onder die treffers van Gert wat Manuel ingesluit het, was “As long as the sun will shine”, “Sweet Maria”, “Nagtyd in die Bosveld”, “Cheryl Moana Marie”, “Baba-boogie” en “Die heidelied”.