Jaco Jacobs: “Lees verruim ’n kind se wêreld”

Mari Bosman: Die swerwer met haar kitaar en haas
Desember 25, 2018
Flink se medewerker wen Persklub-prys
Desember 25, 2018

Deur Seugnet van Zyl

Twee van die
kinderboekskrywer Jaco Jacobs se boeke is onlangs op die jaarlikse
Suid-Afrikaanse Letterkundetoekennings (Sala) bekroon nadat hy enkele dae voor
die tyd ook vir Brittanje se oudste en spoggerigste kinderboekprys, die
Carnegiemedalje, vir die Engelse vertaling van sy boek ’n Goeie dag vir boomklim benoem is. F

Wanneer pak die inspirasie jou beet?

Ek is
allermins ’n naguil. Die meeste aande is ek teen negeuur al in die bed. Miskien
is dit omdat ek op ’n Karooplaas grootgeword het, waar almal voor die hoenders
opgestaan het, maar dis vir my geen probleem om soggens vieruur of vyfuur op te
staan om te gaan draf of te begin skryf of vertaal nie. Daardie tyd van die
oggend is my kop skoongeslaap en propvol idees. Moet my egter nie vra om
smiddae ná drieuur of vieruur enige iets te doen wat kreatiwiteit of inspanning
verg nie – daardie tyd van die dag is my brein broodpoeding.

156 boeke? Het jy ooit gedink dít sal realiseer?

Nee, in die
beginjare van my skryfloopbaan sou ek nie eens daarvan kon droom om soveel
boeke te publiseer nie. Die lekker ding van die kinder- en jeugboekgenre is dat
dit baie uiteenlopend is – van prenteboeke vir kleuters tot beginnerleesboeke
tot tienerboeke, van rympies tot reeksboeke en niefiksie. Omdat ek al ’n
verskeidenheid subgenres binne die kinderboekgenre aangepak het, voel dit nie
vir my of ek heeltyd met dieselfde ding besig is nie. Soms wonder ek self hoe
op aarde dit gebeur het dat ek meer as 150 boeke gepubliseer het – die meeste
van die tyd voel dit vir my of ek net lang tye na die rekenaarskerm sit en
staar en sukkel en sug. Maar iewers tussen al daardie gestaar en gesukkel en
gesug deur, lyk dit of ek darem soms iets geskryf kry!

Met hoeveel boeke loop jy nog in jou binneste
rond?

Ek het geen
idee hoeveel boeke ek nog in my het nie. Soms voel dit of my storie-idees
boomskraap is … en dan begin ek maar weer met idees rondspeel totdat ek iets
kry wat my opgewonde maak.

Wat sou jy sê is jou suksesgeheim?

O aarde, ek het
geen idee nie. Ek het nog nooit aan my skryfloopbaan of my skryfwerk in terme
van enige “suksesgeheim” of selfs in terme van “sukses” gedink nie. Ek sit maar
net elke dag by my rekenaar en doen dit wat ek die meeste geniet – om stories
en rympies vir kinders uit te dink, en boeke te maak wat kinders hopelik sal
geniet. Ja, ek skryf beslis die soort boeke wat ek as kind graag sou wou lees.
As ek stoksielalleen hier in my kantoor sit en werk en skielik hardop proes van
die lag, is dit gewoonlik vir my ’n aanduiding dat ek op die regte spoor is met
’n storie …

Hoe voel jy oor jou onlangse toekennings?

Toekennings is
natuurlik ’n groot eer en ’n voorreg en ’n lekkerte, maar ek is regtig
doodeerlik as ek vir jou sê ek steur my nie te veel daaraan nie. Ek skryf in
die eerste plek om ’n storie te vertel so goed as wat ek kan, om karakters te
laat lewe kry, en om lesers te probeer vermaak – nie om pryse te probeer wen
nie. As ’n boek dan wel bekroon word, voel dit altyd so half vir my asof dit
nie ek is wat die eer verdien nie, maar eerder die storie self.

Hoekom is dit vandag belangrik om kinders lief te
maak vir lees?

Daar is so
ontsettend baie redes om jou kinders van babatyd af lief te maak vir lees en
vir boeke. Die maklikste om te verduidelik is sekerlik skoolprestasie. Daar is
duisende artikels op die internet beskikbaar waarin kenners verduidelik waarom
dit so belangrik is vir ’n kind se ontwikkeling en latere akademiese prestasie
om vroeg reeds ’n liefde vir lees en rympies en stories te kweek. Maar selfs
meer as dit: Lees verruim ’n kind se wêreld, maak dit eindeloos groter as die
gemeenskap of die kultuur of die land waarin hy of sy grootword; stories leer
ons om die wêreld deur ander mense se oë te sien, om met empatie te leef en
respek vir ander mense se binnewêreld en sienings te hê. En daarin lê die
eintlike groot waarde van stories.

Watter boek/e sal jy graag in jou eie Kerskous wil
hê en watter boek/e sal jy graag vir iemand anders present wil gee?

Ek het nog nie
die nuwe Stephen King-boek (The Outsider)
gelees nie – skimp-skimp, Kersvader. En ek sou graag David Walliams se nuwe
kinderboek, The Ice Monster, in my
Kerskous wil hê, maar ek is seker ek gaan nie tot Kersfees kan wag om dit te
lees nie. Ek het vanjaar ’n wonderlike, prettige rympieboek deur die
Amerikaanse skrywer Chris Harris en die illustreerder Lane Smith ontdek, met
die titel I’m Just No Good at Rhyming
– ek wens ek kon ’n kopie daarvan in elke liewe kind se Kerskous sit!

The post Jaco Jacobs: “Lees verruim ’n kind se wêreld” appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico