20 jaar treffers 2008-2018 – Juanita du Plessis

Wees lief – Cordelia
Oktober 31, 2018
Alles van die beste – Die Heuwels Fantasties
Oktober 31, 2018

Hoewel die Suid-Afrikaanse publiek eers in 2001 van Juanita du Plessis kennis geneem het nadat sy van Namibië na Suid-Afrika verhuis het en die treffer “Ska-rumba” vrygestel het, het haar debuutalbum reeds twintig jaar gelede verskyn.

Ter viering hiervan het sy pas haar tweede dubbele trefferversameling, wat haar treffers van die afgelope tien jaar bevat, vrygestel. Haar eerste versameling het treffers soos “Ska-rumba”, “Mengelmoeskardoes”, “Patayo”, “Boerejol” en “Tingeling” bevat en daarom was dit nie nodig om dit weer in te sluit nie.

Soos voorheen is die twee CD’s volgens temas ingedeel; die een bevat haar danstreffers terwyl die ander die snitte met ’n dieper betekenis bevat. Daar is vier nuwe snitte, eintlik drie splinternuwes en een wat nuut opgeneem is, ingesluit en almal is op die eerste CD. Rudi Claase het Juanita se treffer “Tussen woorde”, wat op haar eerste versameling voorgekom het, geskryf en hierdie keer het hy weer twee geskryf. “Dankie vir jou liefde” is die eerste enkelsnit vanaf dié album en dit het reeds ’n treffer op verskeie radiostasies geword. “Gaan groot”, nog ’n komposisie van Rudi Claase, gaan ’n baie groot treffer word. Rudi bewys met hierdie twee komposisies dat hy presies weet watter tipe liedjie hy vir watter kunstenaar moet skryf. “Kies jou weer” is die derde nuwe snit, en dit is Juanita se eie komposisie, en weer eens is dit ’n moontlike treffer. Juanita se dogter Franja het gehelp om die volgende snit, “Om jou pinkie”, te skryf; dit is lekker tong-in-die-kies en ’n mens kan verstaan hoekom dit so gewild geword het. “Wit vlag” was nog ’n groot treffer, al het mense dalk gedink die woorde is oppervlakkig. Van oppervlakkige lirieke gepraat; “Hambamba” is ’n tipiese Juanita-partytjieliedjie met absoluut niksseggende lirieke. Nogtans, of dalk as gevolg daarvan, was dit ’n groot treffer. Juanita en twee van haar kinders, Ruan en Franja, het saamgespan vir “Kaalvoetkind”; die liedjie en die musiekvideo was baie gewild en sedertdien het Ruan en Franja suksesvolle solokunstenaars in hul eie reg geword. “Ware vriende” het oorspronklik op Juanita se laaste kommersiële solo-album tot dusver voorgekom, en dis jammer dat dié snit nie sy volle potensiaal bereik het nie. Noudat dit weer opgeneem is, sal dit hopelik verander. Juanita en haar kinders het tot dusver een album saam opgeneem, en “Meer as ’n melodie” was die eerste enkelsnit vanaf daardie album. Een van die hoogtepunte op hierdie eerste album is “Jou Volla”. Nie net is dit ’n uiters aansteeklike liedjie nie; die musiekvideo was regtig iets besonders en enigiemand wat al ’n VW Beetle besit het, sal baie daarvan hou. “Voel my” is die Afrikaanse weergawe van Brenda Fassie se treffer “Vluindlela”; dit is een van net twee snitte op die hele versameling wat nie ’n oorspronklike Afrikaanse komposisie is nie. Sunette Bridges het die Afrikaanse woorde geskryf en dit oorspronklik opgeneem. Juanita se weergawe moes ’n groter treffer gewees het as wat dit was. Dit is een liedjie wat sowaar die dansvloere vinnig vol sal kry en dalk is Juanita se weergawe beter as die een van Sunette. Op “4 nefies” sing Ruan en Franja weer saam met hul ma; dit is nog ’n lekker snit met lirieke wat jou lekker sal laat lag. Ruan en Franja het dit saam met hul ma geskryf, en eintlik moes dit meer gereelde radiolugtyd gekry het. “Groot trek” is nog ’n komposisie van Rudi Claase wat verdien het om ’n groot treffer te word. “Tel my op” was een van die treffers vanaf een van Juanita se beste albums, Jy voltooi my, en jy kan nie stilsit as jy daarna luister nie. Juanita het twee country-programme op kykNET aangebied, en die temaliedjies van albei, “kykNET Country” en “Country-hart” is op die eerste CD ingesluit. “Tel tot tien” is wel ’n danstreffer, maar die lirieke het meer om die lyf as wat ’n mens mag dink. Juanita het twee CD’s en DVD’s saam met Theuns Jordaan opgeneem en “Hart vol drome” was die titelsnit van die tweede een. Dis tyd dat hulle weer in ’n ateljee bymekaarkom en ’n nuwe album opneem, want dit is ’n kombinasie wat uitstekend werk.

Die tweede CD bevat Juanita se sielstreffers; die snitte wat dalk effens rustiger is en met lirieke wat baie meer diepte het as die snitte op die eerste CD. “Toe staan die wêreld stil” en “Engel van my hart” is die titelsnitte van twee van Juanita se suksesvolste albums. Rudi Claase het “Onthou my” geskryf; die lirieke gaan oor die nalatenskap wat jy agterlaat as jy die dag nie meer daar is nie. “Ek sal”, ’n komposisie van Johan Oberholzer, is die laaste snit wat Juanita tot dusver saam met Theuns Jordaan opgeneem het. As daar een snit is met woorde wat ’n mens regtig laat dink, is dit “As vandag my laaste dag is”; die ander snit wat nie ’n oorspronklike komposisie is nie, maar eerder ’n bestaande wysie met woorde wat deur Juanita geskryf is. Dit maak egter nie saak nie. “Koningskind” is die titelsnit van Juanita se mees onlangse Christelike album en dit wys dat sy ewe suksesvol, en geloofwaardig, met Christelike en kommersiële musiek kan wees. “Dowwe spore”, nog ’n snit wat Rudi Claase geskryf het, is nog ’n snit wat Juanita saam met Theuns Jordaan sing. “Loop op die water” is nog een van Juanita se Christelike komposisies wat eintlik baie meer radiolugtyd moes gekry het nie. “Wees lig” was een van haar grootste Christelike treffers en die musiekvideo word gereeld op televisie gewys. “Draai terug” is geskryf na aanleiding van die Draai terug na God-beweging van ’n paar jaar gelede en die lirieke sal sekerlik altyd van toepassing op ons land wees. “Die fiets” is ’n outobiografiese komposisie; sy vertel van die fiets wat sy as kind gekry het en haar pa se dood kort daarna. Juanita het “Ons belofte aan mekaar” vroeg in haar loopbaan vir die eerste keer opgeneem, maar dit weer gedoen toe sy in Nashville was; laasgenoemde opname is hier ingesluit. Die laaste twee snitte is “See van Galilea”, ’n oorspronklike komposisie, en haar weergawe van die bekende lied “Nader my God by U”.

Juanita is seker die suksesvolste Afrikaanse kunstenaar tot nog toe. Die syfers spreek vanself: sy het reeds meer as twee miljoen CD’s en meer as 400 000 DVD’s verkoop, sy het al meer as vyftig toekennings gewen en meer as tagtig treffers opgelewer. Jy bereik nie sulke hoogtes in jou loopbaan tensy jy iets reg doen nie. Met hierdie album bewys Juanita dat sy met dieselfde oorgawe laf en ernstig kan wees; sy is gemaklik met vrolike en meer ernstige musiek en sy kan kommersiële en Christelike musiek ewe goed sing en skryf. Geen wonder dat sy ’n legende van Afrikaanse musiek is nie!

The post 20 jaar treffers 2008-2018 – Juanita du Plessis appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico