Wees lief – Cordelia

Visvang tunes gaan groot
Oktober 24, 2018
20 jaar treffers 2008-2018 – Juanita du Plessis
Oktober 24, 2018

Drie jaar gelede het die Suid-Afrikaanse publiek vir die eerste keer van Cordelia kennis geneem toe haar album Breek die stilte verskyn het.

Dit was haar derde album, maar dit was die een waarmee sy haar deurbraak  gemaak het, en dit het treffers soos “Mal in jou kop”, “Eerste woorde” en “Spel van liefde” (saam met Pieter Koen) opgelewer.

Nadat ’n paar onherroeplike veranderinge in haar lewe plaasgevind het, het sy ’n kontrak by ’n groot platemaatskappy losgeslaan en haar jongste album, Wees lief, vrygestel. Die titelsnit is ’n komposisie van haar en Neil Schoombee; dit is reeds ’n treffer en dit som die sentrale tema van die album, naamlik liefde in al sy vorme, baie goed op. Haar verloofde is saam met haar in die musiekvideo te sien; sy het die volgende snit, “Volmaak”, ook vir hom geskryf en dit lyk asof dit die volgende enkelsnit gaan wees. “Lepel in die dak wegsteek” is ’n snit wat die dansvloere sommer vinnig vol sal kry; sy beskou hierdie komposisie van Neil Schoombee as ’n lekker tong-in-die-kies-liedjie. Dit moet eenvoudig ’n treffer word! Die boodskap van “Vreesloos” is eenvoudig maar treffend; jy moenie bang wees vir die lewe nie. Twee snitte op die album is reeds voorheen opgeneem maar vir hierdie album nuut verwerk, “Verlang jy my” is voorheen op die album Breek die stilte ingesluit, maar op hierdie album het dit meer van ’n dansritme as voorheen gekry. As daar één snit is wat eenvoudig ’n treffer móét word, is dit “Kruise”. Daar is reeds ’n liriekvideo op You Tube daarvan beskikbaar, en weer eens is dit ’n liedjie met ’n positiewe boodskap. “Tussen die duiwel en die diep blou see” is ’n baie mooi snit wat hopelik baie radiolugtyd sal kry. Daar is een snit wat kop en skouers bo die res uitstaan. Cordelia het daarop aangedring om een Christelike snit op die album in te sluit al wou haar platemaatskappy dit nie doen nie. Met “Sewe dae ’n week” kan ’n mens duidelik agterkom dat sy die Here opreg dien; sy het dit geskryf as ’n lof- en danklied vir die liefde wat sy van Hom, maar ook van haar geliefdes af kry. Daarom hoop ’n mens dat dit gereeld oor die radio gehoor sal word; as ander kommersiële kunstenaars groot treffers met Christelike liedere kan hê, kan Cordelia mos ook. “Draai om” was die eerste liedjie wat Cordelia geskryf het; dit is wonderlik dat sy hierdie snit, wat ook op haar debuutalbum voorgekom het, ingesluit het. Dit sal hierdie keer die potensiaal wat dit nog altyd het, verwesenlik omdat dit nog al die jare baie gewild by haar vertonings was. Nog ’n liedjie waarmee sy die kol gaan tref, is “Sing ’n bietjie”, wat niks anders is as ’n lekker liedjie wat jou nooi om te doen wat sy sê nie. “Nader aan jou” is ’n baie mooi snit; miskien kan dit ook ’n treffer word.  “Vasgevang” is nog ’n baie goeie snit; dit is jammer dat dit amper teen die einde van die album weggesteek is. Cordelia het gesê dat sy bly is dat “Dryfsand”, een van die min ballades op die album, die laaste snit is. Dit is inderdaad ’n pragtige snit, en die lae register waarin sy hier sing, klink baie mooi.

Dis moeilik om objektief oor hierdie album te wees; ’n mens het gewonder of Cordelia op Breek die stilte, wat reeds ’n skitterende album was, sou kon verbeter. Sy het dit sowaar reggekry; met hierdie album het sy bewys dat ’n mens kommersieel toeganklik kan wees sonder om jou integriteit as kunstenaar of as mens te verloor. Dis goed dat sy niks anders as oorspronklike liedjies ingesluit het en dat sy glad nie bestaande wysies met Afrikaanse woorde opgeneem het nie. Hierdie album gaan nog baie treffers oplewer en kan eenvoudig nie sterk genoeg aanbeveel word nie!

The post Wees lief – Cordelia appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico