TO Honiball – ’n waardering

Cornelis Vincent van Gogh in Transvaal
Oktober 19, 2018
Vat my terug – Angel de Lange
Oktober 20, 2018

Sy beskeie minsame persoonlikheid en egte menseliefde het van T.O. Honiball deur sy geestige tekenkuns die lieflingspotter van Suid-Afrika gemaak. Sy blymoedige spot word landswyd waardeer deur jeugdiges en Volwassenes, deur sowel Afrikaans- as Engelssprekendes, en selfs deur anderstaliges. Die trefkrag van sy goedige spot reik inderdaad oor die grense van taal-, volks- en ouderdomsgroepe heen en dit spreek tot sowel volksmens as geleerde. Dié persoon wat op gesonde wyse kan laat lag, is ’n gawe aan die mensdom. Honiball is so ’n gawe. Hy is ’n gebore humoris en verdiep die koddighede wat hy in die daaglikse lewe raaksien in sy eie styl tot algemeen-menslike humor wat tot alle mense spreek.

Thomas Ochse Honiball was bestem om as spotprent- en strookprentkunstenaar gedurende ’n lang, vrugbare loopbaan ’n unieke en hooggewaardeerde bydrae tot die Afrikaanse kultuur te lewer.

Prof Piet Cillié, voormalige redakteur van Die Burger, jare lank intiem met Honiball saamgewerk het, het by die opening van ’n groot uitstalling van Honiball kuns in Johannesburg (9-25 Maart 1983) gesê: ‘Mnr Honiball het feitlik sy lewe lank in die Kaap gewerk en deur sy spot- en strokiesprente in koerante en tydskrifte ’n landswye reputasie verwerf. Hy het ’n nasionale figuur geword.’

Die karakters Kaspaas-hulle, Jakkals en Wolf, asook Adoons-hulle, die Magaliesbergse mensbobbejane, wat Honiball geskep het, leef as ‘huishoudelike figure’ in die Suid-Afrikaanse samelewing.

 

Pionier van die Afrikaanse strokiesprent en skepper van ’n nuwe inheemse humoristiese tekenprent

Soos D.F. Malherbe se pionier-hoofkarakter in Die Bergstroom Ruis was T.O. Honiball ’n geroepene … ’n landoopmaker … op die voorpunt’. Hy is die pionier van die humoristiese Afrikaanse strokiesprent en die skepper van ’n nuwe, suiwer inheemse humoristiese tekenprent. Tydens sy studie in die VSA, gedurende die laat-twintigerjare, maak Honiball kennis met die Amerikaanse ‘comic strip’ waartoe hy hom, as humoris, aangetrokke voel. Terug in Suid-Afrika besef hy dat die veld braak lê vir dié soort lagprent. Maar as individualis met eie selfstandige persoonlikheid weet hy intuïtief dat hy nie moet na-aap nie. Hy neem dus net die uiterlike tegniek van die Amerikaanse strokiesprent oor, en in sy eie tekenstyl skep hy vir Suid-Afrika ’n splinternuwe en suiwer Afrikaanse lagprent. Hiervoor verskaf sy eie land en mense die stof. Dié nuwe humoristiese kunsvorm is trouens net so inheems soos die nuwe Afrika-taal waarin dit tot stand kom.

T.O. Honiball kan tereg die ‘Walt Disney van Suid-Afrika’ genoem word.

 

Kinder- en jeugjare

Foto: Uit die Jaarblad van die Hoëre Jongensskool

Hierdie hoogsbegaafde Afrikanerseun is op 7 Desember 1905 op Cradock in Oos-Kaapland gebore, maar het op Stellenbosch, waarheen sy ouers verhuis het, grootgeword. Op die plaaslike hoërskool, die huidige Paul Roos-gimnasium, het hy skoolgegaan en sy eerste karikatuurtekeninge is in die skoolblad van hierdie skool gepubliseer.

In 1926 skryf hy as argitekstudent by die Kaapse Universiteit in, maar staak in 1927 sy studies. Op aandrang van die bekende oom Pietie le Roux, van die Stellenbosse Boere-orkes, gaan hy in die VSA in die handelskuns studeer.

 

‘Wanneer en waar het ek begin teken?’

‘My vader was die hoof van ’n groep koshuise op Stellenbosch wat skoolseuns, universiteitskollege- en kweekskoolstudente gehuisves het. Dit was bekend as Het Tehuis en het bestaan uit Prima (hoofgebou), Sekunda, Tertia en Kwarta.

‘Die koshuis was omring deur groot akkerbome. As die Kleurling-skoonmaker tussen die bome al die blare, stokkies en akkers weggevee het, was dit ’n mooi, vasgetrapte oppervlak. Die bo-laag het vaal geword as dit droog is en as jy met ’n stok ’n streep daarop trek, was dit ’n swart streep op ’n vaal agtergrond. Dit was my tekenbord. As seuntjie het ek op my hurke en knieë daar rondgekruip en tekeninge op die grond gemaak. Van die studente het rondom kom staan, my werk gekritiseer en my reggehelp as ek byvoorbeeld ’n perd se ore té lank of sy oë té hoog op sy kop teken!

‘Ek het nie geld ontvang om papier te koop nie. Ek onthou nog hoe ek die sinkende Titanic geteken het: met sy voorstewe in die water en agterstewe in die lug, soos my vader dit aan my vertel het. Ek was toe nege jaar oud.

‘Op ’n keer was ons met vakansie in die Strand. Ons (my pa, ma, sussie en ek) het langs die see in Gordonsbaai se rigting gestap. Voor die ou ‘spookhuis’ het bokke gewei. Ek vra toe vir my vader wat dit is en hy sê toe dit is bokke. Die volgende oggend vra ek hom ’n stukkie papier en hy gee my ’n blaai uit De Goede-hoop. Voorop was ’n afdruk van die Victoria-waterval en agterop was dit skoon. Sonder potloodstrepe of ander aanduidings skeur ek die profiel van ’n bok uit die papier. Ek was toe vyf-en-’n-half jaar oud. My pa het die Nederlandse onderskrif agterop geskryf en ek besit vandag nog die profiel van die bok.’

 

‘Hoe het my bekende karakters ontstaan?’

‘In 1927 is ek Amerika toe, na Chicago, waar ek kunsopleiding ontvang het. Ek was drie jaar daar toe ek in 1930 terugkeer, was ek vertroud met die Amerikaanse ‘comic strip’. Toe ek in 1936 by Die Burger begin werk, het ek nog altyd die ‘comic strip’ in my kop gehad, maar weens die depressiejare rondom 1933 kon ek nie aandag daaraan gee nie. Nadat ek my by Die Burger gevestig het (1939), het ek aandag aan dié saak gegee. Hoe ek juis aan Oom Kaspaas gekom het, kan ek nie onthou nie. Al wat ek destyds wis, was dat ek nie die Amerikaanse strokies moes na-aap nie. Walt Disney was beroemd om sy Mickey Mouse; dus moes ek van muise af wegbly.

‘Ek het Kaspaas eers vir Die Huisgenoot aangebied, maar die redakteur, wyle mnr Markus Viljoen, wou niks daarvan weet nie. “Honiball”, het hy gesê, “as Die Huisgenoot eendag ’n comic-blad word, sal ek jou weer nader”. Toe wys ek die heel eerste strokies aan mnr Sambok Smit, redakteur van die destydse Naweek- Burger (vandag se Byvoegsel). Hy het die moontlikhede van die strokie ingesien en die eerste op 11 Maart 1939 in Die Naweek-Burger gepubliseer. Vir die eerste drie is ek nie betaal nie, want die direkteure wou eers die reaksie peil voordat hulle my daarvoor vergoed. Hulle het my toe een pond per Kaspaas (12 tekeninge plus die storie) betaal. En so het Kaspaas begin.

’n Jaar of wat later het mej. Truida Pohl (later mev N.P. van Wyk Louw) na my gekom. Sy was die assistente van dr Chris Albertyn, redakteur van Die Jongspan. Hulle wou graag iets soos Kaspaas vir kinders hê. Sy het Jakkals en Wolf voorgestel. Toe ek klein was, het ons oppasster, ’n bediende, dikwels vir ons Jakkals- en Wolfstories vertel. Ek het begin met ’n paar ou stories wat ek nog van destyds kon onthou, maar algaande het ek al hoe meer my eie geskep.

‘Toe nader die redaksie van Die Huisgenoot my. Hulle het gemerk dat Kaspaas en Jakkals en Wolf gewild is en versoek my toe om ook vir dié blad strokiesprente te teken. Die Jakkals- en Wolfstories het bestaan uit allerlei diere – ’n tier, skilpad, hond, bobbejaan, ensovoorts. Dit is toe dat ek besluit om die bobbejaan as karakter te kies. Sover ek weet, bestaan daar geen bobbejaanstrokies oorsee nie. Dié strokies is byna algeheel op ware gebeurtenisse gebaseer, of op grappies wat ek gehoor het. Hulle is die gewildste van my strokies, waarskynlik omdat ’n bobbejaan baie soos ’n mens is. Talle dinge wat ek die bobbejane laat doen, pas die lesers op hulself of vriende toe en daarom is die reeks so gewild. (Onlangs nog het ek ’n versoek van ’n organisasie ontvang wat Christelike lektuur versprei; sal ek nie asseblief ’n bobbejaan pleks van ’n mens teken om by die lektuur te pas nie? As die lesers ’n mens-tekening daar sien, lees hulle nie die pamflet nie, maar as daar ’n bobbejaan is, sal hulle dit lees, want wat soek die bobbejaan dan daar?)

Foto: Oom Kaspaas en Nefie

‘Ek wou eers Tafelberg as die bobbejane se tuiste neem, maar Tafelberg is té omring deur voorstede en nie “privaat” genoeg nie. Omdat ek as seun altyd Magaliesberg-tabak gehoor het, het ek die Magaliesberge as milieu gekies. Die Magaliesberge het ek vir die eerste keer gesien toe ons in 1965 die Hartebeespoortdam besoek het. Dit is naby Pretoria geleë. Ek het natuurlik op die kaart gekyk of daar baie dorpies in daardie gebied is, maar dit was maar taamlik kaal daar.

‘Oom Kaspaas was afkomstig uit Noord-Transvaal en het liefs Bosveld-stories vertel, sodat Nefie nie sy doen en late kon naspeur om te kyk hoeveel waarheid in hulle steek nie; Jakkals en Wolf is Karoo-ouens waar hulle op boer se skape floreer, terwyl Adoons-hulle in die omgewing van die Magaliesberge woon.’

 

’n Lang loopbaan

Aanvanklik moes Honiball al Nasionale Pers se tekenwerk behartig, met inbegrip van illustrasies en geestige tekeninge; mettertyd moes hy uitsluitlik lagtekeninge maak – tot sy aftrede.

Honiball het in 1965 amptelik, maar op kantoor bly werk tot 1975 toe hy sy Iaaste spotprent geteken het. Sy produksie het egter voortgeduur en ’n nuwe bloeifase ingegaan nadat hy in 1973 met sy tweede vrou, Essie de Villiers-Dreyer, getroud is. Sy eerste vrou, Iona Amalinda Boesen, het hom in 1971 ontval. (Uit sy eerste huwelik is drie seuns en een dogter gebore.)

Essie Honiball, agtereenvolgens onderwysers aan verskillende skole en kollegedosent in gesondheidsleer asook liggaamlike opvoeding, besit ’n buitengewone organisasievermoë en dryfkrag. Sy stel intens belang in Honiball se werk en moedig hom steeds aan om voort te gaan met die beoefening van sy talent. Sy het onmiddellik begin om sy tekeninge, wat oral rondgelê het, te versamel, behoorlik te orden en te katalogiseer. Deur op verskillende plekke in die land vir hom uitstallings te help reël, het sy die kunstenaar opnuut gestimuleer, sodat sy kuns ’n nuwe bloeifase ingegaan het. Honiball se gesondheid het aansienlik verbeter sedert Essie hom oorreed het om saam met haar ’n vrugtedieet te volg.

Essie se grootste betekenis vir Honiball is egter haar begrip van, en geduld met, sy kunstenaarstemperament. Sy begryp hom volkome en hy erken geredelik en met groot dankbaarheid dat sy die stukrag in sy lewe geword het. Sy inspireer hom steeds en is, onder andere, daarvoor verantwoordelik dat hy met kleur begin werk het. Langs dié weg het die groot gekleurde lagprente ontstaan.

Toe die instandhouding van hul groot vrugte- en groente-erf op Rawsonville in die Boland vir die Honiballs té veeleisend word, het hulle in Mei 1984 na die warmbron by Montagu verhuis. Onder die liefdevolle sorg en daadwerklike bystand van sy vrou sit Honiball tans hier op gevorderde leeftyd sy skeppingswerk voort.

 

Soos gesien deur sy eggenote

In ’n brief openbaar Essie Honiball verskillende persoonlikheidstrekke wat lig werp op die unieke aard van Honiball se kuns.

Die oorspronklikheid daarvan kan onder meer daaraan toegeskryf word dat hy as’t ware geïsoleerd leef in sy eie verbeeldingswêreld en nie beïnvloed word deur ander kunstenaars nie. Sy skryf onder andere: ‘Hy is vir my ’n ongeëwenaarde, onbeïnvloede mens, só onbewus van die wêreld om hom dat mens dit net nie kan glo nie. Ek het in my lewensjare nêrens iemand teëgekom wat so totaal ongeaffekteer deur ander se doen en late leef nie, en dis nie dat hy nie in mense belang stel nie. Dit ís sy groot belangstelling, maar hy “lees” mense soos ’n boek. Hy snap hulle – sien deur hulle voor hy hoef te dink. Hy weier ook om oor sy siening te redeneer. Hy weet en dan moet jy nie verder met hom probeer stry nie. Hy het nie tyd om in ander se wêrelde te kyk nie; hy het genoeg aan sy eie. Net soos jy dink jy ken hom, kom hy met ’n nuwe dieptelaag te voorskyn en besef jy, jy ken hom eintlik nog glad nie …’ ‘Hy is so oop, so eerlik, so reguit, so totaal dat mens dit net nie ten volle kan verwerk nie …’.

Honiball bly ‘ongeaffekteer’ selfs deur die bewondering en toegeneentheid wat sy kuns oral afdwing, hoewel hy dit terdeë geniet as sy werk gewaardeer word en vir ander vreugde verskaf. Essie skryf in hierdie verband: ‘Waar Ochse ook al gaan, word hy op die hande gedra en met opregte liefde bejeën. Wildvreemdes maak hul huise en harte vir hom oop … Hy word oral aanvaar asof hy ’n familielid is – op alle vlakke van die gemeenskap, van die hoogste tot die laagste. Dit maak geen duikie in sy menswees nie – hy bly totaal ongeaffekteer deur lof. Sy karakters, Kaspaas en Nefie, Jakkals en Wolf, en die Adoonse, het só diep in die volkslewe ingedring dat mense hom aangeneem het as een van hulle, al het hulle hom nog nooit ontmoet nie. Selfs die mense met wie hy moes spot, geniet sy werk en respekteer hom as mens.

‘Maar volmaak is Ochse ook nie en foute het hy meer as genoeg, maar sy goeie eienskappe oorskadu sy foute geheel en al.’

Essie vertel dat Honiball se enigste ontspanning (as hy van sy tekenwerk Ioskom) handwerk is. Hy bou graag werkende modelle van windpompe, stoomenjins en dergelike meganiese toestelle. Hy dink self ’n plan uit om ’n meganiese probleem op te los, sonder om boeke te raadpleeg. Hy sou waarskynlik ’n knap ingenieur kon gewees het, want hy het ook in hierdie opsig ’n besondere talent ontvang. Hierdie belangstelling vind gestalte in talle van sy agtergrondtekeninge met hul seepkiskarre, motorfietse, karretjies en ander meganiese voorwerpe.

Honiball se kunstenaarspersoonlikheid

In sy bondige outobiografie openbaar Honiball die wesenstrekke van sy kunstenaarspersoonlikheid: sy gawe om rustig en beskeie sy storie te vertel; sy liefdevolle belangstelling in sy medemens en vermoë om met menslike swakhede en koddighede te spot, lighartig sonder om seer te maak.

Die belangrikste faset van sy kunstenaarspersoonlikheid is die besef dat hy ‘moes wegbly van Walt Disney se Mickey Mouse’, dat hy nie moet na-aap nie, en dat hy, as Boerseun, getrou aan homself moet bly en oorspronklike kuns moet skep. Dit is die sleutel tot Honiball se eiesoortige, suiwer Afrikaanse kuns, en die wyse waarop hy ‘aan Oom Kaspaas gekom het’.

Sy eerste gewilde reeks komiese strookprente skep Honiball dus uit die geledere van sy eie volk. Die beminlike Oom Kaspaas is ’n oer-Boerekarakter: baasgrootprater en -spekskieter wat sy gefantaseerde kragtoere en knypstukke as grootwildjagter en held van die Boere-oorlog in lewendige, dramatiese aksietonele ‘vertel’ en Nefie, hande in die broeksak, sigaret in die mond, lui-passief altyd gewillig is om na Oom Kaspaas se stories te luister. Ta’ Engeltjie kom met besemstok of deegroller in aksie as Oom Kaspaas se verbeeldingsvlugte hom darem té lank ‘ledig’ hou! Só lewenskragtig leef Oom Kaspaas nou al meer as veertig jaar in die Afrikaanse strokiesprent dat hy goed op pad is na onsterflikheid. Hy het selfs in Honiball se politieke spotprent sy verskyning gemaak en bly in aanvraag in reklame, kommersiële en opvoedkundige reekse. (Gedurende die Basoeto-oorloë in die Suid-Vrystaat het daar werklik so ’n Kaspaas-figuur bestaan in die persoon van ene oom Renier de Winnaar wie se graf vandag nog te sien is aan die voet van Zastron se berg waardeur hy, in ’n vuisgeveg met die Duiwel, ’n gat deur geslaan het!)

 

Ooreenkoms met Langenhoven

Honiball besit, soos Langenhoven, die seldsame gawe om die draak te kan steek met die swakhede, eienaardighede en skynwyshede van sy medemens (en van homself) sonder om te kwets of seer te maak. In sy vrolike Iagprent lag hy lekker vir ander, maar eintlik ook vir homself. Hierdie wesenstrek van Honiball se kuns het wyle prof F.C.L. Bosman reeds in 1940 opgemerk en raak gekarakteriseer. In die voorwoord tot die heel eerste versameling Kaspaas-en-Nefie-lagprente skryf hy: ‘Dit is goed dat ’n mens soms lag … Die lag is nodig om aan die lewe balans te gee; dit is die weerligafleier waarlangs die oorlade gees of oorvolle gemoed verligting vind’.

 

Spotprente

Honiball se politieke spotprente openbaar dieselfde gemoedelike sin vir die komiese as sy verhaalprente. Hy moes sedert 1941 die plek volstaan van Die Burger se eerste spotprenttekenaar, die alombekende D.C. Boonzaier. Sy vroegste spotprente was volledige studies met lang byskrifte. Onder invloed van hoofredakteur Piet Cillié het sy spotprente eenvoudiger geword en is die byskrifte verkort. Baie gou het Honiball se mensliewende spotterspersoonlikheid tot sy reg gekom en het ‘sy vrolike, bewegende lyne … net so ’n deel van die Suid-Afrikaanse politieke toneel geword soos Boonzaier se streng en gedugte aanslae’.

Honiball het tot ’n briljante spotprenttekenaar ontwikkel. Sy spotprente was werklik snaaks en het sowel die voorstander as die teenstander van Die Burger se politiek Iaat lag. Professor Cillié getuig: ‘Boonzaier het met ’n voorhamer geslaan; Honiball het die mense Iaat lag met sy sosiale kommentaar en sy politieke sienings’.

Majoor Piet van der Byl, lid van Generaal Smuts se ‘Oorlogskabinet’, het só van Honiball se prente gehou dat hy ’n hele versameling opgebou het op sy plaas Fairfield. Hierdie Caledonse boer was besonder lank en bekend daarvoor dat hy ’n egte heer was, ’n sterk Engelse universiteitsopvoeding geniet het en bevriend was met die Britse koningshuis (hy het onder meer saam met Koning George patryse geskiet). Honiball het hom in sy tekening hoog en lenig bokant sy medeministers laat uittroon en hom ‘onberispelik’ geklee, net soos hy met Kaas Windvogel, neef van die Adoonse, gedoen het.

Honiball se sin vir die komiese is so ruimgeestig en grootmoedig dat hy in spannende politieke situasies die mees gewaagde kon teken, sonder dat dit ‘’n ontploffing’ sou veroorsaak wanneer dit in Die Burger verskyn maar die spanning met ’n spontane lag sou ontlont. Professor Cillié het op so ’n voorbeeld gewys: Tydens die groot Afrikaner-volksfees, die inwyding van die Voortrekker-monument in 1949, moes Generaal Smuts as opposisieleier ook ’n toespraak lewer en het hy sy hoofluitenante in die Verenigde Party aangemoedig om ten volle deel te neem aan die Afrikanerfees – hy sou self daar wees. Honiball teken toe ’n spotprent met die Voortrekkermonument in die agtergrond en mnr Harry Lawrence, met sy tradisionele Maleise fes op die kop in die voorgrond, besig om boerewors te braai, terwyl mnr. Mushett en dr. Colin Steyn in lang Voortrekker-rokke en met kappies op, toekyk. Agter hulle was majoor Van der Byl en mnr. Waterson besig om aan volkspele deel te neem. Die strenge ou Skot, mnr. Claude Stark (Honiball noem hom Oom Claude), sit daar met ’n Voortrekker-fluweelpak aan. Hy rig hom tot sy worsbraaiende kollega en vra: ‘I say, Neef Hendrik, don’t you think that when the Oubaas said we should all take part in this festival – he was going a bit too far?’ Die eerste oproep wat Die Burger die môre by verskyning van die spotprent ontvang het, was van mnr. Lawrence wat hom wou doodlag en mooi vra of hy nie die oorspronklike prent kon kry nie!

In die baie verkiesings wat Die Burger vir die Nasionale Party help veg het, het Honiball se spotprente waarskynlik meer vir die Nasionale Party vermag as al die toesprake wat op die talle vergaderings deur die hele land gelewer is. Sy vervolgreeks Libbie die Liberalis tydens die Referendum-stryd om ’n stemmeerderheid vir die uitroep van die Republiek van Suid-Afrika te verkry, is nog ’n goeie voorbeeld van Honiball se trefkrag.

Honiball se spotprente het in Die Burger, Beeld, Rapport en later in Die Suidwester verskyn. Sy laaste gereelde spotprent is op 26 Februarie 1978 in Rapport opgeneem.

Met sy opening van Honiball se groot uitstalling in Johannesburg in 1978 het professor Piet Cillié, getuig: ‘Ek dink in die politieke en sosiale geskiedenis van Suid-Afrika sal daar deur enige volledige geskiedskrywer van Honiball se rol op die politieke toneel en ook op die algemene sosiale toneel kennis geneem moet word. Hy het ons laat lag – vir ons teenstanders, maar ook vir onsself. Hy het ons nasionale humorsin ontwikkel. In sy politieke prente het hy ook dikwels groot idees ingedra op ’n manier wat mens nie met woorde so effektief sou kon doen nie.’

Honiball is tereg per geleentheid een van Suid-Afrika se groot grafiese kommentators genoem.

Hoë kunspeil

Ten spyte van ’n volgehoue oorvol program oor die jare, het Honiball deurgaans ’n hoë peil in sy tekenkuns gehandhaaf. Die skerpte van sy humoristiese siening en satiriese kommentaar op sy eietydse samelewing het geensins verstomp nie. Die hoë peil dank Honiball aan sy natuurlike aanleg, maar meer nog, aan sy deeglike opleiding in die handelskuns en sy algehele bemeestering van die tekentegniek. Hy het geen goeie woord vir die lukraak metode, sonder streng formele onderrig en deeglike inoefening van die tekentegniek, wat hedendaags aan kunsskole gevolg word nie. Honiball glo dat enigeen wat tekentalent besit, kan leer om goed te teken.

 

Sy tekentegniek en -styl

Honiball het soos volg verduidelik hoe hy te werk gaan om ’n tekening te maak: ‘My tegniek is gebaseer op drie eenvoudige figure: die baksteenvorm, die ronde of balvorm, en die pypvorm. As ek byvoorbeeld ’n muur of ’n huis of selfs ’n brood wat ’n mens bak of in die winkel koop, wil teken, gebruik ek die baksteenvorm. Vir ’n bal, ’n vrug soos ’n appel, lemoen, waatlemoen, ensovoorts, of ’n muntstuk, ’n ronde spieël of enigiets wat rond is, gebruik ek die balvorm. Ek gee voorkeur aan die pypvorm om ’n mens, dier, boom, ensovoorts te teken.’

Foto: Honiball demonstreer hier hoe hy figure op die pypvorm baseer

Hy het geleer om hierdie drie basiese vorme in enige posisie en vanuit enige hoek te teken.

Mededeelsame mens wat hy is, demonstreer Honiball graag, as hy gevra word, aan ’n groep skoolkinders of ander belangstellendes hoe hy ’n prent uit dié drie basiese vorms opbou. Al geselsende staan hy voor die tekenbord en sy toeskouers sien voor hul oë hoe Oom Kaspaas, Jakkals en Wolf, of Kaas Windvogel in die lewe geroep word. As die prent klaar is, word dit aan die skool of naaste kyker geskenk. In ’n tekenhandleiding wat hy vir kinders geskryf het, wys hy op dieselfde wyse, al geselsend, hoe hy uit die pypvorm ’n figuur opbou: ‘Nou wil ek ’n figuur teken wat stap. Liggies met potlood teken ek net eers ’n paar strepe wat die houding en grootte van die figuur aandui. Vir die lyf teken ek ’n pyp. Die bene en arms is dun pypies wat in die rigtings geteken word waarin ek hulle wil laat beweeg. Die bene en arms aan dieselfde kant van die lyf beweeg in ’n teenoorgestelde rigting. As ek tevrede is dat die verhoudings reg is, trek ek die figuur klere aan. Hierdie pyp-aksies moet julle baie oefen. As mens hulle eers bemeester het, is hulle maklik en het jy omtrent nooit ’n model nodig om vir jou te poseer nie.’

Kenmerkend van Honiball se kuns is sy gebruik van oordrewe aksie, sy oorbeklemtoning van beweging en sy gebruik van gesigsuitdrukking (oë, wenkbroue en mond). Hy vertel sy lagstorie deur sy karakters in dramatiese aksie uit te beeld binne die lagwekkende situasie waarin hy hulle plaas. Dit doen Honiball in ooreenstemming met sy siening van die snaakse wat hy in die menslike samelewing waargeneem het. Die oordrewe aksie verhoog die snaaksigheid van die prent. In sy tekenboeke wys Honiball met ’n paar puntjies en strepies hoe 280 verskillende gesigsuitdrukkings geskep kan word deur die kombinasie van vyf verskillende posisies van die wenkbroue, sewe van die oë, en agt van die mond.

Hy is ’n meester van vorm, lyn en perspektief. ‘Dit is ongelooflik hoe hy enige onderwerp sonder moeite met ’n paar lyne volkome in perspektief kan teken. Dit berus op jare se oefening. Hy hou daarvan om praatjies oor sy tekenkuns te hou en hiervan het ek tientalle bygewoon en nooit verveeld geraak nie. Sy gehoor raak in vervoering by die aanskoue van die meesterhand in aksie. En die gehore van hierdie demonstrasies het gewissel van slimmes tot swaksinniges, van kinders tot oues van dae, van leke tot kunsstudente. Hy kon ’n gehoor só boei en inspireer dat daar nooit sprake was dat mense wou hê hy moes endkry nie, selfs na een tot twee uur nie’, aldus Essie Honiball.

Honiball se prente spreek direk tot die leser-toeskouer, sy dit ’n Kaspaas-, ’n Jakkals- en Wolf- of ’n Adoons-prent. Sy groot lagprente het eintlik nie byskrifte nodig nie. Die kyker herken onmiddellik die werklikheidsituasie en sien homself of ’n kennis of familielid in die lagwekkende, menslike situasie. By die opening van ’n Honiball-uitstalling is dit pret om die reaksie en die laggende gesigte van die kykers dop te hou.

 

Enorme produksie

Gedurende die byna veertig jaar wat Honiball aan die Nasionale Pers verbonde was, het hy hom met soveel oorgawe aan sy taak gewy en met so ’n verstommende werkkrag week na week volgehou dat dit op ’n enorme produksie uitgeloop het. Hy was nie alleen verantwoordelik vir die spotprente in Die Burger nie, maar moes, soos reeds gesê, al die tekenwerk vir die Nasionale Persorganisasie behartig. Namate dié organisasie gegroei het, het die omvang van sy werk uitgebrei. Hy moes ook vir die ander koerante van nasionale pers spotprente teken. Die illustrasiewerk vir Die Huisgenoot het uitgebrei, onder andere, met die omvattende prente wat hy vir die Kersfeesnommers moes teken. Met die drie strookprentreekse het hy week na week volgehou: Oom Kaspaas het 17 jaar lank weekliks verskyn (Maart 1939 tot 1957); Jakkals en Wolf, wat drie jaar later bygekom het, 27 jaar (1942-1969) en Adoons-hulle, wat ses jaar na Jakkals en Wolf gevolg het, 24 jaar (1948-1971).

Mnr Piet van Niekerk, redakteur van die Landbouweekblad het Honiball in 1975 genader om Oom Kaspaas in dié blad te laat herleef. Hy en sy trawante het tot 1982 weer weekliks verskyn. Dit het soveel byval gevind dat Adoons-hulle gevolg het en tans nog weekliks verskyn. Dit kom daarop neer dat Honiball, naas sy gewone werk, van 1939 af weekliks een strookprentstorie bestaande uit ses afsonderlike prente, van 1942 twee strokiesprente (twaalf prente) en van 1948, drie prentverhaalreekse (18 prente) weekliks moes lewer. Van 1975 af het ’n vierde reeks van ses prente bygekom. Dit beteken dat Honiball sedert 1948 elke week drie pittige kortverhale moes skryf en in strokiesprente uitteken. Die feit dat Honiball se drie reekse storieprente nog steeds bly voortleef, word beklemtoon deur die verskyning van talle versamelings strookprente wat nog gereeld herdruk word.

Van Oom Kaspaas het nege versamelings verskyn en in 1979 drie luukse keurbundels met kleurvoorblaaie, onder andere Kaspaas in die knyp, Oom Kaspaas maak ’n plan en Oom Kaspaas op hol.

Van Jakkals en Wolf het talle versamelings in boekvorm verskyn en in 1978 drie pragbundels: Wolf en Jakkals van Uilkraal, Wolf en Jakkals in die pekel en Wolf en Jakkals sien spoke.

Van die Adoonse het ses versamelings in boekvorm die lig gesien en drie pragbundels in 1977 met tipiese Honiball-titels: Adoons, Keesje, Kaas en Kie, Adoons-hulle boer vorentoe en Adoons-hulle dons op. Oom Kaspaas en Magaliesberg se bobbejaanmense voer nog steeds ’n lewendige bestaan elders: in advertensies en reklame, en selfs opvoedkundige publikasies, bv. dié wat deur die departemente Bosbou (Die Blyderivierpoort-voetslaanpad) en Gesondheid (Alkohol en die jeug) uitgegee is en die reeks wat Honiball tans mee besig is oor ons wildtuine. Ook in studenteblaaie, bv. Pikkie (1974) en Matieland (1975) verskyn van sy werk.

Die snaakse dinge wat daar in Landbouweekblad se rubriek vir eensames, ‘Die Opsitkers’, gesê en gevra word, het vir Honiball jare lank heerlike stof verskaf!

Die Adoonse het, met hul seepkiskarre en al, duisende televisiekykers vermaak en oor die radio het Oom Kaspaas lank sy Renier de Winnaar-stories vertel. Jakkals en Wolf word tans in Bantoetale oor die radio uitgesaai. Daar is ook plate en bande van hierdie drie strokiesverhale gemaak.

 

Dietse tradisie van satiriese diereverhaal

Foto: Wolf en Jakkals met die kettie

Dit is ’n merkwaardige toevalligheid dat Honiball deur sy gebruik van die diereverhaal, die Jakkals- en Wolfstories wat hy as kind gehoor het en sy eie skepping van die Adoons-reeks, ’n ou tradisie in die Dietse letterkunde in die Afrikaanse komiese strokiesprent voortgesit het (sonder dat hy self daarvan bewus was), waarvan die spot-epos of satiriese diereverhaal soos die Middelnederlandse ‘Van den Vos Reynaerde’ die mooiste voorbeeld bied. Daarin word die diereverhaal reeds gebruik om misbruike en swakhede in die menslike samelewing spottenderwys aan die kaak te stel. Dit is presies wat Honiball binne die kader van sy geestige strokiesprente doen.

 

Uitstallings

Die hoogtepunt van die talle uitstallings wat met behulp van die bekwame organisasiewerk van sy vrou en baie welwillendes en belangstellendes oral in die land gehou is en groot byval gevind het, is bereik met die groot oorsigtentoonstelling wat in 1983 in die Total-galery in Johannesburg gehou is. ’n Breë spektrum van die 78-jarige kunstenaar se werk is aangebied. Mev Dee Walkden, direktrise van die galery, meen dit het die grootste belangstelling gewek wat nog tydens ’n tentoonstelling in Johannesburg ervaar is.

Al die groot dagblaaie, sowel Afrikaans as Engels, het indringende beskouings oor die uitstalling gepubliseer. Daar was algehele eenstemmigheid in die waardering van Honiball se kuns. Dit bevestig skrywer se uitspraak by die opening van ’n dergelike uitstalling dat hy geen ander grafiese kunstenaar ken wat ’n ruimer en waardevoller bydrae tot die Afrikaanse kultuur gelewer het as T.O. Honiball nie.

The Star noem Honiball: ‘The grand old man of South African cartoonists – a gentle satirist … (who now) spends his autumn years basking in belated recognition as South Africa’s first all-indigenous strip cartoonist’. Dié koerant wys daarop dat geslagte Suid-Afrikaners die avonture gevolg het van die Adoons- bobbejane wat hulle oral laat geld het, van stadsraadvergaderings tot veiligheidskampanjes, en dat hul kaskenades in werklikheid satiriese kommentaar op die mense in Suid-Afrika is. Honiball se sin vir die komiese bestaan daarin dat hy deur sy prente ons almal in ’n spieël laat kyk, sodat ons ons eie gesigte daarin ontdek.

The Citizen praat van ‘the unique talent of a man whose imaginative character has been part and parcel of most Afrikaans-speaking people for decades’ en wys daarop dat Honiball daarin slaag om die verbeelding van sowel jonk as oud, en dat hy in werklikheid ‘an obsessively keen observer of the human race’ is.

Die unieke aard van hierdie beskeie Afrikaanse kunstenaar is kernagtig saamgevat deur Schalk Pienaar, bekende joernalis van Die Burger: ‘Hy is een van daardie skaars artikels: ’n man wat bemind geword het terwyl hy beroemd geword het, en terselfdertyd ’n beskeie, hartlike mens gebly het.’

 

Bewaring van die Honiball-kultuurerfenis

Essie Honiball verdien Suid-Afrika se blywende erkentlikheid vir haar insig en daadwerklike optrede in die opspoor, byeenbring, sortering en behoorlike katalogisering vir die bewaring van die ryke kultuurerfenis wat haar man nalaat. Deur haar bemiddeling het Honiball in 1977 ’n aantal oorspronklike tekeninge vir veilige bewaring aan die Universiteit van Stellenbosch geskenk.

Deur bemiddeling van Essie Honiball en dié van die skrywer van hierdie artikel is die grootste deel van die Honiball-erfenis toevertrou aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein waar van die werk pragtig in die Honiball-lokaal uitgestal is. Dit sluit talle oorspronklike strokiesprente van die Kaspase, Jakkals en Wolf, en Adoons-hulle in.

Daar is ook in die nuwe hoofkantoor van die Nasionale Pers by Heerengracht 40 in Kaapstad ’n Honiball-museum ingerig – ’n paslike hulde aan die man wat met sy kuns soveel tot die Afrikaanse kultuur bygedra het.

 

Bron: Lategan, Felix V. 1985. TO Honiball – ’n waardering. Lantern, Januarie, pp. 46-59.