S le Roux Marais (1896-1979)

Vanaand dans ons weer – Die Ventertjies
Oktober 17, 2018
15 jaar – Jak de Priester
Oktober 18, 2018

In musiekkringe is die naam Stephanus le Roux Marais welbekend, hoofsaaklik as komponis van Afrikaanse liedere. So pas het die komponis sy nege-en-sestigste verjaarsdag gevier. Nieteenstaande sy ouderdom is hy nog besig om te komponeer en die Afrikaanse musiekskat verder te verryk. Sy lang, suksesvolle loopbaan is vol interessanthede, tog weet die algemene publiek min daarvan. Een van die redes hiervoor vind ons moontlik in die eerste vier reëls van J.R.L. van Bruggen se gedig Heimwee wat Marais getoonset het:

My hart verlang na die stilte,

Van die wye wuiwende veld,

Ver van die stadsgeluide,

En die klinkende klank van geld.

 

Dit was die skrywer se voorreg om die komponis op Graaff-Reinet te leer ken en dis aan die hand van dié kennismaking dat hy in staat is om die lesers van LANTERN nader omtrent hierdie baanbreker in te lig.

Marais het sy land, taal en volk innig lief. Hy is ’n beskeie en teruggetrokke mens wat geensins daarvan hou om oor sy musiek te gesels nie. In plaas daarvan verkies hy die geriewe van sy huis, om op sy gemak in sy mooi tuin te sit en ontspan, miskien met sy hansdiere te speel, om die geselskap van sy vrou en vriende te geniet, of hom met kuns of musiek besig te hou. Altyd netjies gekleed, is hierdie hoflike man die volmaakte gasheer en ’n interessante mens om mee te gesels.

 

Stephanus le Roux Marais is op 1 Februarie 1896 op Aasvogelkop in die distrik Bloemfontein gebore. Sy vader, Jakobus Francois Marais (1868-1957), was destyds skoolmeester. Sy eggenote, Brechje Jacoba Ie Roux (geb. 1868), is net soos hy in die distrik Wellington gebore. Sy is in 1898 oorlede en die vader moes toe drie kinders versorg: Jakobus (8), Stephanus (2) en Pieter Joh (1). Na die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog het die vader besluit om ’n onderwyspos aan die laerskool op Daljosaphat (gestig 1855) te aanvaar. Verskillende tantes het na vore getree om die kinders te versorg.

Teen die einde van 1901 het hy, toe reeds hoof van die tweemanskool, in die huwelik getree met sy assistente, Hester Helena le Roux (1872-1948). Hoewel sy die lewe aan vier kinders geskenk het (Johanna Alida, Debora Magrietha, Hester Helena en Guillaume Francois), was sy ’n uiters toegewyde eggenote wat baie liefde aan haar stiefkinders betoon het. Stephanus koester aangename herinneringe aan sy jeugjare, en dink graag daaraan hoe hy as ’n skaam en ietwat senuweeagtige seuntjie die klavier bo speletjies met ander kinders verkies het. Op agtjarige ouderdom het hy sy eerste musiekles ontvang van ’n mej. Malan na wie hy liefhebbend as tant Pollie verwys.

In Desember 1905 het sy vader, na 17 jaar in die onderwys, dié beroep Iaat vaar en in 1906 met sy gesin na Stellenbosch verhuis waar hulle eers in Dorpstraat en later in Kerkstraat gewoon het. Hier het hy hom as teologiese student aan die Kweekskool ingeskryf en sy studies vier jaar later suksesvol voltooi. Intussen het Stephanus ’n privaatskool bygewoon, klavierlesse van ’n mej. De Waal ontvang en in 1909 aan die Jongenshoërskool op Stellenbosch ingeskryf.

In 1910 het ds. J.F. Marais ’n beroep na Wepener aanvaar waar Stephanus sy skoolopleiding voltooi het. Gelukkig kon hy sy musiekstudie onder leiding van ’n mej. A. Nowers voortsit.

Teen Desember 1913 kom hy voor die keuse van ’n loopbaan te staan. Sy groot liefde vir musiek en kuns ten spyt, het hy toe nog min geskep. Hy besluit om onderwyser te word. Vir dié doel skryf hy in 1914 in as student aan die Bloemfonteinse Polytechnic, die latere Normaalkollege. Gedurende sy driejarige opleiding was hy ook musiekstudent van die bekende prof. P.K. de Villiers, onder wie se invloed hy begin komponeer. Slaapdeuntjie (F.A.K. Nr. 100, 1937) in 1918 gekomponeer, was een van sy eerste werke wat later ook in druk sou verskyn.

Na hierdie drie studiejare het Marais sy professionele loopbaan nie as onderwyser nie, maar as orrelis op Hopefield (Jan. 1917-Jun. 1918) en later op Smithfield (Jul. 1918—1920) begin. Van nou af is die jong orrelis deur ’n wanderlust oorheers wat sy daaropvolgende loopbaan ongetwyfeld sterk beïnvloed het.

In 1921 het hy as student aan die Kaapstadse College of Music, destyds aan die Stalplein geleë, ingeskryf. Prof. W.H. Bell was hoof van dié inrigting en Marais het sy orrelstudie onder dr. Barrow-Dowling en klavierstudie onder mnr. Pierre de Beer voortgesit. Gedurende hierdie tyd was hy orrelis van die N.G. Kerk Observatory en het terselfdertyd die U.O.L.M. verwerf.

Gedurende 1923 vind ons Marais op Wepener terug waar hy sy suster vir haar diploma-eksamen in klavier voorberei. Daardie September is sy droom om oorsee te gaan verwesenlik. Weereens het hy al sy besittings ingepak, dié keer om aan die Royal College of Music in Londen te gaan studeer (1923-4). Hier het hy klavier, orrel en teorie onder verskillende leermeesters soos sir Frederick Bridge en C.H. Kitson studeer. In die wêreldstad het hy al meer onder die indruk gekom van die wye veld wat die studie van musiek werklik dek en elke beskikbare oomblik is aan die bemeestering van sy vak gewy. Sy toegewyde arbeid is bekroon toe hy die A.R.C.M.-diploma verwerf. Gedurende sy studiejare in Londen het hy weinig kon komponeer omdat hy hom so nougeset op voorbereiding moes toelê. Teen die einde van 1924 het hy na Suid-Afrika teruggekeer, vol vertroue dat hy nou vir ’n suksesvolle loopbaan in sy geboorteland toegerus is.

Sedert dié tyd het hy die daaropvolgende 32 jaar orrelisposte in Suid-Afrika beklee. As ’n mens sy vorige ondervinding in aanmerking neem, het hy sy Kerk dus 36 jaar lank trou gedien. Hierdie ervaring het hom later in staat gestel om die repertoire van oorspronklike koorwerke vir die N.G. Kerk te verryk. Die poste wat hy as orrelis sedert 1924 beklee het, is die volgende: Bloemfontein-Noord (1924-6); Brandfort (1927-9); Ermelo (1930-4); Graaff-Reinet (1942-44); Ficksburg (1944-46); en Benoni-Noord (1947-55). Gedurende hierdie jare het die komponis private leerlinge onderrig en by verskeie geleenthede opgetree. Die wins op sy konserte het hy steeds aan liefdadigheid geskenk.

Dit was op Brandfort dat hy skielik beroemdheid as komponis van Afrikaanse liedere verwerf het. Gedurende sy loopbaan het hy slegs drie persone met opdragte vereer. Dit is opvallend dat mev. B. du Preez, destyds inwoner van Brandfort, aldus vereer is toe die Vyf Kunsliedere in 1932 gepubliseer is. Sy was ’n bekwame sangeres wat die komponis met haar talent aangemoedig het. Sy was moontlik die eerste om die liedere wat in Vyf Kunsliedere bevat is, asmede Heimwee en Die Roos uit te voer.

Die bekendheid wat Marais as komponis van Afrikaanse liedere verwerf het, is in hoofsaak aan die Kaapstadse Eisteddfod te danke. In 1929 het Die Roos eerste prys behaal en verder baie gunstige kritiek van die twee beoordelaars, mnr. (later dr.) W.J. Pickerill, musiekdirekteur van die Kaapstadse Stadsorkes, en dr. F.P. Swanepoel, van Stellenbosch, uitgelok. In 1930 het Geboorte van die Lente en in 1931 Mali, die Slaaf se Lied onderskeidelik die eerste prys verower. Teen 1934 is 23 diplomas, ’n silwerbeker en ’n medalje aan hom toegeken. Vyf agtereenvolgende jare lank het Marais eerste pryse met sy toonsettings verower, waarna hy nie meer deelgeneem het nie ten einde ander jong komponiste ook ’n kans te gee. Gedurende 1937-8 het hy die silwerbeker en ’n medalje vir sy lied Moeder op die Oosrandse Kunswedstryd gewen. Daarna het hy by verskillende kunswedstryde, bv. op Stellenbosch en Wellington (1941), as beoordelaar opgetree.

Sy Ermelo-jare was miskien sy vrugbaarste skeppende tydperk, want minstens die helfte van sy liedere, sowel gepubliseerde as ongepubliseerde, is hier voortgebring. Sy omgang met die Hoërskool Ermelo sal ook altyd met trots onthou word, veral om die puik skoollied wat hy spesiaal vir dié skool gekomponeer het.

Na sy lang verblyf op die Hoëveld vind ons hom in die skilderagtige Boland. In Januarie 1941 is hy aangestel as dosent in skoolmusiek en sang aan die Wellingtonse Onderwyskollege. Hier het hy goeie resultate met die Kollegekoor behaal. Onder sy leiding het dié koor sy eerste uitsaaiprogram gelewer en terloops een van die eerste opnames van Marais se komposisies gemaak.

Met sy eerste besoek aan Graaff-Reinet is die leemte wat hy aldeur in sy lewe ervaar het, aangevul as gevolg van sy kennismaking met die jong dame met wie hy later op 11 Desember 1945 in Port Elizabeth in die huwelik getree het. Sy was mej. Edith Johanna Rex, van Aberdeen, destyds onderwyseres in handelsvakke aan die Hoërskool Unie te Graaff-Reinet. Sy het daarin geslaag om die huislike lewe vir haar man besonder gelukkig en aangenaam te maak dis te verstaan dat Marais sy My Eerste Musiekboek, sy enigste gepubliseerde klavierwerk, ’n jaar na huwelik aan haar opdra.

Foto: Die erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat in Oktober 1946 aan Marais oorhandig is

Gedurende 1946 het die komponis ’n brief ontvang waarin hy meegedeel is dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sy erepenning vir musiek aan hom toeken blyk van waardering vir die wat hy ter bevordering van die Afrikaanse musiekkuns gedoen het. Dis vooraf beplan dat hy die erepenning persoonlik op 14 Oktober tydens ’n plegtigheid in die Clarendonsaal, Bloemfontein, in ontvangs sou neem Terselfdertyd sou die geleentheid dié vorm van ’n musiekkonsert aanneem waarby hoofsaaklik van sy eie werke uitgevoer sou word. Op die program het solo- en koorwerke verskyn, asook die komponis se ongepubliseerde Polonaise vir Klavier wat hy by spesiale geleenthede gespeel het. Prof. D.F. Malherbe, destyds voorsitter van die Akademie, het die welkomswoord gevoer.

In sy huldigingsrede het prof. dr. W.F.C. Arndt Marais se prestasie soos volg opgesom: “ ’n Mens kan sy betekenis t.o.v. sang vergelyk met dié van Langenhoven op die gebied van die letterkunde: toe daar ’n innerlike behoefte en drang by die volk was om in hul eie taal te sing, het Marais dit vir hulle moontlik gemaak deur vir die volk te komponeer. Sy werk het beslis die meeste bekendheid en gewildheid verwerf.”

Met die toekenning van die erepenning was Marais, die beskeie en ingetoë plattelandse komponis, dadelik in Suid-Afrikaanse musiekkringe ’n nasionale figuur.

Die jare op Benoni was waarskynlik die bedrywigste in die komponis se loopbaan. Van die baie geleenthede waarby hy betrokke was, was die volgende die belangrikste: die amptelike inwyding van die Voortrekkersaal, Benoni-Noord, op 2 Oktober 1950 deur Sy Edele adv. C.R. Swart, destyds Minister van Justisie; die inwyding van die N.G. Kerk te Capital Park. Pretoria, deur Sy Edele dr. W. Nicol, destyds Administrateur van Transvaal op 21 Augustus 1954; en ’n spesiale huldigingskonsert (op 27 Augustus 1954) van Marais se werke deur die Afrikaanse Musiekklub van Pretoria. By hierdie geleentheid in die Voortrekker-gedenksaal was die destydse Goewerneur-generaal en mev. Jansen asmede die toenmalige Minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap, wyle mnr. J. Viljoen, ook teenwoordig.

Gedurende hierdie jare het die geluk die komponis ook te beurt geval om twee betroubare bewonderaars in mnr. Louis Knobel (bariton) en mej. Helena Strauss (sopraan) te vind. Hierdie twee bekende sangers het by meeste van Marais se konserte in die Transvaal opgetree.

Teen Desember 1955, miskien as gevolg van ’n heimwee na die wye veld waarvan sy liedere spreek, het Marais na Graaff-Reinet teruggekeer. Na 36 jaar as kerkorrelis was dit nou tyd om af te tree en te ontspan, en  sy nuwe tuiste in Cypress Grove was die geskikste plek daarvoor. Nietemin was die drang om as musiekonderwyser voort te gaan, nog sterk en, omdat daar ’n tekort aan gekwalifiseerde musiekonderwysers was, vind ons Marais gou in die tuig terug. Van Januarie 1957 was hy senior musiekonderwyser aan die Hoërskool Unie en van 1961-4 het hy ’n soortgelyke pos aan die Hoër Volkskool beklee.

Foto: Die komponis se klavier in die egpaar se woning op Graaff-Reinet. Aan die muur hang verskeie van die stillewes wat Marais as stokperdjie skilder

In Mei 1960 het ’n gedenkwaardige geleentheid plaasgevind toe die komponis na Port Elizabeth afgereis het om ’n sanguitvoering deur Suid-Afrika se internasionaal-bekende sopraan, Mimi Coertse, by te woon. Haar derde toegif was ’n skitterende vertolking van die komponis se Heimwee. In haar het die komponis een van die aangrypendste vertolkers van sy liedere gevind en dis grotendeels aan haar te danke dat Marais se werke wye bekendheid verwerf het. Sy het nie slegs plaatopnames van sy liedere gemaak nie, maar sy kan ook beskou word as die komponis se ambassadeur in Europa. (Hanlie van Niekerk en Cato Brink is nog twee sangeresse wat Marais se liedere oorsee bekend stel). Daardie aand na Mimi Coertse se uitvoering is ’n groepie mense deur die burgemeester, mnr. A. Markman, onthaal. Hierdie gesellige byeenkoms het gou op ’n eersteklas impromptukonsert uitgeloop waarby verskillende gaste opgetree het, o.a. S. le R. Marais as solis en later as begeleier vir Mimi Coertse, wat ’n keurspel van sy liedere gesing het.

Hoewel die komponis sedert sy aftrede min liedere gekomponeer het, was hy nog steeds met skeppende werk besig, en op 25 Maart 1962 het die eerste opvoering van Lida en die Liedjie-skrywer, ’n operette in vier bedrywe, plaasgevind. Hierdie werk, opgedra aan die Hoër Volkskool, was bestem om groot sukses te behaal. In dieselfde jaar, die wordingsjaar van die Republiek, is die operette deur die leerlinge van die Sentrale Hoërskool, Bloemfontein, opgevoer onder leiding van Michael Casaleggio, bygestaan deur professionele orkesbegeleiding. By hierdie geleentheid was die Staatspresident en mev. C.R. Swart en die Direkteur van Onderwys in die Vrystaat, mnr. E. van Kerken, ook teenwoordig. Met sy ballet- en koor-items het Lida reeds baie skooloperettegeselskappe geboei.

Gedurende 1963 het verdere eerbewyse die komponis te beurt geval toe die Staatsfilmproduksie-eenheid ’n kort rolprent van ongeveer 15 minute oor die komponis gemaak het. Die doel daarvan was om die komponis en sy werk aan die jeug voor te stel. Die rolverdeling was: Louis Knobel (produksieleier van die Staatsfilmeenheid), Mimi Coertse, Helena Strauss, Frederick Dalberg en die komponis.

Foto: ’n Weergawe uit die rolprent oor Marais as komponis. Hier vertolk Louis Knobel een van Marais se liedere terwyl die komponis hom begelei

Teen die einde van 1964 het die komponis van die onderwys afskeid geneem. Nou kon hy ontspan en die sukses wat hy behaal het sedert hy sy professionele loopbaan ongeveer vyftig jaar tevore begin het, rustig in oënskou neem.

Marais, hoofsaaklik ’n liedere-komponis, is een van die eerste baanbrekers van die Afrikaanse liederekuns. Hy het begin in ’n tydperk toe die Afrikaanse taal nog in sy kinderstadium verkeer het, die getal digters beperk en die bruikbare gedigte skaars was. Wat sy bydrae betref, het mnr. Anton Hartman, dirigent van die S.A.U.K. se Simfonie-orkes, in 1947 verklaar: “Hy het waarskynlik meer as enige ander persoon gedoen om die Afrikaanse sanger van liedere in sy eie taal te voorsien.” In hierdie opsig dien sy eenvoudige, vloeiende, singbare liedere as fondament vir die opbou van ’n oorspronklike Afrikaanse liederekuns.

Marais se gewildheid as liedere-komponis Iê daarin dat die gewone luisteraar dit kan waardeer en tog is die kunsgehalte van sy werke hoog. Hy is by uitstek ’n romantikus en dus oorheers die emosionele aspekte van sy musiek. Sy direkte benadering, verbonde aan sy fyn aanvoeling vir die Afrikaanse taal, die trefkrag van sy melodieë en sy begrip van die vereistes van die menslike stem, het algemene gewildheid vir sy liedere verwerf.

In die musiekgeskiedenis gebeur dit selde dat ’n komponis gedurende sy leeftyd erken word. Ongeveer vyf-en-twintig jaar gelede toe die tweede druk van Heimwee verskyn het, het die kritikus van Die Burger, Emol, geskryf:

Foto: Voorbladsy van “Heimwee na die See”

“Ek heet hierdie lied nogmaals welkom. Hy gee my moed vir die toekoms. Ek wens dat daar van ons sangers en sangeresse kan wees wat kan insien dat hierdie lied sowel as die andere liedere van mnr. Marais niks afbreuk aan hul status sal doen as hulle gesing word nie. Daar is sommige van hulle wat maar te gou is om te sê dat daar niks in Afrikaans is wat die moeite werd is om te sing nie. As so ’n sanger of sangeres dit vir my sê; weet ek onmiddellik met wie ek te doen het en wat die status van so ’n persoonlikheid is.”

Geen ander komponis het meer as Marais bygedra om Afrikaans tot sangtaal te verhef nie. As ywerige en nougesette komponis het hy 91 liedere voortgebring, waarvan 56 reeds teen 1946 gepubliseer was. Van laasgenoemde is 19 liedere al op plate aangebring. Sy Heimwee en Kom Dans

Klaradyn (waarna dikwels verwys word as die Suid-Afrikaanse “Uitnodiging tot die Wals”) verskyn  reeds op sewe en nege plate onderskeidelik. Watter ander Suid-Afrikaanse komponis kan van soortgelyke prestasies op die gebied van sang spog?

Marais, die mens, sal altyd ’n raaisel bly, want dit is moeilik om te begryp dat hy tevrede was met die nederige en roetine-pligte van kerkorrelis en onderwyser meestal op die platteland. As opregte, eerlike en godsdienstige mens is Marais se treffendste eienskap sy beskeidenheid, want hy openbaar ’n afkeur daarin om oor homself en sy werk te praat, veral teenoor vreemdelinge.

Foto: Een van Marais se stillewes wat in sy eetkamer hang

Die een groot besieling in sy lewe is die natuurskoon en dit word weerspieël in talle skilderye uit sy hand wat ewe passend sy woning versier. Hy is ’n ywerige amateurskilder. Stillewes is sy geliefkoosde onderwerp en reeds in 1925 het hy ’n eerste prys in hierdie afdeling by geleentheid van ’n kunswedstryd in Bloemfontein verower. In 1954 het hy ’n uitstalling van sy skilderye in Benoni gehou. Die vraag wat ontstaan, is waar hy by al sy ander bedrywighede nog vir palet en penseel tyd gevind het.

 

Bron: Henning, C.G. 1965. Lantern, Junie, pp. 36-45.

 

VOLLEDIGE LYS VAN KOMPOSISIES

Liedere

1928 Vier Afrikaanse Sangstukke:

  1. Wees sterk my siel (JFE Celliers)
  2. Slaapdeuntjie (JRL van Bruggen)
  3. Viermaal gesien (Totius)
  4. Amors Konfetti (JFE Celliers)

1930 Heimwee      (JRL van Bruggen)

1930 Die Roos en ander Afrikaanse liedere:

  1. Die Roos (AG Visser)
  2. Dis Al (JFE Celliers)
  3. As Saans (AD Keet)
  4. Die Kindjie (CJ Hofmeyer)
  5. Met ’n mandjie rose (AG Visser)
  6. Kinderlied (AD Keet)
  7. Gebedjie (JFE Celliers)

1932 Vyf kunsliedere: (Opgedra aan mev B du Preez)

  1. Voor jou en my (A van Scholtema)
  2. Geboorte van die lente (AG Visser)
  3. Mali, die Slaaf, se lied (CL Leipoldt)
  4. Avond (A van Scholtema)
  5. Sluimer beminde (Dirk Mostert)

1932: Twee Gewysigde Sangstukke:

  1. Langs stille waters (Theo W Jandrell)
  2. Och! Dat Uw Geest den Leraar sterk (Uit Gesangboek)

1932 Letaba (Victor Pohl) Vertaal deur AC Visser

1934 Bosveld toe en twee ander liedere:

  1. Bosveld toe (CF Visser)
  2. Gee my (JRL van Bruggen)
  3. Nuwe somer (Eitemal)

1935 Kom dans Klaradyn (CJ Visser)

1936 Heimwee na die See (JRL van Bruggen)

1936 Lentelied (JRL van Bruggen)

          Herfsaand (CM van den Heever)

1937 Twee Huweliksliedere:

  1. Huwelikslied (1937) (PH Langenhoven)
  2. Troulied (1934) (SJM Osborne)

1937 Helderus (Dirk Mostert)

1937 Matrooslied (ID du Plessis)

1938 Ses kunsliedere:

  1. Moeder (AD Keet)
  2. Bosveld huisie (Ben Dreyer)
  3. Salut d’amour (AG Visser)
  4. Lied van die Wonderboom (AG Visser)
  5. Amoreuse Liedeken (Dirk Mostert)
  6. Treurlied (CL Leipoldt)

1946 15 Afrikaanse Slaapdeuntjies: (Een-, twee- en vierstemmige liedere) (Gekomponeer tussen 1939-1945)

  1. Doe-doe (JRL van Bruggen)
  2. Doe-doe, my Baba (JRL van Bruggen)
  3. Doe-doe, my Baba (JRL van Bruggen)
  4. Buite suis die sagte windjie (JRL van Bruggen)
  5. Soesa my lammetjie (JRL van Bruggen)
  6. Buite suis die sagte windjie (JRL van Bruggen)
  7. Slaapliedjie (Hilda Postma)
  8. Aandlied (Hilda Postma)
  9. Slaap, kindjie, slaap (JRL van Bruggen)
  10. Slaap, kindjie, slaap (JRL van Bruggen)
  11. Wiegelied (Hilda Postma)
  12. Wiegelied (Hilda Postma)
  13. Middagslapie (AC Visser)
  14. Klaas Vakie (AD Keet)
  15. Voortrekker Wiegelied (Victor Pohl)

1943 Die Boerenooi staan brandwag (CF Visser)

Let wel: Alle gegewe datums is deur die komponis voorsien. Alle liedere is deur R. Mulle gepubliseer, (eerste druk) en later meestal deur Boosey en Hawkes

 

Liedere in die FAK

Kode       Lied

A             Suid-Afrika (4 stemme) (Digter: TW Jandrell, 1920)

A,B,C       Maar een Suid-Afrika (Digter: AD Keet, 1928)

A,C          Amors Konfetti

A,C          Die Roos

A             Slaapdeuntjie

A,C          Huwelikslied (Wees bly my hart)

A,B,C       Kom dans Klaradyn

A,B          Bosveld huisie

A             Die Voortrekkerslied (Digter: CJ Langenhoven)

C              Helderus

C              Sluimer beminde

C              As saans

C              Heimwee

 

Kode:      A – FAK (1937) Eerste bundel

                B – FAK (1947) Aanvullingsbundel

                C – FAK (1961) Tweede druk

 

Koorwerke

1940 Drie gewyde koorstukke (Eerste Koorboek):

  1. Kom Heilige Geest (Na Hallelujaboek)
  2. Heer, waar dan heen? (Na Gesangboek)
  3. Rust myn siel (Na Gesangboek) (Gepubliseer deur Boosey & Hawkes)

1958 Lofgesang (Tweede Koorboek):

Foto: Voorbladsy van “Lofgesang”, ’n belangrike bydrae tot die Suid-Afrikaanse kerkmusiek

  1. Halleluja Ewig Dank en Ere (Gesangboek)
  2. Slaap maar langer en rus (Bybel)
  3. Prys die Heer (Gesangboek)
  4. Rus van vermoeides (Hallelujaboek)
  5. Langs stille waters (Theo Jandrell)
  6. Uit al my bande, droefheid en wee (Hallelujaboek)
  7. Op berge en in dale (Gesangboek)
  8. God is my Herder (Hallelujaboek)
  9. Kom na my toe (Bybel)
  10. Had ek maar vlerke soos ‘n duif (Bybel)
  11. Lofsang van Maria (Bybel)
  12. Kom Heil’ge Geest (Hallelujaboek)
  13. Psalm 25 (Gesangboek)

(Voltooi teen 1952)(Gepubliseer deur Boosey & Hawkes)

 

Teater

1961 Lida en die liedjieskrywer – Operette in 4 bedrywe, Libretto Joan Retief: Uitgegee deur die FAK, Opgedra aan die Hoër Volkskool Graaff-Reinet

 

Klavier

1946 My eerste musiekboek, Uitgegee deur R Muller, opgedra aan EJM (my vrou)

 

Ongepubliseerde werke

35 Liedere (Die meerderheid van hierdie liedere is na 1936 gekomponeer.)

2 Operettes (Albei in 1937 voltooi.)

3 werke vir klavier en orrel onderskeidelik

 

Plaatopnames

1931 HMV Gx 558 Heimwee (Joan Mitchie)

1941 African Sound Recorders Oktobermaand, Sluimerlied (Wellington Training College Choir) (15.10.1941)

1957 LXT 5328 (Gallo)

  1. Lentelied (Mimi Coertse)
  2. Heimwee
  3. Kom dans Klaradyn
  4. Dis al
  5. Die roos
  6. Sluimerlied
  7. Moeder
  8. Met ’n mandjie rose
  9. Die kindjie
  10. Gebedjie
  11. Slaap, kindjie, slaap

1958 CEP 498 (Decca 45) (Gallo)

  1. Lentelied (Mimi Coertse)
  2. Heimwee
  3. Kom dans Klaradyn
  4. Dis al
  5. Die roos
  6. Sluimerlied

CEP 499

  1. Gebedjie
  2. Moeder
  3. Met ’n mandjie rose
  4. Die kindjie
  5. Slaap, kindjie, slaap

1959       GALP 1029 (Gallo)                Herfsaand

                ALD 6315                              Kom dans Klaradyn (Gramophone Rec. Co. Jo’burg)

                5540 (Gallo)                          Sluimerlied

1960       GALP 1084 (Gallo)                Matrooslied

                                                                Heimwee

                                                                Bosveldhuisie

                1116 (Gallo)                          As saans

                                                                Die kindjie

                                                                Met ’n mandjie rose

                3042 (Gallo 78)                    Slaap, kindjie slaap (Verwerk De Kock)

1961       GALP 1156 (Gallo)                Salut d’Amour

                                                                Lentelied

                GALP 1136                            Kom dans Klaradyn

                GALP 1191                            Met ’n mandjie rose

                                                                Kom dans Klaradyn

                UNA 1515                             Kom dans Klaradyn

1962       CE 4207 (Gallo)                     Lentelied

                GALP 1219 (Gallo)                Kom dans Klaradyn

                UNA 1533                             Kom dans Klaradyn (Gr. Rec. Co.)

1963       GALP 1280                            Kom dans Klaradyn

                ALD 6379                              Heimwee CBS

                UNA 1506                             Heimwee CBS

                LST 602 (Trutone)                Heimwee

                                                                Die roos

                                                                Sluimerlied

                                                                Salut d’Amour

 

SAUK-opnames

As ek moet sterwe liefste

Bosveld toe en twee ander liedere

Die Boerenooi staan brandwag

Nuwe somer

Die donkerstroom

Gebed

Heimwee

Helde-rus

Kom dans Klaradyn

Matrooslied

Oktobermaand (duet)

Die roos

Roseknoppies

Ses kunsliedere: Moeder, Bosveldhuisie, Salut d’Amour, Lied van die wonderboom, Treurlied

Sluimerlied

Sluimerlied (met tjello-begeleiding)

Vyf kunsliedere: Voor jou en my, Geboorte van die lente, Mali, die slaaf se lied, Avond, Sluimer beminde

Herfsaand

Lied van die Blomkoningin

Vier Afrikaanse sangstukkies: Wees sterk mijn siel, Slaapdeuntjie, Amors Konfetti

Offerande

Dis al

Lied van die Letaba

Lentelied

Herfsaand

Slaapliedjie (met orkes)

Doedoe, my baba (met orkes)

Soesa my lammetjie (met orkes)

Buite suis die sagte windjie (met orkes)

Klaas vakie (met orkes)

Boodskap van die ossewa (met orkes)

Gebedjie (met orkes)

Heimwee na die see (met orkes)

Mymering

Suid-Afrika

Voortrekkerlied

Met ‘n mandjie rose

Kinderlied

Nagrit

Wit duiwe

Letaba

Die kindjie

As saans