Gregoire Boonzaier (1909-2005)

Die Paleis van Justisie – Sieraad uit ’n vorige eeu
Oktober 12, 2018
15 jaar – Jak de Priester
Oktober 13, 2018

Mens en kunstenaar

Vyftig jaar gelede, van 9 tot 29 Februarie 1928, het Gregoire Boonzaier se eerste professionele uitstalling in Ashbey’s, Kaapstad, plaasgevind.

In September 1978, ’n halfeeu en 100 uitstallings later, word ’n retrospektiewe huldigingsuitstalling die skilder se werke deur die Potchefstroomse Universiteit vir CHO aangebied.

Gregoire, wat op 31 Julie sy 70ste lewensjaar betree, werk nog gereeld in sy ateljees in Kenilworth en Onrust. Hy is tans besig met ’n reeks linosneë en verskeie nuwe werke vir die jubileum-uitstalling.

Foto: Selfportret 1976. Houtskool

Gregoire Boonzaier se rol in ons kunslewe oor ’n tydperk van meer as ’n halfeeu het aan hom ’n benydenswaardige ereposisie besorg: sy statuur is onbetwisbaar, sy gewildheid landwyd en die erkenning van sy bydrae tot skilderkuns in Suid-Afrika neem steeds toe.

Om in die bestek van ’n paar bladsye reg te laat geskied aan die mens en kunstenaar, Gregoire, is egter ’n onbegonne taak. Daarvoor is sy lewe te vol en veelbewoë, sy kuns te veelsydig, sy persoonlikheid te verwikkeld. ’n Mens kan hoogstens ’n paar fasette van sy loopbaan en kuns uitlig, ten einde te probeer bydra tot ’n beter begrip van die verfynde heer en begenadigde kunstenaar wat hy is.

 

Kinderjare

Gregoire se kinderjare lees soos ’n sprokie. Gebore op 31 Julie 1909 in Nuweland, Kaapstad, het hy sy jeugjare geslyt in hierdie boomryke, ylbewoonde gebied, aan die voet van die oostelike hange van Tafelberg. Vir sy sensitiewe gees was dit ’n wêreld van reën, wind en wolke; nat, koud en grys met skakerings van groen. Oral was bome, blink-nat denne en kaal eikebome, waarvan hy die takke uit sy slaapkamervenster kon aanraak.

Die lewenstyl en atmosfeer aan huis van die Boonzaiers was kultuurdeurdrenk. Sy vader, die spotprenttekenaar D.C. Boonzaier, was ’n kunskenner, musiek- en toneelliefhebber, ’n belese man, wat sy gesin berekend kultureel gevorm het. Ten midde van kosbare versamelings Japannese houtsnee, ‘netsukes’, Oosterse keramiek, skilderye en beeldhouwerke van plaaslike kunstenaars, het die ses kinders gereeld musiekaande gehou, waartydens die 3 dogters klassieke klavierstukke voorgedra het en geluister is na die destydse rariteit, ’n grammofoon. Die vader het ook gereeld vir sy gesin voorgelees uit klassieke Russiese, Franse en Engelse skrywers se werke en afdrukke van die impressioniste en Hollandse meesters met hulle bespreek.

Nog voor hy skool toe is, het Gregoire al begin teken. Sy eerste pogings is geïnspireer deur die oorlogsillustrasies van daardie tyd, maar spoedig het hy begin om moeiliker onderwerpe soos Japannese afdrukke, ‘net-sukes’ en patrone op borde, na te teken.

Gregoire was sewe jaar oud toe Wenning aan die Kaap kom skilder het. Hy het ’n huisvriend van die Boonzaiers geword en die seuntjie Gregoire kon dikwels op skilderuitstappies en tydens gesprekke met D.C. Boonzaier en sy vriende, Kottler, Sangiro en Van Wouw, in Wenning se geselskap gesien word.

Foto: Dansende samovar. Olie

Toe D.C. Boonzaier in 1919 ’n potloodtekening van Gregoire aan Wenning stuur vir kommentaar, is sy antwoord: ‘Hy sal die hele spul van ons nog uitstof binne 6 of 7 jaar’.

Twee jaar na Wenning se dood voltooi Gregoire sy eerste olieverfskildery. ’n Jaar later skilder die veertienjarige Gregoire ’n grasdakhuis in ’n eikebos waaroor D.C. Boonzaier in sy dagboek skryf: ‘Die skildery is inderdaad so buitengewoon goed dat ek dit sonder aarseling saam met van Wenning se beste werke plaas. Toe Kottler die skildery vandag sien, het hy by herhaling gesê: “Goed. Baie goed.”.’ (31 Mei 1924).

Dit was Kottler wat sy eerste verfdoos aan Gregoire geskenk het. In 1926 skenk Nita Spilhaus haar esel aan Gregoire. Sy vader vergesel hom op die meeste van sy skilderuitstappies, help hom pak en hou sy esel in die wind vas en ’n sambreel oor hom waar hy dikwels ure-lank in die reën staan en skilder.

Die genialiteit van Gregoire was spoedig alombekend in die Kaap: reproduksies van sy skilderye verskyn in talle koerante en tydskrifte met vleiende resensies; in 1924 ontvang hy vir die eerste keer betaling vir tekeninge van hom in ‘Die Huisgenoot’, en later die jaar verkoop hy sy eerste olieverf aan ’n sekere Herbert Read in Johannesburg vir R8.80; hy stal verskeie kere uit en verkoop ’n dertigtal werke terwyl hy nog op skool is; van die bekendste persoonlikhede van dié tyd kom kyk na die jong Gregoire se werke waaronder Roworth, Pierneef, Sir Max Michaelis, genl. Hertzog, min. N.C. Havenga en dr. D.F. Malan.

 

Op eie bene

Gregoire voltooi sy skoolopleiding einde 1927, en gaan werk by ’n assuransiemaatskappy, maar is binne ’n week genoop om te bedank deur sy vader, wat op ’n skilderloopbaan vir hom besluit het. Hy is verplig om sy vader se klein ateljee tuis te deel en om volgens dié se voorskrifte te werk. D.C. Boonzaier het sy gesin soos ’n onverbiddelike outokraat geregeer.

Foto: Distrik Ses 1970

Van formele kunsopleiding vir die talentvolle Gregoire wou hy niks weet nie, want hy het geglo dat opleiding natuurlike aanleg bederf. Sy vriende, die kunskritikus Bernard Lewis, sakeman Cecil Sibbett, Sir Max Michaelis en Percival Small, ’n Engelse skilder wat ’n paar jaar in die Kaap gewoon het, het almal daarop aangedring dat Gregoire oorsee gaan studeer. Hulle het selfs aangebied om vir sy opleiding te betaal. Maar D.C. Boonzaier was onversetlik.

Kottler, wat Gregoire aanvanklik aangemoedig het, begin later belangstelling in die seun verloor en sê hy teken swak. Gwelo Goodman sê dis dwaas om Gregoire nou-al te Iaat uitstal – hy moet eers oorsee gaan om te studeer. Gregoire self begin al hoe meer sy tegniese gebreke en die tekortkominge van sy opleiding aanvoel.

Met sy vader as bekwame impresario word Gregoire se loopbaan as professionele skilder op 9 Februarie 1928 gelanseer met ’n uitstalling van 27 werke in Ashbey’s. Dertien van die werke word verkoop, teen ’n gemiddeld van R25 stuk. In Oktober vind die volgende uitstalling plaas. Intussen stuur vader Boonzaier gereeld werke van Gregoire na Lewis in Windhoek en Lezard in Johannesburg terwyl hyself knaend werke bemark uit sy kantoor in die stad. Hy lewer kort-kort met tevredenheid kommentaar in sy dagboek oor hoe Gregoire se bekendheid toeneem…maar meld ook dat Gregoire steeds traer word om skilderye te produseer.

Nog 6 uitstallings volg, waarvan een in Stellenbosch, in April 1930, die eerste uitstalling van Gregoire se werke buite Kaapstad is.

Foto: Bottelverkoper, Distrik Ses 1975. Linosnee

Op 31 Januarie 1934 verlaat Gregoire sy ouerhuis en betrek sy eie ateljee in Langstraat. Met die steun van vriende soos Bernard Lewis en Arthur Shacksnovis hou hy verskeie uitstallings in Kaapstad en Pretoria om hom in staat te stel om op eie koste oorsee te gaan.

In Februarie 1935 vertrek hy na Engeland met die s.s. Ubena.

 

Oorsee

Die eerste twee jaar van sy verblyf in Londen studeer hy aan die Heatherley School of Art in tekenkuns. Vir ’n verdere jaar konsentreer hy op etswerk en litografie aan die Central School of Arts and Crafts. Naweke en vakansies toer en skilder hy, veral in Cornwall, waar hy met die werke van Christopher Wood kennis maak.

Gregoire besoek ook verskeie lande op die vasteland, soos Frankryk, Portugal en Rusland. Hy bring ’n wintervakansie in Spanje deur, saam met Terence McCaw, spesiaal om te skilder. Hy stal gereeld uit saam met lede van Britse kunsklubs en by twee geleenthede word van sy werke aangeneem vir die prestige-uitstallings van die Koninklike Akademie in Londen. Van tyd tot tyd stuur hy skilderye na Suid-Afrika.

Volgens Gregoire het die grootste waarde van sy Europese jare gelê in die persoonlike aanskouing van werke van die meesters: bv. die Haagse Skool, wie se Jakob Maris sy jeugheld was; ook Cézanne, Braque, Degas, Gauguin, Van Gogh en Utrillo, wie se werk hy so dikwels in opdrag van sy vader moet nateken. Hy het veral die werk van Utrillo en Van Gogh bewonder en hulle styl, asook dié van Christopher Wood nageboots. Hierdie eksperimente – van sy vrotste werke, in Gregoire se eie woorde – het hom gehelp om ’n eie styl te ontwikkel. Die tipiese Gregoire-styl, waarna die kritici al voor sy vertrek in 1935 verwys het, het gedurende sy verblyf oorsee meer besonke en selfversekerd geraak vanweë ervaring en nuutverkreë tegniese vaardigheid.

In Desember 1937 keer Gregoire vol entoesiasme terug na Suid-Afrika.

 

Kunspionier

Besield met die drif om vernuwing te bring, begin Gregoire Boonzaier spoedig ’n toonaangewende rol in die Kaapse kunslewe speel. Met die daadwerklike ondersteuning van kunstenaars soos Charles Peers, Lippy Lipshitz, Freida Lock, Alexis Preller en Walter Battiss is Gregoire grotendeels verantwoordelik vir die stigting van die Nuwe Groep in 1938. Hierdie vereniging het vir vyftien jaar lank die Suid-Afrikaanse kunslewe gestimuleer en gerig. Gregoire was vir agt jaar voorsitter van die Nuwe Groep.

Foto: Moskee met Duiwelspiek, 1975

Met die hulp van adv. C. Te Water was Gregoire ook verantwoordelik vir die stigting van die huidige Suid-Afrikaanse Kunsvereniging.

Sy grootste bydrae op die terrein van kunsbevordering lê ongetwyfeld in sy baanbrekerswerk om kuns na die platteland te neem en die kunssmaak en -waardering van ons mense op te hef. Oor ’n tydperk van twaalf jaar het hy in meer as 40 plattelandse dorpe uitstallings en lesings gehou. Met die hulp van die Raad vir Volwassene Onderwys het hy landwyd propaganda gemaak vir goeie kuns; mense aangemoedig om kunsversamelings te begin; skoolhoofde aangespoor om kunswerke in hul skole te vertoon en vertrekkende skoliere om skilderye aan hul skole te skenk. Dr. S.H. Pellissier, destyds hoof van die Hoërskool Ficksburg, het hierdie goeie gewoonte by sy skool aangemoedig en later, as Direkteur van Onderwys in die O.V.S., ’n 50 persent subsidiestelsel vir die aankoop van kunswerke deur skole ingevoer.

Deur hierdie kunsbevorderingsreise het Gregoire vanselfsprekend duisende mense leer ken en nie alleen vir kuns in die algemeen ’n lansie gebreek nie, maar ook sy eie naam en skilderkuns landwyd bekendgestel.

 

Gevestigde kunstenaar

Erkenning het nie uitgebly nie. Gregoire se styl het trouens van die begin af in die publiek se smaak geval. Die veelsydigheid, eerlikheid en ongekunsteldheid van sy lewe en kuns, tesame met sy opregte liefde en respek vir sy professie, het algaande aan hom ’n unieke statuur in die Suid-Afrikaanse kunslewe besorg. Sy verbasende produktiwiteit, volgehoue belangstelling in kunssake en bemoeiing met georganiseerde kuns dra steeds hiertoe by. Hy word inderdaad allerweë as die nestor van S.A. kunsskilders beskou.

In 1949 skryf Gregoire en Lippy Lipshitz ’n boek oor Pieter Wenning; in 1958 ontvang hy die goue erepenning vir skilderkuns van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns; in 1964 verskyn dr. F.P. Scott se monografie oor Gregoire; in 1968 bied Sanlam ’n oorsigtelike Gregoire-uitstalling aan as deel van hul 50-jarige feesviering; talle van sy skilderye hang in munisipale, nasionale en oorsese kunsmuseums en in Suid-Afrikaanse Ambassades oorsee. Sy laaste uitstalling in Transvaal was in Oktober 1973, toe een van sy werke vir R9 000 verkoop is – ’n rekordbedrag vir ’n skildery van ’n lewende Suid-Afrikaanse kunstenaar.

 

Invloede op sy kuns

Gregoire se kuns is moeilik met ’n enkele-isme of rigting te karakteriseer; ewemin kan ’n oorheersende invloed van die een of ander kunstenaar of rigting op sy werk uitgewys word. Dat verskeie plaaslike kunskritici vroeër of later in hierdie slaggat getrap het, getuig van ’n onvermoë om Gregoire se veelsydigheid te bevat.

Dat Wenning die jong Gregoire beïnvloed het, kan nie weggeredeneer word nie. Getoë in die grys winters van die Kaap aan die voete van sy vader wat ’n bewondering vir die Hollandse meesters gehad het en hom van kindsbeen af die werke van die Haagse skool, Vermeer en ander laat nateken het, is dit vanselfsprekend dat Wenning, wat al hierdie kenmerke in hom verenig het, sou bydra tot die vorming van die kuns van die ontluikende kunstenaar Gregoire. Wenning se seleksie van eenvoudige, alledaagse tonele as skilderonderwerpe, sy voorkeur vir bewolkte weer asook sy voorliefde vir lyn, het aanklank gevind by Gregoire se intuïtiewe kunsaanvoeling en ook by die gangbare kulturele voorkeure van die omgewing waarin hy opgegroei het.

Foto: Landskap met wolk 1975. Olie

Uit hierdie milieu spruit ook Gregoire se aangetrokkenheid tot die Oosterse kuns. Met groot nougesetheid het hy reeds as tienjarige ‘netsukes’ en Japannese kleurafdrukke, veral van Hokusai, uit sy vader se versameling nageteken. Dis nie gewaagd om te beweer dat die Japannese kuns Gregoire in ’n groter mate beïnvloed het as wat algemeen aanvaar word nie: veral t.o.v. die skilderagtigheid van alledaagse voorwerpe, selektiewe waarneming en dekoratiewe lyngebruik. Dis opvallend dat verskeie meesters wat deur Gregoire bewonder word, soos Gauguin, Cézanne en Van Gogh, ook sterk deur die Japannese afdrukkuns beïnvloed is. Veral Van Gogh is deur hul meesterlike kleurgebruik en sterk lynwerk aangegryp tydens sy oorgang uit die somber tonaliteite van sy Haagse periode. Kenmerkend van die Japannese benadering is die arbitrêre perspektiewe, die plat, uniforme kleurvlakke en sterk omlyning van voorwerpe. ’n Mens hoef nie ver te soek na hierdie eienskappe by Gregoire nie.

Tydens sy studieverblyf in Europe is Gregoire deur verskeie kunstenaars bekoor, veral deur die post-impressioniste. ’n Sekere Christopher Wood, wat sterk onder die invloed van Picasso was, se onkonvensionele kleurgebruik en primitivisme het Gregoire beïndruk en tydelik ’n neerslag in sy werk gevind. Wood het oor die merkwaardige eienskap beskik dat hy ander kunstenaars se style en formules eksperimenteel beoefen en in sy eie werk geïnkorporeer het. Miskien het iets van Wood se sensuele primitivisme en sintese-filosofie by Gregoire Boonzaier behoue gebly, veral in sy werke wat na die eksperimentele neig.

’n Van Gogh-ekskursie was o.m. ook deel van Gregoire se Europese ervaring. Hy het selfs vir ’n tyd lank Van Gogh se kleurverdelingsbenadering nageboots. Tog, hoewel Gregoire erken dat hy geweldig beïndruk was met Van Gogh se kleurgebruik, het weinig direkte invloed ’n neerslag in sy werk gevind. Van Gogh het hom geleer om homself te wees, bieg hy, juis deur hom terug te forseer na sy eie styl en aanslag. Kritici soos Werth en Volschenk voel tog die invloed van Van Gogh aan in sekere ekspressiewe portrette en selfportrette van Gregoire.

Nog ’n post-impressionis wie se invloed Gregoire self op sy werk erken, is Maurice Utrillo. Hy het as kind afdrukke van Utrillo se Parystonele bewonder en beskou hom vandag nog as meester van die straattoneel. Utrillo se invloed op Gregoire kan veral gesien word in daardie tonele waar hy met sy liriese, simpatieke benadering die Maleierbuurt en ander straattonele met sensitiewe kleure en dun verfaanwending vol atmosfeer weergee.

Ook Cézanne se werke is deur Gregoire bewonder en bestudeer. Skrywers soos Dekker en Volschenk vind ’n neerslag van Cézanne se invloed in sommige van Gregoire se stillewes en landskappe, hoofsaaklik t.o.v. die ritme van vlakke en lyne, die komposisies en sekere karakteristieke Cézanne-kleure.

Gregoire was ’n baanbreker op die gebied van kubistiese abstraksie in Suid-Afrika. Hiertoe is hy geïnspireer deur die werke van George Braque, ’n kubis wie se poëtiese benadering en somber palet nouer by Gregoire se persoonlike benadering aansluit as byvoorbeeld Picasso. Hierdie invloed is nog teenwoordig in sekere van Gregoire se stillewes en dekoratiewe kubistiese aanpassings van Suid-Afrikaanse tonele.

 

Tipiese Gregoire

Die aanduiding van soveel invloede op die kuns van Gregoire Boonzaier laat onwillekeurig die vraag ontstaan of die Gregoire wat ons ken veel méér is as die som van die invloede. ’n Mens sou veel eerder kon sê die kenmerkende, tipiese Gregoire is ’n unieke sintese tussen elemente van die stemmingsvolle Haagse Skool, die post-impressionistiese meesters van gevoelsinhoud, vormgewing en kleurgebruik en die kunstenaar se eiesoortige filosofie van skoonheid in eenvoud, poësie in lyn en kleur.

In die woorde van dr. A.J. Werth, kurator van die Pretoriase Kunsmuseum, is daar ‘baie meer in Gregoire Boonzaier se kuns as wat uit ’n blote aanduiding van invloed op sy kuns gevind kan word: daar is die sterk eie en persoonlike “handtekening” wat spreek uit sy liriese waterverfskilderye en tekeninge; die rake tekeninge, in effe senuagtige, beweeglike lyne uitgevoer; die skilderye van Kaapse dennebome, gebuig deur die wind, teen ’n opwindende lug van jaende wolke; die geheimsinnige, byna surrealistiese wêreldjie van ’n klompie skulpe; die uiters simpatieke siening (soms met ’n tikkie humor) van die Kleurling in al hul daaglikse werksaamhede … Deur al die ryke verskeidenheid van fasette wat sy kuns openbaar, is die tipiese Gregoire “handtekening” tog sigbaar: die rake lyntekening, die eienaardige droë verfaanwending, die persoonlike kleurgebruik en stemming.’

Foto: Verlate rooi en geel huise, Distrik Ses, 1975. Olie

Gregoire geniet wye erkenning op grond van skilderye van sekere temas wat deur die publiek as ‘tipiese Gregoires’ beskou word, o.a. Distrik Ses-straattonele, Kaapse akker- en dennebome, pondokkies en portrette van Kleurlinge. Wie egter nie ook deeglik kennis neem van Gregoire se elegante stillewes, kleurvolle blomstudies, strandtonele, grootse Oos-Vrystaatse landskappe, atmosfeervolle Bosveldtonele, speelse kubistiese eksperimente en sensitiewe interieurs – om nie eens te praat van sy pastelstudies, pentekeninge, etse en linosneewerk nie – kan nie reg laat geskied aan die waardering van hierdie veelsydige kunstenaar nie.

 

Waardering

Gregoire Boonzaier, die belese en berese kultuurmens, fynproewer, gasvrye raconteur, natuurliefhebber en ongekunstelde kindervriend, se hele wese en persoonlikheid is ten nouste verweef met sy kuns. Juis daarom adem sy werke die eerlikheid, onopgesmuktheid en menslikheid wat die kunstenaar kenmerk. As ’n mens die belangrikste bydraes van Gregoire die afgelope halfeeu moet verwoord, sal jy terdeë moet kennis neem van hierdie verweefdheid: Gregoire se lewe is sy kuns.

Gregoire se kuns is poëties-realisties, maar nooit ’n kopiëring van die natuur nie. Daarvoor is hy te ’n eerlike en verbeeldingryke kunstenaar. Elke kwashaal, elke unieke tegniese kwaliteit, bevestig dat sy werk allereers ’n skildery, ’n fantasie in kleur en lyn is. Dieselfde eerlikheid dwing hom tot vereenvoudiging, tot die weglaat van alles behalwe dit was essensieel vir die visie van die kunstenaar is: dikwels net die speelse lyn en die bekoorlike kleur. Hierdie sierlike ontledings loop maklik gevaar om te vervlak tot inhoudlose dekoratiwiteit. Gelukkig het dit nooit deel van Gregoire se styl geword nie, maar bloot ekskursies gebly, waarvandaan altyd terugkeer is na die selfversekerde, liriese aanslag van die ‘tipiese Gregoire’.

Tydens die September 1957-uitstalling van Gregoire in Johannesburg, het prof. T.T. Haarhoff opgemerk: ‘Gregoire Boonzaier het die gawe om die mooiheid uit te bring in die eenvoudiger en kleiner dinge van die lewe’. Vir Gregoire is daar in die mees onverwagte voorwerpe skoonheid opgesluit: die mure van ou murasies glim met verruklike kleurskakeringe en -tinte, kaal bome verskaf ’n somber kontras met die reëngryswinterlug van die Kaap, alledaagse dinge soos ou skoene, droë sonneblomme, ’n primusstoof, ’n donkiekar, viskoppe en bosveldsade herberg skoonheid wat wag om deur die kunstenaar vertolk te word. Gregoire huiwer nie om hom te bemoei met dié unieke vorms en kleure nie, op sy deeglike, pretensielose manier. Juis hierdie konfrontasies met die alledaagse toon die tegniese potensiaal en visioenêre vermoë van die kunstenaar.

Uit sy integriteit as kunstenaar, vloei Gregoire se beheptheid met die waardigheid van die kuns. In sy eie woorde: ‘jy moet nooit kuns goedkoop maak nie: kuns is ’n baie waardige ding – dit het ek van Welz geleer, en van my pa’. Hierdie filosofie blyk uit die noukeurigheid waarmee Gregoire sy doeke voorberei, die sorgvuldigheid waarmee hy elke skildery afwerk, die deeglikheid waarmee hy rame kies, die keurige wyse waarop hy sy werke stoor, hanteer en bemark. Geen werk wat nie aan sy eie hoë standaarde beantwoord, sal ooit Gregoire se handtekening dra of sy ateljee verlaat nie.

Soos Monet en Van Gogh gedoen het, is ook Gregoire lief om soms reekse variasies te skilder op ’n enkele tema. Veral boomgroepe, landskappe en straattonele bied telkens nuwe, eindeloos boeiende fasette aan die kunstenaar se ontleedkwas, waas hy as’t ware sy onderwerp tot in sy wese oopvlek. Ook hierdie benadering stel hoë eise aan die vakmanskap en opregtheid van die kunstenaar.

Gregoire se ontleedvaardigheid lei tot variasies ook in portrette van sy geliefkoosde onderwerpe: Kleurling-vissers, houtkappers, tabakdraaiers, arbeiders, mede-kunstenaars en wie ookal voor sy tekenbord beland. ‘Tekenoefeninge’, noem hy dit, maar dis in wese ’n sistematiese dissipline in sy strewe om karakteruitbeelding te vervolmaak.

Foto: Bosveldbome: olieverf

In sy karakterstudies, wat dikwels as selfportrette aangedui word (hoewel dit nie hier gaan om ’n getroue weergawe van gelaatstrekke of ’n realistiese gelykenis nie), bereik Gregoire se kuns visionêre hoogtepunte. Dit word aangrypende, ekspressiewe self-ondersoeke waarin die gemoed genadeloos opgevlek word, gedissiplineerd skilderkunstig verantwoord.

Ten slotte die woord van prof. Pierre Volschenk: ‘Gregoire sal onthou word vir die wyse waarop hy kuns deur woord en daad in die Suid-Afrikaanse lewe ingedra het. Wat hy sal nalaat sal altyd die getuienis bly van die lewe en werk van een van ons grootste koloriste’. Tog is hy meer as net ’n meester van kleur. Inderdaad is die aanspraak van Gregoire Boonzaier se werk universeel: die bekoring, menslikheid, eenvoud en tydloosheid van sy skeppings verhef dit tot die vlak van daardie ondefinieerbare kwaliteit: skoonheid. Daarvoor verdien hy ons dank en ons hulde.

 

Bron: Bekker, Martin. 1978. Gregoire Boonzaier: Mens en kunstenaar. Lantern, Julie, pp. 31-39.