Elisabeth Eybers (1915-2007)

Lisa se klavier
September 3, 2018
Verbindings gedurende die Anglo-Boereoorlog: Rapportgangers
September 3, 2018

Vanjaar sal dit 35 jaar gelede wees dat Belydenis in die skemering verskyn het – die eerste bundel van ’n toe nog volkome onbekende digteres uit Johannesburg. Prof. D.J. Opperman vertel in sy studie Digters van dertig dat die uitgewer destyds slegs bereid was om die risiko van publikasie aan te durf nadat prof. C.M. van den Heever belowe het om ’n voorwoord te skryf.

Die literêre kritici het egter dadelik die belang van dié publikasie besef: vir die eerste maal het hier – hoewel soms nog aarselend en onseker – die stem van ’n belowende digteres in die Afrikaanse letterkunde opgeklink.

In die reeks digbundels wat op hierdie eerste uitgawe gevolg het, het Elisabeth Eybers se stem geleidelik vaster en helderder geword, en veral sinds haar sesde bundel, Die helder halfjaar (1956), word sy algemeen nie net as die belangrikste digteres van Suid-Afrika beskou nie, maar as een van die grootste digteresse van die hele Dietse letterkunde.

Ook amptelike erkenning van haar werk het nie uitgebly nie. In 1945 is die Hertzogprys aan haar toegeken vir haar eerste twee bundels en in 1961 het sy die Akademieprys vir haar vertaling van Jules Supervielle se prosawerk Die os en die esel van die krip ontvang.

Elisabeth Eybers het ook ’n aantal kortverhale gepubliseer; twee daarvan is opgeneem in die bundel Kwartet wat in 1957 verskyn het en wat tewens verhale bevat van M.E.R., Ina Rousseau en Henriette Grové.

Foto: In die bundel “Kwartet” is twee verhale deur Elisabeth Eybers saam met werke van M.E.R., Ina Rousseau en Henriette Grové opgeneem.
Vir haar vertaling van Jules Supervielle se verhaal “Die os en die esel van die krip” het sy die Akademieprys in 1961 ontvang.

DIE JEUGJARE EN HUL INVLOED
Elisabeth Eybers is gebore in die pastorie van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Klerksdorp. Maar sy was nouliks ’n jaar oud toe haar vader, dr. John Eybers, ’n beroep na Schweizer-Reneke aangeneem het en in daardie Wes-Transvaalse dorpie het sy haar jeugjare deurgebring.

Later het sy erken dat haar kinderjare “die belangrikste en deurslaggewendste periode van (haar) lewe was, en in baie opsigte ook die gelukkigste”. Dis dan ook nie verwonderlik nie dat ’n mens tot in haar jongste bundels so dikwels verwysings na en herinnerings aan die omgewing van haar kinderjare aantref, en vanselfsprekend ook ’n sterk bewussyn van die twee mense wat haar jeug beheers en beïnvloed het: haar ouers.

Haar vader was ’n man wat sy lewe lank student gebly het, rustig en nadenkend van aard, met ’n behoefte aan helderheid en logiese redenering. In haar jeugherinnerings het sy dogter hierdie mooi portret van hom geteken:

“Vader se preektrant was sober en innig, sonder die dramatiese stemverheffings en gebare wat destyds menige dominee se forte was, en meestal ver bo ons kinderlike begripsvermoë. Gedurende sy preke het ons meer met ons oë dan met ons ore ingeneem: die lang, regop gestalte in die swart toga, die asketiese profiel en die gevoelige skraal hande wat langsaam en liefderik oor die blaaie van die oop Boek beweeg. Daar was iets onwêrelds, iets mistiesontroerends in die weeklikse getuienis van ’n diep en opregte geloof in die Bo-tydelike, iets wat ons van kleins af onbewus aangevoel het …”

Ook in haar eerste digbundel kom daar ’n beskrywing van haar vader voor:

Roerloos sit Vader voor die lessenaar;
Die lampligkring omsluier misties-vaal
sy kalm hoof en peinsende gelaat …
(“Terug”)

Die moeder, Elizabeth Suzanna Le Roux, ’n lewendige en intelligente persoonlikheid, was self belese en het in Wiskunde uitgeblink. Dat sy ’n meer as gewone begaafdheid en ’n – veral vir daardie jare – ongewone hoë ontwikkelingspeil gehad het, blyk uit die feit dat sy op 26-jarige ouderdom aangestel is as die eerste prinsipale van die Meisieskool Oranje in Bloemfontein en dat sy alle hoërskoolvakke, uitgesonder Duits, kon doseer.

Elisabeth Eybers en haar twee susters het dus in ’n intellektuele milieu grootgeword:

“Ons huis was vol boeke. Daar was boekrakke in feitlik elke vertrek; in Vader se studeerkamer het hulle langs drie mure tot by die plafon gestrek – Engelse boeke, Nederlandse boeke, ’n klompie Duitse boeke en die handjievol Afrikaanse boeke wat destyds bestaan het. Tussen die sober teologiese en kerkregtelike handboeke was volledige stelle van Shakespeare, Scott, Dickens, Thackeray, die Brontës, Jane Austen, al die Viktoriaanse digters, talle avontuur- en reisverhale en ’n groot aantal moderne romans.”

’n Ideale omgewing dus vir ’n dromerige en intelligente kind. Maar nie net intellektueel het die ouers hul kinders gevoed en gestimuleer nie; hulle was ook die beskermende en beveiligende magte wat ’n jong kind nodig het om gesond en ewewigtig te ontwikkel. Nog in haar bundel Neerslag (1958), kom dié dankbare herinnering aan haar vader voor, saam met die erkenning van die onvermydelike latere skeiding tussen ouer en kind:

VADER
Langs nagtelike voetpaadjies, toe daar
geen enkel lig in ons klein dorp meer brand,
was hy my wandelmaat, sy vaste hand
het my teen elke wankeling bewaar.

Vandat my vingers sy vertroude vuis
ontglip het, bly hy onbegrypend staan
en prik sy flits se flou en lukraak baan
die donker wat ek sorgeloos deurkruis.

In ’n sonnet uit dieselfde bundel word die invloed van die moeder en haar onskatbare betekenis vir die jong kind herdenk:

Foto: Elisabeth Eybers op 17-jarige ouderdom as student aan die Universiteit van die Witwatersrand

TERUGBLIK
Moeder, my eerste sekerte was jỳ,
gedugter as die voorbestemmingsleer:
dié slotsom was my soetste kettery,
dat aardse liefde ewige onheil weer.

Hoe moes ek snags, soms tot beswymens bang,
my uit die stikgreep van die Bose red,
verkluim, kaalvoet oor kwaste van die gang
voortstrompel na die vrystad van jou bed.

Jy het die vroegste flits van agterdog
op die gehurkte garingbuik, Calvyn,
wat waghou oor sy wrede web, Iaat skyn,
my douvoordag op ’n verkenningstog geloods
– bestem tot jou verdriet, maar steeds
erfkind van jou week hart en wakker gees.

Dit is tiperend dat in ’n vroeë gedig veral die besef van die weggroei uit die atmosfeer van die ouerhuis benadruk word: “hoe vér/het ek van hierdie wêreld afgedwaal!” (“Terug”). Maar in ’n latere periode oorheers die gevoel van innerlike verwantskap met àlbei ouers en word die afstamming van twee so verskillend geaarde mense gesien as die direkte oorsaak van die eie dualistiese karaktertrekke:

Van háár het ek die snelle drif,
die onrus en die skroom,
van hom die vreemde teëgif
van ’n ontasbre droom.

En

Met aftreksels van skaduwee
moet ek my daagliks voed:
my vader was die dominee,
my moeder vlees en bloed.
(“Oorsig” uit Balans)

Buitekant die pastorie was dit veral die groot tuin wat aan Elisabeth Eybers se kinderjare hul spesiale kleur gegee het:

“Ons tuin was ’n ware lushof, en ek betwyfel of daar destyds ’n dergelike oase in die hele Wes-Transvaal bestaan het. Dit het ’n groot aantal vrugtebome bevat en dig toegerankte druiwepriële wat dwarsdeur die somer hoë, koel, groen tonnels gevorm het.”

Die hoë bome in dié tuin word met heimwee in herinnering geroep in die gedig waarmee die bundel Tussensang (1950) begin:

Die ou, gelate bome in die tuin0
was skuiling, bêreplek en skoppelmaai
vir wegkruip, skatte opgaar, klouter, swaai.
Die soetste vrugte is naaste aan die kruin,
en wie hier in die mik ’n lêplek vind
het aan die aarde en die uur ontvlug,
vriend en vertroueling van die skugter wind,
bewoner en vryburger van die lug.

In die aande, wanneer bedtyd aangebreek het, het die kinders soos maats van die bome afskeid geneem:

– Totsiens, totsiens, want môre kom ons weer:
selfs in die verre land van kinderdrome
waarheen die slaap ons oor hul toppe voer
vervolg ons die hipnose van die bome
wat heelnag prewelend voor die venster roer.
(“Bome”)

Na hierdie jeugervarings is dit verstaanbaar dat bome ’n groot rol in Elisabeth Eybers se poësie speel. Aanvanklik verskyn hulle, soms liggies gepersonifieer, as ’n belangrike onderdeel van haar natuurgedigte:

Waar wilgerbome groen-gesluierd ween
en hunkerend na hul vae weerkaatsing tas,
was stilte op die water, en om my heen
die warm geur van die gekneusde gras …”
(“By die dam” uit Belydenis in die skemering)

Later word bome dikwels gesien as beeld van die mens, soos in die sonnet “Lente is traag vanjaar” uit Die vrou en ander verse (1945), waarin die jong verwagtende moeder ’n gevoel van verwantskap ervaar met die geduldig op die lente wagtende bome.

Maar in haar rypste werk groei die “stormwys” boom in verskeie gedigte uit tot ’n voorbeeld vir die mens: deur sy soepelheid en diepgaande wortelstelsel in staat om die heftigste storms te weerstaan maar tegelyk opreikend na die hemel, na ’n sfeer wat bokant die aardse verhewe is. So word in ’n gedig in haar voorlaaste bundel, Balans (1963), deur middel van ’n blom- en boombeeld die innerlike onstabiliteit van ’n jeugdige meisie gekontrasteer met die verworwe ewewig van die geestelik volwasse vrou:

MEISIE
Nou is sy dronk en pronkerig,
’n kelk wat om die stamper gloei,
angsvallig voor die wind wegwiel,
verwelkbaar na die son toe keer.

Sy moet nog regop word en dig,
’n boom wat vérgewortel groei,
vir haar behoefte aan klorofiel
én lug én aarde visenteer.

Ook die indrukke wat die dorp en die wye Wes-Transvaalse landskap op die opgroeiende kind gemaak het, het hul neerslag in Elisabeth Eybers se poësie gevind. In die gedig “Droom” uit Die vrou en ander verse word met heimwee die beeld opgeroep van die dorp waarin sy haar gelukkige kinderjare deurgebring het:

Sou ek die dorpie eendag weer bereik
tussen die bog van rante en rivier
waarbo die kerk se koepel sierlik pryk,
onaards en swewend in die skemeruur?

En reeds in haar eerste bundel verskyn dié treffende sonnet waarin tegelyk die armoede én die rykdom van daardie deel van Suid-Afrika beklemtoon word:

WES-TRANSVAAL
’n Skurwe huisie uit ysterklip gekerf;
’n slap draadheining; op die stoep Iê rond
’n vark, vier hoenders en ’n kafferhond;
’n stowwerige kind kruip oor die werf.

Die baas leun lust’loos teen die skewe hek,
sy kin gestut op hande ru soos grond,
sy oë sag en glansloos, stroef sy mond.
Hy sug, om dan met dieper asemtrek

weer oor die naakte vlaktes heen te skou …
Hoe staar hy so geduldiglik? Hoe het
die hemel hier ’n stiller, wyer blou?

God het geen berge of bosse oorgehad
toe Hy dié land moes maak, en kon toe net
die vrede van voleindiging hier laat.

In haar jeugherinnerings vertel Elisabeth Eybers dat die gesin dikwels die vader op sy huisbesoeke in die omgewing vergesel het:

“Ons het baie in die veld gekampeer, dikwels piekniek gehou, baie naweke by goeie vriende op plase deurgebring. So het ek die veld leer ken en liefkry. Naas betreklik welvarende gesinne was daar in die distrik en veral op die delwerye wat aan die dorp gegrens het, baie wat in die uiterste armoede geleef het. So het ek vroeg en dikwels van naby tonele van menslike gesonkenheid en ellende gesien wat ’n onuitwisbare indruk op my gemoed gemaak het.”

Tydens die togte saam met haar vader moes die opgroeiende meisie ongetwyfeld sulke armoedige en verwaarloosde plaaswerfies leer ken het soos dié wat in hierdie gedig geteken word. Maar die laaste ses reëls van die sonnet getuig van haar ontvanklikheid vir die harde grootsheid van die Wes-Transvaalse landskap en vir die uithouvermoë van sy bewoners. Met sy kontrasterende visie en die enjambement tussen oktaaf en sekstet, wat die blik se wegswaai van die nabye toneel na die wye verte onderstreep, toon hierdie gedig reeds ’n grote vaardigheid in die hanteer van die sonnetvorm.

Tydens haar hoërskooljare is Elisabeth Eybers se letterkundige aanleg ontdek en aangemoedig, veral deur haar Engelse onderwyser, L.T. Bennet, wat met sy leerlinge ook die tegniese aspekte van die poësie behandel het, die sonnetvorm aan hulle verduidelik het en hulle aangemoedig het om self gedigte te skryf. As hoërskooldogter het sy reeds begin dig—eers in Engels, later ook in die Afrikaanse taal.

DIE JARE VAN RYPWORDING
Uit die “rustige veiligheid” van haar jeugomgewing is Elisabeth Eybers op sestienjarige ouderdom na die studentelewe in Johannesburg oorgeplaas. In haar jeugherinnerings skryf sy oor haar eerste periode daar:

“Vanuit al die pynlike konflikte wat gedurende die periode van aanpassing ontstaan het, het ek begin om die verse te skryf wat ’n paar jaar later in my eerste bundel opgeneem is.”

Talle gedigte uit Belydenis in die skemering getuig onomwonde van die verwarde en teenstrydige gevoelens van ’n jong meisie wat vir die eerste maal ’n diepgaande ontworteling ervaar: wanhoop om die vreemde lewe in die stad, heimwee na die natuur, onsekerheid en geleidelike aanpassing, sowel as pynlik ervare vervreemding van die milieu en die geloof van haar kinderjare. Daar is nog veel onsuiwers en heelwat retoriese beeldspraak in die bundel, maar dit bevat ook reeds die pragtige gedig “Maria” wat tereg heeltemal klassiek in die Afrikaanse letterkunde geword het.

Elisabeth Eybers het hierdie welbekende gedig geskryf toe sy nog maar agttien jaar oud was na ’n besoek aan ’n kraaminrigting waar sy ’n vriendin van haar moeder met haar pasgebore kindjie aan haar bors gesien het.

Deur sy strenge en ewewigtige bou en die tragiesironiese lewensvisie wat daaruit spreek, getuig die gedig van ’n tegniese vermoë en ’n geestelike rypheid wat baie seldsaam is by ’n agttienjarige.

C.M. van den Heever, onder wie se leiding Elisabeth Eybers in Johannesburg gestudeer het, het in haar ’n groter belangstelling vir die Afrikaanse en die moderne Nederlandse letterkunde gewek. As gevorderde studente het sy ’n skripsie oor Die ontwikkeling van individualisme in die Afrikaanse liriek geskryf. Na voltooiing van haar sutdie was sy ’n rukkie as joernaliste werksaam en in 1937 is sy met die sakeman Albert Wessels getroud. Uit hul huwelik is drie dogters en ’n seun gebore.

Foto: Die digteres se eerste twee versbundels “Belydenis in die Skemering” en “Die Stil Avontuur” waarvoor sy in 1945 die Hertzogprys vir poësie ontvang het

Elisabeth Eybers se volgende digbundels, Die stil avontuur (1939), Die vrou en ander verse (1945) en Die ander dors (1946) gee uiting aan ’n ryk geskakeerde maar tipies vroulike gevoelswêreld. Liefde en moederskap vorm die hooftemas van hierdie gedigte. Aspekte van die vroulike ervaringswêreld word direk maar ook dikwels in gestaltes geobjektiveer:

Dig teen haar hartklop nestel hy wanneer
hy honger het, en sàggies om hul gly
’n kleed wat hul van alles rondom skei;

en oor die soet bedwelming skuim nie meer
die eb en vloed van hunkering: al haar dae
is stil van teerheid wat sy skaars kan dra.
(“Die nuwe lewe” uit Die vrou en ander verse)

Maar selfs in die skynbaar mees direkte en persoonlike uitings verkry hierdie poësie tog steeds ’n mate van algemene geldigheid, omdat die gevoelens en ervarings wat uitgespreek word, steeds verder reik as die suiwer individuele en as tiperend kan geld vir die ervaringswêreld van die jong meisie en die jong vrou in die algemeen. Die besef dat die eie ondervindings deel is van ’n veel ruimer ervaringsfeer kan ’n mens eintlik al uit die titels van haar bundels aflees.

Die stil avontuur (en nie “My stil avontuur” nie) verwys na die “avontuur” van liefde en moederskap wat al so oud is soos die mensdom self. Die gedigte uit Die vrou en ander verse stel die vrou as voortbrengster van nuwe lewe teenoor die lewensvernietigende mag van die dood. Die titel Die ander dors verwys na die sonnet oor die Bybelse vrou Hagar waarin hierdie woorde voorkom. Maar in die bundel self word in én persoonlike belydenis én gestalte-poësie die verskillende aspekte van die dors na liefde in die man sowel as die vrou belig.

Hoewel die aandag in dié bundels dus veral gerig bly op menslike verhoudings en hul betekenis vir die individu, is dit ’n wye spektrum van gevoelens en ervarings wat uitgebeeld word. Verrukking oor ’n volkome liefdesvervulling klink op in “Die geskenk”, een van haar seldsame gedigte in die vrye versvorm, waarvan die eerste strofe lui:

Jy het my meer gegee as die blou van jou oë:
ook die meerblou lug tussen wit wolke-oewers
het myne geword,
die dromerige rookblou van ver rante,
die pêrelblou van die skemering
en die roekelose blou van ’n blom tussen groen gras.

In dieselfde bundel, Die stil avontuur, kry ons dié ekstatiese en idealistiese belewing van jong moederskap:

Foto: Elisabeth Eybers soos sy in 1959 gelyk het (Met dank aan Die Vaderland)

DIE MOEDER
Die vreemde oorsprong van jou lewe het,
soos lig deur ’n kristal, deur my gevloei
in al die maande toe ek één was met
die stil geheim van jou verborge groei.

En nou kan niks ons skei – want is jy nie
afhanklik en gebonde aan my bloed
wat met sy onbegryplike chemié
jou wonderlik gevorm het en voed?

En of dié uur ver en vergete word,
en of die jare tussen jou en my
hul seile span, die see sy golwe stort,
of selfs die Dood sy somber baken steek,
nogtans sal jy aan my gebonde bly
met die onsigb’re naelstring wat nie breek.

Maar in ’n ander gedig word smartlik erken dat die vrou wat die vermetelheid het om “godna-apend” nuwe lewe te skep, ná die geboorte haar onvermoë besef om die kind wat sy “geruk het in die strik van vlees en bloed” blywend te beskerm teen rampe, verdriet en dood (“My hele lewe lank sal ek moet boet” in Die vrou en ander verse).

Veral in Die ander dors word herhaaldelik die bitter van die liefde tussen man en vrou uitgebeeld, soos in

HAGAR
Daar is geen laafnis vir die ander dors,
my seun, my seun. Want trane het gegly
terwyl ek jou gevoed het aan my bors
en hulle sout sal altyd in jou bly.

Drie lewens het my lewe aangeraak:
Abraham, die heer, het oor ons lot besluit
sy guns het ek ’n korte tyd gesmaak,
my hele doel en deug die vrugbaarheid.

Die tweede is Sara: hoe begeerlik is
’n vrou se lag, se sekerheid, se lis
vir my wat niks ken as ’n vrou se smaad.

Die derde is jy: my eensaamheid, my pyn
word weerbaar en verstrak in die woestyn
tot ’n man se bitter trots, ’n man se haat.

’n Enkele maal word in die gedigte van hierdie periode die naam van haar woonplek, Johannesburg, genoem of die een of ander faset van die grootstadslewe uitgebeeld. Ook die natuur word dikwels vanuit die stadsfeer waargeneem:

Die tuine langs die straat lê elke dag
bedwelmd in blommegeur en voëlgesang
totdat die laaste kopergloed gevang
word in ’n gewelvenster en die nag
sy web van sterre wat hul sirkelgang
in Maart vertraag hoog bo die stad uithang
(“Maartmaand in Johannesburg” in Die stil avontuur)

In 1948 het Elisabeth Eybers ’n bloemlesing uit haar eerste vier bundels gepubliseer. Langs elke gedig was ’n vertaling in Engels wat sy self gemaak het. Die bundel wat ook ses sonnette bevat, vertaal deur Olga Kirsch, het onder die titel The quiet adventure verskyn.

Dit wil byna voorkom asof Elisabeth Eybers haar verdere digterlike ontwikkeling voorsien het, toe sy aan haar klein vyfde bundeltjie die titel Tussensang (1950) gegee het. Want die gedigte verteenwoordig inderdaad ’n oorgangsfase tussen haar vroeë werk en die poësie van haar ryper jare.

Foto: ’n Paar van die digteres se latere versbundels waarvan “Onderdak” die jongte is.

Voor die publikasie van Tussensang het sy vir die eerste maal Europa besoek en, soos talle reisigers, ervaar dat ’n mens deur kenmismaking met ’n vreemde wêreld die eie vertroude omgewing met nuwe oë en ’n dieper liefde leer ervaar. So word in die volgende twee strofes van die gedig “Tuiskoms in Junie” op beeldende wyse die ordelike en prentjiesagtige van die Nederlandse landskap gestel teenoor die harder en grootser skoonheid van Transvaal:

As ek my oë teen die skittering sluit
onthou ek skielik Holland – groengeruit
die nette akkers, en egalig grou
die lae lug, pophuisies rooi en blou,
’n skuit skuif deur die weiland, langs die sluis
kantel die wydsbeen meul se skewe kruis,
bont koeie mymer weelderig in die gras
en eendepaartjies dobber op die plas,
kerktorings prik die effe horison,
’n perd buk na die klawer – alles kon
ek opnoem uit my kinderrympiesboek:
’n helder Iasprent sorgsaam uitgesoek,
reghoekig, ewewydig, vak aan vak
gemeet, gepas en ingeplak.

Hoe wyd en leeg die vyftig-myl vallei
wat na die pers Magaliesberge vloei!
Desemberson en Junieryp het àls
geskroei wat in Oktober groen en mals
gebot het langs die spuit en in die kloof …
O later land van opstand en geloof
wat altyd verder oopvou vir die trek,
jou ruimte kan nog steeds die onrus wek
wat mense na ’n altyd barrer streek
oor steen en stof voortlok met niks wat week
is as die tinte van die wintergras
se ylbrons drade en die ligroos was
wat van die tinger alwynstingel drup…

DIE OES VAN RYPE JARE
Met Die helder halfjaar (1956) begin die tweede en belangrikste fase in Elisabeth Eybers se poësie. Sedertdien word haar werk gekenmerk deur ’n veel noukeuriger woord- en beeldgebruik, ’n lewendiger en plastieser ritme en ’n verrassende vermoë om terme uit die mees verskillende lewensfere op funksionele wyse in haar gedigte te integreer. Die stem wat uit hierdie werk opklink, is dié van ’n vrou wat innerlik tot rypheid gekom het en wat probeer om die lewe en menslike verhoudings sonder vale illusies te beskou. En tewens toon haar latere poësie ’n verruiming van tematiek veral deurdat meer en meer die aandag toegespits word op die digterlike skeppingswerk self.

Reeds die titel Die helder halfjaar dui op die belang wat geheg word aan die skeppende sy, want die gedigte in hierdie bundel het ontstaan van April tot Oktober 1955, dus binne ’n halfjaar van geestelike helderheid en oorvloedige skeppingskrag.

Maar dié maande verteenwoordig ook die wintertyd wanneer ’n mens die natuur in sy naaktheid sien, sonder die somerse tooi wat maar ’n tydelike versiering is. So spreek uit die eerste gedig “April” die begeerte om van die “stram skelet” van die winterbome te leer: “alles wat getooi is lieg”. Voortaan wil sy probeer om ook die lewe “helder” te sien, dit te aanvaar soos dit werklik is, sonder om haar te laat bedrieg deur die tydelike skoonheid wat drome en illusies daaraan verleen. Uit die Iaaste twee reëls van die gedig (“—Maar wie kan nou al raai wat uit/ September-sotheid mag ontspruit?”) spreek wel die twyfel of die mens werklik tot hierdie volgehoue strenge lewensvisie in staat sal blyk. Maar dit is opvallend hoe baie gedigte in hierdie bundel van ’n lewensvisie getuig wat ’n volkome teenstelling is met dié wat in vroeëre gedigte tot uiting gekom het.

Lynreg teenoor die vroeër aangehaalde gedig “Die moeder” met sy ekstatiese bevestiging van die onverbreekbare band tussen moeder en kind, staan hier die sonnet “Moeder” waarin juis die feit benadruk word van die toenemende verwydering tussen die twee, ’n verwydering wat met die geboorte begin en in die puberteitsjare volkome word omdat die skeiding hom dan ook op geestelike vlak voltrek.

MOEDER
Jou nougesette buik volbring sy taak:
die kinderliggaam wat hy vervolmaak
verlos hy sonder om hom nog te steur
aan hoe sy vrug die eensaamheid trotseer.
Jou hande wat hom steun en voed en stuur
word steeds bedrewener maar op die duur
tog ook oorbodig, jou beperkte oë
moet sy ál verder voortdwaal blind gedoë.
En as hy eendag met ’n frons van pyn
jou aankyk het die towerwoord verdwyn
waarmee jou mond sy eerste angs kon troef.
’n Nuwe trots laat sy gelaat verstroef
en vrugloos swoeg jou hartspier wat die swaar
geboortekramp naboots en niks kan baar.

Kenmerkend van die sterk suggestiewe karakter van Elisabeth Eybers se latere poësie is dat dwarsdeur die gedig slegs die liggaamlike aspekte van moederskap beklemtoon word. Die gevoel van die moeder vir haar kind word nêrens direk genoem nie, behalwe aan die slot waar van die pyn van die hart gepraat word. Maar ook dan word dit nog so fisiek moontlik gestel deur dit die krampe van die “hartspier” te noem. Die innige liefde van die moeder vir haar kind word egter wel deeglik vanaf die begin van die gedig gesuggereer en die beeld aan die slot van die hartspier wat soos in geboortekrampe saamtrek het ’n byna skokkende emosionele implikasie wat oor die hele gedig terugslaan. Eers nadat ’n mens die slotreëls gelees het, besef jy ten volle hoe sterk die steeds groeiende verwydering tussen haar en haar kind die moeder se gevoel aangetas het.

Die helder halfjaar bevat drie onvergeetlike kinderportrette waarin ook telkens die eensaamheid van die opgroeiende kind en die onvermoë van die liefhebbende ouer teenoor hom benadruk word: “Veertienjarige”, “Slaapwandelende kind” en “Kind voor die klavier”.

’n Aparte groep vorm die drie slotgedigte deur hul sterk ironiese inslag. In “Wespark” word op die toon en met die woordkeuse van ’n verkoopsagent die voordele van ’n woonplek in die bekende Johannesburgse kerkhof opgesom:

Geagte leser, dié geleentheid
bied hom slegs eenkeer in ’n leeftyd:
geen waglys en geen woningnood
al is die aanvraag nog so groot.

U van en volle doopnaam pryk
op die versierde gewel – kyk,
met en kompliment kompleet:
die hele wêreld moet dit weet.

Hier is geen stoomfluit en geen haas;
onder die koelteboom lê klaas
soos waffer skofbaas uitgestrek,
kan selfs die afslaer asem skep.

In hierdie buurt is elke vrou
tevrede, elke man getrou,
het elke kind sy eie sandhoop,
vergeet die huwelikspaar van huurkoop …

So word die dood aangeprys en die lewe tegelyk indirek veroordeel. Want alle voordele van die kerkhofbewoners wat hier opgesom word, is dié wat ’n mens in die lewe so graag sou wou verwerf maar so dikwels nie bereik nie.

Kenmerkend van die verwyding van die belangstellingsfeer in hierdie bundel is die gedig “Piet-my-vrou” met sy verrukking oor die wonder van die digterlike skeppingskrag.

PIET-MY-VROU
’n Piet-my-vrou kaats uit die tuin
sy drie dun note teen die naat
wat kriskras om my skedelkruin:
die helder klankkartetse slaat
dat vuurrooi vonke alkant spat
en as hul straks die sponsbeen splyt
en deur die dura mater dring
tot in die warm witstof, spring
’n klein, blink lied – kristal fontein –
óp uit die bedding van my brein …

Fluit, piet-my-vrou, fluit, fluit!

Verstegnies alleen al is dié gedig ’n klein wonder. Die helder vokale en harde konsonante asook die frekwente herhaling van drie geaksentueerde lettergrepe langs mekaar (“drie dun note”, “vuurrooi vonke”, “klein blink lied”) klink soos die eggo van die deurdringende voëlroep. ’n Mens “hoor” as’t ware in die taal hoe die drieklank teen die “skedelkruin” vasslaan en daarin deurdring en die lied wek wat binnekant sluimer. Prof. T.T. Cloete het in ’n bespreking van die gedig daarop gewys hoe besonder effektief die talle onpoëtiese woorde hier aangewend word. Soos hy sê: dit maak die wonder des te groter dat in iets so wetenskaplik definiëerbaars soos die brein ’n lied gebore kan word.

Ook die titel van Elisabeth Eybers se volgende bundel, Neerslag (1958), wys op toenemende aandag aan die ontstaan en die wese van die poësie. In die skeikunde immers word die woord “neerslag” gebruik vir die afskeiding van ’n vaste stof uit ’n vloeistof deur toevoeging van ’n reagens. So ook is die menigte menslike gevoelens en ervarings “vloeibaar” en vormloos, maar deur die vormvermoë van die kunstenaar “slaan” ’n gedeelte daarvan “neer”—neem dit gestalte aan in die poësie.

Soos die titel suggereer, handel talle gedigte in die bundel oor aspekte van die digkuns en die digterskap. “Behoud” bv. beeld uit hoe die kreatiewe alleenloper se aandag vanaf die vroegste tye van die mensdom op ander waardes gerig was as dié van die massamense wat hom omring. “Voorbereiding” verwoord die noodsaaklike lewenshouding van die kunstenaar:

Wees ledig en gereed,
ondig, deurdringbaar, drink
ál wat die oomblik skink,
neem, drink dit en vergeet:
wat diep genoeg besink
sal tot ontkieming gis …”

Selfs die momentele onvermoë om te dig en die gevoel van frustrasie wat daarop volg, het op ’n verrassende wyse in ’n gedig vorm gekry (“Erfstuk”). En die skielike besef van die onvermoede poëtiese kragte wat in die gewone spreektaal kan skuil, word met milde selfspot uitgebeeld in “Tersiene”, waar die dringende versoek van haar seun om tog “roulynolie vir (sy) krieketkolf” te bestel, die digteres-moeder tot die bekentenis dwing:

Roerloos sit ek voor my geslote boek:
as soveel ongesogte harmonie
gesluit word in ’n simpele versoek,

wat baat beoefening van prosodie?
Geen lettergrepe wat om voorrang stoei
in weersydse verset en kompromie

het ooit in gouer, gladder stroom gevloei
as roulynolie, klinkerryk, geen knal
was nog so klaar as krieketkolf. Hoe sal

my vers ooit weer volwasse word? Daar golf
geen skoner jambes in my moedertaal
as roulynolie vir my krieketkolf!

Tot die mooiste gedigte in hierdie bundel behoort die drie waarin die gestalte van ’n jong seun geteken word. Ondanks die sterk individuele trekke word dié portrette tog in ’n hoë mate verteenwoordigend van die mens in die algemeen. Onderstaande gedig is by die eerste oogopslag die blote waarneming van ’n seuntjie wat in die son speel, maar tegelyk kan ons die buitelende seun as simbool sien van die mens wat – ondanks al sy pogings om daaraan te ontsnap – onherroepelik aan die aarde en sy beperkings gebonde bly:

SEUN IN DIE SON
Massale swaartekrag, kan jy
die dartel akrobaat kleinkry?

Blink en bronskleurig buitel hy:
lenig, geveerd en aardevry

skep hy ’n nuwe wentelbaan –
maar as hy nouliks loodreg staan

skiet sy slu skadu uit en pak
hom stewig beet aan elke hak.

Neerslag bevat ook ’n aantal gekonsentreerde kwatryne en besonder mooi vertalings van tien sonnette van die Franse digter José-Maria de Hérédia.

In 1961 het Elisabeth Eybers Suid-Afrika verlaat en haar in Nederland gevestig, waar haar jongste dogter, Jeanne, haar hoërskoolopleiding voltooi het en tans studeer. Aanvanklik het hulle aan die rand van Amsterdam gewoon, in een van die moderne woonstelblokke wat orals in die wêreld aan die rand van groot stede verrys. Maar sinds voorverlede jaar bewoon hulle “ ’n smal ou huisie” in die Willemsparkbuurt, ’n wyk wat aan die begin van hierdie eeu gebou is en wat nog iets van die atmosfeer van ’n rustiger en statiger verlede bewaar. Hul woning is naby aan die beroemde Concert-gebouw en digby die Vondelpark met sy hoë bome, groot grasperke en damme vol eende en swane: die plek waar ’n mens binne hoorafstand van die “gedruis” van die “straatrumoer” tog soms die wonder van natuurskoonheid kan ervaar:

Smetloos geteken dryf die dubbelswaan:
gesplete hart van hals en dubbelhals,
geskulpte vlerk met dubbelvlerk teenaan,
geslote snawel deinserig vervals
met eenkant lug en water anderkant
(“Twee kleuters in die Vondelpark” uit Balans)

Volgens haar eie getuienis leef Elisabeth Eybers taamlik stil in haar nuwe omgewing en hou sy haar veral besig met lees en vertaalwerk uit Nederlands in Engels. Soms bring sy ’n kort besoek aan die buiteland. So was sy voorverlede jaar ’n maand lank in Griekeland waaroor sy self skryf: “’n heerlike ervaring wat ek hoop om in die toekoms te herhaal as die Allerhoogste of die Kolonellebewind dit nie verhinder nie”.

Die verhuising van Suid-Afrika na ’n noordelike landstreek en klimaat en die aanpassing by ’n heeltemal ander lewensfeer het vanselfsprekend nie sonder invloed op haar poësie gebly nie. Sy was al in Nederland toe die bundel Balans (1962) verskyn het. Die meeste gedigte hierin is nog in Suid-Afrika geskryf, maar dit bevat ook werk wat geskryf is vanuit die Nederlandse lewensfeer. Soos die titel aandui, is die soek na ewewig ’n belangrike motief in hierdie bundel. Telkens weer word die mens geteken as ’n dualistiese wese wat moeisaam moet probeer om die balans te vind tussen gevoel en verstand, droom en werklikheid, digterskap en menswees, tussen die geestelike erfenis van vader en moeder, en dan ten slotte tussen die herinnering aan Suid-Afrika en die aanvaarding van die nuwe Nederlandse omgewing. Dikwels word die besef verwoord dat die volmaakte ewewig nie in hierdie lewe bereik kan word nie en eers in die dood gevind sal word:

SLAK
My sagtheid beur sy kronkelige huis
en kan nie nog ’n tweede dak verdra.
Tuis voel ek vreemd en gaan dan maar op reis
met voelspriete nat oral raad moet vra.

Tweeslagtig, deur die see katools gespu,
word ek op droë land deur ’n dors gekwel
waarvan ek, lewend, nooit ontslae raak nie,
waarvan ek langsaam sterwend eers herstel.

Ook in die intiemste menslike verhoudings bly die dualisme oorheersend en dit verhinder dat twee mense ooit werklik tot ’n blywende eenheid kan saamsmelt. Hierdie bitter waarheid oor die ewig menslike tragiek van die onvolkome verbintenis tussen twee wesensvreemde individue word op oorspronklike wyse uitgebeeld in: Dit en dat

the withness of the body — Whitehead

Dit, vae balling, word gelei
langs doodloopgangetjies verby
deur Dat, voorbarig en sekuur,
wat weet waarop om af te stuur.

Dit, strompelend agter Dat aan, staar,
aap alles na wat Dat gebaar:
uit één diskrete sleutelgat
syg die gesteun van Dit en Dat

– tot, deur die skerp roes afgeskei,
Dit wéér Dit word en Dat Dat bly.

Juis omdat hier geen persoonlike voornaamwoorde gebruik word nie en daar dus nie aangedui word wie van die twee die man of die vrou is nie, word hierdie uitspraak oor die liefde ontstellend in sy algemene toepaslikheid.

Meer en meer word diepe emosies in hierdie poësie eerder gesuggereer as direk uitgespreek. Die titel van onderstaande gedig klink byvoorbeeld so nugter soos die opskrif in ’n bankgebou en die toon van die eerste strofe is rustig betogend—byna asof daar ’n wetenskaplike verhandeling oor die duur van menslike gevoelens beoog word. Onpoëtiese woorde soos “ritueel” en “vervaldag” verstrek die indruk van saaklike mededeling, maar die laaste woordjie van die gedig (hel) maak die leser soos met ’n skok bewus van die hewige emosie wat onder die nugter klinkende woorde skuil, en ook van die werklike betekenis van die gedig: berou word hier uitgebeeld as ’n gevoel wat weens sy intensiteit en langdurigheid met geen ander vergelykbaar is nie.

NAVRAE
Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.
Verdriet, volgens ’n ou ballade, duur
twaalf maande en ’n dag, tot op die uur.
Die ritueel van rou is vasgestel.

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.
Waar vind mens ’n betroubare gedig
om jou oor die vervaldag in te lig
van daardie individueler hel?

Daarteenoor staan die direkte uitspraak in gedigte wat handel oor die gevoelens van ontworteling wat elke immigrant op pynlike wyse ervaar, voordat die nuwe lewensfeer vertroud genoeg raak om ’n tuiste te bied:
Niks as my hande en voete het ek hier,
die res het met die oortog soek geraak:
die katswink hart, die prikkelbare klier,
wat moet mens bowendien met hulle maak?
(“Immigrant”)

Aanvanklik word met bitterheid die verskille tussen die verlate vertroude omgewing en die nuwe lewensomstandighede benadruk:

’n Huis is iets wat teen ’n helling staan
deur son gekonfronteer aan elke kant.
Maar let op: sê jy huis in hierdie land
dan dui jy drie beknelde kamers aan.

Agter ’n grou en anonieme wal
hys die abrupte trap jou uit die straat
op na die sogenaamde huis, en laat
jou later stiptelik in die straat terugval…”
(“Heimwee”)

Maar in een van die laaste gedigte van die bundel klink al iets van ’n positiewer en meer versoende toon:

WINS
Die eerlike geselskap van ’n kind.
’n Elkedaagse taakroetine, leeg
van alle skyn. En af en toe ’n vrind
wat met steil treë die smal trap wegveeg.

Dis seker nie toevallig nie dat Elisabeth Eybers se jongste bundel, Onderdak (1968), begin met die gedig “Die enkel taak”, waarin die ooreenkomste en die verskille tussen die predikant-vader en die digteres-dogter beklemtoon word. Hy het “gestol binne die enkel taak” in sy lewenslange getrouheid aan “die enkel eis van God en mens te dien”. Ook sy dogter ken ’n “enkel taak”, maar sý dien ’n ander god en behoort “aan ’n wreder molog van die woord”.

So intens soos in geen van haar vorige bundels word in Onderdak die aandag toegespits op die digterskap en die instrument daarvan, die taal. Die titel van die bundel herinner ’n mens onmiddellik aan die beginreëls van die Nederlandse digter J.J. Slauerhoff se gedig “Woninglooze”:

Alleen in mijn gedichten kan ik wonen,
Nooit vond ik ergens anders onderdak.

In die eerste instansie verwys die titel dan ook seker na die betekenis wat die wordende en voltooide gedig vir die kunstenaar self inhou. Soos prof. T.T. Cloete dit in sy bespreking van die bundel geformuleer het: “Alle probleme en konflikte vind in die gedig ’n bestemming, d.w.s. onderdak, d.w.s. tuiste en oplossing”.

Maar dalk kan ’n mens in die keuse van die titel ook ’n verwysing sien na die feit dat die vreemde Nederlandse omgewing stadigaan vir die immigrant ’n tuiste begin aanbied, asook na die tydelike rusplek wat onverwags gevind kan word in die liefde van ’n medemens:

NOMADEPAAR
Nuwe tentamen van tente:
geen mure met fondamente,
geen dak, wel ’n baldakyn,
hier en daar in die leë woestyn
’n karmosyn baldakyn.

Die fassinerende aspek van hierdie bundel is dat die gedigte daarin so dikwels ’n volkome dubbelsinnige betekenis kry en gelees kan word as sowel uitsprake oor die liefde as oor die poësie. So kan in bostaande gedig die “karmosyn baldakyn” gesien word as die simbool van die kortstondige maar verruklike skuiling wat die liefde telkens weer aan ’n mens in die woestyn van die lewe bied. Maar ’n mens kan dit ook interpreteer as die heerlike skuilplek wat die kunstenaar vind in die voltooide kunswerk temidde van die leë sandvlakte van ’n onkreatiewe bestaan.

So kan in “Akkoord” die aangesprokene ’n geliefde wees sowel as die dwingende mag van die kreatiwiteit:

Jy, heelmaker, opspoorder van verband,
ontleder, agtervolger, agonis,
daag my tot tweespraak, kwalik aangeland
waar sinsbou, klemtoon, ritme anders is.

Ek, wankelaar, my ou houvas verloor,
smekend om redding en maar half bereid
tot nuwe onderhandeling, gee my oor
met klein kramptrekkings van terugwilligheid…

Ook in “Ter sake” waarin geskryf word oor die noodsaak om ’n nuwe taal te vind vir die verwoording van tot nog toe ongekende lewenservarings, kan die “jy” sowel die geliefde as die digterskap beteken:

TER SAKE
Die eerste (ná ontswagtling)
wat Lasarus nodig het

om die wonderkuur te keur
is ’n nuwe alfabet…

Half-tuis nog in die grotland
waaruit ek tastend keer

moet ek van jou ’n huistaal
vir hierdie lewe leer.

Jy sal die dinge opnoem,
die pasmuntname sê

en wat op die punt van jou tong is
my tussen die lippe lê.

Selfs die noodsaak tot aanpassing by ’n nuwe gemeenskap en die ewig vroulike verlange om die geliefde man te bekoor, word in die eerste plek in hul taalkundige aspekte beleef:

TONGVAL
Jou binnelandse vriende is vriendelik
teenoor die lig bevreemde vreemdeling
uit ’n onordeliker kontinent.
Om saam te klink ten spyte van aksent
wil ek die vasgelegde wette leer
maar merk, as een haar meesterlik ontferm
oor my wat onvolledig konformeer
en hulp aanraai van ’n logopedis,
hoe eiensinnig strotteweefsel is
wat die essensiële taal beskerm.
Terwyl ons lippe self die pleit besleg
kom klanknabootsing ook nooit tot sy reg;
vandat my spraakorgane jou geval
verwaarloos ek die medeklinkertal.

Gedigte soos hierdie met hul fyn spel met woorde en hul volgehoue dubbelsinnigheid verteenwoordig ’n heeltemal nuwe element en ’n nuwe hoogtepunt in Elisabeth Eybers se poësie.

Telkens weer word die leser getref deur die feillose en oorspronklike taal- en beeldgebruik, soos in talle versreëls waarin aspekte van die Nederlandse werklikheid op byna tasbare wyse gestalte aanneem:

Die wind wat uit Siberië keer
raap ’n boeket kerkklokke saam …
(“Desember”).

In “NagwandeIing” weer word met fyn spot die silhoeët geskets van ’n paar verliefde Nederlandse jeugdiges op ’n yskoue winternag:

’n Vloed getregter uit die pool
word deur die iepelaan gepomp,
nogtans sweef vierbeen om die hoek
– twee nylonkuite, klinknaelbroek –
asof hy in Elysium dool:
twee koppe op dieselfde romp
vas teen mekaar, laveer hy voort.
Vannag wys elke rigting noord.

En ’n strofe daarna kry ons in dieselfde gedig dié wrang-humoristiese beskrywing van ’n eensame dame wat in die aand haar hond “uitlaat”, ’n noodsaaklike en bekende verskynsel in Nederlandse stede en dorpe waar honde nie toegelaat word om vry rond te loop nie:

’n Dame met ’n twaalfuurhond
swalk agter sy behae aan.
Eens, aan ’n heer se arm, was daar
van omwaai nie soveel gevaar:
nou in ’n lamp-tot-lamp-bestaan
dobber sy hol soos ’n kokon,
soek vasklouplek om teen die kou
nog ’n gety of wat te hou.

Een van die indrukwekkendste gedigte is “Midas” waarin daar ’n ontstellende beeld geteken word van ’n ander stollings- en omskeppingsproses, benewens dié van die kunswerk. Tot sy ontsetting moet die bekende mitologiese koning, wat so selftevrede voel oor sy gawe om alles wat hy aanraak in goud te verander, agterkom hoe ook sy dogtertjie, die dierbaarste wat hy besit, onder sy aanraking versteen. Die gedig, ’n fel ironiese aanval op ’n bloot materialistiese lewenshouding, eindig met Midas se skreeu van wanhopige woede:

GOD GOD GOD GOD GOD GOD vat terug jou geel!

Dit is gróót poësie hierdie. ’n Mens kan net hoop dat Suid-Afrika sy dankbaarheid vir die bydraes wat Elisabeth Eybers tot sy letterkunde gelewer het, sal bewys deur ook haar latere werk die hoë amptelike erkenning te verleen waarop dit lankal geregtig is.

Foto: Mev. Wessels-Eybers in Amsterdam afgeneem saam met drie van haar vier kinders, v.l.n.r. Albert, Jeanne en Marita

Bron: Nienaber-Luitingh, M. 1970. Lantern, Maart 1970: 21-33.