Danie de Jager (1936-2003)

Carike – van joolkoningin tot legende
Augustus 22, 2018
Lance James vier tagtig goue jare
Augustus 23, 2018

Hoewel Danie de Jager betreklik jonk is – hy verkeer nog in sy dertigerjare – het hy hom al meermale as een van ons land se voorste beeldhouers onderskei. Om reeds op 25-jarige leeftyd in ’n taai internasionale kompetisie die tweede prys te verower het vir ’n standbeeld van Generaal Smuts in Kaapstad, was ’n veel groter prestasie as wat destyds algemeen besef is, maar groter nog was sy prestasie in 1961, d.i. in dieselfde jaar, toe hy in ’n ewe felle kompetisie waarin van ons voorste Suid-Afrikaanse beeldhouers meegeding het, die opdrag verower om die Hertzog-monument in Bloemfontein tot stand te bring. Dié en verskeie ander belangrike opdragte wat gevolg het, dui daarop dat hy dit nog ver gaan bring. Hy is boonop so veelsydig as wat ’n beeldhouer maar kan wees en ewe tuis in die sfeer van die realisme as in dié van die abstrak te kuns.

Hierdie veelbelowende kunstenaar is op 21 Junie 1936 op ’n kleinhoewe in die distrik Germiston gebore. Sy voorskoolse jare bring hy in die Bosveld deur, sowat 80 myl benoorde Rustenburg. Van jongs af toon hy besondere kunstalent en veral buitengewone handvaardigheid.

Hy begin sy skoolloopbaan op die Rand. Op twaalfjarige ouderdom wen hy ’n eerste prys vir beeldhouwerk op ’n uitstalling van kinderkuns. Tydens sy hoërskooljare bestee hy smiddae ure lank in ’n kleigat naby sy ouerlike woning om beeldjies te maak (en skelmpies te rook!).

Terwyl hy op 16-jarige leeftyd nog op hoërskool was, maak hy ’n borsbeeld van ’n ou Bantoe, wat op die Randse Paasskou uitgestal is. Dit word deur kenners as ’n uitmuntende werk geloof. Na die voltooiing van sy skoolloopbaan studeer hy aan die Johannesburgse Kunsskool. Twee jaar later verloor hy egter sy vader en moet hy as gevolg van geldnood gaan werk.

Hy begin ’n pottebakkery, omdat die vorming van klei hom nog steeds boei. Na ’n jaar vlot sy nuwe onderneming, maar op ’n dag raak hy erg ongesteld as gevolg van ’n allergie wat hy vir sekere glasure ontwikkel. Op mediese advies is hy genoodsaak om onmiddellik die onderneming te staak.

Daarna aanvaar hy ’n betrekking by ’n handelskunstenaar en loods hy vervolgens, op 22-jarige ouderdom, sy eie saak in die handelskuns.

Op 23-jarige leeftyd tree hy met mej. Elsa Rautenbach in die huwelik.

Hierna verloop sy loopbaan tot die hede soos volg:

1960:

Hy ontvang ’n opdrag om 85 groot karnavalkoppe vir die Republiekfees te maak, asook 60 000 kleinere replikas uit rubber wat tydens die fees te koop aangebied is – sy eerste groot stimulus om beeldhou te beoefen.

1961:

Na die Republiekfees besluit hy om hom voltyds aan beeldhouwerk te wy. Hy neem deel aan ’n internasionale kompetisie vir ’n standbeeld van Generaal Smuts in Kaapstad se Tuine, wat deur Sidney Harpley van Engeland verower word. Soos reeds vermeld, verower Danie die tweede prys. Die waarde daarvan was R1 000.

Foto: Deel van die figuur in brons van Generaal Hertzog. Danie de Jager is nie net die skepper van die Hertzog-beeld nie, maar van al die ander beelde wat deel uitmaak van die nou bekende Hertzog-monument in Bloemfontein.

Beeldhouers van Engeland, Frankryk, België, Wes-Duitsland en ander lande sowel as verskeie van Suid-Afrika se bekendste beeldhouers het aan die kompetisie deelgeneem.

Vroeg in dieselfde jaar neem hy deel aan ’n prysvraag vir ’n monument in Bloemfontein ter ere van wyle Generaal Hertzog, en in November ontvang hy die goeie tyding dat hy die eerste prys in dié wedstryd verower het, saam met die argitek Albrecht Holm wat die ontwerp van die plein behartig het.

1962:

In Maart van dié jaar trek hy en Elsa na Hartebeespoortdam. Hier begin hy dadelik te werk aan die modelle van die verskillende groepe figure wat deel van die Hertzog-monument sou uitmaak.

1963:

Danie koop ’n stuk grond teen die suider hang van die Magaliesberg naby Hartebeespoortdam en bou eiehandig ’n ruim ateljee uit granietklip en hout, waarvan sy interessante huis tans aan die een kant deel uitmaak. In die volgende jaar begin hy aan die hooffiguur van die Hertzog-monument te werk, wat volgens opdrag twee maal lewensgrootte moes wees.

1965:

Danie vertrek op ’n oorsese studiereis en ontvang ’n jaar later ’n opdrag om ’n perdegroep vir die Strydom-monument in Pretoria te lewer. Intussen, na sy terugkoms uit die buiteland, werk hy nog aan die Hertzog-monument, wat hy na ses jaar van volgehoue arbeid voltooi. Die hooffiguur en bykomstige groepe figure was voorwaar ’n reuseonderneming.

1968:

Dié monument word op 21 September 1968 te Bloemfontein deur Sy Edele B.J. Vorster, Eerste Minister, onthul. Dit pryk tans regoor die Bloemfonteinse stadshuis op ’n terrein wat sedertdien die Hertzog-plein genoem word. Die afgesonderde binneruim is omring deur natuurlike betonmure en is uitgelê met ’n amfiteater, terrasse, fonteine, en ’n tuinery. Dié geheel vorm ’n stil, gewyde atmosfeer. Uit die knooppunt van die horisontale lyne en vlakke skiet die vertikale element op, ’n sierlike wit suil wat die fokuspunt vorm tesame met die 3,75 meter-hoë Hertzog-figuur op die verhoog van die amfiteater.

Foto: ’n Perspektieftekening van die Hertzog-monument te Bloemfontein. In hierdie projek het beeldhouer en argitek (Albrecht Holm) ten nouste saamgewerk.

Buiten die groot bronsbeeld van die Generaal is daar nog nege bronsfigure in die groep. Daar is die aangrypende komposisie van die bejaarde egpaar wat die verslaentheid van die Afrikaner na die Tweede Vryheidsoorlog voorstel, en daarnaas die daadkragtige vader saam met sy eggenote wat haar kinders uit die Bybel leer. Hulle versinnebeeld die Afrikaner wat moed geskep het uit die vasberade leierskap van hul geliefde Generaal. ’n Entjie na regs staan die beeld van ’n Boerseun en ’n Engels-sprekende jongman wat die Generaal se pleidooi om samewerking tussen die taalgroepe uitbeeld. Die enigste woorde op die beeldegroepe verskyn op die voetstuk van die Hertzog-figuur: SUID-AFRIKA EERSTE.

Dis ’n grootse skepping en die beeldhouer verval nêrens in klein-realistiese weergawe van uiterlikhede nie. Dis streng beheerste realisme, met die klem slegs op die essensiële. Danie glo dat die weergawe van die innerlike van die mens uitgebeeld moet word en dat dit nie gaan om slaafse nabootsing van gelaatstrekke en anatomie nie. Die invloed van Rodin kan waargeneem word in sy benadering en hantering, maar dit geld slegs vir die “woordeskat” en nie vir die inhoud nie.

In 1968 voltooi hy ook ’n kopstuk vir wyle dr. Verwoerd se heldegraf, ’n beeld vir Volkskas, en Iê hy hom toe op die perdegroep vir die Strydom-monument. Na die onthulling van die Hertzog-monument vertrek hy op ’n tweede studiereis oorsee.

1969:

Hy besluit om ’n eie bronsgietery op sy werf te vestig en vir dié doel besoek hy Europa om ’n bronsgieter in diens te neem. Hy kies Gian Franco Natali, van Florence, en bring hom na Suid-Afrika. Spoedig word ’n gietery naby Danie se ateljee opgerig.

In Oktober voltooi hy sy perdegroep en in November word sy gietery amptelik deur Sy Edele die Administrateur van Transvaal geopen, waarna Gian Franco en Danie se broer, Pieter, wat intussen by die gietery aangesluit het, tot die giet van die perdegroep oorgaan. Daar dit tegnies moeilik is om groter stukke as sowat 1,25 meter by 1,75 te giet, moet meeste beelde met groter mate gewoonlik in dele gegiet word. Die perdegroep het uit 76 dele bestaan wat later met groot akkuraatheid en vernuf aanmekaar gesweis is.

Sedert die oprigting van die Strydom-monument in Pretoria heers daar groot meningsverskil onder kenners en nie-kenners oor die opset van dié monument. Sommige prys dit aan, ander keur dit af. Maar watter standpunt ’n mens ook al huldig, die feit bly dat daar weinig fout te vind is met die perdegroep waarvoor Danie de Jager verantwoordelik was. Party sê die marmervoetstuk waarop die perdegroep gemonteer is, is te hoog; ander sê dit is te laag. maar selfs sulke menings doen geen afbreuk aan die kwaliteit van die skepping as sulks nie.

Foto: Die perdegroep wat deel vorm van die Strydom-monument in Pretoria. Dit weeg sewe ton!

Die nalende perde – daar is vier in die groep – is ongeveer twee keer lewensgrootte en elk dui op ’n provinsie. Die feit dat hulle speels in dolle vaart voortbaljaar, versinnebeeld die nuut gewonne  vryheid van die Republiek. Die beeldegroep is dan ook in die eerste plek bedoel om wyle adv. Strijdom se strewe na ’n vrye Republiek voor te stel.

Foto: As daar een man is wat ’n perd ken, is dit Danie de Jager. Hier is die modelperd wat die beeldhouer gemaak het tydens sy nougesette en volgehoue studie van die anatomie en aard van perde.

Dit is die grootste perdegroep wat nog ooit in ons land aangedurf is en die beeldhouer het werklik uit sy pad gegaan om ’n besondere skepping voort te bring. Nadat hy die opdrag ontvang het, het hy dadelik tot ’n intensiewe studie van perde oorgegaan, só intensief dat hy selfs ’n Arabiese hings Habib el Arab aangekoop het om as studie-model te dien. Hy het ook vyf maande lank te Onderstepoort die anatomie van gedissekteerde perde haarfyn bestudeer, en aan die hand van sy waarnemings en onder die kritiese oë van dié inrigting se vakkundiges ’n perd lewensgroot uit gips opgebou. Die model staan nog steeds in sy ateljee.

1970:

Hy ontvang verskeie opdragte – vir ’n beeld voor die Pietersburgse biblioteek, een vir die gebou van die Transvaalse Landbou-unie te Pretoria, ’n kinetiese beeld vir die nuwe eindpuntgebou te Jan Smuts-lughawe, en ’n Strijdom-beeld vir Nylstroom. Die kinetiese beeld te Jan Smuts bestaan uit gepoleerde brons wat op so ’n wyse vervleg is dat dit eindeloos voorkom. Wanneer die beeld stadig in die rondte draai, skep dit die illusie van opwaartse beweging.

Foto: Hierdie beeld van landbouers is in opdrag gemaak vir die gebou van die Transvaalse Landbou-unie in Pretoria.

1971:

Nadat Pieter die kuns van bronsgietery bemeester het, keer Gian Franco Natali na Italië terug. In dieselfde jaar word die beeld wat vir die Jan Smuts-lughawe bestem is, opgerig.

1972:

Foto: Danie de Jager is ewe tuis in realistiese as in abstrakte beeldhouwerk. Hierdie beeld het hy vir Barclays Bank in Braamfontein, Johannesburg, geskep. Vlekvrye staal is saam met geelkoper gebruik, met die bank se wapen in brons.

Hy ontvang ’n opdrag om ’n beeld vir Barclays Bank in Johannesburg te lewer. In Mei word sy nou bekende perdegroep in Pretoria onthul en op 10 Oktober ook die standbeeld van wyle adv. Strijdom te Nylstroom.

Aan die begin van hierdie jaar voltooi hy ’n muurpaneel vir Santam-bank in Port Elizabeth en kort gelede is die abstrakte beeld vir Barclays-bank opgerig.

’n Besonder geslaagde skepping is die borsbeeld wat hy, in opdrag, intussen van dr. R. Bigalke, voormalige direkteur van die Pretoriase Dieretuin, gemaak het.

Dit is nie net beeldhouers wat beelde voortbring nie. Daar is ook talle kunstenaars wat die skilderkuns en ander kunsvorms beoefen wat beelde lewer. Hulle doen dit by wyse van afwisseling of sommer net om te eksperimenteer. Dikwels is hul pogings in hul oë of in dié van ander so geslaagd dat hulle besluit om hul werk in brons te Iaat giet veral weens die duursame aard van dié materiaal. Meestal is die eindprodukte dan mislukkings, omdat hul pogings in die eerste plek nooit in brons gegiet moes gewees het nie! Sulke kunstenaars het meestal nie die vaagste benul van die besondere ‘taal’ wat brons spreek nie. ’n Bronsbeeld moet met één woord uit die grond gekonsipieer word met ’n intieme begrip van die besondere eienskappe van hierdie legering. Elke materiaal waarin gebeeldhou word, hetsy marmer, staal, hout, e.s.m., het immers sy karakteristieke wat deur die beeldhouer aangevoel en eerbiedig moet word.

Toe die proses van bronsgietery nog primitief was, moes die beeldhouer, nadat hy ’n ruwe vorm in brons gegiet het, met handgereedskap die uiteindelike vorm uit die brons afwerk. Vandag is die proses só gesofistikeerd dat selfs ’n vingermerk wat deur die beeldhouer op die model gelaat word, op die brons verskyn. Die beeldhouer hoef nie meer die bronsgietsel af te werk soos vroeër nie, maar die afsydigheid wat dit meebring, kan daartoe lei dat hy nie ’n gevoel vir brons ontwikkel nie. Hy is dus nie in staat om die volle potensiaal van dié materiaal te benut nie.

Van die begin af het Danie de Jager ’n spesiale voorliefde vir klei gehad, hoewel hy ook met ander materiale geëksperimenteer het. Hy het egter vroeg besef dat as hy ooit sy kleibeelde in brons wil laat giet, hy eers ’n grondige kennis van dié materiaal en die gietproses sou moes opdoen. Vandag getuig elke stuk wat hy voortbring van sy fyn aanvoeling wat hy deur volgehoue studie, eksperimentering en ervaring verwerf het.

In die gietproses word daar veel met was gewerk, ’n materiaal wat nogal ten opsigte van sy eienskappe met klei ooreenkom en in sommige opsigte selfs dienliker is. Talle unieke beeldjies waarvan Danie die modelle aanvanklik in was gemaak het, het reeds die lig gesien. Sonder sy intieme kennis van brons en bronsgietwerk sou hulle beslis nie moontlik gewees het nie.

Hy gebruik die plastisiteit van klei of was en interpreteer dit dan in brons. Op dié manier verkry hy ’n delikaatheid wat nog selde in ons land geëwenaar is.

Die publiek besef selde dat nadat ’n model gemaak is, daar ’n onbepaalde getal eksemplare gegiet kan word, met die gevolg dat sulke beelde weinig meer waarde het as die afdrukke van skilderye. In huise waar meestal of uitsluitlik net oorspronklike skilderye hang, sien mens soms sulke eksemplare wat dikwels een van ‘n tiental of meer beelde is. Hierdie prosedure steek Danie dwars in die krop. Hy betreur dit byvoorbeeld dat Anton van Wouw se werk vandag grootskeeps vermenigvuldig word. In die reël giet hy net één eksemplaar van elke werk en wanneer daar in uitsonderlike gevalle meer as een gietsel gemaak word, word die afsonderlike stukke genommer. Dié feit word dan terdeë onder die aandag van die koper(s) gebring. In beginsel giet hy egter nooit meer as drie stukke nie.

In sy meer realistiese werk is dit hoofsaak by Danie om beweging uit te beeld en vlugtige indrukke van karakter en handeling te verbind. Daar is dus geen sprake van slaafse nabootsing van vorm nie. Hy verkry effekte van skadu en lig deur weglating van elemente, sodat die skadu die modellering voortsit. So gebruik hy negatiewe en positiewe vlakke en vorms om beweging en lewe in ’n statiese afgietsel te suggereer. Sy afmetings van die model word deur die oog geïnterpreteer en hy word nooit deur opmetings en mate mislei nie. Perspektief speel steeds ’n rol. ’n Figuur wat van onder af besigtig moet word, kry byvoorbeeld ’n groter kop om die perspektief in hoogte reg te stel. Die ontwerpmodel dien net as leidraad om die konsep daar te stel en nie om finale proporsies aan te dui nie. Vergroting volgens die tradisionele puntstelsel van vergroting word dus nooit toegepas nie, en die beeld word letterlik op groter skaal herskep.

Foto: Die hooggepoleerde kinetiese bronsbeeld (abstrak) wat in die eindpuntgebou op Jan Smuts-lughawe pryk en met sy opwaartse lyne lugvaart versinnebeeld.

In sy abstrakte werk gebruik hy brons met eweveel welslae, soos die kinetiese beeld te Jan Smuts-lughawe terdeë getuig.

Sy massiewe skeppinge berus ook op ’n grondige kennis van en fyn aanvoeling vir konstruksie. Laasgenoemde beeld het byvoorbeeld ’n oorstek vanaf die draagpunt (in dié geval die draaipunt) van byna 2,1 meter, terwyl die deursnee van die drapunte in sommige gevalle slegs 900 mm meet. Die massa wat gedra word, bedra oral meer as ’n ton! Die beeldhouer het die draprobleem die hoof gebied deur op behendige wyse ’n ‘ruggraat’ van metaal in die gevormde bronsbuis te versteek.

Buiten sy behendigheid ten opsigte van konstruksie beskik hy ook oor empiriese kennis van die meganika, kennis wat hy al as skoolseun opgedoen het deur masjinerie uitmekaar te haal en ure lank met sy ‘Meccano’-stel te verwyl. Dis hoogs waarskynlik dat deur sy talent steeds met hierdie tegniese kennis te voed, hy nog veel op die gebied van kinetiese skeppinge sal vermag.

Danie se belangstelling in die argitektuur en die omgewing spreek uit sy benadering tot opdragte. Hy is van mening dat ’n kunstenaar of beeldhouer, wanneer hy of ’n opdrag kry, in die nouste samewerking met die argitek oor ’n ontwerp moet besluit om sodoende ’n geheelindruk te skep wat in harmonie met die omgewing is.

Afgesien van sy ervaring, wat aansienlik is, is Danie nog jonk en kan daar nog oor sy verdere ontplooiing gegis word. As mens lewe hy intens en dit Iy geen twyfel nie dat hy ook sy kunstenaarskap naarstig beoefen. Elsa, sy eggenote, dra in haar stil, nederige toewyding aan Danie en sy werk veel by tot die vorming van sy gees. As mens is Danie eg. Hy lewe ooreenkomstig sy lewensbeskouing en probeer geen valse indrukke skep nie. Sy belangstelling in die kuns ken geen perke nie en strek ver buite die beeldhou. Die natuur boei hom en hy deel hierdie belangstelling met Elsa wat eweveel inspirasie daaruit put.

’n Mens sien vol verwagting uit na die toekomstige skeppinge van hierdie begaafde beeldhouer.

 

Bron: Smit, Wynand. 1973. Lantern, September: 46-55.