Suid-Afrikaanse vlagliedere

Carike – van joolkoningin tot legende
Augustus 20, 2018
Die Voortrekker-museum
Augustus 20, 2018

Daar dit blyk dat ons in die vyf jaar van die Republiek vlagbewus geword het, is dit goed om ’n terugblik te werp en na te gaan hoe vorige geslagte musikaal op hul vlae gereageer het, m.a.w. wat die inhoud en so moontlik die melodieë van hul vlagliedere was.

Omdat die eie vlag en die eie volkslied simbole van ’n selfstandige volk is, moet ons hierdie liedere by die eertydse onafhanklike state in Suid-Afrika soek. Dit beteken dus dat ons nie verder as die jare die Groot Trek of kort daarna hoef terug te gaan nie. Die Graaff-Reinetters en Swellendammers wat in 1795 so opstandig was, het wel ’n “zoort van een onafhankelijke eigen Constitutie” gehad, maar hulle het tog nog altyd van die “colonie” Graaff-Reinet, Swellendam, of selfs Stellenbosch gepraat, soos dr. Coenraad Beyers meedeel.

Ons het van die Voortrekkervlae gehoor wat op die een of ander manier aan die bekende kleure van die ou Hollandse vlag herinner het, maar vermoedelik was daar niemand onder die Voortrekkers wat deur hul vlae tot die vervaardiging van ’n bruikbare teks – al dan nie met ’n nuwe of geleende melodie – aangespoor is nie.

Dit was dan ook pas in 1857 – vyf jaar nadat die Overvaalse gebied by die Sandrivier-traktaat as onafhanklik erken is – dat ons vir die eerste keer van ’n vlaglied hoor, en wel by die beëdiging van Martinus Wessel Pretorius tot president op 6 Januarie van dié jaar. By hierdie geleentheid is op Potchefstroom vir die eerste maal die nuwe Transvaalse vlag gehys. Dié vlag, die bekende Vierkleur, is deur ds. D. van der Hoff ontwerp. Nadat die beëdiging in die landdroskantoor plaasgevind het, het ds. Van der Hoff ’n dankdiens in die kerk gelei, waarby die gemeente die geliefde “Dat’s Heeren zegen op u daal” gesing het. Ná die vlaghysing het die predikant sy vlaglied voorgedra waarin hy reeds op ’n verenigde Suid-Afrika gesinspeel en as gebore Hollander die vlag ook reeds op see sien wapper het:

Vivat de vlag! Vivat de vlag!

Foto: Ds. Dirk van der Hoff

Door vrijheid hier geplant !

Waai rond door Zuid’lik Afrika

Van Oost- tot Westerstrand.

Waai onbezoedeld schoon en rein

En wapper ook op zee;

Vertoon u aan der volk’ren oog

Tot aan de verste ree.

God zij met u—God zij met u,

Gij maagdelijke vlag,

En met het volk, dat u verkoos,

Tot aan den jongsten dag!

Later, ná die Eerste Vryheidsoorlog, kom ds. Van der Hoff nog weer op sy vlaglied terug. Vir die eerste feesviering te Paardekraal skryf hy nog weer die volgende woorde:

Vivat de vlag, vivat de vlag,

O, waai met roem en eer,

Hier in ons vrij gevochte land,

Gekocht met goed en bloed.

Is hierdie lied ooit gesing? Hoewel skrywers van liedtekste ook in dié jare meestal hul woorde op een of ander bekende wysie geskryf het, lyk dit of dit by “Vivat de Vlag!” nie die geval was nie. Vermoedelik het ds. Van der Hoff dit ook by latere vlaghysings net gedeklameer.

Ook die Oranje-Vrystaat het sy vlaglied gekry ruim drie maande ná Transvaal. Op 23 Februarie 1857 is die vlag wat deur koning Willem III van die Nederlande aan die jong republiek geskenk is vir die eerste maal op die fort van Bloemfontein gehys. Tydens dié plegtigheid is daar ’n paar toesprake gehou en saluutskote afgevuur. Daar is egter geen melding van ’n vlaglied gemaak nie. Dit was wel die geval by dieselfde plegtigheid op Winburg op 19 April van dié jaar. Ná die gebed is die vlag onder ’n “negenvoudige salvo uit het kanon” gehys. Die aanwesiges het dit met ’n “drievoudig hoerah” begroet, waarna ’n spesiaal gevormde koor die vlaglied van ses koeplette gesing het. Die teksskrywer, J.P. Klein, wat sinds twee jaar in die Vrystaat woonagtig was, het sy woorde op die wysie van die bekende studentelied Iö vivat! geskrywe en, blykens die beginreëls, die Transvaalse Vlaglied van ds. van der Hoff as voorbeeld geneem:

Daar staat de vlag, daar staat de vlag,

Door vrijheid hier geplant,

En wie aan haar geen hulde biedt,

Door dit ons dankbaar vlaggelied,

Die is gewis, die is gewis

Geen uit den broederband.

(Sien F.J. du Toit Spies: Hamelberg en die Oranje-Vrystaat, Amsterdam (1941) en Het Volksblad, II, (Byvoegsel), Kaapstad, 5.5.1857.)

’n Tweede vlaglied vir Transvaal het in 1876 ontstaan. Prof. S.P. Engelbrecht, die biograaf van president Th. Fr. Burgers, vermeld die geskiedenis daarvan in ’n artikel oor die Transvaalse Volkslied. President Burgers het juis in die voorgaande jaar, tydens sy besoek aan Europa, ’n nuwe nasionale volkslied van die Nederlandse skryfster en komponiste Catharina F. van Rees gekry, die bekende “Kent gij dat volk vol heldenmoed?” Op 27 Mei 1876 is aan die Volksraad ’n “vlaglied” van W.P. Hengel, uit Amsterdam, aangebied waarby J.W. Berner musiek gekomponeer het. Die lied is deur die Volksraad met dank aanvaar en tot “vlaggelied van de Zuid-Afrikaansche Republiek” verklaar. Die regering het daarby ook besluit dat afdrukke van die lied gemaak sou word, wat teen ’n “geringe prijs” vir die publiek beskikbaar gestel sou word. Of daarby ook aan die musiek gedink is?

Die teks is in elk geval later in die Staats Koerant gepubliseer en bestaan uit drie koeplette van agt reëls. Natuurlik moes in die lied die “rijke kleuren” van die vierkleur besing word en dit Iyk al heel waarskynlik dat teksdigter Van Hengel daarin sy voorbeeld by die Nederlandse “vlaggelied” van dr. J.P. Heye gevind het, al is die meeste kleure van die vlag vir hom sinnebeelde van ander eienskappe as by Heye. So dui die Nederlandse rooi op manlike krag en moed, die wit op vroomheid, die blou op trou. Van Hengel skrywe egter:

Uw Rood, zij blijve ’n liefdesteken;

Uw Wit, de onschuld van den Staat;

Uw Blaauw, de trouw zoo vaak gebleken,

Uw Groen, de jeugd die nooit vergaat.

Die wens van Van Hengel: “O Vierkleur blijf nog jaren wappren!” het nie in vervulling gegaan nie, altans voorlopig nie. Reeds op 12 April 1877 het Shepstone Transvaal geannekseer en was die vlaglied dus binne ’n jaar oorbodig. Miskien is dit die oorsaak dat dit nooit algemeen deur die volk aanvaar en gesing is nie.

Foto: President FW Reitz (Foto: SP Engelbrecht-museum, Pretoria)

Dit was wél die geval met die vlagliedere wat in 1881 ontstaan het na aanleiding van die glorieryke herrysenis van die Transvaalse Republiek ná Majoeba. Die Patriot, die blad van die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl, het ’n prysvraag vir nuwe volksliedere uitgeskryf waarop twaalf digproewe – agt in Hollands en vier in Afrikaans –binnegekom het. Hierdie tekste is aan ’n paar koerantredaksies en verder aan die Transvaalse driemanskap, president Brand, adv. Reitz en dr. Brill, die professore Hofmeyr en Mansvelt, en die predikante Ross, W.P. de Villiers, P.D. Rossouw, C.W. en S.J. du Toit en kandidaat Schoon toegestuur, met die versoek om een Afrikaanse en een Hollandse teks as die beste aan te wys. Dié twee sou dan deur die Paarlse musiekmeester Jan St. de Villiers getoonset word.

Die beoordelaars het hul keuse op ’n Afrikaanse gedig van ds. S.J. du Toit en ’n Hollandse teks van “Neef Jan”, d.w.s. ds. Jan Lion Cachet, laat val en wat die Iaaste woorde betref, heeltemal na die smaak van die komponis. Toe De Villiers die gedig van ds. Lion Cachet leer ken het, het hy uitgeroep: “Daar heb je een trippelmaat, dat vers krijgt zeker wel een prijs!”, wat dan ook die geval was en selfs met die meeste stemme. Die eerste koeplet lui soos volg:

Op! Op! met de Vierkleur,

De Vlag van ons land!

Op, waakt bij dat vaandel,

’t Geweer in de hand!

Foto: “De Vierkleur”, woorde deur neef Jan, musiek deur JS de Villiers

Ook die bekroonde teks van ds. S.J. du Toit was ’n vlaglied en is in die toenmalige “Patriotspelling” geskrywe. Uit sy woorde, meer nog as uit dié van “Neef Jan”, spreek die trots, selfs die oormoed, van die oorwinnaars van Majoeba:

Di Fiirkleur fan ons diirbaar land,

Foto: Ds. SJ du Toit

Di waai weer o’er Transvaal,

En wé die Godfergete hand,

Wat dit weer neer wil haal!

Soos by die meeste volksliedere het ook hier die melodie die lied baie gewild gemaak en wel in so ’n mate dat dit aanvanklik vir die meeste Transvalers geliefder was as die amptelike Volkslied van Catharina F. van Rees.

Weer hoor ons van “Die Vierkleur” by die plegtige ontvangs van president Kruger in die Amsterdamse Paleis voor Volksvlijt op 20 Desember, waarby die skoolkinders hom toesing:

Wees welkom ons in Amsterdam,

Gij, zwaar beproefde held!

en daarna op die wysie van “Die Vierkleur”

Gij, Vierkleur van het dierbaar land,

Door Hollandsch bloed gekleurd.

Dié lied was op pienk-gekleurde papier gedruk en vir twee Hollandse sente te koop.

Suid-Afrika se vlagliedere het in hul lotsverbondenheid die op- en neergang in die bewoë volksgeskiedenis meegemaak. En so moes ook ’n vlaglied die halwe eeu van die Boererepublieke afsluit. Die woorde van die eenvoudige en ontroerende “Vaarwel aan de Vierkleur” van oud-president F.W. Reitz is later op passende wyse deur die groot vriend van Suid-Afrika, die Hollandse komponis J.P. Wierts, getoonset:

Niet langer mag de Vierkleur wapp’ren,

Met tranen gaven wij haar af,

Zij is met onze dode dapp’ren

Verdwenen in ’n eervol graf.

Foto: “Vaarwel aan de Vierkleur”, woorde van FW Reitz, getoonset deur JPJ Wierts. Let op die Engelse vertaling (Foto: SP Engelbrecht-museum, Pretoria).

’n Nuwe lied by ’n nuwe vlag! Met die oog op die hysing van die vasgestelde Driekleur: Oranje-Blanje-Blou, op 31 Mei 1928, het Die Huisgenoot ’n paar weke tevore ’n vlaglied van senator Langenhoven, met musiek deur dr. F.J. Joubert gepubliseer, waarby die redakteur die hoop uitgespreek het, “dat by die feestelikhede flink van die vlaglied gebruik sou word.

Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:

Wat beteken jou vlag dan Suid Afrika?

Ons weet hy’s die seël van ons vryheid en reg

Vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg;

Die pand van ons erfnis, geslag op geslag,

Om te hou vir ons kinders se kinders wat wag;

Ons nasie se grondbrief van eiendoms land,

Uitgegee op gesag van die Hoogste se hand,

Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra,

Die vlag van ons eie Suid-Afrika.

In dieselfde tyd het ook die jong digter Eitemal ’n geesdriftige vlaglied, “Oranje-Blanje-Blou” op ’n geleende wysie van H.H. Pierson geskrywe, waarin hy in sy refrein vir ons ’n boodskap gee wat ook in die dae van die jong Republiek van Suid-Afrika nog sy betekenis het:

Dis die tyd, dis die dag

Om te handhaaf en te bou.

Hoog die hart, hoog die vlag

Hoog Oranje-blanje-blou!

Ons gaan saam die donker toekoms in

Om as een te sneuwel of oorwin,

Met ons oog gerig op jou,

Ons Oranje-blanje-blou!

Bron: Bouws, Jan. 1966. Lantern, Junie: 68-73.