1858 Nederlanders en Nieuw-Gelderland
Julie 26, 2018
Hessel sterf aan kanker
Julie 27, 2018

Vir die eerste blankes wat in 1824 in Port Natal aangekom het, was die Zoeloes ’n primitiewe volk. Spoedig egter moes hulle ontdek dat hierdie mense oor ’n gevestigde stelsel van opleiding beskik wat stiptelik op die kind van sy sesde jaar af toegepas is. By hul aankoms hier het die eerste sendelinge dadelik besef dat onderwys, hoe eenvoudig ook al, miskien die beste middel tot die evangelisasie van die heiden sou wees en het hulle sonder versuim ’n paar skooltjies begin. Met ’n mate van teësin het Dingaan, die Zoeloekoning, hulle toegelaat om een of twee skooltjies noord van die Tugela te stig.

Wat die eerste blanke setlaars betref, het onderwys eers in 1835 ’n ernstige oorweging geword. Hulle het toe ’n groot stuk grond vir ’n “free school” gekies, maar dit kan vandag nie met sekerheid bepaal word waar die terrein geleë was nie.

Kort na 1837—8 het Voortrekkers in groot getalle oor die Drakensberg gekom en daar het besorgdheid onder hulle geheers oor die opvoeding van hul kinders in hierdie mooi dog wilde wêreld. Waar saans laer getrek is, het ouers, vriende en selfs oorlamse vrygesette slawe kinders gehelp om te leer lees en skryf.

Foto: Wynand W. Maré, ‘laagerschoolmeester’ tydens die trek. Hy net self aan die Geloftekerk help werk.

Waar die trek om die een of ander rede ’n dag of wat halt gehou het, is ’n skooltent opgeslaan en “laagerschoolmeesters” soos Wynand Maré, Alfred Smith, Jan Hellberg, Koos Nel en ander het waardevolle werk verrig met leerlinge wat binne bereik was.

Toe die Trekkers hul bestemming bereik het, is twee klaskamers onverwyld opgerig, een te Weenen en die ander in Pietermaritzburg.

’n Aansienlike getal Trekkers het hulle na die kusstreek gehaas en in ’n laer, beskerm deur paalwerkskutting, aan die Umlazi-rivier naby dr. Newton Adams se sendingstasie saamgetrek. Hier het eerw. Daniel Lindley en sy gade, pas van Grahamstown af terug en diep getref deur die Trekkers se behoefte, in Januarie 1940 ’n skool gestig. Hulle het met omtrent ’n honderd leerlinge van agt tot 18 jaar en ouer begin, maar die roltal het spoedig tot 130 gestyg! Met groot spyt moes hulle na 18 maande hierdie belowende onderneming staak toe eerw. Lindley hom geroepe gevoel het om predikant van die Trekkers in Pietermaritzburg te word. Daar was tot in hierdie stadium nog geen sprake van ’n georganiseerde onderwysstelsel nie.

Die anneksasie van Natal in 1843 het groot veranderinge gebring. Die meeste Trekkers, onwillig om onder Britse bewind te bly, is terug oor die Drakensberg. Pietermaritzburg en Durban het gou oorwegend Engelssprekend geword. maar in plekke soos Kliprivier (Ladysmith), Weenen en Umvoti (Greytown) het groot “Dutch” gemeenskappe agtergebly. Hierdie mense het Afrikaans gepraat, maar die onderrigmedium waar skoolgehou is deur rondgaande onderwysers, was Nederlands. Die amptelike medium van instruksie in die Kolonie word voortaan Engels en die onderrig van Nederlands by vergunning toegelaat. Omstandighede word dus geskep wat die administrasie van onderwys veral in die platteland voortaan terdeë sou beïnvloed.

Private inisiatief het nie op die koloniale owerheid gewag nie. Dag- en aandklasse is gestig, maar ons weet min van hulle af. Die firma D.D. Buchanan en Kie., drukkers en boekhandelaars, het, volgens advertensies, so ’n groot verskeidenheid skoolbehoeftes te koop aangebied dat mens geneig voel om te glo dat daar meer private skooltjies en klasse was as wat in die geskiedenis opgeteken staan.

Op 4 April 1848 word die tender van McKenny en Murphy vir die oprigting van ’n skoolgebou op erf 16, hoek van Chapel- en Langmarkstraat, aangeneem – die eerste staatskool in Natal. Die jaar daarop word die tweede staatskool, dié keer in Durban onder weleens William Nesbitt (“Old Nizzy”) ook met 100 leerlinge van agt tot 18 jaar geopen. Die ou heer staan aangeteken as ’n man met ’n kwaai voorkoms en dat hy ongenadig streng was! Miskien was dit nodig – man-alleen met ’n honderd seuns, party al 18 jaar oud en net so vryheidliewend soos die voëls op die baai en die wildsbokke in die bosse van die Berea. Die twee skole het beroemd geword. Die eerste, nou Maritzburg College (“College”), en die tweede Durban High School (“D.H.S.”) word nog steeds met liefde deur duisende Suid-Afrikaners geëer.

Beperkte finansiële vermoë van die koloniale owerheid het die oprigting van nog meer staatskole verhoed, maar in 1852 is ’n stelsel van hulptoelae ingevoer. ’n Aantal ondersteunde skole het soos paddastoele verrys en byna net so spoedig verdwyn met minstens één uitstaande uitsondering – die Hermansburgse skool wat in 1854 deur die Hanoveraanse sendelinge opgerig is. Dié skool het kosgangerfasiliteite aangebied en kon opleiding verskaf aan leerlinge wat later uitstaande figure in die lewe sou word. Onder hulle tel Frederick Moor, later sir Frederick Moor, die eerste minister van Natal en ook generaal Louis Botha. Frederick terloops te Hermannsburg ’n offisier in die eerste skoolkadetkorps in ons land.

Die jong kolonie verkry verteenwoordigende regering en word “bevry” van beheer uit Kaapstad. Byna die eerste taak van die nuwe verteenwoordigende raad was die aanstelling van ’n bekwame gekose komitee

Foto: Dr. Robert James Mann, M.D., F.R.C.S., 1859—1866, Natal se eerste superintendent van onderwys.

met opdrag om die hele onderwysaangeleentheid grondig te ondersoek en die raad van advies te dien. Sy deeglike verslag het vir baie jare daarna die bloudruk vir Natal se primêre onderwys geword. Dit het ook gelei tot die aanstelling van die eerste onderwyshoof.

Op 8 Julie 1859 is dr. Mann met ’n salaris van £300 per jaar plus ’n voertoelaag vir twee perde aangestel. Onmiddellik na sy aanstelling het hy die kolonie op ’n inspeksietoer deurreis en deeglik kennis gemaak met die toestande veral in die “Dutch districts” van Kliprivier, Weenen en Umvoti. Die jong kolonie kon van geluk spreek dat hy so vroeg in sy bestaan en juis op ’n kritieke tydstip die leiding van die bekwame en uitstaande dr. Mann gehad het. Hy het geen ingrypende veranderings aangebring nie, dog sy groot diens het daarin gelê dat hy geweet het hoe om met simpatie en insig verbeterde gebruik van die bestaande stelsel binne die finansiële vermoë van die kolonie te maak.

Foto: Die amptelike opening in 1868 van die gebou wat vir die verteenwoordigende raad in Pietermaritzburg opgerig is. Dié raad het onderwys sterk gesteun en reeds in 1859 die bekwame dr. Mann benoem om onderwyssake in Natal te rig.

Die grootste enkele probleem wat hy teëgekom het, was die gebrek aan, en in baie gevalle die afwesigheid van boeke. Sonder versuim het hy daarin geslaag om ’n staatsboekedepot te open waar die nodigste boeke en ander voorrade teen kosprys aangebied is.

In die Afrikaanssprekende gebiede het hy ’n aantal rondgaande onderwysers (meestal Hollanders) aangetref en, hoewel hy openlik aan gevestigde (“fixed”) skole voorkeur gegee het, het hy met waardering erken dat hier goeie werk gedoen word. Hy het sommige leermeesters pertinent genoem, insluitende die here H.W. Boers en J. Lion Cachet in die Klipriviergebied, J.C. van der Craght en A. Jansen in die Biggarsberg, J.H. Meerdink en J. Vögel te Weenen en C.H. Schmidt en G. Freislick te Umvoti.

Foto: Inspekteur John Macleod en sy drywer per muilkar op ’n inspeksie-ronde.

Met teleurstelling moes hy verklaar dat die konserwatiewe boere nie vir gevestigde skole te vinde was nie. Hy het egter goeie werk erken deur staatstoelae aan meer as ’n dosyn onderwysers toe te ken, al was hulle nie ten volle in Engels vaardig nie. Sy vriendelike opregtheid het gesonde gesindhede geskep en sy beloning was die latere stigting van gevestigde skole in belowende getalle.

Ten spyte van die finansieel-moeilike 1860’s het die groei op onderwysgebied die behoefte aan sekondêre onderwys dringend gemaak. In 1863 is die Pietermaritzburgse Hoërskool (tans Maritzburg College) vir seuns gestig en is al vir soveel dekades met liefde as “College” bekend. Die naam van R.D. Clark, ’n hoof gedurende die vorige eeu, sal altyd daarmee verbind bly.

Drie jaar later is die Durbanse Hoërskool vir Seuns (“D.H.S.”) geopen en was bestemd, net soos Maritzburg College, om ’n trotse tradisie van diens aan Natal en weliswaar aan Suid-Afrika op te bou.

Foto: Die gewelgebou links op die voorgrond was Durban se eerste skool. Die foto is omstreeks 1869 geneem.

Toe hy in 1866 om gesondheidsredes Natal moes verlaat, het hy sy opvolger vier staatskole en 62 staatsondersteunde gelaat, tesame met waardevolle geskrifte oor in die primêre skool – in der waarheid die eerste staatspoging tot onderwysopleiding. Maar hy het nog meer nagelaat – ’n gesonde praktiese onderwysstelsel, goeie verhoudings tussen ouers en owerheid en ’n bereidwilligheid tot selfhelp.

Mnr. T. Warwick Brooks het eers in ’n waarnemende hoedanigheid opgetree, want daar was nog steeds die stille hoop dat dr. Mann sou terugkeer. Sy taak was voorwaar onbenydenswaardig, want die destydse depressie het nie net nie voortgeduur nie maar vererger.

Die groot behoefte aan fasiliteite vir kosgangers het vroeg in die 1870’s tot die stigting van private skole gelei. Hilton College, wat onlangs sy eeufees gevier het, is in Januarie 1872 geopen. Teen 1875 was daar etlike kosskole vir dogters en sommige van die inrigtings het vanweë hul diens en invloed in die loop van die jare beroemdheid verwerf.

Behoefte aan opgeleide leerkragte word nou al hoe meer gevoel. Die superintendent van onderwys moes kla dat die prysenswaardige poging om belowende senior seuns en dogters as leerlingonderwysers prakties op te lei, misluk het. Byna sonder uitsondering is die jongmense deur beter besoldigde betrekkings in die sakewêreld weggelok. Hierna kon onderwysers in diens bevoegdheidsertifikate verwerf, maar vir formele voltydse opleiding moes Natal nog drie dekades wag!

Die wetgewing het afsonderlik vir primêre en sekondêre onderwys voorsiening gemaak en het ook getrag om meer skole onder staatstoesig te bring. Die wet het 65 jaar lank van krag gebly tot dit in 1942 deur ’n ordonnansie vervang is.

Die 1877 se wetgewing het ’n raad van onderwys bestaande uit 10 lede onder die voorsitterskap van die koloniale sekretaris in die lewe geroep. Die funksie van die superintendent van onderwys verander nou radikaal. Hy word die sekretaris of uitvoerende amptenaar van die raad. Van diktator in sy eie gebied word hy nou die skakel tussen die raad en die skole. Sestien jaar lank moes hy die soms wilde grille van die raad uitvoer.

Hoewel daar in Pietermaritzburg etlike baie bekwame onderwyskundige predikante beskikbaar was, is nie een op die raad benoem nie – dit was ’n opdrag van die luitenant-goewerneur. Hier uit trek die vasberadenheid van die owerheid om nie enigermate in die destydse “Colenso-geskil” betrokke te raak nie.

Op opvoedkundige gebied het die Raad goeie werk gedoen, maar op administratiewe het hy moeilikheid ondervind. Sy vervanging in 1893 deur die departement van onderwys soos ons dit vandag ken, toe Natal verteenwoordigende regering gekry het, kom eintlik as geen verrassing nie. In die vervolg voer die superintendent van onderwys en sy departement die beleid van die regering uit.

Die verdwyning van rondgaande skole of liewer van rondgaande onderwysers het ’n leemte gelaat. Om die gaping te oorbrug, het die owerheid die unieke stelsel van “farm-house schools” ingestel. Oor die sestig jaar het dié stelsel goeie diens vir plattelandbewoners verrig.

Enige moeder of ander persoon wat sekere vereistes aangaande tyd en leerplanne kon nakom, kon ’n skool met staatsondersteuning in haar huis vir haar kinders begin. Die stelsel het só fenominaal gegroei dat ervare organiserende inspekteurs jare lank die groot getal “huisskole” besoek en gehelp het.

Sentralisasie van onderwys en die groot verbetering van koshuisfasiliteite het nou die noodsaaklikheid van die huisskool feitlik uitgeskakel.

Staatskole het aanmerklik in getalle en gewildheid toegeneem.

In sy jaarverslag skets mnr. Robert Russel, derde onderwyshoof van Natal, die peil bereik deur die gemiddelde produk van die primêre skool – die kandidaat wat die “Elementary Examination”, (St. VI) met sukses afgelê het. Hy verklaar: “A pupil who passes standard VI in our schools has been taught to think; and to be accurate, methodical and punctual; is able to read with fluency and to understand an ordinary piece of English; he has studied part of a play of Shakespeare or a piece of Milton; can write fair English in a good hand; is able to draw fairly well from the flat; knows something of physical, mathematical and political geography; and of the history of England and Natal; has studied the elements of one science and of one other subject such as the history of Greece, of Rome or of France; can work problems in vulgar fractions and decimal fractions, proportion and simple interest.”

Hy boekstaaf ook met genoeë dat, so ver hy weet, daar geen hoekie in die kolonie is waar skoolonderrig, van die eon of ander aard, nie beskikbaar is nie.

Met die stigting van twee hoërskole het die owerheid onvermydelik voor die probleem van bevordering uit die primêre skole te staan gekom. Verskillende metodes is oorweeg, maar in 1876 is besluit om die voorbeelde van die Kaapkolonie te volg met die instelling van die bekende “Elementary Examinations”. Die volgende vakke is getoets: spelling en diktee; Engelse grammatika; rekenkunde; geskiedenis; en aardrykskunde. Geen voorsiening is vir Nederlands gemaak nie.

Die aansienlike aantal vraestelle wat bewaar gebly het, getuig van die nadruk op geheuewerk en op die nare berekeninge in rekenkunde waarmee die kandidate gepynig is.

Hierdie eksamen, amptelik genoem “Annual Collective Examination for Government Certificates for Proficiency in Elementary Subjects”, het lank in Natal diens gedoen. Later het dit die “Natalse Standerd-VI-sertifikaateksamen” geheet. In 1948 is besluit dat dit sy bruikbaarheid uitgedien het en het dit sonder trane van die toneel verdwyn.

Natal het jare lank goeie gebruik gemaak van die eksamenfasiliteite wat die Universiteit van Kaap de Goede Hoop aangebied het. Natalse kandidate vir skoolhoër (St. VIII), Matrikulasie, Intermediêre B.A., B.A., die Landmetersertifikaat, Laer Wet en L.L.B. het gereeld by die universiteit ingeskryf. Etlike kandidate het met privaatstudie gegradueer, maar die twee hoërskole sowel as private skole soos Hilton College, Michaelhouse, St. Anne’s College en Epworth, het ook kandidate vir die eksamens van die Kaapse Universiteit opgelei.

Terloops, maar tog interessant – die lys geslaagdes (B.A.) vir 1898 bevat die naam van Charles Templeton Loram, assistent-onderwyser te Maritzburg College. Hy is sewende op die honneurslys vir Suid-Afrika geplaas. Baie van die ouer onderwysers sal hom onthou as direkteur van onderwys van Natal en later as professor in die Verenigde State van Amerika. Die lys geslaagdes (B.A.) uit die seunshoërskool Durban (D.H.S.) vir die jaar 1901 bevat die naam van Ernest George Jansen, later advokaat en voorsitter van die Volksraad, en nóg later goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika.

Dit was eers in 1910, met die stigting van die Natalse Universiteitskollege, dat staatskole hulp in graadkursusse gestaak het. Natal onthou met waardering die goeie werk wat toegewyde geleerdes by die skole vir baie kandidate gedoen het.

Teen die einde van 1900 het Natal, wat ook weens die oorlog tye van groot beroering en ontwrigting beleef het, weer na normale toestande begin terugkeer. Die grootste enkele probleem, volgens die toenmalige superintendent van onderwys, was die knellende tekort aan klaskamerruimte, grootliks vererger deur die aanwesigheid van die aansienlike getal vlugtelinge, kinders uit die Transvaal en die Vrystaat. Al sou al die kinders dadelik kon terugkeer, bly Natal se skole nog oorvol. Die superintendent maak ’n ambisieuse bouprogram bekend wat uitbreidings by alle hoërskole en die oprigting van ses nuwe skole behels.

Alle skoolgeboue wat vir militêre doeleindes gebruik is, is deeglik skoongemaak en in volle werking gestel. Hy verwys in die besonder na Maritzburg College wat maandelank as militêre hospitaal gebruik is. Met sy vyftig kosgangers en vermeerderde roltal lewer dié skool bewys van ’n gelukkige herstel van normale werk.

Die verslag laat voorts elemente van optimisme vir die toekoms deurskemer. Vroeg die volgende eeu beleef Natal ’n nuwe benadering tot die onderwys en die rekrutering van ’n aantal begaafde onderwysers, bestemd om betekenisvolle bydraes te lewer, het gehelp om dié optimisme te bewaarheid.

Foto: Deel van die ou amptelike goewerneurswoning van Natal. Tans is dit deel van die dameskoshuis, Natalse Kollege van Onderwys. Let daarop hoe die mure netjies met skalieklip afgewerk is.

Bron: Meiring, Nico. 1974. Lantern, Maart: 53-56.