Jan Visagie: Rustenburg se eerste “geneesheer”
April 9, 2017
Die vestiging van blankes langs die Magaliesberg (1840-1850) – Deel 1
April 10, 2017

(Geskryf deur Deon BS Roberts, soos verskyn in Historia Junior, Desember 1959)

Dit is 8 Desember 1938 op Heidelberg (Transvaal) waar naastenby tien duisend mense vergader is om die besoek van die historiese Eeufeesossewatrek van daardie jaar te vier. Omdat die waens eers teen die middag verwag word, het die Reëlingskomitee gesorg dat daar ’n reeks van sewentien historiese voorstellings sal wees wat die plek van die Suikerbosrante in die Voortrekkergeskiedenis sal voorstel.

Die laaste van hierdie voorstellings sal ’n weergawe wees van die oorhandiging van die rapport wat genl. Piet Joubert met die burger Petrus Kilian gestuur het, aan Sy Edele Waarnemende President Paul Kruger wat hom tans weer in Heidelberg bevind na ’n vlugtige besoek aan Wes-Transvaal om ’n naturelle-opstand by te lê, onderwyl genl. Joubert met sy burgers na die Natalse grens opgeruk het. Ds. P.J. Viljoen sal die President voorstel, maar die rapportryer sal Adriaan Kilian wees, seun van Petrus Kilian wat op die middag van Dinsdag, 1 Maart 1881 die rapport op Heidelberg afgelewer het. Enkele dae tevore het skrywer hiervan, as sekretaris van die Reëlingskomitee, nog met oom Petrus Kilian gesels om te verneem of dit dan nou volstrek onmoontlik vir hom sou wees om weer eens “die rapport van die slag van Majuba” aar die “President” af te lewer.

“Nee, nefie, Omie is al oud en ek kan nie meer op ’n perd kom nie, al is hy ook hoe mak. Laat my oudste seun Adriaan maar my plek inneem. Hy is ’n pure man en ek sal tevrede wees as die eer hom kan te beurt val.”

“Oom Petrus, ons is bly daaroor dat ou-Oom vir Oom At aangewys het. Die Komitee versoek egter dat ou-Oom persoonlik teenwoordig moet wees op die verhoog en verder dat Tant Maria op een van die waens moet ry.”

“Goed, nefie, Omie sal daar wees, maar skryf nou hierdie woorde neer sodat Adriaan dit kan besig wanneer hy die rapport aan die ‘President’ oorhandig. Skryf: ‘Edelagbare, dit is vir my ’n voorreg om hierdie rapport van Generaal Joubert aan u te oorhandig’.”

Gedurende die voormiddag het Oom Petrus sy plek op die verhoog ingeneem en aandagtig  geluister na die omroeper wat die geskiedenis van die Suikerbosrante aan die duisende geskilder het, onderwyl daar met perdekommando’s, kakebeenwaens, veetroppe en ruiters aanskoulikheid verleen is aan die vertellings.

Eindelik is die laaste voorstelling aan die beurt. Die aankondiger vermeld dat Adriaan Kilian sy vader se rol sal vervul en dat die ruiter wat ginds aangery kom, Petrus Kilian voorstel. Wat was almal se verbasing groot, toe hulle merk dat die grysaard self op daardie perd sit. Die ou Voortrekkerbloed het sedert die oggend al hoe warmer deur sy are begin vloei en toe Heidelberg se aandeel in die Eerste Vryheidsoorlog aan die beurt gekom het, het hy met leeuemoed besluit dat hy vandag vir oulaas op ’n perd gaan klim en dat hy eiehandig die rapport aan die ‘President’ gaan oorhandig …

Met betraande oë het sy seun die gryse ou vader op die perd gehelp en toe die dier voor die ‘President’ tot stilstand kom, is hy weer afgehelp. Met ’n ferme handdruk en ’n vaste stem het hy die ‘President’ se hand geneem soos hy sewe en vyftig jaar tevore gedoen het, en die ‘rapport’ oorhandig …

Op 27 Februarie 1938 het die kinders van die A.G. Visserskool, Heidelberg, die voorreg gehad om Oom Petrus in eie persoon te hoor vertel hoe dit gekom het dat die eer hom te beurt geval het om die rapport van Majuba af na Heidelberg te bring. By die geleentheid was daar ook drie ander Majuba-helde teenwoordig en is foto’s van hulle geneem en is onderstaande gegewens aangeteken deur skrywer hiervan:

“Toe die burgers by Paardekraal byeengekom het, was ek nie by nie, maar ek was onder in Pietermaritzburg waar ek vragte gaan haal het. Daar het ek van ’n Engelse vriend verneem dat Piet Cronjé op Potchefstroom geskiet het. Ek het dadelik besef dat die vet nou in die vuur is en my waens met my swaer na die huis van Hans Lombard aan Vaalrivier in die pad gesit. Ek het self te perd in die pad geval en die tweede dag was ek by my kinders (sy eerste vrou het hpm ontval – BSR). Toe ek my stiefvader se huis verlaat, het hy aan my ’n pragtige Wesley-Richards-geweer gegee en ek het koers gevat hier na Heidelberg toe. Die Boere se laer het in die poort gestaan, waar die grootpad na Johannesburg om die rant gaan.

Toe ek op die plaas Vlakfontein kom – vandag noem hulle die plaas Lammermoor, ontmoet ek vir Christiaan de Wet – julle weet mos, die man wat later die beroemde generaal  geword het, en saam ry ons twee nou na die Poort (digby Heidelberg) waar ons die Driemanskap ontmoet. Ek was nie by die slag van Bronkhorstspruit verteenwoordig nie en kan julle dus nie daarvan vertel nie.

Maar, op ’n sekere middag kry ons bevel om gereed te maak om te trek wanneer dit donker word. Dit was ook net mooi sterk skemer, toe ons opsaal en in die rigting van Pretoria (Noord) begin trek. Daar by die koppie noord van die skole het generaal Joubert ons laat stilhou en aan ons gesê: “Burgers, julle sal sê: hy is nie ’n roker nie, daarom kan hy praat, maar ek sê nou: geen vuurhoutjie word getrek nie!”

Ons het nog ’n endjie getrek, toe ons merk dat ons nou wegswaai in die rigting waar Nigel nou is en dus om die noordoostelike uitlopers van die Suikerbosrante trek. Daardie nag het ons getrek tot op die plaas van ’n sekere Piet van Zyl. Hy was een van die sogenaamde ‘lojale’ mense wat ons nie wou help nie. Ons het maar van sy beeste gekommandeer en geslag vir die burgers en toe ons vertrek, het ons ook van sy perde saamgeneem. Skaars het ons Van Zyl se plaas verlaat, toe genl. Joubert berig ontvang dat vierhonderd Engelse troepe met vier kanonne uit Wakkerstroom na Standerton trek. Die generaal stuur toe vir Rooi-Andries Pretorius met ’n klomp burgers, onder wie ook ek was, om hulle te gaan keer. Ons het toe vinnig vooruit getrek en ek onthou nog goed hoe ons ’n rooi-bont os naby Standerton geskiet het. Toe ons  Vaalrivier se walle uitgaan, sien ons sowat dertig perderuiters, en Groot-Adriaan de la Rey sê: “Volg my,” en ons vang daar tien Engelse en bly daar in die rante. Terwyl ons nog optrek om die vierhonderd troepe te gaan keer, ontmoet ons vir Gert Grobler wat ook die troepe gaan voorkeer. Dit geluk ons ook en ons gaan na Wakkerstroom tot onder die nek.

Toe kom die rapport dat Wood uit Natal opruk en die kommando word verdeel om posisie in te neem. Ons Heidelbergers se posisie was naby die huidige tonnel. ’n Hele plaat Rooibaadjies  trek nou teen ons op en naby Laing se winkel halt hulle en die ruitery gaan na Engelbrechtskop, onderwyl die Rooibaadjies teen die kop langs die nek uitklim. Toe hulle amper uit was, stuur hulle ’n spioen uit en toe die kêrel uitloer, toe was dit: “Daar’s die kruit.” Nie tien minute nie, toe was alles verby en hulle retireer. Genl. Joubert het nou aan waarnemende kommandant Christiaan de Wet gesê om die kop van die anderkant af met manne te bestyg en ná ’n kwartier se veg het daar veertien man van die vyand gesneuwel.

Na veertien dae het ons Ingogo deurgetrek in die rigting van Newcastle. Genl. Nicolaas Smit was op Ingogohoogte en hy trek voor ons uit. Die Engelse het ons met kanonne bestook, maar ons het uitgejaag, en geveg en laat die middag hys die Engelse die witvlag. Ons veggeneraal (De Wet?) sê: “Skiet!” en weer gebeur dieselfde. Later het hulle ’n swart vlag gehys. Daar het nege Boere geval. Die Engelse het veertien kanonne gehad en ons was net ’n perdekommando, en ons het tot by Waschbank gery waar ons nege waens van die Engelse afgeneem het. Die vate bier wat daarop was, het ons stukkend gekap dat die bier so gestroom het. Toe is ons terug na Laingsnek.

Die dag van 27 Februarie sal ek nooit vergeet nie! Die nag trek die Engelse in stilte uit en klim Majuba vol en pak skanse. Dié Heidelbergers lê op hul plek in die nek volgens gewoonte, met seile bo oor die waens gespan as beskutting teen die geweldige reëns. Ek en Andries Beytell was die manne wat die volk moes uitja om vuur te maak vir koffie. Toe ons by die waens terugkom, word dit net lig. Ons het net afgesaal, toe ons ’n skoot hoor val. Dadelik kom die bevel: Opsaal, opsaal, en ons vang weer die perde en laat vat na generaal Joubert. Hy het ons toegevoeg:

“Sien julle die Engelse daar op die kop? Julle gaan hulle daar afhaal!”

Ons het onder kmdt. Fourie (van Ermelo?) gestorm, maar die Engelse het ons kwaai onder die lood gesteek. Ons spring van ons perde af en skuil in ’n sloot en hou toe al onder ’n lys van die berg langs. Groenewald, van Potchefstroom, is hier gekwes. Kmdt. Fourie stuur my toe om hulp te gaan haal en ek is die natte berg daar af, oor die kransies of lysies en deur die moddervleie. Ja, ek hoor nog hoe my perd se pote in die modderpoele klap!

Toe ek in die laer kom, ontmoet ek vir Wit-Frans Joubert en toe ek by genl. Joubert kom, kom adjudant Schutte ook net daar, en sê dat elke veldkornet vyf en twintig man moes stuur. Veldkornet se woorde was dadelik: “Volg my!”

Toe ons naby die bome kom, reent dit koeëls op ons, maar die Engelse raak niemand en niks nie. Nadat ons ’n halfuur geveg het, sê Christiaan de Wet aan kmdt. Fourie:

“Ons moet vorentoe as ons iets wil doen!” Onder dekking van die lys het ons toe teen die berg op beweeg. Roos en ander offisiere gaan toe effens opsy en hou gou krygsraad. Weer sê Christiaan de Wet: “Broertjies, voorwaarts!” en daar gaan ons. Die koeëls die blits, maar ons gaan vorentoe teen die steil berg uit. Ons skiet die Engelse terug en dan gaan ons maar weer voorwaarts. Drie keer het ons dit gedoen. Toe is ons bo en skiet die vyand dat dit naar is, want ons skiet van drie punte af. Die Engelse word deur Fanie Roos voorgekeer, en hulle storm die kranse af en vlug in die sloot in die nek in.

Ons gaan toe ’n soort van ’n pannetjie daar bo op die berg deur. Ons is almal swart van die kruitrook en Koos Beytell spot ons nog oor ons uiterlike. Ek stap tussen die gewondes deur en sien ’n man wat vir my soos ’n predikant lyk. Hy het ’n koeël voor die kop in gehad. Eers toe genl. Joubert by ons kom, herken hy vir genl. Colley. Onderwyl genl. Joubert se oom ’n kort diens daar by die gewonde generaal hou, het Colley sy laaste asem uitgeblaas …

Die volgende dag omtrent twaalfuur is ek na genl. Joubert se tent ontbied en toe ontvang ek die opdrag om ’n verseëlde rapport na waarnemende president Kruger op Heidelberg te neem en ek word streng vermaan om dit eiehandig aan die hoof van die Driemanskap te oorhandig. Ek word ook gemagtig om langs die pad perde en burgers te kommandeer, indien ek hulle nodig sou kry.

Wel, ongeveer een-uur het ek van genl. Joubert se tent in harde reën vertrek. Ai, en het dit nie daardie jaar gereën nie! Die generaal het my seker uitgesoek vir hierdie werk, omdat ek daardie gedeelte van ons land baie goed geken het. Ek het dan ook somar reguit na die Suikerbosrante gepeil. Toe ek by Kliprivier kom, lê hy kant en wal. Daar kry ek vir Gert van der Merwe wat die vol waters goed ken. Ons besluit toe dat ek met die perd saam deur die stroom sou swem en dat hy met die rapport sou deurswem. Ons moes baie versigtig wees, want die kosbare dokument mog nie nat word nie.

Toe is ek weer verder en toe ek by Kommandospruit kom, was dié ook ’n see van water. Eintlik was dit net ’n breë rietvlei, maar dit was goed saalklap diep en ek was nie so seker waar daar miskien kuile in kon wees nie. Hier het ek ’n sekere Botha ontmoet wat die vlei goed geken het, en hy het my veilig deurgehelp.

Die son het nou vinnig begin sak, en weens die nattigheid kon ek ook nie vinnig vorder nie. Toe ek by Spruit-sonder-drif kom, was dit alreeds donker en vinger-alleen is ek deur die water. Eers het ek my klere met die rapport na die oorkant deurgeswem en toe is ek weer terug om my perd te gaan haal. In die donker is ek vort, totdat ek naderhand ’n huis uit die donker sien opdoem. Dit was Cornelis Uys s’n, maar die huismense het al geslaap. Ek het so ’n rukkie afgesaal en somar in die saal ’n tydjie geslaap en toe maar weer aangestoot.

Toe die dag begin breek, was ek op Bosjesplaat, die plaas van Botes, waar Kliprivier in Vaalrivier vloei. My perd was nou al baie moeg, en Botes het my ’n vars perd gegee. Nou het ek vinniger gevorder, sodat ek teen eenuur by Krugerspont was – die huidige Villiers. Ek is met die pont oor en reguit na Nieuwenhuis se plaas waar ek weer ’n vars perd gekry het. Nou was daar nog net één rivier of spruit voor, nl. Suikerbosrantrivier en toe ek daar kom, lê hy ook kant en wal. Piet Gouws het my deurgehelp en toe somar met my saam na Heidelberg gegaan. Blesbokspruit hier in Heidelberg was ook vol, maar ons het by die brug oorgegaan en so teen vier-uur die middag het ek die rapport ongeskonde aan die waarnemende president oorhandig daar wes van die dorp, waar Brinksdorp vandag is.

Op Sondagaand,27 Februarie 1881, het kmdt.-genl. Piet Joubert die volgende verslag opgestel: (Staatskoerant 1881, volgens INSPAN van Februarie 1942):

 

Aan Sy Hoog-ed. S.J.P. Kruger,

Vise-President.

 

Hoog-ed. Heer, – Vanmôre om vier-uur het ek elke man wakker gemaak om sy posisie in te neem, en ek het begin aan ’n rapport vir generaal Cronjê, wat ek ook insluit. Ek het nog gesit en skryf, en die son het juis opgekom, toe ’n rapport kom dat die troepe agter die regterhandse groot kop omkom. Toe was dit: “Opsaal! Opsaal!” Maar tot ons verbasing het ons spoedig bemerk, dat die vyand die hele kop in besit het en reeds ’n aansienlike mag bo op die kop is. Oënskynlik sou mens gesê het dat ons alles verloor het, en so sou dit gewees het as die vyand die kop behou het, maar bo en buite verwagting het die Here ons gehelp, en elkeen van ons skryf dit aan die wonderlikste redding en hulp van ’n alles-besturende en magtige God toe.

Ons manne het die berg beklim met ’n moed en krag wat alle verstand te bowe gaan. Die troepe onder aanvoering van kolonel Colley self, wou die posisie nie opgee nie; hulle het soos ware helde geveg, maar onse God, wat ons die oorwinning gegee het en ons bewaar het, het so ’n heerlike daad gedoen wat alle wondere van moed en beleid te bowe gaan. Die allerwonderlikste vir ons is dat aan ons kant slegs een dooie en (sover ek te wete kon kom) een swaar-gewonde en vier lig-gewondes is.

Die gesneuwelde is Johannes Bekker, van die distrik Middelburg. Die gewondes is: Groenewald, Van der Merwe, Muller, Labuschagne en Vermaak.

Die aantal dooies aan die ander kant is nie goed bekend nie, deur die oneffenhede van die grond, maar kan geskat word op meer as 150.

Onbekend hoeveel offisiere met Colley gesneuwel het. Nagenoeg twintig baie swaar-gewond en meer lig-gewond; 7 offisiere, 45 manskappe en een sersant prisoniers gemaak, watter krygsgevangenes ek verplig is om na u te stuur na Heidelberg. Ek verneem dat die Engelse weer 2,000 man versterking gekry het. Die soldate wat met ons in geveg was, is die van die 92ste Hooglanders, 2 kompanjie 58ste, 2 kompanjie- 60ste rifles. Die kanonne was nie binne ons bereik gebring nie, maar by die kamp; daarvandaan af is kort op ons manne geskiet toe hulle die laaste skanse bestorm.

Ek het nou soveel te doen dat ek nie meer kan skryf nie; daarom moet ek nou eindig en u H.-ed. gelukwens met die uitslag van die slag van hede, en dat hierdie dag as ’n dank- en biddag mag behou word.

U Hoog-ed. seer gehoors. dienaar,

(w.g.) P. J. JOUBERT,

Kommand.-Generaal.

 

Toe die Tweede Vryheidstryd in die Republiek ontbrand, was Petrus Kilian weer eens gereed om met die mauser in die hand die sege van Majuba te verdedig en vind ons hom in die veld onder genl. Spruyt. Naby Heidelberg is sy arm in ’n geveg afgeskiet, maar liewer as om met die gebreekte arm in die hande van die vyand te val, het hy verkies om op kommando te bly. Die gevolg was dat hy ontsettende folterpyne moes verduur en hoewel die wond eindelik genees het, het hy nooit weer die volle gebruik van sy linkerarm gehad nie. Maar wat ’n plan gemaak het en end-uit geveg het, was Petrus Kilian! Hy het ’n agterryer gehad wat hom op sy perd gehelp het en aan sy geweer het hy ’n los plankie vasgemaak waarop hy die loop van die geweer vasgedruk het, onderwyl hy die geweer oorgehaal en die koeël met die slot ingestoot het. Daarna het hy die geweer na bo gegooi en dit dan op ’n stok laat rus wat hy met die verswakte linkerhand in posisie kon hou, terwyl hy korrel en skiet. Tot aan die aand van sy lewe het hy ’n vurige vaderlander en ’n waardige voorbeeld van die beste wat sy volk voortgebring het, gebly.

Sy tweede eggenote was Maria de Lange, dogter van Adriaan de Lange en ’n kleindogter van die beroemde Hans Dons de Lange. Tant Maria het altyd met trots vertel dat haar vader die eerste blanke Voortrekkerkind is wat in Natal gebore is.