27 FEBRUARIE
Oktober 31, 2016
29 FEBRUARIE
Oktober 31, 2016

1706: Adam Tas in hegtenis geneem
In die nag van 27/28 Februarie 1706 is Adam Tas deur landdros Starrenburg in hegtenis geneem. Dit is belangrik om daarop te let dat Adam Tas in 1697 as vrye burger na die Kaap gekom het. Hy was dus, in teenstelling met so baie ander Vryburgers, nooit in diens van die Kompanjie nie. In sy stryd teen die Goewerneur en sy aanhangers, het Tas die ondersteuning gehad van baie Franse Hugenote wat, net soos hy, as vrye burgers na die Kaap gekom het. Adam Tas was vir sy tyd ’n belese man, soos blyk uit die boekery wat hy nagelaat het. Hy was ’n vaardige man met die pen en dus die aangewese persoon om die klagskrif teen die Goewerneur op te stel. Na sy aankoms aan die Kaap het hy as boekhouer van sy oom en invloedryke boer, Henning Hüsing, opgetree. Toe die Goewerneur en van sy amptenare op groot skaal begin boer, het dit die Vryburgers baie benadeel, aangesien daar reeds ’n oorproduksie van wyn, graan en vleis aan die Kaap was. Die afsetprobleem is vererger deurdat die Goewerneur dit so bewerk het dat die wyn- en vleispag in die hande van sy handlangers gekom het. Verset hierteen was onvermydelik. Tas het die klagskrif opgestel, wat deur 63 burgers onderteken is. Die landdros van Stellenbosch het sterk vermoede gehad dat Tas die opsteller is en het derhalwe op hom toegeslaan. Gelukkig is hierdie eerste Stryd van Recht deur die burgers gewen.

1832: Ds. Meent Borcherds oorlede
Hy was ’n predikant uit Oos-Friesland, word in 1786 predikant van Stellenbosch en in 1826 Moderator van die Sinode van die NG Kerk. Op versoek van die redakteur van die Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift (NZAT), skryf hy die geskiedenis van Stellenbosch. Voor sy dood boekstaaf hy ook die geskiedenis van die volksplanting aan die Kaap vir die vroegste tydperk (1652 tot 1673). Hy publiseer ’n Hollandse gedig “De maan; een leerdigt” wat as die eerste letterkundige voortbrengsel wat aan die Kaap gedruk is, beskou word. Ondanks hulle literêre gebreke, is sy gedigte uit kultuurhistories oogpunt uniek. ’n Aantal minuette is ook deur hierdie interessante figuur gekomponeer. Hy is op 2 September 1762 in Oos-Friesland, Nederland, gebore en sterf sewentig jaar later op Stellenbosch.

1839: Sytze Wopkes Wierda gebore
Na ervaring as timmerman, argitek en spoorwegaanleg-opsigter in Nederland, bedank hy in 1887 as hoofopsigter en word daarna deur pres. Kruger aangestel as Gouvernements Ingenieur en Architekt en Hoofd van Publieke Werken van die ZAR. Hy was dus een van die Kruger’s Hollanders wat ’n belangrike plek in die ontwikkelingsgeskiedenis van die ZAR ingeneem het, deur sy ontwerp en beplanning van verskeie geboue, waaronder die bekende kultuurhistoriese Raadsaal op Kerkplein, Pretoria, talle brûe (waarvan sommige vandag nog gebruik word), sowel as die ontwerp van die Paardekraal-monument by Krugersdorp. Hy is op 10 Desember 1911 in Seepunt, Kaapstad, oorlede.

1898: JJ Fagan gebore
Johannes Jacobus Fagan, gebore op Tulbagh en oorlede op 13 Julie 1920 in Londen was lid van ’n welgestelde en invloedryke familie. Na sy skoolopleiding op Somerset-Wes, studeer hy aan die SA College of Music, Kaapstad (1914) en in 1916 verower hy ’n driejarige beurs om aan die Royal College of Music, Londen te studeer. Weens swak gesondheid keer hy terug na Suid-Afrika en in 1919 geniet sy Prelude vir Orkes sy première deur die Kaapstadse Munisipale Orkes onder leiding van Theo Wendt. Dit was ’n groot prestasie vir ’n 21-jarige. Hy keer terug na Londen, maar as gevolg van toenemende gesondheidsprobleme, gepaard met die dood van sy jong verloofde, het hy selfmoord gepleeg – ’n groot verlies vir Suid-Afrikaanse musiek. Sy broer, Gideon, publiseer Johannes se Soos die windjie wat suis en Die soekende moeder (1931), albei belangrike bydraes tot die Suid-Afrikaanse kunslied. Johannes is die eerste Suid-Afrikaanse komponis wat hom op die gebied van orkesmusiek onderskei het.

1933: Koalisie-ooreenkoms aangekondig
Die ekonomiese depressie van 1929 tot 1932 het verreikende politieke gevolge vir Suid-Afrika gehad. Genl. Smuts het aangedring op die bedanking van die Hertzog-regering sodat ’n ware nasionale regering gevorm kan word. Hertzog was nie hiervoor te vinde nie en het ook enige koalisiegerugte ontken. Nasionaliste was gevolglik verslae toe Hertzog op 14 Februarie 1933 plotseling sewe punte bekend gemaak het waarop hy bereid was om met Smuts ’n koalisie aan te gaan. Die punte het onder meer gegaan oor die handhawing van die Unie se soewerein onafhanklike status. En op 28 Februarie het Hertzog in die Volksraad aangekondig dat hy en Smuts ooreengekom het om ’n koalisieregering saam te stel.