Resensie: Nonnie de la Rey, Pionier van die Wes-Transvaal 1856-1923

Hoekom Afrikanergeskiedenis?
Oktober 26, 2016
2 FEBRUARIE
Oktober 31, 2016

Outeur: Zelda Rowan

’n Lekker-leesboek met ’n objektiewe blik op die geskiedenis – dit is wat Nonnie de la Rey, Pionier van die Wes-Transvaal 1856-1923 deur Zelda Rowan, aan lesers bied.

Hierdie boek is die eerste in die Kraal-Histories-reeks, wat graag akademiese navorsing oor die Afrikaner se geskiedenis en kultuur vir Jan Rap en sy maat toeganklik wil maak.

Nonnie de la Rey het twee herinneringskrifte nagelaat, wat as hoofbrondokumente vir hierdie boek gebruik is. Die eerste dokument, Mijne omzwervingen en bepoevingen gedurende den oorlog, is in 1903 in Amsterdam gepubliseer, terwyl die tweede na raming in 1915 of daarna geskryf is en nooit gepubliseer is nie. Die persoonlike perspektiewe wat Nonnie self neergepen het, verleen egtheid en geloofwaardigheid aan die inhoud en die outeur interpreteer die bronne met die nodige respek vir die historiese konteks waarbinne dit geskryf is.

Die boek skets ’n geheelbeeld van Nonnie se lewe. Die eerste hoofstuk vertel oor haar kinderjare, terwyl die tweede hoofstuk oor haar ontmoeting en huwelik met Koos de la Rey gaan. Die Anglo-Boereoorlog word dan in twee dele bespreek, waarna die jare ná die oorlog in oënskou geneem word. Die boek sluit af met ’n hoofstuk wat al die feite saamvat en interpreteer om Nonnie se strewe as ideaalbeeld van die Afrikanervrou uiteen te sit.

Die outeur slaag daarin om die belangrike faktore wat Nonnie gevorm het, uit te lig. So is sy duidelik sterk deur die patriargale denkpatroon van haar tyd beïnvloed en het godsdiens ’n belangrike rol in die Boeredogter se lewe gespeel. Hoewel godsdiensonderrig belangriker as akademiese onderrig geag is, het sy tog oor basiese geletterdheid beskik, sodat sy in staat daartoe was om haar herinneringskrifte neer te pen.

Koos de la Rey het deel van Nonnie se lewe geword toe hy op ’n handelstog op pad na Marico by haar pa, die kommandant van Lichtenburg, gestop het. By hierdie eerste ontmoeting reeds het die twee danig met mekaar geraak. Met hul derde ontmoeting het hy haar ouers om haar hand gevra, maar haar ma was teësinnig. Eers nadat Koos haar daarna in ’n brief weer gevra het om te trou, het haar ma toegegee. Die huwelik is in Oktober 1876 met ’n groot bruilofsfees gevier.

Nonnie en Koos het mekaar goed aangevul. In haar ongepubliseerde herinneringskrif vergelyk Nonnie hul huwelik met ’n sterk en helder stroom water – soms het die water troebelrig geraak, maar omdat die stroom so sterk was, kon geen troebelrigheid bly nie en spoedig was die water weer helder.

Die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het Nonnie se lewe radikaal verander. Hoewel sy gewoond aan Koos se afwesigheid was weens regeringsake, het sy die skeiding wat die oorlog gebring het moeilik verwerk. Haar oudste seun, Adaan, se dood het haar ook verbitter.

Toe Nonnie deur die Britte aangeraai is om na Mafikeng toe te trek, het sy die radikale besluit geneem om liewer in die veld rond te swerf. Nonnie het met sewe kinders tussen die ouderdomme van 3 en 21, drie bediendes, melkkoeie, skape, hoenders en ’n wa vol allerlei benodigdhede uit Lichtenburg vertrek. Dit was seker die belangrikste fase van haar lewe – ’n stryd om oorlewing. Die gesin se alledaagse uitdagings, soos klere vir die kinders en hout vir vuur maak, word goed in die boek beskryf.

Ironies genoeg het Nonnie meer kontak met Koos gehad tydens haar omswerwinge as daar voor. Koos het soms uitgeput by haar in die veld aangekom om iets te eet en bietjie te rus. As hy siek was, het sy hom versorg. Sy het Koos se briewe en dokumente veilig bewaar terwyl hy geveg het en dis grootliks aan haar te danke dat soveel daarvan behoue gebly het.

Nonnie en haar gesin het vir 18 maande geswerf. Die uitkoms van die oorlog het haar verder verbitter, want sy het gevoel dat haar beproewinge verniet was. Tog het sy besef dat dit besonder goed met haar en haar gesin gaan aan die einde van die oorlog, in vergelyking met ander Boeregesinne.

Nonnie het met die idee van die ideale Afrikanervrou vereenselwig en haarself so uitgebeeld. Die outeur maak ’n baie interessante en grootliks onbekende waarneming uit haar herinneringskrifte – dat Nonnie haar eie lewensgeskiedenis gemanipuleer het om aan die kulturele voorskrifte en vereistes van die vrou te konformeer en sodoende deur haar volks- en tydgenote as volksmoeder vereer te word.

Die boek is ’n ode aan vroue, wie se rol in die geskiedenis dikwels misken is. Nonnie de la Rey het met haar geskrifte bygedra tot die bewuswording van die vrou se plek in Suid-Afrika se geskiedenis. Hoewel Nonnie in die eerste plek bekendheid verwerf het as eggenoot van generaal Koos de la Rey, verdien sy ook respek en erkenning in eie reg.