Van Riebeeck’s het Klassieke musiektradisie in SA gevestig
Oktober 25, 2016
Resensie: Nonnie de la Rey, Pionier van die Wes-Transvaal 1856-1923
Oktober 27, 2016

Hoekom kaarte?

Die bekende Afrikaanse digter, DJ Opperman, het tydens een van sy kinders se geboorte “Negester en stedelig” gedig. Veral die derde strofe is vir die boek belangrik:

Watter kaart of watter ster sal ek jou wys
om veilig deur die grysland heen te reis?
Sal ek van ’n God praat wat verdoem,
van Christus, en die Tien Gebooie noem?
Voorlopig dan, maar onthou altyd
aan jou dade grens ’n ewigheid;
gee sin aan voorgeslagte deur die eeue heen,
besef jy is ’n vegter weer van die begin, alleen;
en mag die Suiderkruis en Negesterre witter
as die stedeligte in jou siel bly skitter.

In ons eietydse grysland is Opperman se vraag: “Watter kaart of ster sal ek jou wys om veilig deur die grysland heen te reis?” nog net so aktueel. Mense probeer dikwels om alles, ook die geskiedenis, in vaste kanne en kruike te giet. Met kaarte werk dit egter nie so nie. Kaarte ontwikkel dinamies. Dit is veral waar van Suid-Afrika se kaarte. In minder as twee eeue is Suid-Afrika se kaartgrense telkens nuut getrek.

Kaartlesers sal ontdek dat Afrikaners se lang pad na vryheid oor meer as drie eeue in agt kaarte strek. Afrikaners se groot stories is verweef in die ruitverwysings van die voortdurend veranderende landskaarte. Kaarte vorm geslagte se ideë en lewensuitkyk. Kaarte vorm die konteks waarmee leiers na werklikhede kyk. Kaarte bepaal die omgewing waarin die toekoms plaasvind. Wie kaart kan lees, sal ’n pad deur die grysland vind. Weet jong Afrikanerleiers nog hoe om historiese kaarte te lees, of het hulle iewers lang die pad die historiese spoor byster geraak?

Die uitdaging van kaartwerk

Baie Afrikaners het sedert die vroeë negentigerjare hul perspektief op die geskiedenis verloor. Jackie Grobler stel dit selfs nog sterker in sy boek, Uitdagings en antwoord, as hy skryf: “Dit is skokkend om waar te neem hoe jong Afrikaners se kennis van die geskiedenis eenvoudig verdwyn het.” Flip Buys waarsku dat dit vandag mode is om Afrikaners in die beskuldigdebank van die geskiedenis te plaas. Hierdie proses het nie net die Afrikaner se historiese selfbeeld en selfvertroue byna vernietig nie, maar ook die bewaring van Afrikanergeskiedenis en -kultuur op die weegskaal geplaas. Historiese name van stede en strate is verander, erfenisgebiede en -monumente is verwaarloos en geskiedenis in skoolhandboeke is herskryf. Geen wonder nie Buys vra: “Wie het ooit kon dink dat in die tyd van misdaad nie eers ons verlede meer veilig sou wees nie?” FA van Jaarsveld waarsku: “As ’n volk sy geskiedenis verwaarloos verdwyn sy bodem onder hom.” Ferdi Greyling som dit mooi op: “Geskiedenis is net so belangrik soos wiskunde.”

Die gesaghebbende historikus, Hermann Giliomee, vertel hoedat Generaal Jan Smuts in 1949 tydens die opening van Die Voortrekkermonument byna liries oor Afrikanergeskiedenis beskryf het: “Watter jong volk kan op ’n meer romantiese geskiedenis roem, een van meer ingrypende belang? Kleur, insident, tragedie en komedie, nederlaag en oorwinning, vreugde en smart. Ons geskiedenis is van die aangrypendste menslike belang. Daar is nie alleen goud in ons aarde nie, maar nog meer goud in ons geskiedenis.” Die briljante Afrikaanse digter, predikant en koerantredakteur, Izak de Villiers, pleit: “Ons moet ons eie geskiedenis as groep weer in ere herstel, want dit lê op die oomblik aan skerwe. Die skole gaan dit nie vir die Afrikaner doen nie.” De Villiers beskryf die proses as: “konfronteer jou duiwels, maar soek ook jou engele. Jy vertrap nie jou eie helde nie, jy bou hulle”.

Hierdie boek is onbeskaamd vanuit ’n Afrikanerperspektief vir jong Afrikanerleiers geskryf. Hiermee word ander kaartstories of invalshoeke glad nie ontken nie. Dit beteken ook nie dat Afrikaners se perspektief die enigste perspektief op die verlede is nie. Natuurlik is daar verskillende perspektiewe op elke kaart. Elke kultuurgemeenskap se verhale is met elke kaart verweef. Die tydsomstandighede van elke kaart het positiewe of negatiewe invloede gehad op elkeen wat binne die kaartgrense gewoon het. Soms is dit nodig om verskillende gemeenskappe se kaartstories soos legkaartstukkies in mekaar te pas om ’n geheelbeeld te kry, maar ander kere is dit nodig om ʼn bepaalde legkaart stukkie te bestudeer. In ’n tyd waar Afrikanergeskiedenis in skoolboeke gereduseer word tot kolonialisasie en apartheid, is dit belangrik dat jong Afrikanerleiers weer die landskaarte met ’n Afrikanerbril op leer lees. Nie net omdat historiese kaarte vandag nog ’n invloed op Afrikaners se hede het nie, maar ook op Afrikaners se toekoms. Flip Buys waarsku: “Ondanks ’n Grondwet gebaseer op gelykheid, het die ANC stelselmatig ’n omvattende netwerk van rasgebaseerde wette en beleidsrigtinge geïmplementeer. Dit word geregverdig deur die sentrale uitgangspunt dat apartheid verantwoordelik is vir al die ongelykhede en armoede in die land, en dat omvattende omgekeerde maatreëls nodig is om dit om te keer. Dit is veral belangrik omdat die ANC sy beleid vir die toekoms grond op ’n sekere siening van die verlede, om dit reguit te stel, op ’n kriminalisering van die Afrikaner se geskiedenis.”

Die verskil tussen ware en magnetiese noord

Enige kaartleser wat sy pad met kaart en kompas probeer vind, weet egter om bedag te wees op ware en magnetiese noord. Dit is veral waar wanneer toekomskoördinate deur middel van historiese kaarte bepaal moet word. Eietydse omstandighede en uitdagings kan vergelyk word met magnetiese noord. Sommige Afrikaners probeer vandag se probleme met gister se kaarte oplos, terwyl ander die werklikhede van gister se kaarte ontken, asof daar geen koördinaat vir die toekoms te vind is nie. Geen wonder dat diegene kort voor lank in die grysland verdwaal nie. Kaarte moet met respek behandel word. Dit beteken dat elke kaart binne die konteks van sy eie tyd verstaan moet word. Wanneer leiers en hul tydgenote se besluite en dade beoordeel word, is dit net billik en regverdig om hulle te beoordeel teen die uitdagings en beperkings van hul kaart. Eers dan sal ’n reisiger met ware noord rigting vind.

Ruitverwysings vir die toekoms

Wanneer ’n land se kaart verander, soos wat die landskaart na die Anglo-Boereoorlog of na 1994 verander het, is die gevolge daarvan aardskuddend. Saam met elke kaart verander mense se prentjie van die werklikheid. Elke kaart konfronteer elke geslag met ’n bestaansvraag. Leiers het die verantwoordelikheid om op sy kaart se bestaansvraag ’n antwoord te ontwikkel wat die toekoms gaan bepaal. Die antwoord wat vertaal word in konkrete dade bepaal die toekoms. Giliomee skryf: “’n Volk se voortbestaan berus nie op abstrakte regte nie, maar die dade waarmee dit daagliks sy bestaansreg bevestig. Met verskeie sleutel dade het die Afrikaners voorheen hulle geskiedenis verander.”

Hoe ontwikkel leiers goeie antwoorde wat lei tot effektiewe dade? Eerstens kan ’n leier die uitdagings van sy tyd analiseer en daarop ’n toekomsvisie ontwikkel. Die visie word in ’n strategiese plan omskep deur ’n missie, doelstellings en doelwitte. Die metode wat ontwikkel is uit die Amerikaanse bedryfswêreld is veral in die korporatiewe wêreld baie gewild. Daar was ook ’n tyd in ons geskiedenis waar Afrikanerleiers die landskaart met groot visioenêre planne wou inkleur.

Daar is ook ’n tweede manier. Northorp Frey het op ’n stadium geskryf dat die belangrikste beginsel van ’n groot storie nie die kontrolerende of integrerende beginsel is nie, maar die koördinerende beginsel. Hiermee bedoel hy dat daar in ’n groot storie koördinerende beginsels is wat soos goue drade regdeur die storie geweef is. Wie die koördinerende beginsel in elke kaart se groot stories ontdek, sal ook daarmee koördinate vind wat in ons eie kaart toegepas en geïntegreer kan word.

Hierdie is nie ’n volledige geskiedenisboek vol vervelige datums nie. Dit is ook nie ’n akademiese boek met volledige feite nie. Hierdie is eerder ’n dinkboek. Nog belangriker is dit ’n praatboek. Dit is ’n gids om jong Afrikanerleiers te help om die koördinerende storielyne van Afrikaners te ontdek. Die geskiedenis in die boek is eerder kantaantekeninge by kaarte wat jong Afrikanerleiers kan gebruik om hul toekomskoördinate te bepaal.

Die Voortrekkers as koerswyser

’n Kaartleser sal weet dat twee koördinate nodig is om koers te bepaal. Beide die nasionale kaarte en gemeenskapskaarte gee koördinate vir die toekoms. Dit is insiggewend hoe landskaarte en gemeenskapskaarte soos legkaartstukke inmekaar pas. Die storie van gemeenskapskaarte bied nie net toekomskoördinate vir kultuurorganisasies nie, maar dien ook as ’n tweede verwysingspunt vir kaartlesers. Die een kan nie sonder die ander nie. Om dié rede moet die stories van ’n gemeenskapskaart en landskaart saam gelees word om ’n geheelprentjie te kry.

Elke skool, kultuurorganisasie, kerkraad of vereniging het hul eie verhaal oor hoe verskillende antwoorde op verskillende kaarte ontwikkel is. Vir die doel van die boek word die storie van Die Voortrekkers as gevallestudie gebruik. Dit is insiggewend om te sien watter antwoorde die grootste en oudste Afrikanerjeugbeweging in Suider-Afrika ontwikkel het op die uitdaging van hul kaarte. Alhoewel elke tydperk aan die hand van die Hoofleiers van die Voortrekkers beskryf word, word die verhaal van ’n kultuurorganisasie soos Die Voortrekkers nie deur individue nie, maar deur die totaliteit van sy leierskorps en lede se dienswerk geskryf.

Bakens vir die toekoms

Elke kaart laat bakens as herinneringstekens in die vorm van monumente, erfenisterreine, kulturele herdenkingsdae en kultuursimbole na. Natuurlik is Suid-Afrika en Namibië se nasionale simbole, liedere en herdenkingsdae deel van die veelvoud van simbole wat Afrikaners respekteer, maar dit val buite die fokus van die kultuurgerigte boek. Kulturele bakens herinner Afrikaners aan hul groot stories en trotste prestasies. Die bakens het egter geen betekenis as Afrikaners hul historiese spoor verloor nie. Die uitdaging vir ’n kaartleser is om self verder ondersoek te gaan instel na die betekenis van die kulturele – bakens, simbole en dae. Om bakens van betekenis te herontdek, beteken dat jong Afrikanerleiers self hul eie opinie kan vorm sonder om alles in skoolhandboeke vir soetkoek op te eet. Agter in die boek is ’n leeslys wat jy kan gebruik om verder in die geskiedenis te gaan delf totdat jy die goud van elke kaart ontdek.

Kom, sny spoor deur die eeue …

Toekomskoördinate

Uit die antwoorde wat elke geslag Afrikaners op hul kaarte ontwikkel het, kan die volgende goue lyne of koördinerende beginsels as toekomskoördinate dien:

’n Christelik-federale lewensbeskouing

ʼn Christelike-federale lewensbeskouing beteken dat moderne Afrikaners vanuit hulle Christelike-protestantse wortels eie verantwoordelikheid vir hulle gemeenskap se welstand en toekoms neem.

Afrikaners se wortels lê diep geanker in die Christelik-protestantse geloofsbeskouing. Afrikaners se Christelik-protestantse tradisie vind neerslag in waarde soos eie verantwoordelikheid, werk, vryheid, maar veral ’n sterk roepingsbesef. Wanneer elke geslag Afrikaners antwoorde op die bestaansvraag van hul tyd ontwikkel, is dit nie net aan die hand van praktiese realiteite nie, maar veral aan die hand van hierdie Christelik-protestantse erfenis. Alhoewel die meeste Afrikaners die Christelik-protestantse erfenis deel, het hulle met tyd ’n ruimte ontwikkel om ’n veelheid van ander Christelike tradisies en godsdiensbeskouinge binne eie geledere te akkommodeer. Die Christelike lewensbeskouing word lankal nie meer deur moderne Afrikaners beperk tot ’n bepaalde kerkgenootskap of dogma, soos tydens die nasionaliste se kaart nie. Die eenheid binne die veelkantigheid van die Christelike tradisie word gevind in ’n breë konsensus oor Bybelse waardes, en roepingsbewustheid.

Sedert die Groot Trek het Afrikaners dit as hul roeping beskou om die lig van die evangelie in Afrika te laat skyn. Om dié rede kan Afrikaners se roepingsbewustheid en identiteitsontwikkeling nie van mekaar losgemaak word nie. Met elke veranderende kaart, soos met die Groot Trek of na die Anglo-Boereoorlog, het Afrikaners ook deur ’n geloofskrisis en ’n louteringsproses gegaan waar hulle geloofsantwoorde soek vir hul pyn, frustrasies, woede en bekommernisse. Dit het ook na 1994 gebeur. Geen wonder Angus Buchan het een uit elke vier Afrikanermans toegespreek nie. Soos gelouterde Afrikaners stadig maar seker hul voete binne die werklikheid van elke nuwe kaart gevind het, het hulle ook hul roeping en identiteit as Afrikaners voortdurend herdefinieer. Met elke kaart kon Afrikaners opnuut sê: Ons is steeds hier en ons het nog ’n roeping hier.

Die verband tussen identiteit en roeping kan reeds in die ontstaan van die Reformasie gesoek word. Die jong Maarten Luther het as Duitser ’n identiteitskrisis beleef, vanweë die magtige Rooms-Katolieke Kerk wat dwarsoor Europa gemeenskappe se identiteit onderdruk het. As Duitser het Luther nie net teen die Roomse dogma in opstand gekom nie, maar ook teen die Roomse onderdrukking van eie identiteit. Deur die Bybel vir Duitsers in hul eie taal te gee, het Luther ’n ruimte geskep waarin Duits as taal verder kon ontwikkel. Die gewone Duitse arbeider kon in ’n verstaanbare taal sy identiteit aan die hand van Bybelse beginsels ontdek. Luther het verstaan dat die Bybel nie aan ’n persoon voorskryf of ’n persoon Duits mag wees, of nie. Geloof maak mens juis vry om jou identiteit sonder skuldgevoelens en etikettering uit te leef. Identiteit, ook kulturele identiteit, is egter ondergeskik aan die Bybel en moet volgens Bybelse beginsels kan hervorm.

Die Christelik-protestantse wortels van Afrikaners het ook neerslag gevind in hul demokratiese beskouing. Afrikaners het vanaf die VOC-tydperk weerstand gebied teen enige totalitêre en outokratiese kragte en regerings wat gesag wil sentraliseer. Afrikaners het ’n demokratiese tuiste gesoek wat ruimte vir verskeidenheid bied. Om dié rede het die Voortrekkers by Morokashoek ’n demokratiese regering gevestig met skeiding van magte. Die Voortrekkers het ook nie een groot Voortrekkerrepubliek gestig nie, maar eerder meerdere Boererepublieke. Selfs die NP se struktuur was van die begin af op ’n federale basis gestruktureer.

Soms was daar in die veelheid van Afrikanerstemme erge botsende belange soos verskille oor die eindbestemming van die Groot Trek, of die botsing tussen Hertzog en Botha oor die prioriteit van Suid-Afrika se belange teenoor die Britse Ryk, of die uiteenlopende politieke denkrigtings van die tagtigerjare. Die veelheid van menings en belangegroepe het nie die demokrasie verswak nie, maar dit eerder versterk. Uit die geskiedenis blyk dit dat Afrikaners tuis voel in federale ruimtes waar eenheid op konsensus oor kernbeginsels berus, maar wat nie die verskeidenheid van gemeenskappe probeer inperk of beperk nie.

Selfs in eietydse konteks skep Afrikaners vir hulself federale ruimtes deur sterk gemeenskapsorganisasies waar hulle self besluite kan neem en eie verantwoordelikheid kan aanvaar. Die meeste Afrikanerkultuurorganisasies is steeds op ’n federale basis gestruktureer deur middel van takke, kerkrade, Voortrekkerkommando’s, streke, gebiede, skoolbeheerliggame wat eie verantwoordelikheid aanvaar vir hulle gemeenskap se belange.

’n Christelik-federale lewensbeskouing bied aan Afrikaners ’n lewensbeskoulike denkruimte waarbinne hulle gestalte kan gee aan gemeenskappe se behoefte om eie verantwoordelikheid te neem. Deur die veelheid te akkommodeer, word die voorwaardes vir ’n nuwe eenheid geskep deur middel van nuwe vennootskappe, netwerke en samewerking aan gemeenskaplike sake.

Dinamiese Afrikanerskap

Daar is nie vandag meer sommer ’n klinkklare antwoord op die vraag wie Afrikaners is nie. Afrikaners was dalk nooit ’n gewilde en onderdanige minderheidsgroep nie, hulle het uiteenlopende politieke standpunte en geloofsoortuigings, maar in elke kaart is hul teenwoordigheid en bydrae onmiskenbaar. Afrikaners het nooit toegelaat dat ander (soos Van der Stel, Milner, Mbeki of Zuma) hul Afrikanerwees definieer nie. Afrikanerskap is dinamies en Afrikaners het deur die eeue hulself gedefinieer na gelang van elke kaart se omstandighede.

In sommige kaarte was Afrikaners beskou as almal wat in Afrika gebore is (VOC); of Boere-emigrante (Groot Trek); of volgens Hertzog alle Europeërs, selfs Engelssprekendes, wat Suid-Afrika se belange eerste stel. Daar was ongelukkig ook tydperke toe mense met ’n aftik-lysie Afrikanerskap met koue en kliniese definisies probeer beskryf het. Veral in die Nasionaliste se kaart was Afrikaners wit, protestants en Westers. Die meeste Afrikaners het aan een van die drie Afrikaanse kerke behoort en vir die NP gestem. Afrikanerskap was amper met die eng definisies versmoor. Andersdenkende Afrikaners is na willens en wetens geëtiketteer en selfs per definisie uitgesluit as Afrikaners. Dit is teen die eng toepassing van Afrikanerskap waarteen soveel Afrikaners in opstand gekom het en sommige as Afrikaners bedank het.

Izak de Villiers waarsku dat dit vandag tydmors, “selfs dwaas”, is om ’n definisie aan Afrikanerskap te probeer gee. Daar is min volke wat ’n “kraakvrye” definisie het van wie hulle is. “Soos in alle volke is daar diegene wat dit wil wees, en die wat dit half wil wees en dit wat dit glad nie wil wees nie. Om lid te wees van ’n volk is grootliks ’n emosionele realiteit. Dit begin met die gevoel van iets soos ’n knop in die keel. Dis iets van my – maar dis my mense die en dis my oorlewerings die.” Hermann Giliomee skryf dat moderne Afrikanerwees beteken nie meer “om die land vir hulleself toe te eien en op ander mense te trap nie”. Moderne Afrikaners vir Giliomee is “’n vrye, mobiele en soms virtuele gemeenskap, wat mekaar soms op kunstefeeste vlugtig ontmoet, op die internet met mekaar in aanraking bly en moeite doen om Afrikaans in die huisgesin, skool en universiteit lewend te hou”.

Die beste definisie vir selferkende Afrikanerskap is om te sê: Ek weet in my hart ek is ’n Afrikaner en ek is trots daarop. Moderne Afrikanerskap word nie meer beperk tot objektiewe definisies nie, maar eerder as ’n subjektiewe hartsaak beskou.

Die gebrek aan ’n objektiewe definisie beteken egter nie dat daar geen gemeenskaplike grond is waarop Afrikaners mekaar kan vind nie. In elke kaart is daar kenmerke wat Afrikaners saamsnoer soos gemeenskaplike tradisies, geskiedenis en ’n lewens- en wêreldbeskouing. Navorsing onder moderne Afrikaners toon dat die meeste van hulle die volgende sewe kenmerke as die belangrikste eienskappe van hul kultuur aandui:

Godsdiens: Afrikaners glo steeds en beskou godsdiens as baie belangrik. Afrikaners is in verskillende kerke wat wissel van formele tot baie informele eredienste.

Respek: Waardes is vir Afrikaners belangrik, maar veral dat ouer persone, ouers en onderwysers met respek behandel sal word. Dit is ook vir Afrikaners belangrik dat hul kultuur deur ander persone gerespekteer sal word.

Kuier: Afrikaners is plesierige mense. Hulle hou van braai, potjiekos, biltong en blatjang. Die belangrikste kulturele kenmerk is egter om dit saam met jou gesin, familie of vriende te geniet.

Gemeenskapsbetrokkenheid: Dit is vir die Afrikaners belangrik om as positiewe burgers betrokke te wees by gemeenskapsinstellings soos kerke, skole, erfenisterreine en kultuurorganisasies.

Afrikaanse musiek: Afrikaanse musiek blom en Afrikaners ondersteun graag Afrikaanse sangers op kunstefeeste.

Afrikaanse taal: Dit is vir Afrikaners belangrik dat Afrikaans as taal sal bly voortbestaan en verder as hoëfunksietaal presteer.

Grond: Afrikaners is bodemgebonde mense wat ernstig is oor hul erfgrond. Hulle neem die skeppingsopdrag ernstig op om die omgewing te bewaar.

Veelvoudige burgerskap

Moderne Afrikaners vind hulself gemaklik in ’n veelvoud van identiteite. Hulle deel ’n gemeenskaplike Europese herkoms, maar is ook volledig deel van Afrika. Met die verskyning van internet het globale omgewingsprobleme en internasionale tendense ook deel geword van Afrikaners se daaglikse doen en late. Hierdie verskillende identiteite of vorme van burgerskap kan as volg beskryf word:

  • Afrikanerskap – deel van ’n kultuurgroep
  • Burgerskap – deel van die medeburgers in jou land
  • Taal – deel van ’n Afrikaanse taalgemeenskap
  • Afrikaan – deel van Afrika
  • Internasionaal – deel van wêreldburgerskap

As trotse en positiewe landsburgers van die Republiek van Suid-Afrika, Namibië, Brittanje, Australië, Kanada, Nieu-Seeland, die VSA of enige ander land waar Afrikaner ’n landsburger is, respekteer Afrikaners die land se nasionale simbole, gehoorsaam hul wette en ondersteun die nasionale sportspanne. Afrikaners stem in verkiesings, betaal belasting en lewer, soos alle landsburgers behoort te doen, ’n positiewe bydrae tot die land se toekoms.

Burgerskap word bepaal deur internasionale staatsgrense, maar Afrikanerskap word nie ingeperk deur grense nie. Vandag woon trotse Afrikaners nie net in Suider-Afrika nie, maar in bykans elke ander land in die wêreld. Om dié rede verduidelik Koos Malan dat positiewe burgerskap nie net beperk is tot landsburgerskap nie. Afrikaners is ook ’n burger van ’n kultuurgemeenskap. Kulturele burgerskap is volgens Malan hegter en meer standhoudend. Hy verduidelik: “Dit hou stand ongeag die verandering van staat, regerings en grondwette. Ons kan die waarde van ons kulturele burgerskap nouliks onderskat. Ons behoort te weet – en so kan baie van die beste presteerders onder Afrikaners getuig – dat die kultuurgemeenskap waartoe ons behoort die voedingsbron bied van waaruit die beste vrugte juis gedra kan word. Wanneer ons, ons Afrikaner-burgerskap opneem om die veilige voortgang van ons gemeenskap te verseker, maak ons dit derhalwe terselfdertyd moontlik vir toekomstige Afrikaners om danksy hulle gesonde gemeenskap te kan floreer.”

Die kaarte toon dat die identiteit of burgerskap wat ontken of onderdruk word, gewoonlik die sterkste beklemtoon word. Toe Milner Afrikaners se kulturele burgerskap wou onderdruk deur verengelsing, het die Tweede Taalbeweging vlamgevat en het Afrikaners CNO-skole gestig. Toe Smuts daarop aandring dat slegs die Britse Union Jack die landsvlag mag wees, het Afrikaners hul Suid-Afrikaanse burgerskap omhels met ’n eie landsvlag en lied. Toe die regering na 1994 Afrikaans marginaliseer, het Afrikaans op kunstefeeste en in musiek geblom. Afrikaners mag nie burgerskap verskraal asof daar net een soort burgerskap is nie, maar moet ’n balans in veelvoudige burgerskap vind.

Afrikaners en Afrikaans

Afrikaner en Afrikaans is nie sinonieme nie. Dit is ’n fout om te dink dat as iemand Afrikaans praat of ernstig oor die voortbestaan van Afrikaans as taal is, die persoon noodwendig ’n Afrikaner is. Dit kan egter nie wegredeneer word nie, selfs al sal sommige dit wou doen, dat Afrikaners ’n deurslaggewende rol gespeel het in die ontwikkeling en vestiging van Afrikaans in Afrika. Afrikaans is gebore en gevestig deur baie stryd en harde werk. Afrikaners was in elke kaart op die voorpunt van die stryd vir Afrikaans. Daarop kan Afrikaners met goeie reg baie trots wees. Dit kan ook nie wegredeneer word dat die meerderheid Afrikaners hul kulturele identiteit veranker in die Afrikaanse taal nie. Dit beteken allermins dat Afrikaners Afrikaans slegs vir hulself wil toeëien. Die London Times het op 29 April 1994, twee dae na die verkiesing, Afrikaans beskryf “as die lewende taal van miljoene”. Afrikaners deel Afrikaans met baie ander Afrikaanssprekende kultuurgroepe.

Kort na 1994 het Afrikaners gemeen die toekoms van Afrikaans moet gekoppel word aan die voortbestaan van swart tale. Afrikaners was op die voorpunt om veeltaligheid te versterk deur Afrikatale te help ontwikkel. Veeltaligheid is niks nuuts vir Afrikaners nie. Toe die nasionaliste hul kaart ingekleur het, was daar verskillende universiteite vir Afrika-taalgroepe gebou, Afrikatale is aan Afrikaanse universiteite gedoseer, die Bybel is in verskeie Afrikatale vertaal, Afrikatale is as skoolvak ontwikkel, daar is gepoog om Afrika-tale in die werksplek te vestig en radio en televisiedienste is vir Afrika-tale daargestel. Na 1994 het ’n Afrikaanse universiteit soos Pukke veeltaligheid deur tolkdienste bevorder. ’n Keuse vir Afrikaans beteken nie ’n keuse teen Engels of enige ander taal nie.

Tog wonder Izak de Villiers of Afrikaners met die argument dat Afrikaans se voortbestaan afhanklik is van Afrikatale se ontwikkeling, nie ’n ernstige denkfout maak nie? Hy is van mening: “Elkeen moet self sy eie huis in orde kry.” De Villiers verwoord ’n soort kulturele verantwoordelikheid wat by Afrikaanssprekendes lê om Afrikaans eerste in beskerming te neem. Elke taalgroep moet immers ook eie verantwoordelikheid neem vir die voortbestaan en ontwikkeling van sy taal. Niemand kan dit wegredeneer dat ’n sterk posisie vir Afrikaans as hoëfunksietaal in die howe, staatsdiens, ekonomie en universiteite ook ’n positiewe ruimte sal skep vir die ontwikkeling van ander Afrikatale nie.

Die grondwetlike ruimtes vir Afrikaners is dooie letters op papier as Afrikaners nie saam met ander Afrikaanssprekendes eie verantwoordelikheid vir die voortbestaan van Afrikaans neem nie. Engels is nie eers die grootste moedertaal in die land nie en ook nie eers een van die grootste tale in die wêreld nie. Nogtans het Engels steeds Suider-Afrika in ’n taal-imperialistiese wurggreep. Afrikaans is slegs een van drie tale wat in die twintigste eeu vanaf ’n kombuistaal tot ’n universiteitstaal ontwikkel het (Hebreeus en Maleisies is die ander tale). Dit sal ’n tragedie wees as Afrikaanssprekendes hierdie enorme prestasie moet prysgee, dit terwyl daar eintlik nie werklike redes daarvoor bestaan nie. Geen selfrespekterende taalgemeenskap kan toekyk hoe meer as ’n eeu se Afrikaanse prestasies in twee dekades van die tafel afgevee word nie. Miskien is die tyd hier dat Afrikaners weereens soos DF Malan in 1908 verklaar: “Dit is ons erns!”

Vryheid as dryfkrag

Die historiese kaarte toon duidelik dat in tye waar Afrikaners hul politieke of selfs ekonomiese vryheid verloor het, het Afrikanerorganisasies en -gemeenskappe sterk instellings gestig as die draers van hul vryheidsideale en ideale. Geen regering, beleid of parlement ’n opdrag aan Afrikaners gegee om kultuurorganisasies soos die GRA, FAK, ATKV of Die Voortrekkers te stig nie.

  • Met vryheid as dryfkrag om in Afrikaans te mag lees, praat en sing, het ’n Afrikaanse Bybel, ’n Afrikaanse radiostasie, Afrikaanse koerante, ’n Afrikaanse liedereskat in ’n FAK-Sangbundel, asook ’n magdom van Afrikaanse tydskrifte, gedigte en boeke gevloei. In die woorde van wyle Elize Botha “tot heil van miljoene”.
  • Met politieke vryheid as dryfkrag het Afrikaners demokrasie in Afrika gevestig deur vele politieke partye en belangegroepe te stig en te steun.
  • Met ekonomiese vryheid as dryfkrag het Afrikaners Volkskas, Sanlam, Santam, die Rembrandt-groep, Federale Volksbeleggings, SASOL, YSKOR en vele ander nywerhede gestig.
  • Met vryheid as dryfkrag vir selfhelp, het Afrikaners met die Helpmekaarfonds, Reddingsdaadbond en vele ander maatskaplike instellings die greep van armoede twee keer in een eeu gebreek.
  • Met denkvryheid as dryfkrag het Afrikaners in vyf dekades wêreldgehalte Afrikaanse skole, universiteite en tersiêre kolleges gestig, en Afrikaans tot ’n volwaardige wêreldgehalte- akademiese taal uitgebou.

’n Senior persoon betrokke by erfenisbewaring het vertel van ’n interessante besoek aan ’n plattelandse gemeenskap. By die byeenkoms het hy aan die gemeenskap gevra wie wil hulle hê moet oor tien jaar vir hulle besluite neem? Wil hulle die vryheid hê om self die besluite oor hul eie lewe en gemeenskap te neem of verkies hulle om die vryheid-van-selfbesluit te delegeer aan die staat? Die persone teenwoordig het soos een man gekies vir die vryheid-van-selfbesluit.

Die hoogste vorm van vryheid-van-selfbesluit is om vanuit ’n interne locus standi self te kan besluit wat gedoen moet word, en dan die verantwoordelikheid neem om daardie besluite self uit te voer. Die vryheidsbeskouing is beslis nie ’n wederstrewige individualisme waar die eie-ek koning kraai nie. Danie Goosen verbind die vryheid-van-selfbesluit as die metode “om binne die ruimtes waaroor gemeenskappe beskik op ’n uitnemende wyse ons gemeenskaplike goed na te strewe”. Die
“gemeenskaplike goed” verwys volgens Goosen “nie net na die tradisie en die gemeenskappe se lewens- en wêreldbeskouinge nie, maar na God self. Ten diepste is ons vry wanneer ons ons verantwoordelikheid binne gemeenskapstrukture jeens God nakom.”

Die drang om self te besluit en eie verantwoordelikheid te neem, is in krisistye bevestig waar gemeenskappe rondom ’n saak gemobiliseer het om in kort tye die ondenkbare uitnemend te vermag. Die suksesbewyse van vryheid-van-selfbesluit as Afrikaners se kosbaarste erfenis is talryk, soos ’n demokratiese stelsel in Suidelike Afrika; infrastruktuur; wêreldgehalte maatskappye; uitnemende Afrikaanse opvoedingstelsels; en die Afrikaanse Bybel as literêre en besluitnemingsverwysingsraamwerk. Afrikaners het deur middel van die vryheid-van-selfbesluit kulturele kapitaal ontwikkel waaruit gemeenskappe vandag nog kan put. Die vryburgers wat self oor die pryse van hul goedere wou besluit, het die grondslag gelê vir die ontwikkeling van kapitalisme en ekonomiese vryheid in Suider-Afrika.

Die vryheid-van-selfbesluit is Afrikaners se kosbaarste erfenis en belangrikste kulturele bate wat uit die verlede aan elke nuwe geslag Afrikaners oorgedra is. Selfs al verloor Afrikaners alle ander kulturele erfenisse, maar behou die bate van vryheid-van-selfbesluit, sal Afrikaners as kultuurgemeenskap nie net oorleef nie, maar ook sigbaar, skeppend, dinamies en kreatief funksioneer. Om dit anders te stel, as Afrikaners alles wil behou, maar in die proses van hul kosbaarste erfenis en belangrikste kulturele bate afstand doen, het hulle inderwaarheid ook die vermoë verloor om die res oor die lang termyn te behou.

Dit is die plig van elke geslag Afrikaners om die vryheid-van-selfbesluit in beskerming te neem en die krag daarvan in verskillende tydsomstandighede te herontdek. Die mate waarin elke geslag Afrikaners suksesvol daarin slaag om die kosbaarste erfenis en belangrikste kulturele bate te bewaar en in eietydse konteks toe te pas, sal elke geslag definieer. In die gang van die geskiedenis sal verskillende geslagte Afrikaners hieraan gemeet en beoordeel word.

Prestasie skep toekoms

Giliomee verwys na Henry Kissinger waar hy sê: “As jy die geskiedenis sien gebeur het, besef jy dit is nie onpersoonlike magte wat die geskiedenis voortdryf nie, maar veral leiers – en hul reaksies en besluite.” Wat word presies met leierskap bedoel? Die kaarte toon dat Afrikaners leierskap tradisioneel beskou as dienswerk deur persone wat verantwoordelikheid of eienaarskap vir hul toekoms aanvaar het, maar daarmee saam ook medeverantwoordelikheid vir hul gemeenskap. Elkeen wat bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar vir sy konteks, of dit ’n familiehoof, kerkraad, stadsraadswyk, of breër werksaamhede was, word beskou as ’n leier in eie reg. Afrikaners was nooit slagoffers van die geskiedenis nie, met hul hoëfunksieprestasies het hulle geskiedenis geskryf.

Afrikaners was in elke kaart voorposmense met voorposdenke. Hulle was op die voorpunt waar dinge gebeur, of dit op die oosgrens van die ou Kaapkolonie was of die noordelike grens van die Caprivi-strook. Met voorposdenke en vindingrykheid het Afrikaners nuwe spore getrap en koers na die toekoms aangedui. Afrikaners het nie in een enkele kaart stagneer nie, maar voortdurend na uitnemendheid gestreef.

NP van Wyk Louw het die strewe na uitnemendheid in verband gebring met die aristokratiese ideaal van die Afrikaner. Die strewe na uitnemendheid is nie ’n kleinlike vergelyking met ander nie. Dit is ook nie om eerste te kom, die meeste te hê of die beste te wees op ’n bepaalde gebied nie. Dit is ’n strewe om binne eie potensiaal steeds hoër te beur. Dit is om met jouself te kompeteer. Dit is om te reik na die hoogste, die mooiste, die skoonste ideale en beste tradisies wat Afrikaners se karakter kenmerk. Die strewe na uitnemendheid is nie net ’n ideaal of ’n lewensbeskouing wat Afrikaners saambind nie, maar ’n wete dat uitnemende dade prestasie skep en prestasie skep toekoms.

Afrikaners leef binne ’n tyd van gelykmaking. Daar word gepoog dat almal en alles nie net gelyk by die wegspringplek moet begin nie, maar ook gelyk by die wenstreep moet eindig. Die stadigste atleet bepaal spoed en rigting. Die grysheid van middelmatigheid word die standaard. Dit is die resep vir staatsverval en mislukking. Johan Van Zyl, die uitvoerende hoof van Sanlam, het op ’n stadium opgemerk: “Onafhanklik van wat beoog word moet jy beter toegerus wees as jou mededingers met betrekking tot tegniese vaardighede, lewensvaardighede en baie belangrik, die neem van eie verantwoordelikheid.”

Afrikaners se toekoms gaan bepaal word in die mate waarin jong Afrikanerleiers eie verantwoordelikheid neem om die strewe na uitnemendheid in uitnemende dade te vertaal. Die grootste uitdaging van elke Afrikanerleier op elke gebied en in elke gemeenskap is om nooit tevrede te wees met die grysheid van middelmatigheid nie, maar te strewe na uitnemendheid in alles. Afrikaners is dink-fiks, neem leiding, is positief betrokke by hul gemeenskap, wag nie dat dinge gebeur nie, maar laat dit gebeur. Wanneer Afrikaners eie verantwoordelikheid neem om soos in die verlede uitnemend op alle lewensterreine te presteer – in die politiek, ekonomie, kultuur, musiek, joernalistiek, televisie, radio en sport – skep Afrikaners nie net vir hulself nie, maar vir elkeen in Suider-Afrika ’n toekoms. Die grootste les uit die verlede is sonder twyfel: Prestasie skep toekoms!

Beweeglikheid as wapen

Een van die belangrikste koördinerende beginsels van Afrikaners is die aanpasbaarheid by die uitdagings van elke kaart. Afrikaners het in geen kaart met hul koppe in die sand of met hul rug na die wêreld geleef nie. Geen owerheid of beleid kon ooit Afrikaners se doen en late suksesvol inperk nie. Vanaf die VOC-tydperk het die Vryburgers die Kaapkolonie se grense al verder en verder geskuif. Die Voortrekkers was bereid om oor grense te beweeg en figuurlik gesproke berge te versit toe die leeftoestande aan die Oosgrens onhoudbaar geword het. Toe Milner met sy verengelsingsbeleid Afrikaners wou inperk, het hulle in hul naoorlogse armoede eie skole en organisasies gestig. Toe Marxistiese buurstate die ystervuis wou bal, het Afrikaners kort duskant Luanda (Angola) hul staal gaan wys. So is daar talle en talle historiese voorbeelde van Afrikaners wat geweier het om te stagneer of ingeperk te word.

Dit was De Wet wat tydens die Anglo-Boereoorlog beweeglikheid as suksesvolle wapen ontwikkel het. Sukses het vir De Wet nie afgehang van groot getalle soldate nie, maar dat dit bereik kon word deur klein groepies geïnspireerde burgers. Hierdie burgers kon nouliks op een hand getel word, maar hulle het deeglik hul invloed laat weeg. As dit nie was vir die haglike omstandighede en tragiese lot van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe nie, kon die bittereinders met behulp van beweeglikheid as wapen nog lank die oorlog volhou en Brittanje finansieel uitput. Beweeglikheid as wapen was so suksesvol dat dit Afrikaners se politieke en kulturele denke vir altyd verander het. Na die oorlog het Afrikaners in die Tweede Taalbeweging en talle organisasies suksesvol die taktiek aangewend met ongekende prestasies. Dit is veral die Afrikaners in Namibië wat na onafhanklikheid getoon het watter verskil ’n klein beweeglike groepie Afrikaners kan maak om nuwe kulturele ruimtes te skep.

Afrikaners, wat na 1994 suksesvol daarin geslaag het om die verlammende staatsgesentreerde denke af te skud en hulle anderkant die ou rigiede verdelingslyne van links en regs te definieer, beleef nuwe groei en dinamika. Deur die doeltreffende aanwending van beweeglikheid as wapen slaag Afrikanerorganisasies op talle terreine daarin om groot getalle Afrikaners oor ’n verskeidenheid van kwessies te mobiliseer. Met beweeglikheid as wapen het daar in die nuwe bedeling ’n nuwe geslag suksesvolle Afrikaanse entrepreneurs ontstaan, toe die regering Afrikaners wou beperk deur regstellende aksie en transformasie. Diegene wat meen die Afrikaners se gemeenskapslewe is dood, is siende blind vir die nuwe lewenskrag in Afrikanergemeenskappe.

Beweeglikheid as wapen, vereis ’n realistiese evaluering van omstandighede en pragmatiese optrede. Danie Goosen verwys daarna as “verstandige handeling”. “Verstandige handeling” blyk volgens Goosen “uit die wyse waarop die verstandige mens verandering benader. As ons verstandig handel, word daardie wyses van verandering vermy wat deur ’n nostalgiese verlange na die verlede gekenmerk word. Nostalgie verlam en kan geen sinvolle antwoord op die eise van die tyd wees nie. Eweneens word dié verandering vermy wat uit onrealistiese (of selfs utopiese) oorwegings totaal met die verlede wegdoen. Verstandige handeling word eerder gekenmerk deur ’n poging om tussen verlede en toekoms te bemiddel, of ’n balans tussen hierdie kragte te handhaaf.”

Burgerlike organisasies en gemeenskappe wat vanuit ’n interne locus standi funksioneer, is in staat om hierdie balans te vind en te handhaaf. Hierdie organisasies het die vermoë om met beweeglikheid as wapen op ’n dinamiese wyse saam te werk, netwerke te vorm en vennootskappe te sluit. Beweeglikheid as wapen stel organisasies in staat om ook met die regering van die dag op alle vlakke te praat, te onderhandel, te beding, goeie verhoudinge te ontwikkel en saam te werk, maar as vennote sonder die prysgawe van eie identiteit.