Pres. Willem Cornelis Janse van Rensburg
Oktober 21, 2016
Van Riebeeck’s het Klassieke musiektradisie in SA gevestig
Oktober 25, 2016

1888: Hans Aschenborn gebore
Hans Anton Aschenborn, bekende skilder en grafiese kunstenaar (houtgravures en etse) is in Kiel, Duitsland, gebore, ontvang aan die Reform-Realgymnasium kunsonderrig om ’n talent wat hy klaarblyklik van sy vader geërf het, te ontwikkel. In 1909 emigreer hy na SWA waar hy hom op die plaas Quickborn, Okahandja, vestig. Ondanks ernstige terugslae tydens en na die Eerste Wêreldoorlog, het hy hierdie nuwe land liefgekry, wat weerspieël word in sy kunswerke. Hy keer na Duitsland terug met die vaste voorneme om hom later weer in Suidwes te vestig, maar sterf op 10 April 1931 in Kiel, voordat hy die ideaal kon verwesenlik. Op Stellenbosch, waar hy gewoon het na die Eerste Wêreldoorlog, het hy met Pierneef, JFW Grosskopf en Sangiro bevriend geraak. Hy illustreer baie van Nasionale Pers se publikasies met pensketse, en sy eie prosasketse oor die dierelewe word deur Sangiro vertaal en in 1925 onder die titel Die Adelaar en ander Diereverhale uitgegee.

1891: Onze Taal gestig
Hierdie Rederykerskamer is gestig met die doel om “die welsprekendheid van die Hollandsche taal” te beoefen en “de bevordering van gezellige verkeer in kleine kring”. Op 18 Maart 1891 is die eerste uitvoering van hierdie vereniging se ideale met voordrag van gedigte en musiek gelewer. Veral die invloed van D Balfoort en sy eggenote het ’n groot rol in die lewering van pragtige musiek en sang gespeel. Dit was net so ’n geslote vereniging soos die gewone Rederykerskamer van later jare. Die vergaderplek is deurgaans aangegee as die Good Templars Hall. Die tweejarige bestaan is deur geleentheidsdigters besing. Aan hierdie feesverrigtinge het onder andere JF Cilliers, D Balfoort en Anton van Wouw deelgeneem. Dr. FV Engelenburg ontvang in 1893 van die Taalfeeskommissie ’n silwerpenning namens Onze Taal. Die Tweede Vryheidsoorlog het Onze Taal gedwing om sy werksaamhede tydelik te staak. In Maart 1904 herleef die vereniging weer onder voorsitterskap van ds. Linkbeek. Met die opkoms van Afrikaans as volkstaal was die vereniging se ondergang onvermydelik.

1896: S le Roux Marais gebore
Stephanus le Roux Marais is in die distrik Bloemfontein gebore. Hy studeer aan die SA College of Music in Kaapstad en daarna aan die Royal College of Music, Londen. In die daaropvolgende 32 jaar beklee hy verskillende NG Kerkorrel-poste en ook onderwysposte. In 1945 trou hy met Edith Reinet. Marais is ’n baanbreker op die gebied van die Afrikaanse kunslied. In 1928 is sy Vier Afrikaanse Sangstukke gepubliseer, en in die daaropvolgende vyf jaar het hy 23 diplomas by die Kaapstadse Eisteddfod verower. In ’n tydperk toe die repertorium van Afrikaanse kunsliedere nog skraal was, het Marais se liedere onmiddellik treffers geword, soos “Heimwee” (JRL van Bruggen) (1930). Min gedigte weerspieël ’n komponis se lewensbenadering en gees so volkome soos hierdie gedig:

My hart verlang na die stilte
Van die wye wuiwende veld …

Marais se direkte benadering, verbonde aan sy fyn aanvoeling vir die Afrikaanse taal, die trefkrag van sy melodieë en sy begrip van die vereistes van die menslike stem, het algemene gewildheid vir sy liedere verwerf. Jare gelede, skryf Emol, kritikus van Die Burger, “Heimwee gee my moed vir die toekoms”. In werklikheid het Marais Afrikaans tot sangtaal verhef. Die “Roos”, “Kom dans Klaradyn” en ander liedere bly gedenktekens van sy skeppingsvermoë. Teen 1946 is 56 liedere gepubliseer. Hierdie beskeie, opregte Afrikaner het veel bygedra tot die Afrikaanse kunsliede en het ons opnuut laat luister na ons digkuns en ons geleer om die skoonheid van ons vaderland deur middel van klank te waardeer.