90ste Dorslandtrek Gedenkfees

Baie, baie geluk aan vanjaar se Internasionale Afrikaans-Ekspo-wenners
November 8, 2018
Nog internasionale roem vir Jaco Jacobs
November 8, 2018

Deur: Dr Callie Opperman (Voorsitter: Dorslandtrekvereniging Swartbooisdrift)

In die verre noorde van Namibië, op die wal van die Kunenerivier, begin die feesgangers kamp opslaan onder die reuse bome. Wildevy, hardekool en nog ander inheemse bome, met hulle wortels in die welkome water vanuit die Angola-hooglande. ’n Groen streep lewe in die droë klipperige wêreld suid van die noordelike grens van Namibië. Okapupa Rivierkamp is van 23-27 Augustus 2018 bespreek vir die vyfjaarlikse Dorslandtrek Gedenkfees. Vanjaar is dit 90 jaar na die geskiedkundige 24 Augustus 1928 toe die eerste Angolaboere na Suidwes-Afrika verhuis het. Hulle het die rivier by Swartbooisdrift oorgesteek, net 12 kilometer van die kampterrein af.

Hierdie gedenkfeeste is ’n mengsel van ’n kultuurhistoriese geleentheid, re-unie van vriende en ’n familiesaamtrek. Dit groet en kuier, vertel stories, braai vleis en bind weer noodsaaklike onderlinge bande. Niemand vertrek soos hulle die eerste dag aangekom het nie. Daar is ’n verdieping, ’n bewuswording, ’n kulturele verbintenis, wat soos ’n vlammetjie in jou aangesteek kan word. Met die groet na die fees hoor jy baie sê: “Ons sien oor vyf jaar weer!”

Die Gedenkfeeste het in 1998 herleef, na 23 jaar se onderbreking weens die grensoorlog. In die 1950’s tot 1969 is verskeie sulke feeste gehou. Naas die Geloftefees is dit die grootste Afrikaner-kultuurhistoriese geleentheid in Namibië. Elke vyf jaar daag daar afstammelinge, aangetroudes, belangstellendes en selfs onverwagse toeriste by die feeste op. By die Gedenkfeeste word eerstens die geskiedenis oorvertel. Daar spreek dit soveel sterker, vanweë die geskiedkundige omgewing naby die Dorslandtrekkers Monument by Swartbooisdrift. ’n Gedenksteen is vanjaar deur die twee oudste feesgangers, Tryna Pretorius (95) en Marthie Kloot (91), by die monument onthul.

Aan God word tydens die fees die eer gegee vir sy bewaring van hierdie deel van die Afrikanervolk, maar terselfdertyd word nagedink oor ons roeping as afstammelinge van die Dorslandtrekkers. Die lekker saamkuier word versterk deur boeresport, volkspele en samesang. In die aande brand die braaivleisvure en word interessante stories vertel. Oor trek, swaarkry, jag en boerdery. Stambome word uitgelê, familie word ontdek.

Die Voortrekkers (Namibië) het in dieselfde tyd ook hulle gebiedskamp naby ons feesterrein. Die Dorslandtrekgeskiedenis word met hulle behandel. Vanjaar het hulle ons program verryk met pragtige volkspele.

WIE WAS DIE DORSLANDTREKKERS?
Die Dorslandtrek het ontstaan toe Afrikanergesinne uit Transvaal getrek het met die doel om ’n ander, beter tuiste te vind, wat kon voorsien in al hul behoeftes. Hulle het in 1875 by die Krokodilrivier naby Brits bymekaar gekom en daarvandaan min of meer noordwes getrek. Deur die huidige Botswana se dorsland.

Die Eerste Trek het uit tien gesinne bestaan, wat onder leiding van Gert Alberts redelik suksesvol getrek het. Dit was ook bekend as die ‘Van der Merwe’-trek, omdat ses van die gesinne Van der Merwes was. Hulle het ’n tyd by Rietfontein (Gobabis) vertoef. Die Tweede Trek was ’n groot groep van 125 waens. Juis omdat die trek so groot was, het dit baie ellende veroorsaak. In die ‘Dorsland’ veral, maar ook langs die moerasse van die Kavango, het hartverskeurende tonele hulle afgespeel. Sommige gesinne is heeltemal uitgewis. Dit het gelei tot name soos die ‘Dwaaltrek’ of ‘Dorstrek’ en later die ‘Dorslandtrek’. Die geweldige verlies van duisende beeste en ander vee het daartoe gelei dat sommige families later met net hulle waens gestrand was. Hulp moes van die Alberts-groep verkry word om verder te trek. Daar was ook spanning tussen die leiers Jan Greyling en Louw du Plessis, wat die nood van die trekkers vererger het. Die Derde Trek het uit slegs agt waens bestaan wat, soos die eerste trek, redelik suksesvol deur die Kalahari getrek het.

Hierdie drie trekke het later op Leeupan saamgesmelt en so is ’n ‘Verenigde Dorslandtrek’ gevorm, gelei deur Kommandant Botha.

Die trekkers het daarna lank in die Kaokoveld (Noordwes Namibië) vertoef. Vandaar het hulle met die Portugese onderhandel en is besluit om na Angola te trek. Sodoende het hulle gedurende 1881 op Humpata aangekom. Vanaf Humpata het sommiges hulle later verder noordwaarts gaan vestig.

ANGOLABOERE
Die Dorslandtrekkers het uiteindelik vir amper 50 jaar in Angola gewoon en gehelp om die land te ontwikkel. Paaie vir ossewaens is gemaak en transportryers het noodsaaklike vervoer begin verskaf. Veiligheid teen veediefstalle is verkry deurdat die boere gewapende kommando’s in diens van die Angolese regering gestel het. Die verhoudinge tussen die nuwe Afrikanersetlaars en die Portugese koloniale owerheid was aanvanklik goed.

Later het daar spanning gekom. Die Afrikaanse taal en kultuur, die protestantse godsdiens en grondbesit was struikelblokke. Vir die Portugese was hulle taal en Roomse godsdiens van belang. Eiendomsreg op plase is weerhou. Daar het ’n verlange by die Angolaboere ontstaan om weer tussen hulle eie mense te woon. Tog was hulle verknog aan die mooi wêreld van Angola, met volop water en veldvrugte. Veral die Humpata-omgewing was ook ’n gesonde wêreld, sonder malaria en ander tropiese siektes.

Na vele onderhandelinge met die Suid-Afrikaanse regering en die Suidwes-Afrika Administrasie is toestemming gegee dat die bykans 350 gesinne (ongeveer 1900 persone) na Suidwes kon verhuis. Daar was streng voorwaardes. Geen diere en werkers mag saamgeneem word nie. Slegs die paar besittings wat in ’n ossewa gepas het kon saamgeneem word. Dit sou ’n nuwe begin beteken. Op 24 Augustus 1928 het die deurtog by Swartbooisdrift ’n aanvang geneem. Ossewaens het van Angola se kant by die rivier gekom. Die wa is deurgetrek, maar die osse is weer na Angola teruggeneem. Die Rooikamp was die tydelike blyplek op ’n hoogtetjie met rooi klippe en min beskerming teen die warm son net suid van Swartbooisdrift. Regeringsvragmotors het oor ’n tydperk van 6 maande die gesinne na Outjo, Gobabis en Aranos distrikte geneem, waar eers tydelike verblyf gewag het. Daar is plase beskikbaar gestel wat die Angolaboere kon koop. Slegs ’n boorgat en windpomp het vir die nuwe eienaars gewag.

Dit was traumatiese tye. Tye van verlies en hervestiging, armoede en gebrek. Tog was die getuienis oor hierdie groep Afrikaners, soos in die koerante van destyds weerspieël, positief. Geen losse groep sonder dissipline en kultuur nie. Inteendeel! Ten spyte van die halfeeu in Angola, afgesonderd van kultuurgenote en leefwyse, is kernwaardes behou. Geloof in God, die reformatoriese godsdiensoortuiging, liefde vir hulle eie taal en gebruike. Basiese skoolonderrig is in Angola gegee, maar daar was die begeerte na beter. Kerklike sorg is deur die Gereformeerde en Hervormde kerke gedoen.

Die afstammelinge van die Dorslandtrekkers, die Angolaboere, herleef hulle voorsate se geskiedenis tydens die Gedenkfeeste. Daar word geleer uit hulle foute, geïnspireer deur hulle vasberadenheid en durf, kulturele bande versterk.

(Vir meer inligting oor die Dorslandtrekvereniging Swartbooisdrift besoek die webwerf dorsland.org)

The post 90ste Dorslandtrek Gedenkfees appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico