8 SEPTEMBER
September 8, 2015
10 SEPTEMBER
September 10, 2015

Gebeure

1939 – Hereniging tussen dr. DF Malan en genl. JBM Hertzog

’n Warm gevoel van uitbundige vreugde en dankbaarheid het die Nasionale Afrikanerdom op hierdie dag uit alle uithoeke van ons land laat optrek na Monumentkoppie, waar ’n gedenkteken vir die Voortrekkers aan die verrys was. “Hy het sy offer gebring,” het dr. DF Malan verklaar toe genl. Hertzog, Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, se mosie dat die Unie van Suid-Afrika neutraal bly in ’n oorlog “wat nie ons s’n is nie” op Maandag 4 September in die Volksraad verwerp is. Genl. Smuts se teenmosie is aanvaar, en genl. Hertzog het sy bedanking ingedien. En toe sy “segetog” per trein na die Noorde. Op elke stasie is hy ingewag deur juigende Afrikaners. In Johannesburg het dr. HB Stegman, skoonseun van Jan Celliers, Dinsdagoggend, 5 September, aan die FAK-sekretaris, mnr. IM Lombard, en sy hulpsekretaris, dr. PJ Meyer, voorgestel dat ’n groot saamtrek van Afrikaners by Monumentkoppie op Saterdagmiddag, 9 September 1939, gereël moet word waar dr. DF Malan, leier van die Herenigde Party, en genl. JBM Hertzog, geliefde leier van die Nasionale Party, voor samesmelting, mekaar die hand sal reik om die “hereniging van almal wat bymekaar hoort” in te lui. Reëlingskomitees is per telefoon en per boodskappers in alle dele van die land gestig, en by die tienduisende het dankbare, singende Afrikaners in die pad geval – Monumentkoppie toe. Totius het huiwerig ingewillig om ’n “volksverklaring” op te stel en voor te lees, waardeur almal teenwoordig “met die opsteek van hul hande” uitdrukking sal gee aan hul wil en begeerte om as Afrikaners vorentoe saam te werk en saam te stry op die pad van Afrikaner-selfstandigwording. Dit het egter byna ’n dekade geduur voordat hierdie onderneming sou uitloop op ’n politieke sukses: die Nasionale verkiesingsoorwinning van 1948. Die FAK het ’n paslike adres vir hierdie geleentheid laat druk, wat baie jare in duisende Afrikaners se huise vertoon is.

 

Geboortes

1873 – Pieter Willem Frederik (Pieter) Wenning, kunstenaar en die vader van Kaapse Impressionisme († 24 Januarie 1921)

Pieter Wenning was ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar en die vader van die Kaapse Impressionisme. Hy is in Nederland gebore en was weens gesondheidsredes op jeugdige ouderdom na Suid-Afrika gebring. Hy het eers by J.H. de Bussy se boekhandel gewerk. Hy begin skilder en sy talent kom onder die aandag van DC Boonzaier. Dié oorreed hom om na die Kaap te verhuis. Hy was arm en sy gesondheid swak en het sy skilderye goedkoop verkoop. Sy werk, hoewel onder die invloed van Impressioniste, is as heeltemal oorspronklik beskou. Hy is in Pretoria oorlede.

1891 – Gertruida Anna (Trudie) Kestell, deskundige oor historiese kleredrag († 1 September 1974)

Gertruida Anna (Trudie) Kestell, dogter van die bekende dr. JD Kestell, is op 9 September 1891 gebore. Gedurende die Eeufeesjare rondom 1938 het sy intensiewe navorsing oor die kleredrag van die Voortrekkers gedoen, veral met die doel om ’n historiese juiste volksdrag vir die Afrikaner met die Eeufeesvieringe daar te stel. Sy het deeglike studie gemaak van Voortrekkerkleredrag in die Voortrekkermuseum in Pietermaritzburg en die Nasionale Museum in Bloemfontein, en uitgebreide korrespondensie gevoer met persone wat kennis van die Voortrekkerkleredrag gehad het. Die resultate van haar navorsing is in 1940 gepubliseer in ’n boekie Ons Volksdrag en iets oor die kleredrag van ons voorgeslagte en in ’n artikel in die Hertzog-annale van Maart 1954. Trudie Kestell het baie daartoe bygedra om trots in en waardering vir die kleredrag van sy voorgeslagte by die Afrikaner te kweek. In ’n tyd toe daar oor die stoflike kultuur van die Afrikaner baie min geskryf is, was sy op hierdie gebied ’n baanbreker.

 

Sterftes

1810 – Johann Christian Ritter, waarskynlik die eerste drukker en boekbinder in Suid-Afrika (* 25 Julie 1755)

Johann Christian Ritter is in Duitsland gebore. As seun van ’n boekbinder bekwaam hy hom as drukker en boekbinder. Hy stap in 1784 in Tafelbaai aan wal in diens van die VOC en was vermoedelik die eerste drukker en boekbinder in Suid-Afrika, wat onder meer die almanakke vir 1795, 1796 en 1797 gedruk het. Slegs die titelblad van die 1796-almanak het bewaar gebly en is die oudste oorgeblewe stukkie drukwerk in Suid-Afrika. Hy sterf in Kaapstad op 9 September 1810.

1868 – Silkaats, stigter en die eerste koning van die Ndebele (* ongeveer 1790)

1892 – Johannes Hermanus Grobler, eerste landdros van Potchefstroom en Ohrigstad en later waarnemende president van die ZAR (* 6 November 1813)

Johannes Hermanus Grobler is by Olifantsrivier, George, gebore. Nadat hy die Kaapkolonie in 1838 verlaat het, was hy agtereenvolgens medestigter en eerste landdros sowel van Potchefstroom as van Andries Ohrigstad. Daarbenewens was hy mede-ondertekenaar van die Sandrivier-konvensie (17 Januarie 1852, voorsitter van die afvaardiging van die ZAR wat in Junie 1857 ’n vredesooreenkoms met die Oranje-Vrystaat gesluit het, feitlik ononderbroke lid en dikwels voorsitter van die Volksraad en van 15 Februarie 1858 lid van die Uitvoerende Raad van die ZAR. Na pres. MW Pretorius se vertrek na die Oranje-Vrystaat, is Grobler in Februarie 1860 tot Waarnemende President van die ZAR benoem, maar dit was ’n omstrede posisie wat selfs ’n aanslag op sy lewe tot gevolg gehad het. In Desember 1860 het hy bedank en het kmdt.-genl. Stephanus Schoeman by hom oorgeneem. Op 9 September 1892 is hy op sy plaas Gemsbokheuwel in die distrik Ermelo oorlede.

2006 – Eghard van der Hoven, akteur en kunstedirekteur (* 22 April 1922)

Eghard van der Hoven was ’n akteur en voormalige hoof van Truk.

2012 – Louis van Rensburg, sanger, komponis en liedjieskrywer (* 31 Julie 1944)

Louis van Rensburg was ’n Afrikaanse sanger, komponis en liedjieskrywer. Hy het bekendheid verwerf met sy musiek vir die TV-reeks Ballade vir ’n enkeling, waaronder die liedjie “Voshaarnooi”. Hy het ook klankbane vir verskeie ander TV-reekse soos Bart NelBosveldwinkelWielie-WalieGeknelde landMeester en Arende geskryf. Meer onlangs het hy die temamusiek vir die sepie 7de Laan geskryf.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

te stry op die pad van Afrikaner-selfstandigwording. Dit het egter byna ‘n dekade geduur voordat hierdie onderneming sou uitloop op ‘n politieke sukses: die Nasionale verkiesingsoorwinning van 1948. Die FAK het ‘n paslike adres vir hierdie geleentheid laat druk, wat baie jare in duisende Afrikaners se huise vertoon is.