8 OKTOBER
October 8, 2015
10 OKTOBER
October 10, 2015

Gebeure

1803 – Jacob Abraham Uitenhage de Mist en sy dogter Augusta vertrek na ‘n verkenning van die binneland

Op 9 Oktober 1803 verlaat Jacob Abraham de Mist, kommissaris-generaal, Kaapstad op ’n reis van 167 dae na die binneland, vergesel van sy dogter Augusta, ’n metgesel met die naam Mietjie Versveld, sy seun en dr. Heinrich Lichtenstein, ’n ontdekkingsreisiger. Die reisparty het eers noordwaarts getrek na Saldanha en St. Helenabaai, en daarna na die huidige Calvinia, Sutherland en Tulbagh. Hulle het toe ooswaarts gedraai in die rigting van Swellendam en Mosselbaai, verder na Algoabaai en die aansluiting van die Groot- en Klein Visrivier. Die dames het agtergebly terwyl De Mist Gaika, ’n Xhosa-hoof, ontmoet het. Hierna het hulle na Graaff-Reinet gereis, waar Augusta siek geword het. Sy weier om agtergelaat te word, en gaan voort met die res, met haar bed in een van die waens. Hulle is via Beaufort-Wes, Prins Albert en Worcester verby op pad terug na Kaapstad, wat hulle op 23 Maart 1804 bereik het. Augusta se reisjoernaal, wat hierdie reis opneem, is later in Frans gepubliseer as Relation d’un voyage en Afrique et en Amerique, par Madam … Die enigste bekende eksemplaar bestaan ​​in die Library of Congress in Washington, aangesien sy via Noord- Amerika gereis het op pad huis toe in 1805. Die Engelse titel van die boek is Diary of a journey into the Cape of Good Hope and the interior of Africa in 1802 and 1803 by Jonkvrou Augusta Uitenhage de Mist, wat in 1954 deur Dr. Edmund Burrows vertaal is.

1899 – Ultimatum aan Brittanje oorhandig

Om 17:00 oorhandig die staatsekretaris, F.W. Reitz, die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) se ultimatum aan die Britse agent in Pretoria, sir William Conyngham Greene; daarin word onder meer geëis dat Britse troepe binne 48 uur aan die ZAR se grense onttrek word. Indien geen antwoord teen 17:00 op 11 Oktober ontvang word nie, sal dit as ’n formele oorlogsverklaring beskou word. Die Britse regering en pers is verheug oor die stap, want die ZAR het regtens die Anglo-Boereoorlog begin.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Vlakfontein, ZAR

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Krugersdorp (Zeekoehoek)

1914 – Genl. Manie Maritz rebelleer

Salomon Gerhardus (Manie) Maritz, ’n afstammeling van die Voortrekkerleier Gerrit Maritz, het die republikeinse ideaal dermate aangehang dat hy reeds in 1912 sy posisie as offisier van die Unieverdedigingsmag wou gebruik om die republikeinse vryheid te herstel. Toe genl. JC Smuts vir Maritz opdrag gee om deel te neem aan die inval van Suidwes-Afrika, rebelleer hy en die meeste van sy manskappe. Sy opregte volksgevoel word mooi weergegee deur sy grafskrif. Op die granietblok op sy graf kom die volgende inskripsie voor: “Vat my hand dat ek kan opstaan vir my volk.” Salomon (Manie) Gerhardus Maritz is op Kimberley gebore, Hy was ’n polisieman in Johannesburg toe hy in Oktober 1899 saam met die Boksburg-kommando na die oorlogsfront in Natal gegaan het. Hy het lid van Danie Theron se dapper Verkennerskorps geword. In Februarie 1901 gaan veg hy in die Kaapkolonie en word tot veggeneraal bevorder. Hy weier om die wapen met die vredesluiting op 31 Mei 1902 neer te lê en gaan deur Duits-Suidwes-Afrika na Europa. Later besoek hy Madagaskar en keer na Suid-Afrika terug. In 1914 moet hy as Rebelleleier noodgedwonge deur Angola na Portugal vlug. Uit Duitsland het hy na sy vaderland gekom, en in 1923 word hy tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis, maar is in 1924 vrygelaat. Hy sterf in ’n motorongeluk op 19 Desember 1940. Sy outobiografie My lewe en strewe het in 1938 verskyn. Hy is in die Nuwe Kerkhof in Pretoria-Wes begrawe.

1951 – Suid-Afrikaanse Raad vir die Bevordering van Musiek gestig

Die Suid-Afrikaanse Raad vir die Bevordering van Musiek met prof. FCL Bosman as voorsitter is gestig.

 

Geboortes

1847 – Stephanus Jacobus du Toit, predikant, stryder en stigter van die GRA († 28 Mei 1911)

Stephanus Jacobus du Toit is op hierdie dag op Dal Josafat by die Paarl gebore. Hy het sy skool- en teologiese opleiding respektiewelik aan die Paarlse Gimnasium en die Kweekskool op Stellenbosch ontvang. SJ du Toit was onder die invloed van Arnoldus Pannevis ’n vurige voorvegter vir Afrikaans as selfstandige taal. Sy politiek-nasionale doelstelling – “om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land” – het hy deur die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus in 1875, met as spreekbuis Die Afrikaanse Patriot, die Afrikanerbond in 1879 en sy aandeel in die opstel van die Afrikaanse Volkslied, bevorder. Hy kan daarom as die eerste Afrikaanse Nasionalis beskou word.

In 1882 het hy Superintendent van Onderwys in Transvaal geword. Sy onderwyswet het die onderwys in die Republiek bevorder. Sy eersug en betrokkenheid by Transvaalse politieke aangeleenthede soos die Wesgrens-kwessie, die Pretoria-Konvensie, aandele-spekulasies in die Goudstad, leerstellige aangeleenthede en sy teenkanting teen die regering se konsessiebeleid, het hom in regeringskringe ongewild gemaak. In 1888 het hy as Superintendent van Onderwys bedank en hom weer in die Paarl gaan vestig waar hy hom met die vertaling van die Bybel in Afrikaans, ’n taak deur die GRA in 1885 aan hom opgedra, besig gehou het. Hy het dus ook ’n baanbreker op die gebied van die Afrikaanse Bybelvertaling geword. Na sy terugkeer na die Paarl het hy die beleidsrigting van Die Patriot gewysig. Sy kritiek op die Krugerbewind en pleidooie vir konsiliasie tussen Brits- en Afrikaanssprekendes het hom verder van sy mede-Afrikaners vervreem. Die gevolg was dat die Eerste Taalbeweging waarvan hy die vader was, teen 1900 doodgeloop het.

In sy tweede Paarlse tydperk het ds. SJ du Toit egter verbasend veel ter bevordering van die Afrikaanse taal en letterkunde sowel as oor algemene en godsdienstige onderwerpe gepubliseer. Hy het verskeie Afrikaanse boeke geskryf soos Die Koningin van Skeba in 1897, die eerste Afrikaanse gepubliseerde drama. Hy het ook gedigte geskryf, maar hulle is nooit gebundel nie. Hy is algemeen beskou as die “Vader van die Afrikaanse taal; stigter van die Afrikanerbond, en stryder van die Calvinisme” – die inskrywing op sy graf. In sy lewe was hy predikant van die NG Kerk, Calvinistiese teoloog, Bybelvertaler, leier van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, skrywer, Superintendent van Onderwys in Transvaal, en koerant- en tydskrifredakteur. Op besoek aan Calvinia in Augustus 1910 het sy perdekar omgeval. Die ernstige beserings wat hy in die ongeluk opgedoen het, het uiteindelik gelei tot sy sterwe op 28 Mei 1911 op Kleinbosch, Dal Josafat.

1894 – Stephanie Faure, voordragkunstenaar en toneelspeler († 25 Desember 1961)

 

Sterftes

1881 – Dirk van der Hoff, predikant, stigter van die Hervormde Kerk en ontwerper van die Transvaalse Vierkleur (* 2 September 1814)

Dirk van der Hoff is in Dortrecht, Nederland, gebore. Toe hy en sy gesin in Mei 1853 na Potchefstroom verhuis, was die ZAR, wat die vorige jaar deur Brittanje as onafhanklike staat erken is, nog in sy wordingsjare. Tot vroeg in die jare sestig het ds. Van der Hoff sy veeleisende pastorale werk in Transvaal vingeralleen van Potchefstroom behartig. As predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk en as vertroueling van kmdt.-genl. MW Pretorius, wat van 1856 president was, was Van der Hoff ook geroepe om, naas sy gemeentelike arbeid in die uitgestrekte landstreek, ook advies en leiding te gee op onderwys-, kultuur- en staatsgebied van die jeugdige Afrikanerstaat benoorde die Vaalrivier. Tot enkele jare gelede was die naam van ds. Van der Hoff uitsluitlik geassosieer met die ontwerp van die Transvaalse Vierkleur in 1856. Dit het egter aan die lig gekom dat Marthinus van der Hoff, ’n opgeleide landmeter wat op aandrang van sy ouer broer na die ZAR verhuis het, maar as gevolg van ’n gebrek aan werksopdragte op Potchefstroom as landdros begin werk het, ’n aandeel gehad het in die ontwerp van die Vierkleur in samewerking met Anton Schubärt, ’n plaaslike sakeman. Waar ds. Van der Hoff op 6 Januarie 1857 ’n prominente aandeel gehad het in die verrigtinge op Potchefstroom wat in verband gestaan het met die beëdiging van president MW Pretorius en die eerste hysing van die Vierkleur op die Markplein, en hy ’n Vlaggelied wat hy vir die geleentheid geskrywe het, voorgedra en daarbenewens in 1874 ook ’n uitmuntende beskrywing gegee het van die voorkoms en simboliek van die Vierkleur, kan die afleiding – gebaseer op omstandigheidsgetuienis – gemaak word dat hý verantwoordelik was vir die konsepontwerp, en dat sy broer en Schubärt, met ’n doos waterverf tot hul beskikking, die vlagidee in tekening gebring het. Hy is op 9 Oktober 1881 op Potchefstroom oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/