8 NOVEMBER
November 8, 2015
10 NOVEMBER
November 10, 2015

Gebeure

1907 – Die Cullinan-diamant word op sy verjaarsdag aan koning Edward VII aangebied

 

Geboortes

1900 – Willem Hermanus (WH) Coetzer, skilder († 29 September 1983)

Willem Hermanus Coetzer is op Tarkastad gebore. Vanaf sy 17de jaar is hy in Johannesburg as koetsbouer opgelei. Sy kunsopleiding het hy hoofsaaklik in Londen ontvang. Ná verskeie oorsese reise het hy in 1930 na Suid-Afrika, waar hy reeds bekendheid verwerf het, teruggekeer. Hy het van 1934 intens bewus geword van sy Afrikaanse kultuurerfenis en het begin om navorsing te doen, veral oor die Voortrekkers. Hy het verskeie Africana versamel en al dié elemente in sy kuns na vore gebring. Die Simboliese Ossewatrek van 1938 het vir Coetzer gulde geleenthede in dié verband gebied. Hy het talle voorwerpe wat in die feesjaar gebruik is, soos gedenkseëls, eetgerei en boeke, ontwerp. Van veel groter belang is egter sy ontwerpe vir die marmerfriese en tapisserieë in die Voortrekkermonument. Die vyftien panele in die monument bied nie alleen ’n breë oorsig van die geskiedenis van die Groot Trek nie, maar toon ook Coetzer se besondere kennis van die Voortrekkers, hul gewoontes, gebruiksvoorwerpe, kleredrag, waens en trekgewoontes. In die dramatiese samestelling van tonele soos die Bloukransmoord en die tog oor die Drakensberge kom Coetzer se geskiedkundig-monumentale styl – soos ook in ’n hele aantal skilderye – duidelik na vore. In 1965 is ’n spesiale erepenning deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy kunswerke oor die geskiedenis aan hom oorhandig. Coetzer is veral bekend vir sy landskapskilderye en etswerke.

Nagmaal op Middelburg, Transvaal deur WH Coetzer

1901 – Gerrit Bon, orrelis en musieklektor in Suid-Afrika († 1983)

Hy is in Amsterdam gebore, waar sy musiekopleiding begin het. Op 14-jarige leeftyd verwerf hy die Nederlandse Orrelistediploma, waarna hy ’n aanstelling by die Lutherse Kerk in Nijmegen aanvaar. In 1924 emigreer hy na Suid-Afrika. Van 1924-1928 was hy orrelis van die NG Kerk in Bosmanstraat en daarna orrelis van die NG Kerk Pretoria-Oos. In 1950 met die 200-jarige Bach-herdenkingsfees, lewer hy ’n reeks van 26 uitvoerings in die Presbiteriaanse Kerk van al Bach se orrelwerke – miskien ’n unieke wêreldprestasie. In 1926, toe die ASAF-koor doodgeloop het, het Bon die Gemengde Koor Zanglust gestig en dit tot 1943 gelei. Oratoria van Bach, Händel, Mendelssohn en ander komponiste is uitgevoer. In 1929 is Bon aangestel as lektor aan die Normaalkollege. Van 1933 tot 1936 is hy ook in beheer van die Musiekdepartement van die Universiteit van Pretoria. In 1957 verlaat hy Pretoria en vestig hom in Salisbury, Rhodesië, as lektor aan die plaaslike universiteit. In 1975 onder die opskrif “Vier Eeu Orrelmusiek”begin hy ’n reeks van 250 orreluitvoerings. Hy het ook ’n leidende rol op die gebieed van die organisasie van Suid-Afrikaanse Musiek gespeel. Op verskillende tye was hy voorsitter van die SA Raad vir die Bevordering van Musiek, die Pretoriase Bach-vereniging en die Afrikaanse Kerkmusiek-vereniging, asook lid van die Radioraad, redaksielid van Res Musica, ensovoorts. As komponis is hy bekend vir sy Ons eie Kerkkoor-reeks en, naas kleiner werke, komponeer hy ook Die Hoogste Offer (Passiemusiek) en die Van Riebeeck Te Deum, wat albei eerste uitvoerings in die Pretoria-stadsaal in 1945 en 1952 onderskeidelik geniet het.

1908 – Johannes van der Walt, Suid-Afrikaanse stoeier en lid van die Ossewabrandwag († 1943)

Johannes van der Walt – die groot Afrikanersportheld van die jare dertig – sterf in ’n verlamde toestand in Johannesburgnadat ’n polisiekoeël sy rugmurg deurboor het. Hy was ’n aktiewe lid van die Ossewa-Brandwag en is in Desember 1941 in hegtenis geneem op aanklag dat hy ’n rewolwer sonder ’n lisensie in besit gehad het. ’n Paar dae later het hy uit polisiebewaring ontsnap en op 23 Februarie 1942 is hy by Krugersdorp vasgekeer en raakgeskiet. Sy begrafnis op 28 Maart 1943 in Melville, Johannesburg was ’n volksaamtrek van 50 000 Afrikaners. Sy stoflike oorskot is op die ossewa van Louis Trichardt uit die Groot Trek vervoer. Op sy grafsteen staan treffend geskryf: “Ek het geval op die pad van Suid-Afrika.” Op 10 Oktober 1975 is ’n gedenkplaat by die RAU tot sy nagedagtenis onthul. Hy is op 1 November 1908 op die plaas Witkoppen buite  Johannesburg gebore. Hy verlaat die skool op 15-jarige ouderdom en tree in diens van die Johannesburgse munisipaliteit. ’n Ernstige hartkwaal kniehalter hom, maar met die vasberadenheid en veggees wat so kenmerkend van sy lewe sou wees, pak hy die stryd aan. Hy oorwin nie net sy siekte nie, maar word ’n geesdriftige en geoefende stoeier. In 1934 tree hy as die Gemaskerde Wonder tot die beroep stoeikryt toe en eers na 15 maande ontmasker hy homself. In 1938 word hy swaargewigkampioen van die Britse Ryk. Johannes se prestasies in die stoeikryt het die Afrikaner aangegryp omdat Johannes volksmens was wat hom in alle opsigte met sy volk se strewe en beginsels geïdentifiseer het. 

1927 – Carel Boshoff, sendeling en stigter van Orania († 16 Maart  2011)

 

Sterftes

1999 – Dricky Beukes, skrywer (* 29 Desember 1918)

Dricky Beukes was ’n Afrikaanse skrywer van romans, kortverhale en radiovervolgverhale. Sy het meer as honderd Afrikaanse romans geskryf en hope kortverhale en talle Afrikaanse radiovervolgverhale gelewer, waarvan talle maande lank voortgegaan het, veral op die destydse kommersiële radiosender Springbokradio. ’n Frase wat landwyd bekend geword het, was dié inleiding tot die radiovervolgverhaal Die Indringer’n Verhaal wat elke moederhart sal roer.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/